Wees nét ’n Afrikaner

deur Rozanne Meyer

Ek het groot geword as ’n Afrikaanse meisie in ’n nie-rassistiese pastorale huis en het my opvoeding ontvang in nie-rassige skole. Mens kan sê dat ons kleurblind grootgemaak was,maar tog was daar ’n logiese grenslyn waarvan ek van kindsbeen af bewus was.

Ek onthou nog hoe ons, na 1994, verby die see gery het en toe ’n wit meisie gesien het wat hand-aan-hand met ’n swart man geloop het. Ek het onwillekeurig gestaar, nie dat dit ’n sonde was nie maar omdat dit half vreemd voorgekom het.

Vrae het by my opgeduik soos wie se taal hulle met mekaar praat, wie se tradisies geëerbiedig word en watter kulturele aanpassings hulle en hul families moet maak om hul verhouding in konteks van hul wedersydse agtergronde te aanvaar. My ma het ’n afkeurende opmerking gemaak. Rassisme is verkeerd maar om nie-rassig te wees verander niks aan die feit dat daar ’n natuurlike verdeling binne die mensdom is nie. So was ons maar groot gemaak.

Die natuurlike verdeling het selfs binne my eie rassegroep plaasgevind want die Engelse in my tuisdorp het my altyd ’nboeremeisie genoem. Ek was anders as hulle. Die Oos-Kaap is natuurlik oorwegend Engelssprekend en ek was gedurende my kinderjare altyd onder die wanindruk dat Afrikaans ’n primitiewe taal is en selfs dat Afrikaners primitiewe mense is waarop die Engelse neerkyk.

Ek het later wel tot die besef gekom dat die Afrikaner die meerderheid blanke bevolkingsgroep in suidelike Afrika is en dat ek deel van ’n volk is wat ’n merkwaardige erfenis het. Ons is anders as die res, nie beter of slegter nie – net natuurlik deur geboorte en mens-vorming in ons eie groep verdeel.

Ons was nog altyd ’n trotse volk, nie omdat ons oor die nie-blankes regeer het nie, maar omdat ons óns was. Omdat ons Afrikaners is. Dit het my lank gevat om te begryp waar ons ingebore trots vandaan kom – wat die oorsprong van hierdie ingeboude liefde vir ons volk is wat terselfdertyd ’n ongetwyfelde liefde vir ons vaderland opwek.

Dis toe dat dié boeremeisie besef het wat ek alles het en wat van my ’n Afrikaner maak. Is dit ironies dat ek myself en my eie mense eers hier in die buiteland werklik gevind het? Die ou mense het ’n  gesegde wat lui: “as ’n negosiekas ’n stoel word”. As niks iets word. Ek moes myself eers losmaak van al die struwelinge in die nuwe Suid-Afrika en van meet af ’n behoorlike introspeksie beoefen om die waarde van my Afrikaner identiteit op te spoor.

Afrikaners het so baie om op trots te wees, so ’n ryk geskiedenis. Ons kan inspirasie vind in die dade van heldhaftige generaals soos de Wet, Kemp en Maritz wat die Boere kommando’s teen die Empaaier gelei het. Onthou genl. Koos de la Rey wat gesien was as een van die bevoegste militêre strateë van sy era. Min bevelvoerders kon deur die eeue soveel verliese aan die magtige Britse leër toedien as genl. de la Rey tydens ons volk se stryd om ons vryheid en onafhanklikheid te verdedig. Ons kan praat oor merkwaardige intellektualiste soos Jan Smuts – ’n stigterslid van die Volkebond asook die Verenigde Nasies.

C.J. Langenhoven, die skrywer van daardie pragtige volkslied wat ons oë laat traan: Die Stem. Jacob Hendrik Pierneef, een van die beste landskap-kunstenaars van die Twintigste Eeu. Chris Barnard, die man wat die eerste suksesvolle hartoorplanting ter wêreld  uitgevoer het. Anton Rupert, een van die suksesvolste entrepreneurs van die vorige eeu. Dr. H.F. Verwoerd, die staatsman wat ons finaal uit die imperialistiese kloue van Brittanje gelei het en die beste ekonomiese bloeitydperk in Suid-Afrika se geskiedenis bewerkstellig het.

Nadat ek dit als besef het, het ek ook ’n groeiende gaping gesien: mans wat hul “karate water” met ’n pinkie in die lug drink, dames wat nie sonder ’n huishulp kan klaar kom nie en Afrikaans wat by baie gesinne in die passasiersitplek sit – kortom: ons volkstrots, kultuur en tradisies word vandag afgeskeep!

Skuldgevoelens van die veronderstelde verlede is stadig maar seker besig om ’n houvas in ons huise en binne ons kultuur te vind. Liberale breinspoeling is besig om ons te beroof van ons trots. Ek het iemand eendag hoor sê: “Die moderne Afrikaner sal nog in sy eie bed vermoor word voordat hy bereid sal wees om ’n  vinger te lig om die einste bed op te maak” . Laksheid en volksvreemde arbeid is inderdaad die oorsprong van baie Afrikaners se ondergang.

Wat het geword van selfbeskikking oor ons eie lot en trots op ons eie arbeid?  Waarom word ons deur ’n ander nasie regeer en hoekom kyk so baie Afrikaners neer op die idee dat ons self ons eie handearbeid kan verrig in ons huise, in ons tuine en in ons werksplekke? Daar is niks vreemd aan die edele konsep dat ’n volk homself kan regeer en sy eie arbeid kan verrig nie. Myns insiens het Afrikaners geen reg om te kla oor hul omstandighede as hulle nie bereid gaan wees om hul eie “vuilwerk” te doen nie en hulle reeds aanvaar het dat hulle verewig onderdanig aan ’n ander nasie gaan wees.

Ons lewe in ’n benoude tyd in Suid-Afrika, waar baie mense begin sin maak van die onweerswolke waarin ons onsself bevind vir die afgelope 16jaar. Daar is mense wat glo dat die “Nag van die lang messe” om die draai is. Die meriete van hierdie doemprofesie is debatteerbaar. Dit is immers ’n feit  dat ’n groot deel van die volk vandag blind en doof is t.o.v. die bedreigings wat reg voor ons is en  vir ons almal in die oë staar. Niemand is so blind soos die mense wat nie wil sien nie!

Talle mense, insluitend Siener van Rensburg en Johanna Brand, het al visioene gehad oor die lot van ons land en die uitdunning van ons volk. Ek is van mening dat ons tans deur ’n smeltkroes gaan wat besig is om die koring van die kaf te skei. Die joiner  en die bittereinder word só geïdentifiseer: die wat verkies om heerlik stroomaf te swem, al lei dit na hul ruïnasie; en die wat besluit het om stroomop te swem vir vryheid en geregtigheid, hopelik lei dit na ’n etnies homogene Afrikaner volkstaat waar die volk selfbeskikking oor sy eie instellings sal hê. Solank as wat hierdie instellings met ons eie hande opgebou en onderhou word sal ons die morele hoër grond hê.

Dit is ongelukkig wel so dat baie mense tydens die uitstappie  van sogenaamde demokrasie die pad duister geraak het, hul veggees verloor het en besluit het om maar die moord en verkragting op ons volk te verduur solank as wat hul eie sekuriteitskomplekse se hekke tog net werk en die elektriese heinings die boewe se vingers deeglik skok. En so is die leuens, korrupsie en bloedvergieting van hierdie benarde samelewing besig om talle Afrikanerharte stukkie vir stukkie  te vernietig.

Vir al die gemelde redes het ’n boeremeisie besef waar haar voorvaders vandaan kom, die rol wat haar volk deur die eeue in Afrika gespeel het  en nog kan speel in die toekoms. Ek weier om te aanvaar dat die stryd vir die Afrikaner se voortbestaan verlore is. Te veel opofferings was deur ons voorvaders gemaak vir ons om vandag te bestaan. Om nou ons rûe op ons taal, kultuur en erfenis te draai is lafhartig en werklikwaar te absurd om enigsins te oorweeg.

My boodskap is eenvoudig: die wat hulself nog deel van die Afrikanervolk beskou moet nóú  hande vat en saamstaan deur hierdie donker  tydperk. Kom ons keer terug na ons wortels, na dit waarvoor ons voorvaders gestaan en geveg het. Ons is kinders van die Here en ons moet net in Hom vertrou en glo dat Sy hand ons uit die spreekwoordelike Babilon uit sal lei. Laat Gods water oor Gods akker loop terwyl ons bid en hard werk om ons vryheid te herstel.

Soos President Kruger gesê het: “Neem uit die verlede wat goed, skoon en edel is, en bou daarop die toekoms”.

Dis tyd dat ons voet neersit en opstaan vir ons voortbestaan, tyd om te leer uit ons foute van die verlede en te begryp dat ons as bittereinder Afrikaners reeds alles het wat ons benodig om hierdie smeltkroes waarin ons onsself tans bevind te oorleef. Na oorlewing volg die soet geure van vryheid en oorwinning.

Wees nét ’n Afrikaner, jy is genoeg.

“250 000 Afrikaners teenwoordig by die inwyding van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949”

 

42 gedagtes oor “Wees nét ’n Afrikaner

  1. Willie

    Roz jy laat my met `n traan in die oog, ons boere nasie was gebou met die durf en deursettings vermoë van ons boere vroue, mag alle Afrikaanse vrouens lees wat jy skryf. Ons mans besef nie vandag wat ons vrouens eindelik vir ons beteken nie en ek voel skaam daaroor.
    Siener het voorspel dat ons Afrikaner nasie sal opstaan, in my hart glo ek daarin maar dit kan net met GOD se wil geskied. Ons moet eers terugkeer na GOD en tot die besef kom dat HY en HY alleen ons beskikker is dan sal ons weer self beskikking hê.
    Dankie vir jou inligting en aansporing, jy is `n boer vrou duisend.

  2. Dankie Roz vir die pragtige stuk wat jy so mooi geskryf het. As daar ooit enige twyfel by my bestaan het oor hoe ek oor myself en volk moet voel het jy dit binne n minuut reggestel. Hoop om meer van jou te hoor.

    Groete
    Irma Muller

  3. Louzelle

    Rozanne. Dankie vir hierdie skrywe. EK wonder nou oe oud jy is? Maak seker nie saak nie, maar wonder nogsteeds hoe mense wat veel ouer as jy is, nie die waarheid kan of wil sien nie? Is hulle regtig trots op die land soos dit nou is? Dit lyk vir my so na gelang van die TROTSE ondersteuning wat ek by van ons mense sien vir die Bafana Bafana. Ek se weereens dankie. Jy het hierdie stuk geskryf asof jy dit vanaf my eie hart gekopieer het.

  4. Dis daardie gaping waarvan jy praat waaroor ek sukkel om te kom.
    Die meerderheid van ons mense is nie meer daardie Godsvresende mense op wie ons so trots word nie.
    So word ons trotsheid gebore uit ‘n paralaks fout op die Tydlyn.
    Ek vertrou op God, ek vertrou nie eers op die mense op wie se heil ek hoop nie.

  5. Johan

    Dankie vir hierdie boodskap – maak mens trots om Afrikaans te wees. Ek bid dat al die Afrikaners hierdie boodskap te harte vat, en voort gaan om weer selfbeskikking te eis.

  6. Lood

    Rozanne, vir iemand van 22 het jy n baie goeie idee van wat regtig aan gaan. Gaan so voort en bemoedig ons mense, ons het vroue soos jy nodig. Ons Boere Afrikaner mans sou niks ooit kon vermag sonder ons trotse vrouens nie. Julle is ons steun pilare en ons kan trots wees op julle. Baie dankie, ek het al gewonder of daar nog van jou soort oor is.

  7. Quintin Diederichs

    Sjoe… Rozanne, jy gee vir mense weer hoop met jou inspirerende idees en al die harde werk wat jy insit. Deurdat jy die boodskap van Afrikaner-vryheid bevorder is jy deel van ‘n onsterflike groepie mense wat nog altyd die kern van die Afrikanervolk gevorm het.

    Tydens volksplanting in die 17de eeu was dit die mense wat nie die omstandighede in Europa kon aanvaar nie en hul vryheid aan die suidpunt van Afrika kom herstel het – so was ons volk gebore. Tydens Britse anneksasie was dit die mense wat geweier het om onder ‘n vreemde nasie te krepeer, hul goed gepak het en toe in donker Afrika ingetrek het om hul vryheid ondanks al die bitter beproewinge te herstel. In die dae van Britse kolonialisme was dit die mense wat geweier het om hul vryheid op te offer sodat Brittanje verryk kan word en toe die wapen opgeneem het om hul volk se bestaansreg te verdedig teen die sterkste moontheid wat die wereld al ooit geken het. Dit was die mense wat ons vryheid nogmaals herstel het deur Suid-Afrika in 1961 ‘n onafhanklike republiek vir die Afrikaner te verklaar. Dit is vandag die mense wat uit al die foute van die verlede geleer het en met hul eie hande ‘n nuwe vry toekoms van nuuts af uit die grond uit bou in Orania – knegte van die Allerhoogste, teen die hele wereld vry!

    Alhoewel hierdie mense deur elke era van ons volksbestaan verskillende name en gesigte gehad het, is dit hul innerlike oortuiging en karakter wat onsterflik is. Of dit nou Andries Pretorius, pres. M.T. Steyn, pres. Paul Kruger, Nonnie de la Rey, genl. Koos de la Rey, genl. Manie Maritz, kmdt. Jopie Fourie, Hendrina Joubert, genl. Christiaan de Wet, dr. D.F. Malan, dr. H.F. Verwoerd, prof. Carel Boshoff is – hulle almal het een ding in gemeen: hulle het gestaan vir presies dit wat jy vandag verkondig. Danksy hulle het die Afrikanervolk nie uitgesterf nie. Danksy jongmense soos jy sal die Afrikaner ook nie vandag uitsterf nie. Vryheid Eenheid Geregtigheid!

    Dit is waar dat ‘n boom geken sal word aan die vrugte wat hy, of sy, dra.

  8. Clifford

    Miskien is ek verkeerd, maar die foto wys meer korek Boertjies of Boere-Afrikaners en nie net Afrikaners nie. Die verskil is dat Boere-Afrikaners is erg Godsdienstig, patrioties, wit en het hulle naaste (volk) lief soos hulself, gee om vir hulle siekes, oues en kinders. Die Anglo-Boere oorlog was nie ‘n Anglo-Afrikaner oorlog genoem nie. Die Afrikaners was die eerste om saam met die Engelse die Boere aan te durf.

    Afrikaners in die woord is van enige ras hetsy bruin, wit of swart. Geloof speel nie juis ‘n rol nie en sal sport, aansien en Mammon stel bo etiese waardes, sedes en patriotisme.
    Tog weereens was die skrywe puik.

    Groete

    1. Quintin Diederichs

      “Hoe kan een Afrikaner neutraal bly terwyl ‘n ander vir Afrika sterf” – M.T. Steyn, laaste president van die Boererepubliek van die Oranje Vrystaat.

      “Hier is ‘n Afrikanerhart. Groot genoeg om al hul koeels te ontvang.” – Jopie Fourie, kommandant in die Boererepubliek van die ZAR en held van die 1914 Boere Rebellie.

      “Hetsy ons oorwin, hetsy ons sterwe: die Vryheid sal in Afrika rys soos die son uit die morewolke, soos die vryheid reeds in die Verenigde State van Amerika. Dan sal dit wees van Zambezi tot aan Simonsbaai: Afrika vir die Afrikaner!” – Paul Kruger, laaste president van die Boererepubliek van die ZAR.

      Ek is ‘n Boer en ‘n Afrikaner – niemand sal vir my vertel wie en wat ek is terwyl ek dit reeds in my hart weet nie.

      WAT IS JOU PUNT???

  9. NICE, die afrikaaner volk sal weer opstaan soos altyd met God aan ons kan is ons onwinbaar……glo aan God en alle sleg word goed…..moenie bekommer nie grooter dinge wag op ons paaie en die tyd is naby………

  10. Petro

    Pragtig Rozanne! As ek my eie skoondogter kon kies, het ek vir my Afrikaner seun ‘n Boeremeisie soos jy bestel! Lank leef ons Afrikaners!!

  11. Karin Duranti

    Weet jy wat is my die lekkerste van als? Ek wat half Engels/half Afrikaans is, hoor byna nooit meer sulke mooi suiwer Afrikaans nie. Afrikaans is so ‘n mooi taal en dis sommer wonderlik om dit weer te sien, lees, hoor. Mens hoor dit byna nooit meer nie hier in Londen (tussen ons Suid Afrikaners) en ook nie in Suid Afrika nie.
    Ek dink dit is net so belangrik om die suiwere taal te behou as die res van die kultuur! Nie half Engels/half Afrikaans gemeng met vandag se elektroniese media afkortings!

    Hou so aan Rozane, welgedaan!

  12. Baie goed geskryf Roz. Dis waar wat jy se oor hoe ons mense gebreinspoel word.Ek het nogal n goeie ding gelees oor hoe mense gewoond kan raak aan slegte omstandighede, en dan net al die slegte dinge aanvaar solank daar net iets goeds uitkom soos bv. ”my vrou is verkrag maar dan is ek die waffer dankbaar dat hy haar nie ook vermoor het nie”, hulle noem dit die ”Stockholm syndrome” Mag die Boer weer eendag in sy eie Boererepubliek bly. Sien gerus http://www.vvk.co.za

  13. Pieter Roux

    Dit is so asof jy verby al die interne struwelinge en mistastings kyk en die eenvoudige waarheid in enkele woorde kan saamvat. Ja die skyn van die leuen het ons mense darem baie verward gelaat, maar hoe meer mense soos jy na vore kom en ten spyte van ‘n drogspul leuens en propaganda die waarheid in sy eenvoud neem en uitdra, hoe nader sal ons ook aan ons volk se vryheid wees.

  14. Die Afrikaner is ‘n jong volk en jy’s reg. Ons het ‘n merkwaardige geskiedenis.

    Afrikanerskap is uit ‘n mengelmoes van Duitser, Nederlander, Fransman, hier en daar ‘n Sweed, ‘n hele paar Portugese en selfs ‘ n Jood of twee gebore. En soos jy self seker weet, die eerste persoon om hulself ‘n Afrikaner te noem, se suster was ‘n kleurling.

    Sedertdien het ons talle ander, soos Skotte etc as Afrikaners ontvang.

    Dit is nou moontlik om persone geneties te toets. Indien daar ‘n reel sou wees, binne in ‘n volkstaat dat Afrikaners 100% Europese gene moet he, sal ‘n substansiele gedeelte van die van ons wat ons vandag beskou as Afrikaners nie slaag nie.

    Ras is nie naastenby so goeie aanduiding van wie hoort by wie as taal en kultuur nie.

    Daar is iets anders waarin (moderne – dit was nie altyd so nie) Afrikaners byna uniek is op die planeet. En dit is hulle ras-beheptheid. Dit is te verstane as mens kyk na hulle geskiedenis, maar tog jammer. Veral as mens na Kuba se geskiedenis kyk (wat nogal soort gelyk is aan ons sin).

    http://mhambi.blogspot.com/2008/03/afrikaner-vs-cuban-irony-of-cuito.html

    1. Quintin Diederichs

      Kameraad, ek stem saam dat mens nie ras behep moet wees nie en dat ‘n sinergie van taal en kultuur ‘n volk se identiteit bepaal, eerder as ras.

      Egter is dit ook so dat ras wel ‘n identifiserende faktor is, bv. ‘n Taiwannees is ‘n oosterling, ‘n Saudi is ‘n Arabier, ‘n Noorweër is Kaukasies ens. Egter is alle Kaukasiërs nie Noorweërs nie – maar almal wat hulself in die eerste plek met die Noorse taal, kultuur, tradisies, sedes en erfenis assosieer is wel Noorweërs en bly gewoonlik in die Noorse volkstaat, nl. Noorweë.

      Wie Hendrik Bibault (“ik ben een Afrikaander”) of sy sussie, niggie, oom of tannie was, is irrelevant omrede daar in 1707 nog nie werklik ‘n Afrikaner kultuur, Afrikaner tradisies of self Afrikaans as taal bestaan het nie. Bibault was wel ‘n Kaukasiër maar dit verander regtig niks want die konsep van Afrikanerskap het toe nog nie bestaan nie. Danksy Bibault en sy tydgenote het Afrikanerskap wel begin ontwikkel in wat dit vandag is.

      Van Riebeeck was ook ‘n Kaukasiër en hy was nie ‘n Afrikaner nie so waarom ons hom beskou as ons “stamvader” verstaan ek tot vandag toe nie. Goewerneur Simon van der Stel was egter nie ‘n Kaukasiër nie – sy ma was deels van Maleise afkoms. Tog was hy die eerste man wat regtig belanggestel het om beskawing aan die suidpunt van Afrika te vestig en kan hy by implikasie eerder geag word as die Afrikaner se stamvader as van Riebeeck.

      As ‘n Kleurling, Kaukasiër, oosterling of swarte in die eerste plek met die Afrikanervolk se tradisies, kultuur en sedes assosieer dan is hy of sy ‘n Afrikaner. Tog het bv. die Kleurlinge reeds hul eie kultuur, tradisies ens. Dit is nie reg om hulle oor dieselfde kam te skeer as Afrikaners nie want dan verontagsaam mens die Kleurlinge se bestaansreg as unieke volk met hul eie kultuur, tradisies, erfenis en sedes. Die feit dat ek Afrikaans praat maak my nie ‘n Kleurling nie – en die feit dat die meerderheid Kleurlinge nog Afrikaans praat maak hulle nie Afrikaners nie.

      Ek dink die skrywer se konsep van ‘n “etnies homogene Afrikaner volkstaat” is baie goed gestel omrede dit uit die aard van die saak nie betwis kan word dat die oorgrote meerderheid mense wat met die Afrikanervolk se taal, kultuur, tradisies, erfenis en sedes assosieer wel Kaukasiërs is. Egter moet dit nie ‘n rigiede “wet” wees dat alle Afrikaners Kaukasiër moet wees nie want ek is oortuig daarvan dat Simon van der Stel nie die laaste man van gemengde bloed was wat ‘n bydrae tot ons volk se toekoms sal he nie.

      Om mee af te sluit… Denemarke is 99% Kaukasies. Denemarke is ‘n etnies homogene volkstaat vir die Deense volk waar hul taal, kultuur, tradisies en sedes ten volle bemagtig word. Denemarke is die strengste Europese land wat betref immigrasie, asiel-soekers ens. Hulle is doelbewus nie ‘n multi-kulturele staat nie. Ek weet nie van kommunistiese Kuba nie maar Denemarke is wel die land wat die wêreld se “gelukkigste bevolking” het volgens Forbes, die beroemde internasionale besigheidstydskrif.

      “From 2006 to 2008, surveys ranked Denmark as “the happiest place in the world”, based on standards of health, welfare, and education. The 2009 Global Peace Index survey ranks Denmark as the second most peaceful country in the world. In 2009, Denmark was ranked as one of the least corrupt countries in the world according to the Corruption Perceptions Index, ranking second only to New Zealand.”

      As die Dene kan dan kan die Afrikaner ook!

  15. Jy het baie raak beskrywings in jou artikel weergegee en ek wens jou geluk! Ek raak ‘n paar punte aan: Kleurgrens – om ‘n rassis te wees beteken om eerstens lief te wees vir jou eie ras en dan die res. Daar is sekerlik , volgens my, niks mee verkeerd nie. Ja, geen rasvermenging, want ons het vele fisiese en intellektuele verskille. Dit is oor en oor in vele navorsing bewys. Wees trots op jou eie. Maar die mense is gebreinspoel deur die godsdiens wat naasteliefde voorskryf en vele ander aspekte. En ons volk is baie goedgelowig. By verdere navorsing in hierdie verband weet ek reeds hoe die vurk in die hef steek en waar al die stories vandaan kom. Afrikanertrots is wel in baie mense se harte, maar ons het bang geword om daaroor te praat in hierdie land. Tog so jammer, want ons is ‘n baie unieke boerenasie met ‘n unieke geskiedenis. Ons taalvermenging is skokkend en bejammerenswaardig, want Afrikaans is so ‘n goeie taal om jouself behoorlik uit te druk sonder ander tale. Huishulpe – ons het geen vreemdes op ons erf nie en dis tog jammer ma, pa en kinders kan nie ‘n plan maak om alles liewer self te doen nie. Afrikanerhelde – ons kan baie skryf oor ons helde, maar ongelukkig was daar ook “helde” wat ons baie in die rug gesteek het bv. die liberale Jan Smuts. In die boek geskryf deur genl Manie Maritz “My Lewe en Strewe” kom dit duidelik deur en was ekself geskok om dit te lees. Hierdie boek is ‘n MOET om te lees. So ook oom Paul wat grond en minerale aan die jode gegee het i.p.v. vir ons eie mense. Ons praat nie eens van ons politici nie! Ja, ons boere se vryheid sal heelwat probleme oplos. Kyk op “Boerevryheid” se webwerf. Omdat ons meestal baie intellektuele sterk mense is, het elkeen sy eie wil omdat ons graag vir onsself dink. Daarom die probleem van saam staan, maar as daar probleme in ons land gaan kom, is ek baie seker ons sal vinnig dink, vinnig optree en mekaar bystaan.
    Ons vir Jou, Afrikaner Boerevolk!!

    1. “…Maar die mense is gebreinspoel deur die godsdiens wat naasteliefde voorskryf en vele ander aspekte…” Ek dink Jesus was die een wat naasteliefde voorgeskryf het.
      Sê eerder ons mense is gebruinspoel deur sekulêre humanisme.

    2. “om ‘n rassis te wees beteken om eerstens lief te wees vir jou eie ras en dan die res…”
      Vals, dit is not trots, nie rasisme nie. Maar jy het rasisme toe mooi aangeraak: “Ja, geen rasvermenging, want ons het vele fisiese en intellektuele verskille. Dit is oor en oor in vele navorsing bewys…”
      Wys vir ons die navorsing, veral die intellektuele verskille! Moenie net glo omdat dit reg klink vir jou nie.

  16. Theo

    tien-uit-tien Rozanne!

    Jy laat trane oor ‘n jong Afrikaner/Boere man se wange rol!

    Ek is hartseer oor ons volk (verbastering, plaasmoorde, verkragtings, Goddeloosheid/lae moraal, nuwe “ghetto” Afrikaans, ensovoorts).

    Aan die eenkant is ek nog trots op my mense: slaankrag/paraatheid( Anglo Boere oorlog, Grensoorlog, Recce’s, lugmag en Vloot), sanksies (tegnologie, kernkrag wapens en ander uitvindsels), Persone ( Christiaan De Wet, PW Botha, Willie Marais, HF Verwoerd en Dan Roodt, Dirkie Uys en Gerhard Verdoorn).

    Ons nasie blink uit in ander velde: medies, sport, kunste en kultuur, landbou, ensovoorts.

    Dit is ook een van die redes (bogenoemde stellings), hoekom baie nasies ons so haat!

    Ons kan ons eie ding doen – wys die ” middelvinger” vir al die linkses/liberaliste ( DA, ANC, wit gemors mense, en die res van die ander oorsese nasies)!

    Hier is my “reddingsplan” vir ons volk ( dit mag radikaal, banaal en kranksinnig klink, maar dit is die enigste manier hoe ons volk onse volk se voortbestaan kan verseker!):

    1. Agressiewe bewusmakingsveldtogte en propoganda (veral onder ons jeug en ons mense in ander lande) ten opsigte van: taal, kultuur, geskiedenis, pollitiek, ensovoorts.
    2. Groot populasie aanwas (vier of meer kinders).
    3. “Sanksies” teen ons vyande begin ( eie skole, besighede, universiteite, veiligheidsmagte, nywerhede/fabrieke en nog vele meer!).
    4. Die belangrikste: Christelikheid en morele herlewing. Ons moet almal weer ernstig begin deelneem aan Gelofte dag en ander Christelike dae…God wag vir elke Afrikaner/Boere knie, om tot Hom weer terug te keer – dan kan ons gered en bekeer word.

    As die Duitser en Afrikaner eendag gaan uitsterf, gaan dit ‘n totale ramp vir die res van die blanke ras wees!

    Bid ernstig vir God!

    Ons sien dalk mekaar eendag in die nuwe (en finale) Boere oorlog…

    Groetnis en voorspoed!

  17. Mooi aanhaling van Pres Kruger, ek het dit in Engels op my blog geplaas, want, dis SO waar en dit is wat elke persoon in hierdie wereld behoort te doen. Op hierdie oomblik is daar ongelukkig dinge in ons pragtige land wat ons pragtige geskiedenis gaan verwoes as ons nie NOU iets daaraan doen om dit te bewaar nie. AL ons pragtige standbeelde, museums met die ryk geskiedenis, geskiedkundige geboue, my hart pyn!

  18. Terugklingel: God, South Africa and Blood « Carte Blanche

  19. Terugklingel: Die Stem roep! « Carte Blanche

  20. Terugklingel: Republiek! « Carte Blanche

  21. Terugklingel: Een nasie, (G)een toekoms! « Carte Blanche

  22. Terugklingel: DR. H.F. VERWOERD: Die verhandeling van ’n man « Carte Blanche

  23. piet

    Dit was 250,000 Boere gewees,nie afrikaners nie.n’Afrikaner is iemand wat nie weet wie of waar hy/sy is nie.Ek wonder partykeer waarom witmense so weg skram van die woord Boer!!!’n afrikaner is soos ‘n katoliek,dit is enige kleur en geur.Ek het ook al gesien hoe party witmense/afrikaners daarvan hou om die woord Boer te gebruik as hulle wil geld maak.Partykeer dink ek die meeste Boere het op die slagveld gesneuwel en vermoor gewees in die konsentrasiekampe,die wat oor gebly het was meestal daai wat êrens weg gekruip het toe hulle moes geveg het.

    1. Piet…ek weet nie hoe jy redeneer nie. Hoe kan jy sê dat die wat dit oorleef het, het gaan wegkruip! Liewe aarde, dink wat jy sê. Ek het familie wat dit oorleef het en beslis NIE gaan wegkruip het nie, maar DEEL daarvan was. Ook: Ek is ‘n Boer EN ‘n Afrikaner. Dankie. Lekker dag. Raak nugter en redeneer nugter.

  24. Terugklingel: Eerste ervaring van Orania « Carte Blanche

  25. Gatvol

    Liefste Rozanne
    Ek is bly om te sien daar is jong mense wat dink soos jy en ek is bly om te sien dat soveel pragtige mense jou ondersteun. Hoekom is dit nou dat die Boere en die Afrikaners mekaar so haat? Gedurende die jare toe ons nog diensplig uitgevoer het sou niemand jou gevra het of jy ‘n Boer of Afrikaner was nie. Ons het almal een taal gepraat. Hoe praat jy Boer? Kom ek verduidelik vir jou hoe praat jy Afrikaans. Die R4 masjien geweer het drie verstellings. R= Rapid; S= Safe; A= “automatic” of beter verstaanbaar as AFRIKAANS. Afrikaans het ons gatte gered. Daar was geen “B” op daardie geweer nie. Ons het almal Afrikaans gepraat en mekaar goed verstaan. Ons het die grense beveilig en geen Boer was ooit op sy plaas vermoor nie en so ook geen Afrikaner vermoor in die stede nie. Die laaste geveg waarin ek betrokke was, was die geveg by Cuito Cuanavale in 1987. Ons het groot ondersteuning gehad van UNITA. Hulle was die swart Rebelle in Angola wat Suid Afrika Ondersteun het. Suid Afrika se 32 Battaljon het bestaan uit 90% swart Angolese soldate. 32 Battaljon was die room van die Suid Afrikaanse Weermag. Die enigste oplossing vir Suid Afika se probleme sal wees vir Wit, Swart en bruin, wat dieselfde dink, om weer saam te staan. Ons het mekaar nodig!!! Dink aan jou kind se toekoms. Almal wat Gatvol is moet saam staan!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

    1. Soekie

      Stem saam met jou Gatvol – dit sou wonderlik wees om elke ou volkie op sy eie plekkie neer te sit – MAAR ongelukkig is dit nou ONS land – wit, bruin en swart en alles wat tussen-in kom. Ons kan met God se genade hierdie land van ons weer gesond kry. Ek glo ons kan SAAM in hierdie land bly – ongelukkig sal ons van die regte gemors moet ontslae raak – Malema is darem al uit; nou vir his royal highness “miester Zuma”, ons moet net ‘n manier vind om die regering verantwoordelik te hou vir hul aksies!

      Ek loop ook baie met ‘n katterigheid in my hart rond. Ek raak kwaad en hartseer. Ek is al 4 jaar werkloos a.g.v. regstellende aksie?!!! Soms is ek bitter. Maar wie gaan hierdie oorlog veg as dit tussen swart en wit moet gebeur? Ons laaste diensplig inname was 20+ jaar gelede? Hoe lyk daai manne nou? Oorgewig en lui as ek so rondom my kyk en meestal met ‘n bottel of glas vol alkohol in die hand – al van hulle (skuus manne) wat werk is hul monde! Ons kinders is nie aggressief groot gemaak nie. Ons het nie wapens nie. Dis ‘n mal idee.

      En al wil ek glo ons is die uitverkore volk en dat God altyd aan ons kant sal wees…. dan moet ek ook weet dat 3/4 van my wit volk nie meer kerk toe gaan nie, nie meer bid, nie Bybel lees nie en nou skielik wil hul God se hulp hê? Ekskuus maar my God laat nie met Hom mors nie. My geliefde volk moet maar eers met hul God regmaak voor hul begin eise stel!

      Mag Hy met elkeen van ons wees en Sy Plan aan ons bekend maak.

  26. Bonita escrita,muita sensível!Infelizmente aqui no Brasil falta esta alma e consideração pela história daqueles que ajudaram( pela vontade de Deus) a nação à crescer.Que o SENHOR dos Exércitos(em CRISTO JESUS) abençõe ricamente a Africa do Sul.

  27. Jurie Wessels

    man net n klein regsteling, die Bybel wys wel na kleur en ras, en dit is belangrik vir die woord van God, Hy NOEM, “soos n Kusiet nie die KLEUR van sy VEL kan verander nie net so min kan n luiperd nie die kolle op sy huid verander nie.

    ek glo ons moet trots erken wat ons is, ek is n BOER, ek is WIT, BLANK, ek aanbid die GOD van Isreal, nie sommer enige god nie AMEN

    Ons gaan ten gronde weens n gebrek aan kennis, ons het nie meer volks waardes en beoefen dit nie, ons is ons eie grootste vyand, kom ons raak weer lief vir mekaar, oud en jonk, arm of ryk, kom ons ondersteun mekaar vir wie ons is, BOERE AFRIKANERS!!! ons het NIKS om oor skuldig te voel of om oor skaam te wees nie, NIKS, selfs die swakstes het onder apartheid gedy, maar nou kripeer almal, veral my mense, ek is lief vir die wat nie skaam is om blanke BOERE te wil wees nie, onthou ons het almal n keuse, voer dit uit!!!!

  28. Marina Smalberger

    Ons land se Geskiedenis is vir my baie kosbaar, veral die mense wat daarin ‘n groot rol gespeel het. Die Boer konsentrasie kampe was vir my die hartseerste om oor te lees, dit wat die Afrikaner vroue en kinders moes deurgaan – soveel pyn en lyding. Die Boere Generaals soos Koos De La Rey was vir my van die voorste Afrikaners. Die Geskiedenis van Suid-Afrika was ‘n deel van ons lewe, ons verstaan nie altyd hoekom dinge so gebeur het soos wat dit gebeur het nie. Die Here het ons volkie hier geplaas met ‘n doel. Ons sal nêrens heen gaan nie, dit is ons tuiste en geboorteland, ons het net soveel reg om hier te wees. Ons is trots Suid- Afrikaners en het hierdie land help bou van niks af tot wat dit vandag is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s