Izak de Villiers: Wie die laaste lag…

Totsiens!

deur Izak de Villiers

23-10-1997

Na ses en ‘n half jaar as skrywer van hierdie rubriek en redakteur van Rapport is dit tyd om te groet. As ‘n mens in ruiter-taal van Rapport kan praat, is hierdie koerant ‘n vurige hings wat daarvan hou om sy ruiters af te gooi. Ek het genade ontvang om self uit die saal te klim, nogal ‘n jaar nadat ek die “bestemde” aftree-ouderdom vir redakteurs bereik het.

Ek het hier aangekom toe die eerste treë van onderhandeling in die rigting van ‘n “Kodesa” plaasgevind het. Van die regeringsleiers wat toe die kitaar geslaan het, het min oorgebly. Sic transit gloria mundi.

Dis nogal moeilik om ná al die groot versekerings (“Dis my bottom line”, “Dit is ononderhandelbaar”) nie ‘n paar knorrige klappe na die manne van die verlede te mik nie. Maar dis eintlik nie paslik by ‘n totsiens nie. Maar ek kan nie help om aan ‘n storie van my ma te dink nie, van ‘n eens vooraanstaande inwoner van ons geweste wat vir familie borg geteken het en die res van sy dae as arbeider by die munisipaliteit moes slyt. Dié beeld spook nogal by my.

In die politiek het iemand ook vir iemand geteken (sonder veel waarborge, en dit was die probleem. Nie die teken nie, maar die waarborge). Maar ek het beloof om die knorre te laat. En ek bedoel die sintaksis presies net so. Wat ‘n mens ook al met die wysheid van terugblik kan sê: in die hele proses is daar ‘n groot hap uit die Afrikaner se selfrespek gehap.

Selfrespek soos dit straal uit ‘n brief van wyle pres. M.T. Steyn toe hy in 1905 aan “die heer Van Velden” geskryf het oor twee Vrystaters wat hom gedurende die Tweede Vryheidsoorlog kom spreek het. Hulle het my kom vra: “Ons gaan vir ons land veg, president, maar ons wil van u weet, as ons en ander dalk gesneuwel het, sal ons onafhanklikheid nie sommer prysgegee word nie?” My antwoord was: “Ek beloof julle ek sal my hand op geen papier sit waardeur ons onafhanklikheid vernietig sal word nie.” Enkele dae daarna het albei gesneuwel op die slagveld van Magersfontein. Ek het my woord gehou. God sy dank daarvoor.”

Wat het van hierdie gees geword in die Afrikaner se koue winternag van die jare negentig? Dalk het daar meer oorgebly as wat ‘n mens dink. Daar is te veel stemme wat uit die verlede bly roep, te veel heldedom, om sommer net genegeer te word as ‘n voetnoot van die geskiedenis en daarby een van beskuldiging. In 1905 toe president Steyn dit geskryf het, het van sy mense ook in groot getalle die land verlaat. Sommige het teruggekeer. Ander nooit weer nie.

In ons tyd verlaat baie mense ook die land, en dikwels met goeie rede. Maar die meeste sal moet bly omdat daar geen ander heenkome is nie en daar weer om erkenning in die Suid-Afrikaanse son geveg sal moet word: in die kultuurliggame, in die kerke, in politieke partye, in die handel, met die taal as die groot bind faktor.

Een of ander tyd sal daar weer ‘n vorm van hantering van eie sake moet kom. Net so min as wat ‘n minderheid ‘n meerderheid vir altyd kon regeer, kan ‘n meerderheid ‘n minderheid met ‘n geskiedenis soos die Afrikaner s’n vir altyd ten volle oorheers. As apartheid soos wyle prof. Bennie Keet gesê het, ‘n stoep droom was, is die reënboognasie dit ook.

Moet ook nie verbaas wees as swart solidariteit in die toekoms verskerp gaan word, eerder as afneem nie. Dalk nog voor 1999 gaan Asiër- en wit gesigte in daardie oord al hoe skaarser word. Dit voorspel niks goeds nie, maar dis hoe dit tans onder die oppervlak roer. Dieselfde geld vir die nie-swart minderheid. Die najaag van swart stemme is vir eers ‘n stoep droom. Iewers vorentoe sal daar weer eendag om ‘n tafel gesit word, dalk wanneer gesonde denke geseëvier het en dalk om wysigings aan die Grondwet aan te bring. Hierdie wysigings sal die bestaan van minderhede en by name die Afrikaner erken en beskryf.

Dit sal kom deur vas op standpunte te staan en kundigheid aan te bied en nie deur heersers se voete te lek nie. Ongelukkig het laasgenoemde ietwat mode geword onder sekere mense wat gister en eergister nog die kryg tamboere wou slaan.

Of die Afrikaner ‘n toekoms het? Ja, maar dan sal ons moet begin om die gedurige gehamer op verdeeldheid te staak en eerder kyk wat ons saambind. Moet ook nie vir my sê ons sal altyd verdeel bly en kyk na die Jode nie. Ja, kyk na die Jode: hulle is ook maar verdeel van ver regs tot ver links. Maar wanneer daar menings druk toegepas moet word, is hulle een.

Die stigting van ‘n informele Raad van Afrikaners wat nie deur die staat vergoed word nie, sal ‘n goeie begin wees. Die bymekaarkom van beskikbare kragte ook. Harde werk ook. En natuurlik die verskyning van ‘n leier van die kaliber van ‘n president Steyn. Daarmee totsiens en baie dankie vir ondersteuning van baie jare.

Izak de Villiers is oorlede op 28 September 2009


3 thoughts on “Izak de Villiers: Wie die laaste lag…

  1. Willie Pretorius

    Soveel waar woorde, het ons `n leier vir ons boerenasie? Ek het na 1994 nog nooit weer aan `n politieke party behoort nie, baie mense sal vir my dalk veroordeel maar dit is my standpunt, ons het `n GODS man nodig om die volk te lei nie `n politikus nie. Hier was al baie sogenaamde leiers maar vir hulle gaan dit veel meer oor ego en geld as oor hulle volk.
    Daar is `n behoefte by ons volk om weer na aan GOD te lewe maar ons is herderloos, ek bly positief aangesien ek glo aan Siener van Rensburg, hy het so persoon beskryf wat ons volk sal lei, eerste na GOD en dan vir totale vryheid.

  2. ‘Die stigting van ‘n informele Raad van Afrikaners wat nie deur die staat vergoed word nie, sal ‘n goeie begin wees.’ Hy was n groot idealis,vir seker.Die probleem wat ek hiermee het is dat ons altyd na n politieke oplossing soek.Politieke doelwitte het ons wel.Die probleem is net dat dit gewoonlik op n gepraat en gepraat neerkom.As daar dan wel n besluit geneem word lyk dit soos die kameel wat glo deur n komitee ontwerp is.Ek sou graag sy mening oor die VVK wou hoor wat ten spyte van n duidelike belangeloosheid onder die Afrikaanse kieser,hoop om n mandaat te verkry en sodoende aan aspirant politieke groepe of dan ‘partye’ soos die Afrikaner Owerheid geloofwaardigheid te verleen.Dit klink dalk sinies van my maar die rede hoekom ek so se is omdat dit in die praktyk op duplisering neerkom.Die harde werk wat die afgelope twintig jaar deur die Orania Beweging gedoen is om bestendigheid aan die volkstaat se ligging en aard te gee word hierdeur verdag gemaak.Ek neem aan dat n ligging weer van vooraf ondersoek en bespreek sal word.Die bestuur van Orania sal betrek moet word om hulle saak voor die AO kom stel.Almal sal hulle saak kom stel.Dit klink vir my bra na n Babelse verwarring.Kom ons los die politieke bekgevegte en konsentreer op die basis wat reeds neergele is.As daar net n groter besef sou kom oor hoe laat dit reeds in die dag is sal daar harder op die hoe en minder op die waar gekonsentreer word.Die waarom, lyk dit is darem reeds afgehandel.Met die so het die bestuur van Orania reeds baie om oor te spog.Orania is die enigste harde werklikheid wat tot dusver gerealiseer het.Die ligging is reg,die bestuur is bekwaam en aanvaarding vind op n al hoe breer vlak plaas.Ek glo dat ons wel die kaliber leiers soos Pres.Steyn het.Die probleem le by die klomp hoenders wat hy moet aanjaag.

  3. Terug pieng: Tweets that mention Die einde van n era « Carte Blanche -- Topsy.com

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s