Unie van die eeu

 

Op 31 Mei 1910 het die staatkundige samestelling van suidelike Afrika onherroeplik verander. Geskille met betrekking tot grense, wat reeds vir eeue lank agter geslote deure en op bloedige slagvelde gewoed het, het uiteindelik wending gekry met die gevolg dat Suid-Afrika op daardie winterdag gebore was.

Die Unie van Suid-Afrika was as’t ware die nuwe juweel waarop Brittanje kon roem, en ons kan maar seker wees dat daar by vele snobistiese teepartytjies in hoogdrawende Engels gespog was oor al die juwele wat George V se koffers begin vul het. Die 3 106 karaat Cullinan-diamant, wat ‘n paar jaar vantevore deur ene Genl. Louis Botha aan Sy Majesteit se voorganger geskenk was, het dalk ‘n rol gespeel in Botha se aanstelling as die heel eerste eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, wie sal weet?

‘n Eeu het intussen deur die uurglas van Suid-Afrika se geskiedenis geloop. Soos ‘n koekie seep het die Unie presies 51 jaar na sy ontstaan uit die Britte se vingers geglip, die voorkoms van Afrikaner Nasionalisme aangeneem en die Republiek geword. Die Republiek was 33 jaar later deur die Afrikaner geruil vir ‘n pot lensiesop wat die ANC dalk eendag vir ons sal gee. Blykbaar brou hulle al vir 16 jaar lank daaraan en sommige mense lek nog steeds hul lippe in afwagting terwyl heelwat ander vermoed dat die sop, pot en al, waarskynlik tydens ‘n transito-rooftog verdwyn het.

Nietemin bestaan daar vandag ‘n nuwe unie met ‘n kleurvolle rangskikking van kulture en tale. Natuurlik was Nobel-vredespryse hiervoor uitgedeel en hoe sal ons ooit die heldhaftige manne in Groen en Goud kan vergeet wat al twee keer die Web Ellis-trofee vir Suid-Afrika verower het?

Op die vrolike wysie van die Melktert Kommissie treffer, Proudly South African, probeer miljoene mense ‘n bestaan maak hier aan die suidpunt van Afrika. Maar behalwe vir die braaivleis, biltong en rugby, wat beteken dit vir ‘n Afrikaner om ‘n Suid-Afrikaner te wees? Watter moontlikhede en beperkinge hou dit vir ons in?

As ons die Skotte voor 1998 gevra het wat dit vir hulle beteken om Brits te wees dan sou iemand heel moontlik met ‘n bord Haggis gegooi word. Vandag sal hulle vir ons ‘n geskiedenisles gee en afsluit met die gedagte dat die Skotte deel is van Brittanje maar dat hulle tot ‘n groot mate hul eie lot bepaal. Die ommekeer in hul uitkyk oor die Britse identiteit is oorwegend te danke aan die feit dat die Skotte in 1998 hul eie parlement gekry het en vandag vryhede ken wat hulle vir byna 300 jaar nie gehad het nie.

Die Afrikaner vind homself in dieselfde bootjie as die Skotte in die sin dat ons binne grense vertoef waar ander volke ook besluit het om te vestig. Soos die Skotte waarskynlik nooit die hele Brittanje sal regeer nie, so ook het die Afrikaner sy aanspraak op die soewereiniteit van Suid-Afrika finaal verloor.

Ons is een van vele volke binne hierdie land en ons moet leer hoe om die land met die ander volke te deel. In dieselfde asem moet die ander volke leer om hierdie land met ons te deel. Makliker gesê as gedaan wanneer jou identiteit in die smeltkroes gewerp word.

In ‘n onlangse meningspeiling op Beeld se webwerf het 31% van die deelnemers gestem dat hulle hulself in die eerste plek as Afrikaners ag, teenoor 59% wat hulself eerstens as Suid-Afrikaners beskou. Vroeër die jaar het Beeld in ‘n meningspeiling vasgestel dat 56% van hul lesers sou verkies om in ‘n volkstaat te bly terwyl slegs 27% die idee verwerp het.

Hierdie statistieke dui daarop dat die meerderheid Afrikaners hulself deel van Suid-Afrika ag maar sou verkies om hul eie lot te bepaal. Dit bring ons dan terug na die vraag met betrekking tot die moontlikhede wat Suid-Afrika vir ons inhou. Sodra ons hierdie vraag kan beantwoord dan sal ons ook weet wat dit beteken om ‘n Suid-Afrikaner te wees.

Suid-Afrika hou vir die Afrikaner oneindig baie geleenthede in. Afrikaners het nog nooit soveel markte tot ons beskikking gehad waar ons produkte en dienste kan koop en verkoop nie. Ons kan gaan vakansie hou net waar ons wil. Ons kan deelneem aan enige sportsoort en onsself teen die beste in die wêreld meet, gereeld met verbasende sukses. Toegang tot die kunste is vandag ‘n gegewe en ons het binne ‘n baie kort tydperk reeds talle akteurs, musikante en kunstenaars opgelewer wat wêreldwyd erkenning gewerf het vir hul voortreflike talente.

Indien dit vir ons moontlik was om ‘n groter mate van selfbeskikking oor ons eie sake en instellings te kon geniet dan sou ons heel moontlik nie die werkloosheid, misdaad en korrupsie ervaar het wat binne die kwessie van ‘n paar jaar deel van ons samelewing geword het nie.

Tog maak Artikel 235 in die Suid-Afrikaanse grondwet hierdie vryheid vir ons moontlik deur ons volk se reg op selfbeskikking binne ‘n eie territoriale entiteit te waarborg. Dit hang net van onsself af om hierdie reg uit te leef en realiteite van nuuts af uit die grond uit op te bou.

Helaas, dit is waarlik ‘n jammerte dat bitter min mense bewus is van ons reg op selfbeskikking. Hierbenewens het ons alreeds derduisende kundige Afrikaners aan die buiteland afgestaan.

Suid-Afrika bied vir ons die kans om ’n volkstaat op te rig en daar ons eie besighede, skole, universiteite, hospitale, kulturele en sportiewe instellings op die been te bring en dit ten volle op ons eie te bestuur. Ons moet dit net binne ‘n bepaalde grondgebied met ons eie arbeid en fondse oprig.

Orania is ‘n voorbeeld van die moontlikhede wat die Suid-Afrikaanse grondwet vir ons bied. Niemand is van plan om Afrikaners van hierdie reg te weerhou nie anders sou Orania al lankal onwettig verklaar gewees het. Trouens, die Afrikanertuiste toon goeie groei omrede meer mense daadwerklik betrokke raak met die ontwikkeling van Orania.

Die Unie van Suid-Afrika het ons geskiedenis en wese as volk destyds gevorm op ‘n wyse wat aanvanklik vir die mense moeilik was om te aanvaar. Ons voorvaders kon eers nie kloutjie by die oor kry nie maar met die loop van tyd het hulle aangepas en gehelp bou aan een van die sterkste lande in Afrika. Daar is geen twyfel dat ons in staat is om dit weer te doen nie.

Indien die Afrikaner dit kan vermag om ‘n volwaardige federale bestel vir Suid-Afrika te verseker dan kan ons onsself gerusstel dat die nageslag ‘n florerende toekoms in hierdie pragtige land sal hê. ‘n Land waar elke taal en kultuur bemagtig word, waar elke stam en volk die ruimte gegun word om hulself uit te leef sonder onderdrukking. Die federale aard van ’n Afrikaner streek kan ook op ’n natuurlike wyse ontwikkel in ’n soewerein onafhanklike staat vir die Afrikaner mits ons ernstig is oor ons toekoms.

Kom ons stel ‘n voorbeeld vir die ander volke van Afrika deur Orania ‘n groot sukses te maak en nog volkstaat groeipunte in die Noord-Kaap te stig wat op die Orania-model gebaseer word. Hier is meer as genoeg spasie in Suid-Afrika vir ons almal. Ons moet net ‘n tree terug neem en uit ons foute begin leer terwyl ons nog die kans het om ‘n verskil te kan maak.

‘n Unie van onafhanklike lewensruimtes vir almal is die enigste wen-wen oplossing vir ons geliefde land. Mag die nageslag met trots terugkyk na ons prestasies en hierdie era ken as die unie van die eeu. Kom ons maak geskiedenis!

 

3 thoughts on “Unie van die eeu

  1. Destyds,toe ons vroee voorvaders voet aan wal gesit het was daar meer as genoeg ruimte vir ons almal.Tenspyte van die latere invloei van swart stamme uit die noorde is daar nog steeds voldoende ruimte vir ons almal.Ons, en daarmee bedoel ek die hele versameling van rasse in die deel van die kontinent,moet net leer om vir elkander ruimte te gun.As daar groepe is wat van mening is dat hulle voorheen te na gekom is,het hulle nou die kans om uit te haal en te wys.Ons is ook besig om uit te haal en te wys deur dit wat ons doen in Orania.Ons grootste probleem is om die moedelose en verwarde Afrikaner weer betrokke en besield te kry.Ons sit met n pers,wat hoewel hulle in Afrikaans publiseer,beswaarlik Afrikaner belange verteenwoordig.Hulle verkondig die verspotte idee,ala Amerika,van nasiebou.Dieselfde benadering is reeds besig om in Europa kookpunt te bereik.Hoe dom.Stel jou n situasie voor waar n groep Fillipyne Japan instroom.Die herrie sal behoorlik los wees.Hulle wil nie eens Japannese ekspats uit Brasilie terug verwelkom nie.Ons is mos van westerse afkoms en dus skuldig.Is dit hierdie slapgatgeit wat die einde van die Westerse beskawing voorspel.Vir my is dit net groter aansporing om die Orania-model uit te bou en te laat werk.My bydrae is maar beskeie maar laat ons elkeen maar net sy beskeie deeltjie doen.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s