Die Roepstem

Vryheidsgesinde Afrikaners is al vir jare gefrustreerd met die Afrikaanse hoofstroommedia wat pens-en-pootjies in die reënboognasie sop beland het. Die Afrikaanse media het Afrikanerskap en volkstrots opsy geskuif en dit vervang met vreemde konsepte soos nasiebou en integrasie met die swart-meerderheid beheerde Suid-Afrika.

Al die Afrikaanse dagkoerante, Sondagkoerante en tydskrifte soos Huisgenoot, Sarie en Landbou Weekblad word deur Media24 besit. Media24 is deel van die Naspers-groep en het tans ongeveer 100 000 SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging) aandeelhouers.

Die inhoud en propaganda van Afrikaanse hoofstroomkoerante voldoen dus aan die belange van hul eienaars en nie aan hul lesers se sentimente nie. Dit verduidelik waarom ’n populêre onderwerp soos Afrikaner onafhanklikheid nie groter blootstelling in die bestaande Afrikaanse hoofstroommedia geniet nie.

Maar is daar enigsins ’n hunkering na Afrikaner onafhanklikheid onder die lesers van Afrikaanse hoofstroomkoerante? Hierdie vraag was in Januarie 2010 beantwoord nadat Media24 besluit het om die waters te toets met ’n meningspeiling m.b.t. Afrikaner onafhanklikheid onder die lesers van Beeld.

Die vraag: “Sal jy in ’n volkstaat gaan bly?”

56% van Beeld-lesers (6 178 mense) wat aan die peiling deelgeneem het, het ja gesê. Net meer as ’n kwart (27%, of 2 933 lesers) het nee gesê, terwyl die res (17% of 1 908 lesers) gemeen het dat hulle dit sal oorweeg.

Duidelik het Naspers nie hierdie resultaat verwag nie aangesien dié mediagroep vir jare lank alles in die stryd gewerp het om nasiebou en integrasie in Afrikaners se kele af te wurg.

In die hoop dat die Kapenaars, wat tradisioneel meer liberaal as hul volksgenote in die noorde is, sal bewys dat die resultaat van Beeld se meningspeiling maar net ’n frats was, het Media24 ‘n maand later in hul Kaapse dagblad, Die Burger, ‘n stappie verder gegaan met ’n nuwe meningspeiling wat uitgebrei het oor wat hulle nou eintlik bedoel met die konsep “volkstaat”. Orania kom toe in hul visier sodat lesers die volkstaat met ’n spesifieke plek kan assosieer. Sekerlik sal die meerderheid Afrikaners nie in die Karoo wil gaan bly nie!

Die vraag: “In ‘n rubriek praat Die Burger se redakteur van hoe ‘n onlangse Beeld peiling dui op ’n nuwe Afrikaner-trek, ‘n verskuiwing van Afrikaners se gesindhede na ’n soort psigiese Orania. Sou JY dit oorweeg om in ‘n volkstaat te bly?”.

Sodat daar geen ruimte vir draadsitters kon wees nie was die leser net twee opsies gebied: Ja of Nee.

60% van Burger-lesers (1412 mense) het ja gesê terwyl 40% (945 mense) nee geantwoord het. Weereens bewys die lesers van ’n Naspers koerant dat die meerderheid Afrikaners die gedagte van ’n Afrikaner volkstaat, soos wat tans vanuit Orania ontwikkel word, ondersteun.

Alhoewel beide hierdie meningspeilings nie as ’n wetenskaplike studie beskou kan word nie, is dit wel die beste bewys sedert 1994 dat Afrikaners nie die vryheidsideaal afgeskryf het nie.

In 1994 het die nuutgestigte Vryheidsfront (VF) hul verkiesingsveldtog gefokus op Afrikaner-vryheid. Die party het verkondig dat diegene wat ’n volkstaat wil hê nie van die stembus moet wegbly nie en eerder vir die VF moet stem. Byna ’n halfmiljoen vryheidsgesinde Afrikaners het positief gereageer en vir dié party gestem. Sodoende kon bewys word dat ’n groot deel van die Afrikanervolk onafhanklik wil wees. Dit gaan die verstand te bowe dat die VF hul honderde duisende ondersteuners daarna in die steek gelaat het deur van die vryheidsideaal af te dwaal.

Vandag het die Afrikaner nie ’n politieke party of ’n hoofstroom koerant wat die idee van ’n onafhanklike Afrikaner Republiek verkondig nie. Die Orania Beweging is die enigste noemenswaardige organisasie waarby vryheidsgesinde Afrikaners kan aansluit en resultate sal sien sovêr dit republikeinse propaganda en volhoubare onafhanklikheid projekte aangaan.

’n Politieke party is egter nie noodsaaklik nie. Die media is wel. Sonder ’n onafhanklike mondstuk vir Afrikaner-vryheid sal daar nooit grootskaalse mobilisering vir ’n Afrikaner Republiek wees nie.

Naspers se meningspeilings bewys egter dat indien Afrikaners gevra word, die meerderheid die gedagte van onafhanklikheid ondersteun. Ongelukkig word hierdie sentiment onder Afrikaners tans nêrens heen gekanaliseer nie en ruk Afrikaners derhalwe nie in hul massas op om by ’n organisasie soos die Orania Beweging aan te sluit nie.

Afrikaners wil vry wees maar hulle weet net nie hoe nie. Omrede hulle oningelig is, kan Afrikaners nie kloutjie by die oor sit t.o.v. die stappe wat gevolg moet word om vryheid te bekom nie.

Vir ’n onafhanklike Afrikaner Republiek om tot stand te kom, moet Orania aanhou groei en daar sal so spoedig moontlik nuwe Afrikaner dorpe in die sentraal-weste (Bo-Karoo en Weskus) gevestig moet word. ’n Paar honderdduisend Afrikaners gaan moet hervestig na hierdie dorpe, nuwe instellings met hul eie arbeid en fondse uit die grond opbou en onderhou terwyl hulle hul gemeenskappe self bestuur. Sodra die Afrikaner ’n oorgrote meerderheid in hierdie yl bevolkte streek is en reeds de facto selfbeskikking daar toepas sal die gebied se sesessie van die ANC-beheerde Suid-Afrika ’n blote formaliteit wees.

Dis juis hierdie strewe waarheen Afrikaners se sentimente gekanaliseer moet word. Die geskiedenis het deeglik bewys dat die katalisator vir die realisering van ’n byna onmoontlike strewe na onafhanklikheid altyd ’n vryheidsgesinde hoofstroomkoerant is. Vandag kan so ’n koerant meer mense bereik as in die verlede aangesien die internet ook ingespan kan word om groter blootstelling te bewerkstellig.

In die verlede was daar o.a. twee vryheidsgesinde koerante wat so ’n groot impak op die Afrikaner gehad het dat die byna onmoontlike ’n werklikheid geword het. Sonder die rol wat Die Afrikaanse Patriot gespeel het sou die Afrikaner nie vandag ’n eie taal en identiteit gehad het nie. Na die hartseer neerlae van die Tweede Vryheidsoorlog en die 1914-Rebellie het Die Transvaler gesorg vir die herlewing van republikeinse onafhanklikheid onder die volk.

Die Afrikaanse Patriot was die Genootskap van Regte Afrikaners (G.R.A.) se maandblad. Die koerantjie het ’n propaganda platform geskep om Afrikaans as taal in eie reg te vestig en om die G.R.A. se staatkundige ideale op positief-Christelike grondslag te bevorder. Met sy eerste publikasie in 1876 was Die Patriot die heel eerste koerant wat in Afrikaans verskyn het. Nietemin, die koerant kon gedurende sy eerste bestaansjaar slegs 50 intekenare werf.

Die koerantjie het wel vinnig gegroei te midde van ’n sterk aanslag vanuit die Engelse en pro-Hollandse kampe. Teen 1880 was daar reeds 3 000 intekenare en het die idee ernstig begin vlamvat dat die Afrikanervolk ’n eie moedertaal moet hê en dat dit nie Hollands of Engels gaan wees nie maar wel Afrikaans.

Die Tweede Vryheidsoorlog het die koerant ernstig ontwrig weens dit nie meer doeltreffend versprei kon word nie en lesers nie hul intekengelde kon betaal nie. In 1904 was Die Patriot vir die laaste keer gedruk maar dié koerant het wel ’n behoefte onder Afrikaners ontwaak wat gelei het tot die erkenning van Afrikaans as ’n amptelike taal in 1925.

Sonder die hoeksteen wat deur die stigters van Die Patriot gelê was, sou Afrikaners nie vandag ’n taal gepraat het wat inheems aan Afrika is nie of kon aanspraak maak op ’n kultuur wat ons onderskei van die Europese volke nie. Die Afrikaner is vandag as’t ware die enigste inheemse blanke volk van Afrika en het by implikasie net soveel reg soos enige ander Afrika stam, volk of nasie om onafhanklik te wees.

Die Transvaler het vir die eerste keer in 1937 verskyn. Die dagblad is oorspronklik uitgegee deur die Voortrekkerpers en het ten doel gehad om Afrikaners in die Transvaal agter die destydse Nasionale Party se beleid van ’n Afrikaner beheerde Suid-Afrikaanse republiek te skaar.

Onder die redakteurskap van dr. H.F. Verwoerd het Die Transvaler gegroei tot ’n kragtige propaganda masjien wat die ideaal van Afrikaner republikanisme tot nuwe hoogtes geneem het. Die volk het weer moed geskep en begin glo in die feit dat hulle beter daartoe in staat is om hulself te regeer as wat enige ander nasie of ryk op aarde oor hulle kan regeer.

Op 31 Mei 1961 het die Nasionale Party hul oënskynlik onmoontlike doel bereik deur die Republiek uit te roep. Na byna ses dekades van Britse oppergesag was die Afrikanervolk weer vry om deur God se leiding hul eie lot te bepaal. Die rol wat Die Transvaler gespeel het in die proses om die volk se vryheid te herstel is van onskatbare waarde.

In retrospek is dit uiters tragies dat hierdie koerant die sirkulasie stryd teen Naspers se nuwe dagblad, nl. Die Beeld, gedurende die 1980s verloor het. Die Transvaler het in 1993 tot niet gegaan en daarmee sluit die laaste hoofstroom koerant wat die behoud van die Afrikaner se republikeinse vryheid nagestreef het. ’n Jaar later verloor die Afrikaner ook sy vryheid en vir die eerste keer in die volk se geskiedenis word ons regeer deur ’n nie-Christelike, kwasie kommunistiese heerser in die vorm van die ANC.

Die tyd het aangebreek dat ons die leisels opneem deur ’n mondstuk in die lewe te roep wat Afrikaners se harte weer warm sal laat klop vir vryheid. ’n Propaganda masjien wat die vryheidsideaal in die regte rigting kanaliseer. ’n Platform waarvandaan ons taal en kultuur heelhartig bevorder word. ’n Spreekbuis wat betrokke is met die daarstelling van ekonomiese geleenthede binne die beoogde grondgebied van die Afrikaner Republiek.

Soet is die stryd vir die stryder want hy het die roepstem gehoor!

Ons verwelkom jul idees en insette hieronder m.b.t. die totstandkoming van ’n nuwe vryheidsgesinde koerant.

14 thoughts on “Die Roepstem

  1. Clifford

    Ek is een van die mense wat nie meer koerante lees of TV kyk nie. Die rede is juis omdat die propaganda wat daaruit kom lynreg teen my grein loop. Dus kyk geen kind of gas aan huise TV nie en word geen tydskrif toegelaat nie. Ons het ‘n beter media…. Die internet.

    Hier kan ons na Radio Pretoria luister, nuus ontvang wat nie geredigeer is om sodoende politieke doelwitte van die reënboogregering met sy sataniese ideologie te bevorder nie. Ons is vry en dink vir ons self.
    As mens die beheerde mediajuk afgooi is jy vry.

  2. Ek stem 100% saam met jou Quintin.

    Ek verwys na die Orania Beweging se onlangse bylae wat hulle in die Beeld beskikbaar gestel het.
    Dit het verseker heelwat huishoudings bereik en ek glo ‘n paar mense het daardeur gelees en sou inderdaad beïndruk gewees het met wat reeds in Orania vermag is.

    Ek glo dit sou heel moontlik ‘n redelike impak op Afrikaners kan hê as ‘n soortgelyke projek op ‘n maandlikse basis in streeks koerante as bylae gevoeg kon word.
    Ek besef natuurlik dat dit op die stadium heel moontlik nie ekonomies haalbaar sal wees nie as gevolg van die finansiële implikasies daarvan.
    Alternatiewelik, as ‘n meer bekostigbare opsie, kan daar in samewerking met die Orania Beweging advertensies in streekskoerante geplaas word om mense bewus te maak dat ‘n Afrikaner Koerant die lig gaan sien wat suiwer tot uitbouing van die toekomstige onafhanklike Afrikaner Republiek gefokus sal bly.
    So kan mense reeds gevra word om in te teken en spesiale aanbiedinge op jaarliks vooruitbetaalde ledegeld kan geadverteer word.
    Die Orania Beweging bied tans aan hul lede die Voorgrond aan om lede op hoogte te hou van verwikkelinge in en om Orania asook ‘n gereelde elektroniese nuusbrief, maar ek moet erken dat dit vir my voorkom of self nie die Voorgrond optimaal gebruik word om uitwoners te mobiliseer om inwoners te van die voorgestelde area nie en meer fokus op beriggewing vanuit Orania.

    Met so ‘n eie propaganda masjien kan daar verseker meer gefokus word op die voorgestelde gebied.
    Moontlike groeipunte kan identifiseer word en die blootstelling kry wat dit benodig.
    Volksgenote kan bearbei word om finasieel betrokke te raak by nuwe groeipunte en soos die Voortrekkers van ouds weer pioniers te word.
    Die foute van die verlede kan uitgespel word.
    Dit kan assisteer met die bemarkings van Volkseie ondernemings in die voorgetelde gebied deur blootstelling aan ander markte te gee buite die grense van die voorgestelde gebied.
    Ensovoorts…..

    EK glo ook dit dit vir ‘n voornemende entrepeneur met kennis en hopelik toerusting die ideale geleentheid sou bied om ‘n drukpers in Orania te vestig.
    Die werksgeleenthede wat geskep kan word is noemenswaardig as daar in berekening gebring word dat die verspreiding daarvan alleen ‘n logistieke uitdaging gaan wees.

    Daar kan self gepoog word, of ten minste ondersoek ingestel word, of van die herwinde papier verwerk kan word om weer gebruik te kan word om ten minste te kan dien as bylaag tot die beoogde koerant vir advertensies.

    Andersins kan daar gepoog word om eers ‘n elektroniese weergawe beskikbaar te stel waarin voornemende lesers gevra word om finansieel by te dra, asof hulle ingeskrewe lede van ‘n gedrukte koerant is, en so die finansies te kan in om uiteindelik ook ‘n gedrukte weergawe beskikbaar te kan stel wat die gedeelte van die volk kan bereik wat nie toegang het tot elektroniese media nie.
    Ek sal beslis inskryf, waar teken ek aan. 🙂

    Groetnis daar in die Afrikanertuiste…

  3. krakende kakebene

    Baie goeie artikel Quintin. Deesdae se koerante is net goed vir een ding… om jou braai mee aan te steek. Om dinge goedkoper te maak, dink jy ‘n suiwer elektroniese koerant kan werk, of is jy meer geneig om te gaan vir ‘n druk weergawe (of beide)? As dit wel net elektronies is, hoe suksesvol dink jy so iets kan wees. Hoe goed doen praag, byvoorbeeld?

    Baie goeie idee, en defnitief iets wat nodig is. Soos die land verder verval, sal die % Afrikaners wat onafhanklik wil wees verder styg. Ek dink nie Beeld of enige ander Naspers koerant sal waag om weer so ‘n vraag te vra nie. Maar ‘n mens kan wel sien aan die kommentaar by die artikels op die net dat mense waarlik gatvol is vir wat aangaan. Naspers het ook ‘n baie skelm gewoonte dat sodra ‘n berig verskyn wat duidelik die onbekwaamheid/wreedheid ens. van die klomp bloodstel, hulle nie kommentaar toelaat nie. Laat mens dink dat hulle weet dat hulle nie meer die denke van die Afrikaner verteenwoordig nie.

    Groete!

    1. Dankie vir jou kommetaar KK. Ons is tans besig om reelings te tref vir ‘n werkswinkel hier op Orania. Dis ons doel om vas te stel wat ons gaan benodig om ‘n vryheidsgesinde Afrikaner koerant en e-koerant op die been te bring en hoe en wanneer ons dit gaan doen.

      Kyk boaan die bladsy en sit jou epos in die “Kennisgewins van nuwe artikels” blokkie indien jy nog nie ‘n ingeskrewe leser is nie. Sodra ons weet wanneer hierdie werkswinkel gaan plaasvind gaan ek ‘n kennisgewing artikel skryf en sal jy onmiddelik op hoogte van sake wees.

  4. Pierre Du Plessis

    Voorwaar `n baie insiggewende artikel -myns insiens. Hou net in gedagte dat ons eie volk ingelig moet word en dit sal gedrukte media moet insluit, inaggenome die aantal afrikaners wat tans onder die broodlyn leef en nie internet tot hul beskikking het nie. Kom ons kry so `n pers op die been en kyk hoe ons, ons eie mense se moraal kan verbeter sodat hoop weer in hul harte kan ontvlam. Om te hoopis voorwaar `n goeie begin, maar daardie hoop MOET omgeskaakel word in `n ideaal wat met ambisie verder gevoer moet word.
    Groete aan u almal. Laat ons Hoop sodat ons in hierdie land weer ons vryheid kan verwerk. Hoop bring uikoms as dir gevoed word.

    1. Dankie vir jou kommetaar Pierre. Ons is tans besig om reelings te tref vir ‘n werkswinkel hier op Orania. Dis ons doel om vas te stel wat ons gaan benodig om ‘n vryheidsgesinde Afrikaner koerant en e-koerant op die been te bring en hoe en wanneer ons dit gaan doen.

      Kyk boaan die bladsy en sit jou epos in die “Kennisgewins van nuwe artikels” blokkie indien jy nog nie ‘n ingeskrewe leser is nie. Sodra ons weet wanneer hierdie werkswinkel gaan plaasvind gaan ek ‘n kennisgewing artikel skryf en sal jy onmiddelik op hoogte van sake wees.

  5. theo

    Ja, Naspers het die vyand van die behoudende Afrikaner geword, alles wat reg was is skielik verkeerd, liefde oor die kleurgrens word aangemoedig (Kyknet), homoseksualisme word aanvaar (Rian op Kyknet) en word “gay” genoem, want die Afrikaanse woord “moffie” skend hulle mense regte, foeitog! Die verkragting van ons taal is iets vreesliks, jy moet lees van die of daai ou se “songs” of hulle “shows” ! Magtig, Somerset en Milner dans seker van plesier in hulle grafte! Afrikaners self is besig om ons taal en kultuur te vernietig, ons plaas mos ons kinders in Engelse skole want Afrikaans het nie ‘n toekoms nie! Hoe min vertroue het die mense nie! Ek sê, daar is nog te veel van ons mense wat Afrikaanse koerante koop, boikot hulle, ek lees al lankal nie meer die Rapport of Burger ens. nie!
    Ons sal weer vry wees, maar ons sal moet terugkeer na die Bybel en God, of ons daarvan hou of nie, dit is die enigste en al uitweg! Amen!

  6. Pedro Victor

    Ja Naspers is natuurlik die Broederbond se ou propaganda ryperd. Deesdae is hulle wedergebore en verwys na hulself as die Afrikanerbond. Navrae toon dat hulle nogsteeds dieselfde modus operandi volg, kompleet met geheime ledelyse. Dis die groot gebrek van die Afrikaner, dat hy sy eie “La Cosa Nostra” in sy leierskap toelaat. Insiggewende stuk Quinten!

  7. johan liebenberg

    Met huidige uitsprake en algemene gevoel onder die swart bevolking teenoor Afrikaners en Blankes in die algemeen,wil ek voorstel dat ons Afrikaners baie vinniger en aggresief moet beweeg.Hierdie is ons land en ons het nerens anders om na te gaan nie,hoe gouer ons almal dit besef hoe beter.Dit is vir my een van die take wat n Afrikaner nuusbrief/koerant so gou moontlik moet beklemtoon.Ons is besig om te verswak onder die valse propoganda en die tyd raak min.Hoe gaan ons te werk om al die pogings van veskillende groepe te kombineer en te organiseer .?

    1. Dankie vir jou kommetaar Johan. Ons is tans besig om reelings te tref vir ‘n werkswinkel hier op Orania. Dis ons doel om vas te stel wat ons gaan benodig om ‘n vryheidsgesinde Afrikaner koerant en e-koerant op die been te bring en hoe en wanneer ons dit gaan doen.

      Kyk boaan die bladsy en sit jou epos in die “Kennisgewins van nuwe artikels” blokkie indien jy nog nie ‘n ingeskrewe leser is nie. Sodra ons weet wanneer hierdie werkswinkel gaan plaasvind gaan ek ‘n kennisgewing artikel skryf en sal jy onmiddelik op hoogte van sake wees.

  8. Jaco van der Walt

    Dankie vir hierdie artikel.

    Afrikaners emigreer in hul honderduisende na Australië, Engeland, Nieu-Seeland en Kanada om weg te kom uit Suid-Afrika. Ongelukkig bestaan die infrastruktuur doodeenvoudig nie in Orania om aan ‘n groot hoeveelheid dokters, ingenieurs, rekenmeesters, regsgeleerdes ens. ‘n heenkome te bied nie. In parallel met Orania moet ander opsies ook ondersoek word om ‘n gedeelte van Suid-Afrika vir Afrikaners op te eis wat alreeds deur Afrikaners besit en beset word en waar die infrastruktuur dus reeds bestaan om hierdie mense vir die Afrikaner te behou.

    ‘n Groep kundiges wat deeglike navorsing gedoen het hieroor is OASE. http://www.oase.za.net

    1. Dankie vir jou inset Jaco. Orania kan natuurlik vir ‘n groot hoeveelheid dokters, ingenieurs, rekenmeesters ens. ‘n heenkome bied. Hoekom anders dink jy is soveel geskoolde Afrikaners en Afrikaner sakemanne besig om betrokke te raak by Orania?

      Gee kans – Rome was nie in ‘n dag gebou nie… ons is juis besig om elke dag aan ons toekomstige republiek te bou. ‘n Afrikaner Republiek wat gaan strek vanaf Orania tot die Weskus wat deur Afrikaners, vir Afrikaners van nuuts uit die grond uit opgebou word. Dis eenvoudig… of mense bou saam met ons (en dit begin wanneer jy by die Orania Beweging aansluit – maak nie saak waar jy bly nie) of julle gaan moet aanhou integreer met Mzanzi onder swart meerderheid beheer. Daar bestaan nie ‘n enkele plek op aarde behalwe Orania waar Afrikaners ‘n meerderheid vorm nie so nie een gebied waar Afrikaners voorkom en waar daar tans infrastruktuur bestaan kan beskou word as ‘n beter opsie of alternatief vir Orania nie.

      Jammer om dit so te stel, maar op hierdie stadium is dit Orania of niks totdat daar nog soortgelyke dorpe (groeipunte) gestig word tussen Orania en die Weskus. Stap 1 is om net eers Orania te voltooi voor ons die tweede groeipunt aanpak. Daarna het ons 2 groeipunte wat saam ‘n derde kan skep – die drie saam skep ‘n vierde en so word dit aansienlik makliker en gaan dit heelwat vinniger gebeur as wat mense dink.

      Ek hoop van harte dat jy al ‘n lid van Orania Beweging is – indien nie, besoek asb. http://www.orania.co.za

  9. Jaco vd Walt. Dankie vir jou nugter denke oor Orania en vir die feit dat jy lesers na OASE verwys.

    Dit is inderdaad so dat Orania ‘n edel poging is om vryheidsgesinde Afrikaners ‘n heenkome te bied, maar sedert ons volksplanting en ten spyte van veel erger teenslae as wat ons op hierdie oomblik in ons geskiedenis beleef, het Afrikaners nooit in groot getalle in die Noord-Kaap gaan vestig nie. Die volgehoue pogings van wyle prof. Boshoff en sy medewerkers om gedurende die afgelope twee dekades Afrikaners in noemenswaardige getalle na Orania te lok, het ongelukkig ook nie resultate opgelewer wat gemaak het dat Afrikaners in groot getalle daar gaan vestig het nie. Vrywillige verskuiwing van massas mense vind meestal plaas op grond van ekonomiese dryfvere en daarom dat Orania steeds minder as 1000 inwoners het sedert die dorpie se ontstaan as sogenaamde groeipunt vir ‘n Afrikaner-volkstuiste.

    Hierteenoor het meer as ‘n halfmiljoen Afrikaners sedert 1994 die land verlaat om elders in die wêreld te gaan vestig waar hulle brood en botter kan verdien en waar daar vir hulle en hul gesinne ‘n heenkome is met alles wat hul harte kan begeer. Dit is ook om hierdie rede dat baie Afrikaners wat reeds elders gaan hervestig het, al hoe minder terugverlang na SA en na mate hul kinders volwassenheid bereik, sal hulle waarskynlik nooit meer terugkeer nie – ek ken persoonlik baie sulke Afrikaners oorsee.

    Die feit dat groot getalle Afrikaners nie oor die nodige kwalifikasies of finansiële middelle beskik om oorsee te gaan vestig nie, het ook nie daartoe gelei dat hulle in enige noemenswaardige getalle na Orania verhuis het nie. Ingesluit by hierdie groep is werklose en verarmde Afrikaners wat ook nie sedert 1994 in Orania gaan vestig het nie; hulle beloop reeds meer as 600 000 en plak rondom dorpe en stede waar hulle hoop om werk en ‘n heenkome te vind. Hoe gaan hierdie Afrikaners, waarvan die getalle daagliks aangroei, ooit ‘n heenkome in Orania vind?

    ‘n Volgende groep wat nie kan emigreer nie, is ekonomies verbonde aan hul onmiddellike omgewing, hetsy vanweë sake- of werksgeleenthede en waarvan baie oor vaste eiendom beskik wat hulle nie sal agterlaat om iewers in ‘n semi-woestyn van vooraf ‘n nuwe lewe te gaan opbou uit niks uit nie.

    Dan is daar die groep wat oor alles beskik om te kan emigreer, sommige waarvan skatryk is, maar wat enigiets anders sal oorweeg behalwe as om uit hul gerieflike en omgewingsvrendelike bestaan na ‘n onderontwikkelde omgewingsonvriendelike gebied soos Orania te verhuis; baie van hierdie mense is ook vryheidsgesinde Afrikaners. Onder hierdie mense tel ook die paar duisend Afrikanerboere wat oorgebly het nadat die ANC sedert 1994 op georkestreerde wyse hulle mede-landbouers van hul plase af weggedryf het, of wat uitgemoor is deur die swerwende roof- en moordbendes wat ons almal so teister. Die feit dat veel meer Afrikanerboere elders in Afrika ‘n heenkome vind waar hulle kan voortgaan om hul kundigheid aan te wend en nou selfs in aansienlike getalle na Georgië verhuis waar hulle met ope arms en allerlei voordele ontvang word eerder as om in Orania te gaan vestig, beteken tog net een ding: Orania bied nie ‘n aanvaarbare heenkome vir hierdie mense nie.

    Orania as groeipunt is hoofsaaklik en vir alle praktiese doeleindes slegs afhanklik van die Oranjerivier. Hierdie rivier ontspring in Lesotho en vloei dan vir etlike honderde kilometers deur die ANC-beheerde RSA asook deur die RSA-beheerde Gariepdam, voordat dit uiteindelik Orania bereik. Dit is tog uiters riskant om die Afrikanervolk se toekoms op so ‘n wyse oor te laat aan ‘n enkel natuurlike bron waaroor Afrikaners self nooit beheer sal kan uitoefen nie. Voeg hieraan toe die RSA-regering se duidelike pogings om vir skaliegas in die Noord-Kaap te eksploreer wat, indien dit sou blyk ontginbaar te wees, sonder twyfel duisende werklose Afrikane vanuit die RSA en die res van Afrika sal lok.

    Die VN se Deklarasie oor Inheemse Volke is besonder duidelik wat betref grondgebied. Die bruinmense in die Noord-Kaap is en was nog altyd die meerderheidsbesetters van daardie gebied en hulle is direkte afstammelinge van die Khoisan, wat as ‘first nations’ daardie gebied reeds vir etlike duisende jare bewoon. Afrikaners sal nie enige groter aanspraak op grondgebied ooit in die Noord-Kaap geniet as wat die bruinmense reeds geniet kragtens die internasionale reg nie. Afrikaners wat dus hoop om ‘n soewereine staat daar te vestig, sal sonder twyfel hulleself vasloop teen die internasionale gemeenskap en wat die ANC sonder twyfel sal uitbuit op grond van internasionale regsbeginsels.

    Afskeiding van ‘n eenheidstaat deur ‘n minderheidsvolk is ‘n baie moeilike regsproses. Solank as wat Afrikaners deel is van die RSA-eenheidstaat, soos Orania ook is, sal hulle altyd ‘n steeds kleiner wordende minderheidsvolk bly wat mettertyd verswelg sal word in ‘n see van Afrikane. Die enigste wettige manier waarop ‘n minderheidsvolk vandag grondgebied kan bekom met die oog op territoriale soewereiniteit, is by wyse van internasionale erkenning ná afskeding van die betrokke gebied; alle internasionale regskenners en meningsvormers is dit eens oor hierdie feit. Een van die belangrikste faktore waarna die internasionale gemeenskap en spesifiek die internasionale reg kyk wanneer ‘n minderheidsvolk wil afskei, is of daardie volk in die betrokke grondgebied histories enige vorm van staatkundige outonomie geniet het. Afrikaners het nooit enige soewereiniteit in die Kaapkolonie geniet voor Britse kolonisasie in 1795 en weer in 1806 nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s