Eerste ervaring van Orania

Daar was al baie geskryf en gesê oor die Afrikanertuiste. Soos talle mense voor my het die logika van Afrikaner-vryheid die nodige aansporing gebied om self te gaan kyk hoe Afrikaners hul strewe na republikeinse onafhanklikheid vanuit Orania bevorder.

’n Gees van opgewondenheid het in my geborrel terwyl ek laataand deur die Bo-Karoo gery het. Skielik verskyn daar ’n reuse beligte kruis vanuit die donkerte. Ek was uiteindelik in Orania. Geen mure, tralies of valhekke met nors wagte en sekuriteitskameras wat my beskuldigend aangluur nie – net ’n kruis in die helder maanlig wat my verwelkom.

Na ’n lang rit is mens nie nog lus om sleutels te soek of voor doeiemansdeur te staan nie. Tot my verbasing vind ek die selfsorg vakansiehuis se voordeur wawyd oop met die sleutels op die kombuistafel. Die deur het óók oop gebly en so, vir die eerste keer in my lewe, gaan slaap ek in vrede sonder alarms of geslote deure.

Gedurende my besoek het ek interessante mense ontmoet, o.a. die burgemeester mnr. Carel Boshoff (iv), dorpsbestuurder mnr. Frans de Klerk, hoof van Orania Beweging mnr. Jaco Kleynhans en natuurlik ook ’n uiters besondere en aangename mens, prof. Carel Boshoff – stigtervader van Orania. Ek was bevoorreg om insiggewende gesprekke waar te neem tussen Afrikaner rolspelers soos mnr. Jaco Mulder van die Vryheidsfront Plus en mnr. Willie Spies van AfriForum. Hierdie geselsies het my opreg hoop gegee vir die toekoms van die Afrikaner, want ons het beslis nie ’n gebrek aan bestendige leiers nie.

Die mense wat soos ’n paal bo water uitgestaan het was egter die normale man, vrou en kind wat hierdie gemeenskap so spesiaal maak. Die alledaagse Oraniër se gasvryheid, opregte vriendelikheid en innerlike ordentlikheid het my sowaar beïndruk. Dit is verbasend om te sien dat daar nog mense is wat tyd maak om mekaar op straat te groet, ongeag van hul besige lewens, dit alles in vrolike Afrikaans.

Kort na my aankoms het ek besef dat die hele dorp in rep en roer is. Orania was vol jongmense vanweë die stigting van Orania Beweging se jeug-vleuel. Die asemrowende boetiekhotel, met sy puik restaurante en spog spa, het ook sy opening gedurende my besoek gevier. Dit was waarlik ’n voorreg om hierdie elegante byeenkoms op die oewer van die Oranjerivier by te woon. Inspirerende sprekers soos die hotel eienares, mev. Anna Maria Laäs, het my net weer laat besef tot wat Afrikaners werklik in staat is wanneer ons bietjie skouer aan die wiel sit en in ons drome begin glo.

Na alles wat ek deur die jare van Orania gelees en gehoor het, is ek verheug om met my eie oë te kon sien wat hierdie dorp in werklikheid is en presies hoe dinge daar in praktyk funksioneer.

Dit is waar dat Orania nie ’n volkstaat is nie. Indien wel, sou die konsep van Afrikaner-vryheid ’n gebrek aan ambisie gely het. Orania is die begin van iets veel groter as ’n volkstaat. Oraniërs sien hulself as deel van die kontinent waar die Afrikanervolk gebore was. Afrika het Orania en die toekomstige Afrikaner Republiek nodig en die Afrikanertuiste het ten doel om nie net die Afrikaner nie maar ook die hele Afrika se beste belange op die hart te dra.

Is dit nie immers die rede waarom ons Hemelse Vader ons voorouers uit Europa geneem het en sodoende ’n nuwe volk hier in Afrika geskep het nie? Die Afrikaner kan nie aanspraak maak op Europese identiteit nie want ons is reeds Afrikane, gebore en getoë in Afrika al vir byna 400 jaar.

Kortliks na my kuiertjie op Orania was ek weer herinner aan die teleurstellende realiteit dat daar steeds ’n gebrek aan eendrag heers onder die Afrikaner sovêr dit ons vryheidsideaal aangaan.

Daar is steeds mense wat glo dat ons onsself moet toespits om gebiede soos Pretoria en Johannesburg te beset met die beweerde 700 000 werklose Afrikaners wat tans regoor suidelike Afrika in hartverskeurende armoede krepeer. Al hervestig die hele Afrikanervolk môre in die PWV-streek sal ons steeds ’n minderheid in hierdie gebied wees dus gaan dit my verstand te bowe dat mense hul tyd kan mors met sulke flou strategieë  terwyl Orania reg voor hul neuse blom. Ek wonder wat hulle terughou om hul gewig agter Orania te gooi.

Verder is daar ’n groep Afrikaners wat strewe om ’n verkiesing te hou sodat ons  volk weer oor ’n volksraad kan beskik. In beginsel is dit ’n goeie idee maar ek kan nie lekker agter die kap van die byl kom waarom hierdie volksraad ten doel gaan hê om vir die Afrikaner ’n volkstaat by die ANC-regering te eis nie. Hoe eis mens iets wat nog nie bestaan nie? Kragtens artikel 235 in die grondwet het ons klaar ’n reg op selfbeskikking. Skep dus eers die realiteite op voetsoolvlak om ’n volkstaat te eis voor mens jou tyd mors by ’n stembus. Dit is presies wat Orania is – ’n realiteit op voetsoolvlak. Nou hang dit net van onsself af hoe vêr hierdie realiteit gaan ontwikkel in die toekoms.

Sovêr dit besetting, volksverkiesings en volksrade aangaan is ek van mening dat indien mense nie bereid gaan wees om in die eerste plek hul republiek fisies van nuuts af uit die grond uit te bou nie dan gaan hulle vrede moet maak met die feit dat hul vryheid in ’n volkseie territoriale entiteit nooit gaan realiseer nie.

Gaan dit vir baie Afrikaners dan steeds oor die behoud van wat die ou Suid-Afrika was? Indien wel, mens kan nie verwag om te vorder as jy konstant moet wal skop teen verandering nie. Die Afrikaner moet homself losmaak van Suid-Afrika, oud en nuut, want nie een van die twee was vir die Afrikaner ’n volhoubare heimat nie.

Regs beteken dat mens ’n bestaande bedeling wil behou. Die Nuwe Suid-Afrika is die bestaande bedeling dus is die ANC en DA regs, eerder vêr-regs. Waarom sou ek regs of behoudend wil wees wanneer ek liberaal is en opstaan vir ons volk se vryheid in ons eie republiek? Die woord liberaal is afkomstig van die Latyns vir vryheid – libertas. Trouens, die Afrikaner is in wese  liberaal omrede ons deur die eeue heen gestreef het om vry te wees, om vreedsaam in ons eie vaderland te lewe. Dit beteken om vry te wees van enige nasie, hetsy Brittanje of Suid-Afrika, wat oor ons volk heers.

Die uitdagings en die nagevolge was nog altyd dieselfde: ons word oorrompel en oorheers, ons staan op, ons bou en ons floreer. Orania is die beginpunt. Dit is waar ons nou opstaan en bou. Van meet af bou Oraniërs met hul eie Afrikaner hande sodat oorheersing deur ander nasies se oordonderende getalle voorkom kan word en dat Afrikaners nooit weer daarvan beskuldig gaan word dat ons ander groepe se arbeid uitbuit nie. Die herlewing van die Afrikanervolk se wil om te bestaan en vry te wees is juis die fondasie wat Orania verteenwoordig en waarop die toekoms vandag gebou word.

Tydens die boetiekhotel se opening het Carel Boshoff (iv) in sy toespraak genoem dat elke land oor ’n  denkbeeldige poort beskik – ’n poort wat die bepaalde land aan die wêreld ten toon stel. So ’n poort, of te wel hoofstad, is ’n voorvereiste vir die bestaan van ’n staat. Orania is sonder twyfel besig om te ontwikkel as die poort tot ’n groter Afrikaner republiek.

Orania  is verseker nie bloot ’n interessante eksperiment in ekonomiese en kulturele ontwikkeling nie. Orania is ’n werklikheid wat volhoubaar is en resultate bied waarop ons verder kan uitbrei. Dit is noodsaaklik vir Afrikaners se oorlewing om vrye selfbeskikking in ons eie staat te verwesenlik. Op Orania vind mens die enigste groep Afrikaners wat daadwerklik vordering toon in hierdie verband.

Om te vergaan deur transformasie of om met ons sterte tussen ons bene uit Afrika uit te vlug was vir die Afrikaner nog nooit ’n opsie nie. Staan op, bou, floreer… Orania voorwaarts!

Rozanne Meyer

Rozanne is in 1987 in Oos-Londen gebore en het haar honneursgraad in Besigheidsbestuur by die Universiteit van Wallis voltooi. Na haar studies in Europa het sy onlangs teruggekeer na Afrika om permanent op Orania te vestig as jong besigheidsvrou, skrywer en kampvegter vir Afrikaner-vryheid.

Lees gerus ‘Wees net n Afrikaner

8 thoughts on “Eerste ervaring van Orania

  1. Ek het my kort tydjie op besoek op Orania verskriklik genuut.

    Ek dink die konsep van Orania absoluut noodsaaklig is vir die Afrikaner Volk dsahet ek tuis gevoel en in my land alhoewel ons nou suid Afrika inn mater deel met ander mense ook moet ons onthou Suid Afrika is ons eiendom en ons plek en Orania is die plek om na te volg om selfbeskiking to bewerkstelling vir Afrikaners ooral in Afirka en om so doende te doen om met die buurman in vrede te leef .

    op my hart is egter die bekommernis dat ons nog nie redig vry is nie so kyk maar solank ook by die google soektog na TRUTH AND RECONCILATION PARTY OF SOUTH AFRICA sowel as TRPSA en letshelpclive.blogspot.com

  2. Interessant. Ek stem heeltemal saam met die stelling: “Daar is steeds mense wat glo dat ons onsself moet toespits om gebiede soos Pretoria en Johannesburg te beset met die beweerde 700 000 werklose Afrikaners wat tans regoor suidelike Afrika in hartverskeurende armoede krepeer. Al hervestig die hele Afrikanervolk môre in die PWV-streek sal ons steeds ’n minderheid in hierdie gebied wees dus gaan dit my verstand te bowe dat mense hul tyd kan mors met sulke flou strategieë terwyl Orania reg voor hul neuse blom. Ek wonder wat hulle terughou om hul gewig agter Orania te gooi.”

  3. Unfortunately the same applies if all Afrikaners were to move to Orania, as they then also will still be a minority in the greater S. Africa. And I’ll also guarantee you that when Orania gets bigger and prosperous black squatters will appear on its municipal boundary – if actually not outright in the town itself. It’s a damn pity but nevertheless reality.

  4. Hannodb

    Jou skrywe herinner my baie aan my eie denke toe ek dieselfde ouderdom was. Ek is bly om te kan sê dat dit amper 10 jaar later nog nie veel verander het nie. Dis goed om te sien hoe ander nugter denkende jongmense op dieselfde konklusie uitgekom het as waar by ek uitgekom het.

  5. Sodra ek besluit wat ek sal doen vir n inkomste terwyl op Orania sal ek my daarnatoe hervestig dit is so eenvoudig soos n koei gee melk ,dalk is n afrondingskool/koshuis (post – matriek) waar ander onderwerpe wat nie deel is van Afrikaaners Volksskoolonderig maar watr el nuttig sal wees vir Afrikaanes wat die Wereld oor werk omdat ons en ons werk etiek n’ ordentlike utivoerproduk is.
    Laatr die mark maar aan ons voorskyf wat ons sal besluit !

  6. I am a member of Orania and as an English speaking South African of European extraction do I believe that Orania is the only way forward for all South Africans of European descent.I will eventually settle myself,my wife and my son in Orania.My son will grow up speaking Afrikaans,my wife already learns Afrikaans and I myself,thankfully due to my Afrikaans step mother,speaks Afrikaans fairly well it will only improve going forward! I and my family will always be thankful for the work done by the original founding members of Orania,we owe you a lot,even our lives.Can’t wait to be among you all helping to build a dream only we can build! I believe also that the Afrikaner people will come to Orania in their thousands,a small trickle will become a stream and a raging river! Voorwaarts almal,net voorwaarts is die manier tot vryheid!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s