G’n vlag van my

Veronderstel die geskiedenis was ietwat anders geskryf. Wat sou gebeur as genl. Cronje die Kakies agterna gesit het nadat hulle by Magersfontein die hasepad gevat het?

Die Vrystaatse kommando’s onder leiding van genl. De Wet sluit aan by Cronje en stoot die Kakies terug tot in Kaapstad. Die Kapenaars kom in grootskaalse opstand en jaag storm kommando’s die Moederstad in. Die laaste paar Kakies in die Kaap hys ’n witvlag by die Kasteel.

Voor die nuus Westminster haal steek die Boeremagte al die Natalse grense oor en sluit aan by die Transvaalse kommando’s. ’n Paar dae later val Durban in die Boere se hande.

Die nuus van die Boere-oorwinning versprei deur die wêreld soos ’n veldbrand. In Indië is daar nuwe veggees en volskaalse rebellie breek uit teen die Engelse. Hong Kong word deur die Sjinese teruggeneem terwyl die Kakies uit hul ander Oosterse kolonies uitgejaag word. Ook in Kanada neem Quebec die geveg na die Engelse toe en verower Ottawa en Toronto binne ’n week en ook Victoria ’n paar maande later. Duitsland en Frankryk sien hul kans en vorm ’n alliansie teen die Britse Ryk. ’n Paar maande later deel verskeie Europese lande die wêreld se handelsroetes.

Die Boere Republieke, tesame met die nuutgevonde Kaapse Republiek neem die besluit om Westminster se versoek om vrede te verwerp. Die besluit kom nadat ene kmdt. De la Rey ’n pleidooi in die volksraad gelewer het dat Engeland ingeval en verower moet word. Goud is daar baie van en skepe word aangekoop by die Portugese, Franse en Duitsers om die kommando’s na Frankryk toe te stuur.

Vanuit Calais loods die geallieerdes, bestaande uit Franse-, Nederlandse-, Duitse en Boeremagte ’n reuse inval op Engeland se ooskus. Londen word tot die grond afgebrand maar die Engelse skarrel vir al wat hul werd is en bied sterk weerstand in die Cotswolds. Ongelukkig vir die Engelse word hul stede in die noorde deur Skotse magte beleer en nes hulle begin om die oorhand in weste te kry stroom derduisende Iere oor hul grense. Hulle is vasgepen op hul eie eiland en gee toe in.

Skotland, Wallis en Ierland verklaar hul onafhanklikheid en Engeland word in vier kolonies ingedeel. Elkeen van die geallieerdes kry sy deel. Oor dorpe in die suide van Engeland wapper die vlae van die Boere Republieke.

In 1914, na lang onderhandelings, word Engeland ’n mate van selfbeskikking gegun. Nietemin, Engeland se nuwe landsvlag bestaan nou uit hul eie st. George-vlag met ’n Vierkleur reg in die middel. Vrede heers oor die wêreld nadat die sentraal Europese magsblok die kommuniste se poging tot ’n burgeroorlog in Rusland in sy spore stuit.

Hier in Afrika kom kolonialisme tot ’n einde en nuwe grense word getrek. ’n Beleid van afsonderlike ontwikkeling word gevolg nadat elke stam vryheid in sy eie grondgebied ontvang. Die Afrikaner word tot vandag toe steeds geag as die bevryders van Afrika.

Gebeure in die verlede het immers nie so plaasgevind nie. Hoe buitensporig dit ook al mag sy dat daar ooit ’n Vierkleur in Engeland se vlag sou wees, so ondenkbaar behoort dit ook vir ’n Afrikaner te wees om eer aan ’n vlag te toon waarin die Union Jack voorkom. Dink bietjie daaroor wanneer jy weer die ou landsvlag sien. Beide ou en nuwe vlae van Suid-Afrika verteenwoordig geen heil vir die Afrikaner nie.

Maak jouself los van Suid-Afrika en bou saam met ons aan ’n nuwe toekoms vir die Afrikaner in ons eie republiek.

27 thoughts on “G’n vlag van my

  1. Ek is 100% vir ‘n land waar wit, bruin en swart in ‘n beter balans lewe (30%/30%/30%) en sou baie vinnig daarheen trek. Balans en beheer word by die stembus verseker. As jy swak bestuur word jy vervang. Dit gebeur nie in Suid Afrika nie. Suid Afrika het geen kans om “failed state’ status te vermy nie.
    Ek dink die enigste werklike oplossing is om die Wes-Kaap ‘n aparte land te maak. Ek hoor mense lag. Hulle het oor Oos Timor gelag, oor Suid Soedan gelag, oor Kosovo gelag en oor Eritrea gelag. Jy moet iewers begin en ek voel al hoe meer dat die mense (wit, swart, groen, geel) almal gatvol is oor wat aangaan.
    Met alle respek, die ou Boere-republieke is geen haalbare oplossing nie. Daar is minder as 5% blankes in daai areas en in altwee van daai provinsies is die dinamika selfs tussen die swart stamme onhoubaar.
    Die ander oplossing is om Anargisme (of Federalisme) voor te staan waar baie klein streke selfregerend is en die “moederligaam” land gebruik vir diplomasie, verdediging ens.

    1. Louis Marais

      unpeecee hoe lank dink jy gaan dit neem vir daardie 60% swartes en bruines om weer die meerderheid te word en jou balans te versteur? Jy moet asseblief nie ‘n dwaas wees nie, doen altyd moeite om te dink voordat jy stellings maak.

    1. In 1994 het ek gedink dit kan moontlik werk. In 2000 het ek gedink dit sal moeilik werk. In 2011 weet ek dit sal nooit werk nie. Hierdie is nie ‘n wit/swart argument nie. Hierdie is ‘n argument oor ‘n regering wat ideologies en strategies in ‘n oorlog is met ‘n deel van sy populasie. Ongelukkig is ek die teiken.

      Afrikaners is hardegat, dominerend en eiewys. Ons is padvinders, innoveerders, uitbuiters, oorlewers en bittereinders. Dit pas nie goed by mense wat onderdanig moet wees nie.

      Is ‘n aparte Heimat in Afrika vir die Afrikaner ‘n droom. JA. Ek is ‘n groot voorstaander en profeet daarvoor. Ek soek ‘n land waar die Afrikaner se insette waardeer en geprys word. Ek is nie so opgewonde of fundamentalisties oor selfbeskikking nie. Ek wil na die staatshospitaal toe gaan waarvoor ek belasting betaal en ordentelike mediese sorg kry. Ek wil my kinders in ‘n ordentelike staatskool sit. Ek wil op ordentelike paaie ry en belasting betaal vir ‘n effektief bestuurde samelewing.

      Het ek al enige werkbare oplossing gesien om dit te bereik. NEE.

      Ek is vas oortuig as daar ‘n ander land is sal dit nie ‘n Afrikaner land wees nie. Ek is van Afrika en alles in my is Afrika. Ek is bereid om saam met ander AFRIKAners te bly wat glo aan goeie regering en ‘n ordentelike demokrasie en bereid is om die opofferings te maak om dit te bereik.

      Ek sal gemaklik saam met ander mense bly, maar die huidige regering en my drome is ideologies so ver verwyder dat ek myself nie een sien met hulle toekoms nie. Harde werk, goeie bestuur, effektiewe regering. Dis waar ek wil bly.

      1. Wag ‘n bietjie… Unpeecee, was die idee van ‘n Nuwe Suid-Afrika nie juis dat die reenboognasie as ‘n sterk eenheid gaan opstaan en almal, ongeag van ras en kultuur, saam gaan werk aan ‘n wonderlike toekoms nie? Dit het misluk en ons sien maar nog net die begin van die mislukking… daar is nog baie meer moeilikheid oppad.

        Moenie die regering vir alles blameer nie. Wie stem vir die ANC? Dis die mense wie die ANC die mag gee wat die eintlike sondebokke is, maw +- 70% van die reenboognasie!

        Wat jy voorstel is dat al die eerlike, hardwerkende Afrikane (mense van Afrika) wat in Suid-Afrika bly, dws die Afrikaners in kluis, saam moet staan vir ‘n nuwe land. Ek sien nie die punt om ‘n nuwe reenboognasie uit die ou een te skep nie.

        Kom ek stel dit maar reguit – al hoe die Afrikaner ‘n toekoms in Afrika kan he is as hy afsonderlik, in sy eie grondgebied, sy eie lot bepaal onder sy eie regering. Ons kultuur en idenititeit is net te kosbaar om in ander kulture se hande te laat. Ons kan onsself beter regeer as wat die ANC, DA of wie ook al in staat is om oor ons te regeer. Die Afrikaner verstaan sy behoeftes, taal, kultuur en tradisies beter as wat enige nie-Afrikaner dit verstaan.

        Wat is ‘n Afrikaner Republiek? Waar gaan dit wees? Hoe gaan ons dit doen?

        Ons is besig om vanuit Orania resultate op die tafel te sit wat al hierdie vrae beantwoord. Mens kan nie teen feite stry nie en die grootste feit wat die Afrikaner vandag in die gesig staar is dat Orania werk agv ‘n 100% Afrikaner bevolking wat onder ‘n 100% Afrikaner regering hulself vry werk met hul eie hande. Orania groei en sal aanhou groei tot by die Weskus… dit is immers die plan van dag 1 af.

        Ons is bereid om vreedsaam voort te gaan om onself vry te maak (soos ons al vir 20 jaar aangaan) maar ons is ook net soveel bereid om daarvoor te veg as ons van ons vryheid weerhou gaan word. Hierdie is die realiteit en dit sal dwaas wees om dit te ignoreer.

      2. Louis Marais

        Hi Rozanne,

        Ek stem 100% saam met wat jy se, maar ek het ook een vraag vir Orania en die bestuur. Die vraag is: As ons op die oomblik kyk na die ekonomie van Orania, is dit besig om te groei, maar dit wat ek sien in Orania is dat daar net twee klasse mense is, die eerste is die “elite” die manne wat die geld instoot en die tweede klas is die lae inkomste werkers klas die wat die werk doen. Daar is geen middel klas nie en sover ek kan sien is Orania ook nie ingesteld om ‘n middel klas te vestig nie, hoe beplan Orania om die balans tussen die elite en die lae werkers klas nouer te maak?

        Want sonder ‘n goeie balans van klasse mense kan en gaan Orania net tot op ‘n punt groei en daarna sal dit inplof.

        Ek stel regtig belang in die antwoord want ek is ‘n voorstaander van Orania, maar die Orania bestuur het geen belangstelling om enige van my vrae te beantwoord nie. Miskien is dit omdat ek net ‘n dood normale middel klas Afrikaner is. Dus het hulle nie rerig my ondersteuning nodig nie.

        Dankie,

        Louis Marais

      3. Louis Marais

        “Afrikaners is hardegat, dominerend en eiewys. Ons is padvinders, innoveerders, uitbuiters, oorlewers en bittereinders. Dit pas nie goed by mense wat onderdanig moet wees nie.”

        Aan wie moet ek onderdanig wees! Die ANC? Jy is seker lekker mal. Daar is net een persoon aan wie ek onderdanig is en dit is die God waarvan gepraat word in die Bybel.

        “Het ek al enige werkbare oplossing gesien om dit te bereik. NEE.”
        Dan het jy maar net ‘n harde kop, want daadie voorbeeld is Orania.

        “Ek is vas oortuig as daar ‘n ander land is sal dit nie ‘n Afrikaner land wees nie.”
        Dan wil ek nie deel wees van daadie land nie.

        “Ek is van Afrika en alles in my is Afrika.”
        Skep jy dan vir jou, jou eie reenboog nasie, dit klink my jy het al die antwoorde en oplossings vir die Afrikaner en sy probleme.

  2. Jaco van der Walt

    Wat ‘n wonderlike dagdroom. Ek het al vele sulke verbeeldingsvlugte gehad waar die Boere die Engelse terugdruf tot in Brittanje en hulle dan sommer nog daar ook gaan verower.

    As ek my oë weer oopmaak en kyk waar ons onsself tans bevind is dit ‘n aaklige val terug na die realiteit.

    Ons kort ‘n vlag. ‘n Simbool waarop ons weer trots kan wees.

    1. Quintin

      Vir my is daar twee vlae – die Afrikaner Vryheidsvlag, wat ook bekend staan as die Strydvlag en die Kaapse Rebellevlag… http://en.wikipedia.org/wiki/File:Afrikaner_Vryheidsvlag.svg … vir hierdie vlag sal ek bowe al op aandag staan!

      En dan natuurlik ook die Oraniavlag. Die simboliek van die Oraniavlag tref die kol meer as enige ander vlag. http://en.wikipedia.org/wiki/File:Flag_of_Orania.jpg

      Ons kan trots wees op al ons volksvlae, die ou Boere Republieke se vlae in kluis!

  3. Louis, sover as wat my kennis strek bly die mense wat moontlik as die elite van Orania beskou kan word, mense soos Frans de Klerk, Jaco Kleynhans en Carel nommer vier, almal in die nederige Kleingeluk. Die burgermeester ry met ‘n fiets rond en so het wyle Prof. Carel ook gemaak. Almal rol moue op en sit skouer aan die wiel. Daar is nie ‘n elite nie!

    1. Louis Marais

      Dis reg ja, die woord elite is seker nie die regte woord nie, maar as ons dit agter ons kan sit dan beantwoord U nog steeds nie my vraag nie.

      Sonder ‘m goeie balans van klasse mense gaan Orania net groei tot op ‘n punt en dan sal dit stagneer, of inplof. Hoe beplan Orania om die balans tussen die verskillende klasse nouer te maak?

      1. Hallo Louis

        Baie goeie vraag. Dit hang af wat jy klassifiseer as middelklas. As dit is om ’n motor te besit, twee kinders op skool te hê maar nog nie genoeg geld gespaar het om die huis waarin jy bly te besit nie, dan is die helfte van Orania se bevolking middelklas. Opper middelklas mense in my oë is diegene wat dieselfde leefstyl as middelklas mense het maar eiendom besit en miskien bietjie langer vakansie kan hou by die see. Die ‘elite’ sal bv. twee of meer motors, eiendomme ens. besit terwyl hulle groot besighede het wat 5 of meer werkers in diens neem. Dis nou diegene wat kan vakansie hou waar en wanneer hulle wil…

        Ek kan op my een hand tel hoeveel ‘elite’ mense tans op Orania bly. Daardie handjie vol mense is nederig en ja, hulle maak hul eie tuine skoon en verkies fietse as plaaslike vervoer. Sonder om name te noem weet ek van ‘elite’ Oraniers wat uit hul eie sakke eiendom (bv. plase) aankoop en dit aan Orania skenk sodat die volkstaat grondgebied kan uitbrei. Hulle verdien om gerespekteer te word.

        Aangesien Orania teen ’n spoedige tempo groei m.b.t. huise, fasiliteite en infrastruktuur, is dit vanselfsprekend dat arbeiders, of soos jy dit stel ’n werkersklas, broodnodig is vir volhoubare ontwikkeling. In baie gevalle kom die armste van die arm Afrikaners op Orania aan met letterlik niks behalwe die uitgerafelde klere op hul lywe nie. Hier kry hulle werk en behuising waarvoor hulle self betaal nadat hulle hul salarisse ontvang. Hul lewensgehalte op Orania kan nie vergelyk word met wat hulle moes deurbring in die wit plakkerskampe ens. nie. Boonop kry baie van hulle ook berading en ander maatskaplike bystand.

        So ja, die meerderheid (55%) Oraniers is middelklas soos ek en jy, dan sou ek sê sowat 44% is werkersklas en 1% elite. Dis ’n baie gesonde ratio… heelwat Europese lande kan nie dieselfde van hul bevolking sê nie, wat nog van Afrika?

        Op ’n ligter noot: Jy sal vind dat Orania se bestuur baie maklike en vriendelike middelklas mense is – doen miskien eers bietjie moeite om self te kom kuier en ons almal te ontmoet, dan sal jy verbaas wees hoe maklik jy hier sal kan inpas 🙂

      2. Louis Marais

        Dankie Rozanne vir die terug voer, wanneer ek eendag by Orania uitkom dan sal ek beslis die mense daar wil ontmoet.

  4. Mari

    Louis, die Elite waarvan jy eintlik praat hou gewoonlik nie lank op die dorp nie. Die Elite waarvan Ben praat is eintlik nou die middelklas. Die elite kom in die dorp en glo hulle het baie geld en kan ‘n verandering en groei by bring. Almal glo in die groter idee van orania, maar jy is reg dit gaan nie groei nie dit gaan nog ontplof aangesien wanneer daar nuwe elite in die omgewing is of wanneer die ou elite begin halt roep omdat hulle voel hulle beleggings groei nie genoeg nie of hulle kom agter die dorp’s ideaal word nie regtig nagevolg nie, word hulle eenvoudig eenkant toe geskuif en die volgende ou se finansies dan gebruik. Die idee van Orania is wonderbaarlik en dat die weskus bereik sal word is ek seker sal gebeur, realisties seker oor 100 jaar aangesien na 20 jaar die deursnee nog net 7km is. Om op ‘n ekonomiese vlak te groei help nie as jy dit nie kan gebruik om jou dorp se ideaal te beryk nie. Vir Orania om te werk moet die verbetering en groei fisies sigbaar wees nie net op navorsing, bevolking, toeriste en ‘n klomp geskrewe “comments” of verslae op webtuistes nie, maar fisiese vooruitgang. Die klas wat nou eintlik nie hier is nie, is die Elite, want hulle wat hier kom om te bly en selfonderhoudend te word, word die middelklas. Die ander word dood eenvoudig verdryf.

    1. Louis Marais

      Dankie vir die mooi die storie wat jy vertel het, dit sal ‘n baie goeie kortverhaal maak. Ek dink dat jy met Beeld of Die Burger in kontak moet kom miskien kan jy hulle oortuig om dit te publiseer.

      Sterkte,

      Louis Marais

  5. Mari

    Die enigste storie hier is die elite wat hier wil bly is bereid om hulle rykdom prys te gee vir ‘n veilige afrikaner toekoms nou hoekom sal ek wil beeld of burger toe hardloop met dit, regtig. Dis nou een ding van die afrikaner wat nie vroeer genoem is nie. Ons is verskriklik “defensive” en sien alles as ‘n aanvalling. Net ‘n gedagte die dag as jy Orania toe gaan moet nie soseer die mense net ontmoet nie maar kyk die ding van ‘n kant af ook uit en besluit vir jou self. Moet nie net een persoon of groepie se woord vat nie, want die daaglikse gebeure vertel die storie.

    1. Louis Marais

      Dit lyk my die probleem hier is dat ek ‘n objektiewe vraag gevra het, dan inplaas van om konstruktief te antwoord word ek uitgekryt as die aanvaller.

      Ek verstaan dat Orania baie aangeval word deur die media en publiek, maar dit beteken nie almal wat ‘n vraag het is gekant teen Orania nie.

      Gaan lees gerus my berig wat ek gekryf het by: http://maraislouis.wordpress.com/2011/08/02/orania-die-room-van-die-koek-of-monargiese-bestel/.

      Ek is nie teen Orania nie en glo ook nie dat iets bestaan soos die ‘elite’ nie. Dit is stories wat ek gehoor het, en toe vra ek vir die mense wat behoort te weet of dit so is of nie. Ek was net objektief gewees, en dan is dit altyd beter om konstruktief te antwoord.

      1. Louis, jy het ‘n baie geldige vraag gevra en een waaroor ek ook nogal gewonder het toe ek eers met Orania betrokke geraak het. Ek dink daar is twee tipe mense op Orania:

        1) Die idealiste. Dis die mense wat enige opoffering sal maak vir hul en die nageslag se vryheid in ‘n Afrikaner land. Daar is ryker en armer idealiste – geld is nie vir hulle ‘n prioriteit nie, beginsels en geregtigheid is wel. Hierdie mense is diegene wat dit maak op Orania.

        2) Die krepeerders. Dis die mense wat kom wegkruip in Orania en dink die wereld skuld hul wit velletjies iets. Daar is ryker en armer krepeerders – hulle bly net vir solank hulle geld kan maak en dit tot hul voordeel strek. Sodra die gewig op hul skouers te swaar raak dan pak hulle hul waentjies en vat die pad.

        Die idealis vra vir homself af wat hy vir Orania kan doen terwyl die krepeerder net belangstel in wat Orania vir hom kan doen. Die probleem is dat die krepeerder eers voorgee dat hy heelhartig saamstem met alles waarvoor Orania staan so dit vat ‘n rukkie vir mense om hul ware klere te wys.

        Dan die vraag wat ons elkeen natuurlik vir onsself moet vra: is ek ‘n idealis of ‘n krepeerder? Gaan die lewe vir my oor beginsels en geregtigheid of is selfverryking en eiebelang my prioriteite? Elkeen se antwoorde op daardie vrae sal bepaal of hy/sy dit in Orania gaan maak, kom wat wil, of nie.

  6. Ek stem saam met wat jy hierbo se Quintin, ek deel hulle net in drie groepe in. Diegene wat ‘n bydrae maak, diegene wat bloot kyk wat hulle daaruit kan kry en die groot gros wat maar doodeenvoudig met die vloei van die stroom meegesleur word. Mari weer, het hierbo ‘n baie vereenvoudigde en ‘n lynreg opsomming van groei in Orania gemaak. Sy se dat Orania na twintig jaar maar slegs sewe kilometer in deursnee meet en dus sowat ‘n honderd jaar sal vra om ‘n noemenswaardige grootte te bereik. Groei bevorder groei en gevolglik kry mens dan ‘n al hoe skerper stygende kurwe. Van die baie lae vlak waarop die Orania Beweging vertrek het tot waar hulle nou staan sal groei, persentasiegewys gemeet, seker van die hoogste groeikoerse in die wereld wees.En dit is slegs te danke aan die klein groepie idealiste wat, sonder die voordeel van ‘n staatssubsidie en tenspyte van geweldige teenkanting van die ‘gevestigde Afrikanerdom’ en met ‘n erg verdeelde en verwarde Afrikaner gemeenskap, dit reg gekry het! Ons sit nog steeds met verskeie groepe wat elk sy eie rigting in mik maar Orania het reeds ‘n ver pad gestap en daar is ‘n groter wordende sponseffek wat nou in werking begin kom. Kritiek teen die grootte van die projek word alteveel op oppervlakkige beskouings gebaseer.

  7. Philip van Staden

    Baie mense gaan my nou seker afslag vir wat ek nou met julle gaan deel maar dan is dit goed so. Op 17 jarige ouderdom in destydse st 9 het ons nog militere skoling op skool gekry. Ek was gereeld op skool in die moeilikheid gewees omdat ek geweier het om vir die oranje,wit en blou op aandag te staan. My redes was doodeenvoudig die volgende : 1. Die vlag was besmet met die Britse Union Jack wat die moorde van derduisende Afrikaner vrouens in konsentrasie kampe verteenwoordig het. Ek verafsku die Union Jack vandag nog. 2. Die oranje wit en blou was besmet van die Nasionale Party en FW de Klerk se ontbanning van kommunisme in SA en sy verraad teenoor die Afrikaner. Aan die begin van 1993 het ek die oranje wit en blou op die skool gronde aan die brand gesteek om my protes teen die vlag die NP en die Britte in die openbaar ten toon te stel. Ek was vir maande in baie groot moeilikheid gewees. In 1994 was ek in my matriek jaar en Mandela kom aan bewind. Die nuwe vlag word gehys en weer weier ek om op aandag te staan want die vlag het kommunisme gesimboliseer. Weer het ek die vlag op die skool gronde aan die brand gesteek om my protes te toon. Vandag beskou die einste mense wat my daai tyd wou kruisig as n soort held want nou 18jaar later simboliseer die vlag moord,roof,verkragting,korrupsie,bedrog en nog steeds kommunisme.
    Kruisig my as julle wil maar dit was en is nog steeds my redes. Ek sal die dag weer op aandag staan vir n vlag as my volk waarlik bevry is.

    Groete

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s