Orania,’n evolusionere pad tot Afrikaner onafhanklikheid!

Alle volke het ‘n instinktiewe drang tot selfbeskikking! ‘n Gebrek hieraan by individue is ‘n aanduiding van ontworteling en ‘n losraak van die kudde.

 Tenspyte van so ‘n drang bevat die meeste state, wereldwyd, ‘n etniese verskeidenheid. In die Weste het die kerk,’n koning of staatsgesag elk op ‘n stadium, met gesag van ‘n sentrale aard, baas gespeel .Wereldwyd was die heersers-patroon iets soortgelyk. Onderwerping deur ‘n besettingsmag, die lukrake trek van grense deur ‘n empaaierbouer of klimaatsveranderinge wat volke gedwing het om ‘n vreemde heerser se gebied in te trek, is van die redes hiervoor. ‘n Drang tot onderhorigheid was dit nie maar die gevolglike dominasie is wel gelate aanvaar!

 Met ‘n etniese mengelmoes in sy gebiedsgrense, poog ‘n staatgesag om dmv nasiebou eenvormigheid te verkry. Afhangend van verskille tov ras, taal, godsdiens ens. werk nasiebou soms, soms is dit ‘n kruitvat! Van die bloedigste konflikte was godsdienstig of etnies van aard. Sulke konflikte is nie altyd etnies onderling nie, maar ook waar die staat sy gesag laat geld om ‘n gebied etnies te suiwer. Rwanda en Kosovo, onder andere, is onlangse voorbeelde hiervan.

Moderne kommunikasie en beweeglikheid het ‘n nuwe wereldorde tot gevolg gehad. Multi-Nasionale maatskappye,sonder enige spesifieke lojaliteit, oorheers nou die wereldekonomie.Met slegs ‘n winsmotief is hulle berug vir besoedeling, die uitputting van natuurlike hulpbronne en arbeidsmisbruik.(Hier by ons is die Karoo- skaliegas ontginningsdebakel nog vars in die geheue). Druk van ‘n politieke of kulturele aard of ‘n gedwonge taalvoorkeur word ingespan in diens van wins! Met die skep of wegneem van werksgeleenthede manipuleer hulle gemeenskappe.

 Hul invloed en houvas op state is so groot dat die begrip ‘Staat’, deur baie, as uitgedien beskou word. Besluitneming namens Jan Alleman word dus al hoe verder van sy woonadres af geneem!

As mense soos Julius Malema dreigemente van nasionalisering maak, poog hy bloot om hierdie houvas te verbreek. Sy huidige geluide is mos maar net die begin van ‘n proses wat nog veel wyer ‘moet’ uitkring.Dit gaan om die herstel van staatsgesag, maw seggenskap oor al die mense binne die Rep.van Suid Afrika (RSA) se gebiedsgrense. Daarby is etnisiteit ‘n lastigheid in die pad van totale staatsbeheer en moet liefs ‘verdwyn’.

 Teen so ‘n agtergrond vra ons dan: Hoe kom ‘n etniese groep soos die Afrikaner, uit so ‘n dominerende en manipulatiewe omgewing los.Ons betrokkenheid en verantwoordelikheid is eerstens in en by ons onmiddellike omgewing, ons gesinne, vriende en groep. Hier lewer ons, ons grootste bydraes. Dit is hier waar besluite, rakende ons, deur ons geneem moet word! Hoe verkry ons beheer oor ons eie sake?

 Reeds voor die gesagsoorgang in 1994 het die Afrikaner Vryheidstigting planne beraam om ‘n alternatief daar te stel.’n Volkstaat in die Noordkaap is beoog met Orania as vertrekpunt. ‘n Vrywillige en groot volksmigrasie het ongelukkig nie gerealiseer nie.

Daar het,inteendeel, felle kritiek en afkraking vanuit die Afrikaner se gevestigde belangegroepe gekom. Daarbenewens het die politieke veranderinge in 1994 die Afrikaner verward en koersloos gelaat.Die gedagte om van vooraf te begin en te hervestig in ‘n kleiner gebied moes eers verwerk word. Baie het hulle van hul wortels begin losmaak en ge-emigreer of hul kinders begin voorberei vir latere emigrasie deur hulle in Engels te laat skoolgaan.

 Dit was ‘n reuse taak wat op die Afrikanervryheidstigting gewag het. ‘n Plek en gemeenskap wat as trekpleister vir die hervestiging van volksgenote moet dien, val nie uit die lug uit nie! Die vervalle konstruksiedorp,Orania, het die volk nie opgewonde gehad nie. Omvattende basiese strukture moes in plek kom alvoor Orania ‘n aanloklike en volhoubare toekoms kon bied. Groei om die dorp, nie as alternatief nie, maar as ‘n voorkeur keuse te vestig, vorder nou flink! Daar is kritici met onrealistiese verwagtinge tov groeitempo maar soos die knoop deurgehak word begin groei ‘n sneeubal effek te verkry. Die jongste groeikurwes bevestig dit.

 Dit was nie so beplan nie maar die Orania-projek volg nou ‘n evolusionere paadjie. Gevolglik is dit nie ‘n holderstebolder Wilde Weste scenario nie maar een van planmatige groei waar eerste dinge eerste kom! Hier is ons nou besig om ‘n sinvolle en volhoubare leefomgewing te skep.

 Die fokus val tans nog net op ontwikkeling in Orania maar uitkringend, soos die van ‘n Hen en kuikens-plantjie kan die gebied uitgebrei word. Nuwe stadstate, dorpstate of distrikstate om Die Verenigde Afrikaner State te vorm in ‘n gebiedseenheid is denkbaar en haalbaar. ‘n Republiek met outonome distrikte en met volksraadslede wat ‘n sentrale ko-ordineringsfunksie verrig is ‘n verdere scenario.Die tyd sal besluit!

 ‘n Nadeel met so ‘n geleidelike proses is ‘n voorlopige belastingspligtigheid aan die RSA maar dit is ‘n geringe prys om te betaal in ruil vir ‘n toekomstige onafhanklike vaderland. Oorhaastigheid, ‘n vreesbevangenheid en ‘n soeke na ‘n kortpad vra onnodige toegewings! Daar is dinge wat net nie ryp gedruk mag word nie, hiervan is hierdie die belangrikste!

 Ekologiese volhoubaarheid en ekonomiese lokalisering is kenmerke van die Orania Beweging se toekomsvisie.Hier word leiding geneem en ‘n model geskep wat as voorbeeld vir andere kan dien. Die doelwit? Die vestiging van ‘n tuiste waarin die Afrikaner bewys lewer dat die mens en sy omgewing in harmonie kan leef. ‘n Vaderland waarin ons met selfrespek en trots kan lewe!

5 thoughts on “Orania,’n evolusionere pad tot Afrikaner onafhanklikheid!

  1. ‘n Mens kan nie anders nie as om positief oor die toekoms te wees wanneer jy weet dat die pad wat jy gekies het volhoubaar en resultaat gedrewe is. Hier in Orania ontmoet ons byna elke dag nuwe mense wat kom kyk hoe dinge hier werk. Mens kan op hul gesigte sien dat hulle opsoek is na oplossings en sodra mens die Afrikanervryheidstigting se ideaal met hulle deel is dit in baie gevalle asof ‘n sluier voor hulle verdwyn. Hierdie Afrikaners begin dan die omvang van vryheid verstaan. Ja, die meerderheid is uit die staanspoor baie skepties maar die saadjie is geplant en dit gaan in hul gedagtes bly tot hulle besluit om meer betrokke te word of dit af te skryf. Dis waar die koring van die kaf geskei word.

    ‘n Uitstekende blik op sake, oom Ben. Dit maak baie sin vir die van ons wat besluit het om meer betrokke te word! Die idee van Verenigde Afrikaner State het nog nie by my opgekom nie en as mens na ons volkskarakter kyk is dit dalk ‘n beter opsie as ‘n Afrikaner Republiek. Nietemin, Afrikaners is van nature republikeine so die moontlikheid dat die ware Afrikaners daarbuite bymekaar gaan uitkom onder die vaandel van Afrikaner Republikanisme is ‘n logiese verwagting.

    Die sneeubal sal aanhou spoed optel terwyl ons meer resultate op die tafel sit in Orania en Mzanzi volhou op sy nasionaal sosialistiese pad waar jou velkleur jou rang in die nasie bepaal. Ek vra gereeld vir die liberale blanke Afrikaanssprekendes hierdie vraag: Wie is meer onnosel – die ANC se onbevoegde amptenare wat jul land in die grond in regeer of die geskoolde Afrikaners wat vrywilliglik onder hierdie regering lewe?

  2. ‘n Geldige begrip oom Ben.

    Net vader tyd sal leer presies hoe hierdie evolusionêre fase oor 20, 50 en 100 jaar daaruit gaan sien. (Die is beslis ‘n denkrigting wat toekomstige geskiedskrywers as maatstaf kan gebruik)

    Soos Quintin uitwys is ons geneigdheid tot Republikanisme, maar dalk sal ‘n Verenigde Afrikaner State tog meer byval vind by hulle wat nog gebore moet word.

    Ek’s oortuig daarvan dat al meer en meer Vryheidsgesinde Volksgenote die logika agter die werk wat lank reeds namens almal deur die Afrikanervryheidstigting gedoen is begin begryp.
    Dis duidelik uit verskeie kommentare op veral NASPERS se artikels dat bykans almal ontnugter is met die huidige opset en besef dat die “nasiebou” projek van Mzanzi totaal gefaal het.

    Die taak rus dus op elkeen van ons om dié vir wie die lig aan gegaan het, te bemoedig en bearbei om hul planne so te maak om hulself en hul gesinne mettertyd in die voorgestelde area te vestig,

  3. Jaco van der Walt

    Ongelukkig emigreer Afrikaners huidiglik in hul honderduisende na Australië, Engeland, Nieu-Seeland en Kanada om weg te kom uit Suid-Afrika. Die infrastruktuur bestaan doodeenvoudig nie huidiglik in Orania om aan ‘n groot hoeveelheid dokters, ingenieurs, rekenmeesters, regsgeleerdes ens. ‘n heenkome te bied nie.

    In parallel met Orania moet ander opsies ook ondersoek word om ‘n gedeelte van Suid-Afrika vir Afrikaners op te eis wat alreeds deur Afrikaners besit en beset word en waar die infrastruktuur dus reeds bestaan om hierdie mense vir die Afrikaner te behou.

    ‘n Groep kundiges versamel onder die beweging OASE het deeglike navorsing gedoen hieroor: http://www.oase.za.net

  4. Jaco, dit is ongelukkig so dat baie van ons mense oppad landuit is. As ons nou op soek is na ander parallelle opsies, verdeel ons ons kragte net verder! Daar is geen kitsoplossings nie! Daar bestaan geen gebied waarin ons ‘n groot genoeg meerderheid vorm om van opeis te kan praat nie,hierdie projek sal van die grond af opgebou moet word,met eie arbeid en eie kapitaal.Enige bykomende hulp tov armoedeverligting en pogings om die emigrasiegolf te keer behoort deur ander Afrikaner organisasies behartig te word tot tyd en wyl die volkstaat ‘n groot en sterk genoeg sponseffek daarvoor ontwikkel het. Ek hoop nie dat jy met jou verwysing na die OASE se kundiges en deeglike navorsing insinueer dat sodanige navorsing en kundigheid in Orania se geval ontbreek nie! Jy sou nie verder van die kol af kon wees nie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s