Republiek!

Sedert die dae van die antieke stadstate van Atene en Sparta was die westerse beskawing blootgestel aan die konsep van ‘n demokratiese magstruktuur wat later in die jaar ca. 509 v.C. gelei het tot die stigting van die Romeinse Republiek.

Die Senatus Populus Que Romanus (SPQR), of “die senaat en mense van Rome”, was die soewereine entiteit wat vir etlike eeue oor die grootste dele van Europa, Noord-Afrika en die Ou Nabye-Ooste met welslae geheers het. Die antieke wêreld het nooit tevore ’n soortgelyke tydperk van orde, ekonomiese vooruitgang en beskawing geken nie. Die fondasies van moderne demokrasie en republikanisme was gedurende hierdie era van die menslike evolusie neergelê.

Die woord republiek is afkomstig vanuit die Latynse res publica, of “publieke saak”. In die mees basiese sin is die republiek ’n staat waarin soewereiniteit uiteindelik vanaf die mense afkomstig is, eerder as vanuit ’n monargiese, oorerflike  of ander beginsel. In ’n neutedop is dit die mense wat self die besluite neem en selfbeskikking oor hul eie instellings geniet binne ’n bepaalde staat. So word die mense se beste belange deur hul eie besluite bepaal.

Die Afrikaner woon tans in ’n republiek wat op 31 Mei 1961 gestig was. Heel ironies dat dit die Afrikaner was wat op daardie reënerige dag in Pretoria hierdie einste Republiek uitgeroep het waaroor ons vandag geen vorm van staatkundige selfbeskikking geniet nie of dat daar selfs na ons beste belange omgesien word nie. Die Suid-Afrikaanse nasie in geheel geniet egter republikeinse vryheid ten koste van die beste belange van diegene wat die Republiek in die eerste plek gestig het.

Vir die Afrikaner om sy reg op republikeinse vryheid uit te leef is daar basies twee rigtings wat hy kan inneem. Enersyds sal die Afrikaner se identiteit en belange in lyn met die nasie moet beweeg om sodoende binne die Nuwe Suid-Afrika deel van die mense te wees, of andersyds sal daar ’n onafhanklike republiek deur die Afrikaner gestig moet word waar sy bestaande identiteit verder kan ontwikkel maar ook waar sy belange beskerm en bemagtig kan word.

Alvorens Afrikaners kan besluit watter rigting om te kies moet daar egter geen twyfel by die leser bestaan t.o.v. wat presies bedoel word met die konsepte van identiteit en belange nie.

Faktore wat die identiteit van ’n volk bepaal is o.a. die taal wat deur volksgenote gepraat word, die volk se unieke kultuur, sy eie tradisies, geskiedenis en sedes. Afrikaners is mense wat Afrikaans praat, deel in die Afrikaner kultuur en vereenselwig met die gemeenskaplike tradisies en geskiedenis wat eie is aan die Afrikaner. Ons is ook die enigste volk op aarde wat gereeld na onsself verwys as Boere. Afrikaner of Boer, dis ons identiteit waarop geen ander volk kan aanspraak maak nie soos ons bv. nie kan aanspraak maak op die Nederlandse of Hollandse identiteit nie.

Die faktore wat die beste belange van ’n volk bepaal is o.a. die volk se reg om sy identiteit uit te lewe, ekonomies vooruitstrewend te wees, aanvaarbare vlakke van veiligheid en sekuriteit van die individu asook die gemeenskap in geheel te handhaaf, moedertaal onderrig, selfbeskikking oor sy eie instellings en ’n gesonde demokrasie.

Ons het in die jare na 1994 gesien dat die Nuwe Suid-Afrika die Afrikaner ernstig beperk om sy identiteit te behou en dat nie een van die faktore wat veronderstel is om die algehele Afrikanergemeenskap se beste belange te bevorder van toepassing op ons omstandighede is nie.

Hierbenewens sal die Afrikaner moet verengels, ’n liberaal-eklektiese kultuur moet aanhang en deel in die nuutgevonde tradisies en geskiedenis wat eie is aan die Nuwe Suid-Afrika. Indien nie dan sal die Afrikaner nooit met die Nuwe Suid-Afrika kan versoen nie of werklik deel van die Mzanzi res publica kan wees nie.

Ons het ook gesien dat daar baie Afrikaners is wat sedert 1994 hart en siel deel geword het van die Nuwe Suid-Afrikaanse, oftewel, Mzanzi-nasie. Kwessies soos identiteit en beste belange is nie werklik vir hierdie mense ’n probleem nie, want hulle kan identifiseer met Mzanzi en hulle het hul belange in lyn met die res van die nasie gebring, m.a.w. wat goed is vir die nasie is goed vir hulle. Hierdie mense verwys na hulself eerstens as Suid-Afrikaners maar gereeld ook as Afrikaanses. Hulle het reeds die rigting gekies waarin hulle hul toekoms wil bou en daarby sal Afrikaanses moet staan of val.

Nietemin is daar ’n wesenlike deel van die oorblywende pre-1994 Afrikanervolk wat nie in staat of bereid is om hul taal, kultuur, tradisies, sedes en erfenis prys te gee nie en by implikasie te integreer soos die Afrikaanses reeds gedoen het nie. Hierdie Afrikaners sukkel verskriklik om aan te pas en ervaar die hoofstroom-kultuur in die Nuwe Suid-Afrika meer onderdrukkend as bevrydend. Afrikaners se onvermoë om te transformeer word verkeerdelik beskou as rassisme terwyl dit in werklikheid rassisties is om van ’n bestaande volk te verwag om sy identiteit op te offer en self so vêr te gaan as om sy etnisiteit te vermeng om sodoende totaal te integreer met die nuwe nasie.

Nietemin is daar geen konsensus onder Afrikaners wat betref die beste koers om in te slaan nie. Die meeste Afrikaners het ’n nis gevind waarin hulle op ’n selfgesentreerde wyse kan oorleef binne die Nuwe Suid-Afrika en verbitterd toe te sien hoe hul gemeenskap stelselmatig besig is om te disintegreer. Die veronderstelde magteloosheid van ons omstandighede is iets wat baie Afrikaners al as ’n gegewe aanvaar het en derhalwe laat besluit het om liewer die geslypte byle eenkant te laat lê.

Die splintergroepies wat die Afrikaner verteenwoordig is gereeld betrokke met binnegevegte of om aanvalle op mekaar te loods terwyl net verdere mismoedigheid gekweek word en daar geen daadwerklike verskil gemaak word m.b.t. die omstandighede waarin ons moet oorleef nie. Elke haan wil net op sy eie mishoop staan en raas terwyl ons ook tot die besef gekom het dat sekere sg. aktiviste in werklikheid net besig is om hulself te bevorder omrede hulle ly aan persoonlike illusies van grootheid.

Dit is in tye soos hierdie waar emosies opsy gesit moet word en elke man, vrou en kind wat ernstig oor die toekoms van die Afrikaner is die uitdagings met ’n nugter benadering moet aanpak. Diegene wat nog vertrou dat ’n groot leier eendag gaan kom om al ons probleme vir ons op te los gaan ongelukkig verewig moet wag want geen mens is op sy eie in staat om die Afrikaner se omstandighede te verander nie. ’n Idee kan wel. ’n Groep wat die idee ondersteun kan beslis. Die groep wat die idee ’n werklikheid maak los DV baie vinnig die probleem in totaliteit op.

Wat is die idee dan en wie is die groep waarby ons moet aansluit?

Die idee is om ’n nuwe republiek vir die Afrikaner op te rig. Aangesien ons voorvaders dit in die tydperk 1794 tot 1961 al telkemale kon doen bestaan daar absoluut geen rede waarom ons dit nie vandag weer kan doen nie.

Waar dan? In ’n gebied waar dit uiteindelik vir altyd die meeste sin gaan maak om ’n land vir die Afrikaner te bou, d.w.s. waar dit haalbaar is vir die Afrikaner om die oorgrote meerderheid van die bevolking te wees en ’n volhoubare bestaan te maak. ’n Gebied wat se oppervlakte in lyn is met die Afrikaner se getalle en wat ons sal kan verdedig teen enige aggressor. Die gebied moet tans grotendeels onbevolk wees en daar moet genoegsame natuurlike hulpbronne wees om te boer, handeldryf en industrieë te skep.

Hierdie gebied was in die laat tagtigerjare reeds geïdentifiseer en bestaan uit ’n groot deel van die Noord-Kaap, langs die Oranjerivier tot teen die Weskus.

Hoe dan? Deur Afrikaner gemeenskappe te vestig in hierdie gebied word die streek bevolk deur ons eie mense. Die uitsluitlike gebruik van ons eie arbeid verseker dat ons die oorgrote meerderheid bevolking in ons eie gemeenskappe is en sodoende nie afhanklik van ander volke hoef te wees om vir onsself te voorsien nie. Wanneer dit bv. by verkiesings kom dan is al die kandidate Afrikaners wat op hul eie wyses die beste belange van mede-Afrikaners wil bevorder, eerder as om toegewings te maak sodat die belange van ander volke ook geakkommodeer moet word. Hierdie stelsel is slegs moontlik mits geen ander volke betrokke is by die funksionering van die Afrikanergemeenskap nie en derhalwe nie in enige hoedanigheid ’n faktor is nie.

Wie dan? Sedert 1991 is die Afrikaners in Orania al besig om hierdie strategie te volg en terwyl die toestande vir Afrikaners in ander dele van suidelike Afrika net agteruit gegaan het, is dit ’n totaal teenoorgestelde geval in Orania. Volhoubare ekonomiese groei en aanvaarbare dienslewering tesame met uiters lae vlakke van misdaad en hoë gehalte-onderwys is net ’n paar van die werklikhede wat in Orania seëvier. Hoekom wil mens krepeer in ’n volksvreemde republiek terwyl mens kan floreer in ’n Afrikaner Republiek? Nugter denke en logika!

Aangesien al die Afrikaners nooit op Orania kan hervestig nie weens ’n eenvoudige gebrek aan spasie is dit belangrik om nog groeipunte (gemeenskappe) in die geïdentifiseerde streek te vestig wat by wyse van die Orania-model funksioneer. Voordat verdere groeipunte opgerig kan word moet Orania egter eers ’n optimale vlak van ontwikkeling bereik sodat ons in staat kan wees om die nodige fondse, arbeid en kundigheid beskikbaar te stel sodat infrastruktuur geskep kan word vir die toekomstige groeipunte. Deur Orania te ondersteun is Afrikaners daadwerklik besig om die groter doel na te streef.

Wat die regsaspek betref is Afrikaners geheel en al geregtig om selfbeskikking oor hul eie instellings binne hul eie territoriale entiteit te hê. Artikel 235 in die Suid-Afrikaanse grondwet waarborg ons hierdie reg. Die Verenigde Nasies se manifes waarborg enige volk op aarde die reg om oor sy eie lot te bepaal op ’n wyse wat in sy beste belange is. Die beginsel van Afrikaner-vryheid is reeds waterdig en word deur die internasionale gemeenskap aanvaar – die uitvoering moet net deur meer Afrikaners aangepak word om sodoende ’n onafhanklike republiek te stig. Skep eers die realiteite sodat daar fisies ’n republiek in die lewe geroep kan word. Ons voorvaders het mos nie gedurende die 1830’s die OVS en die ZAR vanuit Kaapstad of Graaff-Reinet gestig nie of volksverkiesings gehou om hul vryheid te eis nie. Hulle het eers die nodige werklikhede op voetsoolvlak gaan vestig voordat hulle hul republikeinse vryheid kon verklaar.

Soos die Romeine hul republiek letterlik vanuit die grond opgebou het, so ook is die Afrikaner besig om vandag sy nuwe en waarskynlik ook sy laaste republiek te bou. Laaste omrede ons uit ons foute van die verlede geleer het en kan sien wat volhoubaar is, al dan nie. Hierdie keer herstel ons ons vryheid op die regte plek met die regte intensies en met die regte hande – ons Boere hande!

Rome was nie in ’n dag gebou nie maar die Romeine het immers op ’n dag begin om Rome te bou. Indien die eise wat onafhanklikheid stel vir sommige mense te hoog is dan verdien hulle nie die voorreg om bemagtig te word deur hul volk se reg op republikeinse vryheid uit te leef nie. By hierdie beginsel sal die Afrikaner moet staan of val.

In die woorde van dr. D.F. Malan, een van die vorige eeu se grootste stryders vir Afrikaner Republikanisme: “Afrikaner, waarheen is jy op pad?” “Glo in God! Glo in jou volk! Glo in jouself!”

Orania:  http://www.orania.co.za

Lees ‘Wees net n Afrikaner

Sluit aan by: Carte Blanche se Facebook groep

Vry Afrikaner se Facebook groep

 

2 gedagtes oor “Republiek!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s