Is jy ook blind?

Interessant dat hierdie era as die “inligting revolusie” bestempel word terwyl ons in praktyk lewe in ’n tyd van intellektuele verrotting. Ons wêreld het onderstebo gedraai en mense het soos vlermuise geword wat sluimerend koponderstebo vasklou aan ’n mislukte samelewing.

Daar is al so met ons mense se koppe gesmokkel dat hulle ’n bedreiging vir hul eie voortbestaan geword het. Ons hoor gereeld dat apartheid – en by implikasie die Afrikaner – verantwoordelik is vir al die probleme in die samelewing. Selfs Afrikaners soos o.a. joernalis Jan-Jan Joubert, profs. Anton van Niekerk en Pierre de Vos, politici Marthinus van Schalkwyk, Carl Niehaus en vele meer is hiervan oortuig.

Wat die vlermuise immers nie besef nie is dat die Afrikaner alleenlik skuldig is aan die feit dat ons onwillekeurig ons eie ondergang veroorsaak het toe ons die beste van ’n slegte situasie wou maak. Ons het eers vir almal gegee wat hulle regverdiglik toegekom het, toe het ons nog gegee – en aanhou gee tot daar op die ou einde niks vir onsself oorgebly het nie.

Regverdiglik toegekom het, ja! Wat die Zilles, Tutus en Malemas nooit vir hul ondersteuners sal sê nie is dat die Afrikaner miljoene akkers vrugbare grond vir swartes gegee het waarop hulle hul eie state kon bou sodat hulle in hul onderskeie stamverbande kon leef soos dit hulle betaam het voor en sedert die dag toe hulle hul voete suid van die Limpopo gesit het.

Boonop het die Afrikaner miljarde belastingbetaler rande spandeer om die swartes voortdurend te help. In 1987, naby aan die einde van die apartheid era, het die Suid-Afrikaanse bevolking uit 4,8 miljoen blankes en 18,2 miljoen swartes bestaan. Blankes het egter gesorg vir 77% van alle belasting wat die staat ontvang het teenoor 15% wat deur swartes bygedra was. Ten spyte hiervan was 56% van die apartheid regering se begroting op swartes bestee.

Tussen 1955 en 1984 het die getal swart leerlinge 31-keer vermenigvuldig van  35 000 tot 1 096 000. Die apartheid regering het gemiddeld 15 klaskamers per dag vir swartes gebou terwyl 365 skole in Soweto alleen opgerig is.  10 universiteite is vir swart mense gebou o.a. die Medunsa Universiteit wat op staat onkoste sowat 200 swart dokters per jaar opgelewer het. Hospitale is vir hulle gebou o.a. Baragwaneth, wat die grootste hospitaal in die wêreld is.

Op aandrang van die ANC verwyder die DA ’n standbeeld van dr. Verwoerd in Midvaal omrede hulle eens is dat niemand in die Nuwe Suid-Afrika veronderstel is om met “die vader van apartheid” te assosieer nie. Hoekom? Toe dr. Verwoerd aan stuur van sake was het swartes se lewensstandaard met 5,4% per jaar gegroei terwyl wittes s’n met 3,9% gegroei het. Die RSA ekonomie het die tweede vinnigste in die wêreld gegroei teen ’n tempo van 7,9% per jaar (teenoor 4,5% in 2010) en die werkloosheidsyfer het op 3% gestaan (teenoor 25,5% in 2010) terwyl inflasie 2% was (4,8% in 2010).

Mens moet juis 2010 se syfers met dr. Verwoerd se era vergelyk omdat dit die FIFA Wêreldbekerjaar was en die media ons tot vervelens toe herinner het van die “hoogtes” wat al deur die reënboognasie bereik is.

In 1946, gedurende die 44ste jaar van Britse oppergesag in Suid-Afrika, was 89% van swart werkers ongeskoold. Skaars 20 jaar later, gedurende dr. Verwoerd se termyn as die eerste staatshoof van die Republiek, het 65% van alle swart kinders op die skoolbanke gesit. Vergelyk dit met ander Afrika state gedurende dieselfde tydperk: 64% in Egipte, 57% in Nigerië, 52% in Ghana, 50% in Tanzanië en 29% in Etiopië.

Duidelik is dr. Verwoerd en sy suksesse vir die DA, ANC en hul Nuwe Suid-Afrika te veel om te hanteer. Sy beleid van afsonderlike ontwikkeling het beter gevaar as enigiets wat al sedert 1994 van stapel gestuur is.

Die ongekende groei wat die swart bevolking as ’n direkte resultaat van apartheid geniet het was egter nie goed genoeg vir hulle nie. Hulle wou meer hê en moes alles kry voor hul kommunistiese leiers soos o.a. Nelson Mandela tevrede sou wees. Terrorisme tesame met handelsboikotte vanuit die buiteland is ingespan om die Afrikaner uit sy magsposisie te lig. Byna 70% van die blanke kiesers gee in 1992 vir De Klerk ’n mandaat om verder met die ANC te onderhandel en dit loop toe daarop uit dat die NP twee jaar later vir die ANC die hele land gee.

Na 17 jaar se wanbestuur en korrupsie is die tyd nou ryp vir die ANC om landbougrond en myne te nasionaliseer. Daar is al sprake dat alle blankes ’n spesiale “opmaak vir die verlede belasting” sal moet betaal want, volgens Desmond Tutu, “byna al die wit mense was bevoordeel deur apartheid”. Het mense reeds vergeet dat 20 000 “slagoffers van apartheid” R 30 000 elk by die Waarheid- en Voersoeningkommissie ontvang het? So ’n belasting sal net nog meer fondse beskikbaar stel vir swart politici se uitspattige leefstyle en verdere massa-korrupsie onder onbekwame ANC staatsamptenare. Is dit die land waarin jy jou kinders wil grootmaak?

Helen Zille, Julius Malema, Jacob Zuma en derduisende ander Suid-Afrikaners sing met hartelus hul beroemde struggle liedere. Zille het self saamgesing dat Boere geskiet moet word nadat ons vir haar swart kiesers leer lees en skryf het, vir hulle hul eie lande gegee het en vir hulle hospitale, skole, kerke ens. gebou het terwyl haar comrades in die res van Afrika deur hul eie swart leiers uitgemoor was.

Die onkunde en arrogansie wat onder die DA, ANC en die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse bevolking heers het ’n samelewing geskep waarin etniese minderhede soos die Afrikaner vandag ’n volksmoord in die gesig staar.

Inderdaad, apartheid het daartoe gelei dat die Afrikaner sy eie ondergang veroorsaak het. Verder hou Afrikaners aan om hulself stuk vir stuk op te kap deur te kies om met die bloeddorstige reënboognasie en karakters soos Helen Zille en Athol Trollip geassosieer te word.

Waar gaan Zille en haar DA wees die dag as hul massas swart kiesers besluit om net huise en plase te vat saam met comrades Malema, Manyi en Nqakula? Gaan sy en Afrikaner-hater Trollip hulself voor die massas op die grond gooi om die boere te probeer beskerm? Nee, want hul party steun reeds grondhervorming juis sodat meer swartes vir hulle kan stem. Die boere in Zimbabwe het 30 jaar terug ook nie gedink dat Mugabe so vêr sal gaan nie. Moenie die ANC of die DA onderskat nie!

Is die hele idee van Suid-Afrika tog nie waar die probleem lê nie? Apartheid het nie gewerk nie en duidelik doen die Nuwe Suid-Afrika nog minder. Dit is tyd dat ons die ou drogbeelde laat vaar, ons oë oopmaak en onsself losmaak van Suid-Afrika.

Daar is sedert die 1980’s baie prosesse aan die gang wat ten doel het om ’n wesenlike deel van die Afrikanervolk vrywilliglik los te maak van Suid-Afrika deur ’n nuwe tuiste te skep waarin ons mense kan voortbestaan sonder diskriminasie, misdaad, grondhervorming, rassisme en die dodedans van minderheid opposisiepolitiek.

Ongelukkig is te veel Afrikaners nog opsoek na kortpaaie om hul vryheid te herstel. Om jouself los te maak van Suid-Afrika beteken dat jy in ’n volkstaat wil bly wat deur Afrikaners bevolk is, waar Afrikaans die amptelike taal is, waar skole en universiteite vir Afrikaners in hul moedertaal onderrig, waar alle arbeid deur Afrikaners verrig word en waar Christelike norme en waardes gehandhaaf word.

Dit beteken ook dat mens moet afstand neem van alles wat vir jou kosbaar is in Suid-Afrika, hetsy dit Pretoria, die Voortrekkermonument of Paardekraal is. Indien stede en monumente vir jou belangriker geword het as die oorlewing van ons volk dan is jy verblind deur die aardse en beter jy vinnig besef dat jy deel van die masjien is wat ons volk op sy knieë hou.

’n Volk bou ’n stad of ’n monument, nie anders om nie. Alles wat vir jou kosbaar is, kan weer herbou word. Wees versigtig om nie mensgemaakte strukture te verafgod nie, want afgode het ’n manier om mense saam met hulle in die afgrond in te sleep.

Die vereistes vir ons oorlewing is eenvoudig: eie grond in Afrika en eie instellings wat van nuuts deur ons eie arbeid opgebou is. Die Noord-Wes Kaap is die enigste plek op aarde waar ons vir onsself en die nageslag ’n veilige en volhoubare tuiste kan skep. Trouens, ons is al vir die afgelope 20 jaar besig om dit te skep vanuit Orania. Geen ander plek is ’n opsie nie – nie Pretoria, Perth of Auckland nie.

Die dag wat jy tot die besef kom dat jy nie jou vryheid van die ANC of wie ook al hoef te eis nie maar dit eenvoudig net moet opneem omrede dit alreeds jou reg is, is die dag wat jy werklik bevry word. As jy dit nie kan insien nie dan is jy sowaar ook blind!

8 thoughts on “Is jy ook blind?

  1. “Ongelukkig is te veel Afrikaners nog opsoek na kortpaaie om hul vryheid te herstel.”

    Baie ware woorde Quintin!

    Dit het per slot van rekening byna 6 dekades geneem om onder die Engelse juk uit te kom.

    Ongelukkig vas ons “vryheid” onder die Apartheids Regime van korte duur, net meer as 3 dekades. (Dit was in elk geval ‘n leunagtige bestel waarin die britse opperbevelhebbers ons voorvaders ingedwing het in die Unie. Twee wêrelderkende Boere state was gevoeg by die res van wat die huidige SA uitmaak. ‘n Resep vir mislukking…)

    Wat verbysterend is, is dat ons gedurende hierdie tydperk met al die boikotte en sanksies teen ons steeds vermag het om van Suid-Afrika een van dei vooruitstrewendste lande ter wêreld te maak.
    In baie gevalle leiers op verskeie gebiede, (Ek dink byvoorbeeld aan die baanbrekerswerk gedoen deur Dr. Chris Barnard in hartoorplantings wat vandag al amper “normale” prosedure geword het).

    Ons pad na VRYHEID en die uiteindelike herstel van ‘n eie Republiek waarin ons onself regeer gaan beslis nie oornag kom nie, maar sonder twyfel die insette van almal verg wat die realiteit daarvan besef.

    Ons almal besef dat sonder Rand en sent kan baie dinge nie gedoen word nie, maar dit is beslis nie die Alfa en Omega nie.
    Ons beskik kollektief oor ongekende intellektuele kapitaal en daar is ‘n steeds groeiende groep mede Afrikaners in haglike omstandighede wat ‘n uiters produktiewe werksmag sal uitmaak, Afrikaners waarvan baie met perfeksionistiese tegniese vaardighede bewapen is, maar weens rasstellende aksie verhoed word om deel te wees van die ekonomies aktiewe NSA burgers.

    Dit mag dalk wees dat die noord-wes koridor soos voorgestel nie oor noemenswaardige potesiaal beskik om ‘n massiewe ekonomie gebaseer op rou materiale of landbou daar te stel nie, maar dit verhoed ons beslis nie om ons Godgegewe intellektuele kapitaal en hardwerkende, lojale werksetiek te ontgin en van dié nuwe Republiek ‘n land van voorkeur te maak wanneer daar deur multinasionale maatskappye gekyk word vir potensiële vennote om spesialis toerusting van watter aard ookal te vervaardig nie. (Kyk maar na Duitsland as voorbeeld. Nie juis wêreldleiers op die grondstof gebied nie, maar beslis een van die voorstes ter wêreld wanneer dit kom by kwaliteit vakmanskap)

    Soos ons almal tans bewus is van is daar vele groeperinge, soos in die dae van ouds, onder ons volksgenote wat ‘n legio roetes probeer stap ter bewerkstelling van ons uiteindelike VRYHEID.
    Almal kan ook vanuit hul eie eerlik oortuigde standpunte vir dié wat wil luister genoeg rede gee oor hoekom hul roete die beste sou wees.
    Ongelukkig beskik ons nie oor die voordeel van nabetragting nie en glo ek dat dit nou die tyd is om, in stede van almal se inisiatiewe sumier af te kraak en hul leiers as onbekwaam af te skryf, hande te vat en aan ons as ‘n kollektiewe die geleentheid te gun om al die verskeie roetes te ondersoek.
    As ons sukkel om iets goeds van ons mede Volksgenote se pogings tot VRYHEID te sê, selfs al wys al die tekens en logika dat dit heel moontlik ‘n doodloop straat is,laat ons eerder swyg. (Die vyand lag reeds geruime tyd onophoudelik vir die Afrikaner wat nie kan saamstaan nie en kan mens hulle blameer as mens op elke ander blog en medium te doene kry met leiers uit eie geledere, baie van hulle selfaangesteld of in diens van organisasies, wat andere verkleineer en belaglik probeer maak)
    Daar kan immers nie ‘n toets vir een roete wees, hoe oortuig mens ookal is van die feit dat die groepering waarby jy jouself skaar die regte is, as daar nie enduit ondersoek ingestel word na die alternatiewe roete/s nie.
    Eers later, baie jare van nou af, sal ons die wysheid hê om te kan oordeel oor wat die beste was, maar selfs dan moet ons daarteen waak om nie dié wat gefaal het uit te jou en te verkleineer en hul gereeld herhinner aan, “Ons het mos vir julle gesê…”, nie.
    Juis dan sal dit ons plig wees om hulle te onderskraag en te help om die “regte” pad na VRYHEID te loop.

    Met die verloop van tyd sal al hierdie hordes riviertjies uiteindelik in een magtige rivier in vloei en ‘n mag vorm wat onstuitbaar deur die wêreld sal voort beur na uiteindelike VRYHEID.

  2. Ben Geldenhuys

    Quintin,

    Ek stem met 90% saam wat jy skryf. Ek sal egter wil he jy moet hierdie teenstrydigheid vir my verduidelik:

    Jy skryf dat die Afrikaner hom moet losmaak “van alles wat vir jou kosbaar is in Suid-Afrika” en net daarna maak jy jou “vas” aan Orania. Tot so mate dat jy dit voorhou as die enigste antwoord?

    Nee Quintin, as ons, ons moet losmaak van alles in ‘n soeke na ‘n oplossing, dan moet ons, ons losmaak van ALLES, selfs al sluit dit Orania in.

    Dit is verder baie onrealisites om ‘n plek as die enigste oplossing voor te hou, sonder enige bewyse of stawende argumente vir die stelling. Met hierdie artikel het jy my nie oortuig dat Orania die enigste antwoord is nie.

    Probeer gerus weer, ek is oop vir oortuiging.

    1. Hallo Ben

      Dankie vir jou terugvoering. Orania is juis los van Suid-Afrika. Dit is ‘n grondgebied met eie vlag, eie geldstelsel, eie owerheid, eie skole, eie vakansiedae ens. wat alles uitsluitlik spruit uit ons Afrikaner identiteit. Orania en Suid-Afrika se samelewings is totaal verskillend en dus kan mens nie met beide assosieer nie, net soos mens ook nie tegelyk met beide Japan en Suid-Afrika kan assosieer nie.

      Ek en Rozanne woon al amper vir ‘n jaar permanent op Orania. Dit is glad nie vir ons ‘n aanpassing om in Orania te integreer nie aangesien dit ‘n natuurlike assimilasie vir enige Afrikaner behoort te wees. Aan die ander kant raak dit regtig vir ons al hoe moeiliker as ons moet teruggaan Suid-Afrika toe om bv. kliente te sien of by vriende en familie ‘n draai te gaan maak. Die taal en kultuur verskille is net te groot… vir Oraniers is dit regtig asof mens in ‘n ander land is wanneer ons SA besoek.

      Nou hoor ek mense se… “hy se mens moet jouself losmaak van alles in SA maar hy doen dan besigheid in SA en het homself duidelik nie van sy vriende en familie daar losgemaak nie”. So laat ek dit dan net motifeer… ek fokus meer op identiteit (bv.nasionaliteit) – ek bedoel nie dat mens nooit weer jou voete in SA moet sit nie, eerder ek wys net uit dat mens jouself moet losmaak van SA se greep oor jou sodat jy as Afrikaner in ‘n Afrikaner gemeenskap kan lewe onder ‘n eie Afrikaner administrasie wat jou belange op die hart dra. Natuurlik moet jy nog kan besigheid doen met SA soos jy besigheid sal doen met selfs die Britte. Deur besigheid met hulle te doen beteken egter nie dat jy deel van hul nasie is nie. Desnieteenstaande, as jy kies om daar te bly dan moet jy die realiteite van daardie samelewing aanvaar aangesien jy deel van daardie samelewing is.

      Dieselfde geld vir vriende en familie. Ek is seker jy ken ‘n paar mense wat vriende en familie oorsee het. Mens kan vir hulle gaan kuier en dan weer terug gaan huis toe. Dit beteken nie dat jy jou identiteit opoffer om vir mense in ‘n ander land te kuier nie.

      Goed, ons het nog nie ons Orania paspoorte en id boekies nie. Orania is net ‘n deeltjie van ‘n veel groter Afrikaner Republiek wat nog kom – tot dan is dit ons plig om die realiteite op die tafel te sit sodat ons elke dag nader beweeg aan totale soewereine onafhanklikheid in ons eie volkstaat.

      Wat die Noord-Wes Kaap betref, ek is seker dat jy wel bekend is met die destydse Volkstaatraad en al die voorstelle wat hulle gemaak het na jare (en miljoene rande) se navorsing. Daar was na elke geografiese moontlikheid gekyk om te bepaal waar en hoe ‘n volkstaat die volhoubaarste gaan wees. Die Noord-Wes Kaap was geidentifiseer as die enigste haalbare ligging. Ek is bewus van al die demografiese, geografiese, strategiese, ekonomiese, militere, politiese ens. faktore wat dit duidelik maak dat hierdie gebied beskou kan word as die enigste ligging vir ‘n toekomstige Afrikaner Republiek. Eerder wil ek graag by jou hoor watter redes jy kan staaf ten gunste van ‘n volkstaat vir die Afrikaner in die Noord-Wes Kaap? Jou opinie word altyd waardeer en hoog op die prys gestel.

  3. As ‘n mens op die internet rondswerf en jy kom by sommige sogenaamde ‘openhartige en intellektuele’ gespreksgroepe uit, skrik jy jouself soms boeglam vir die tjol wat daar gepraat word.Hierdie,hoofsaaklik Engelse groepe(met heelwat verloopte Afrikaners daarby)is so vergiftig deur hul eie bitterheid waarmee hulle mekaar voed dat dit ‘n mens maklik moedeloos kan maak. Wat help dit mens om die feite onder hulle aandag probeer bring, hulle het ‘n weerstand daarteen ontwikkel. Ons fokus moet maar net duideliker op ons doelwit ingestel bly,positiewe resultate is al wat ons lot oplaas sal bepaal.

  4. André Alkema

    Beste Quinten, jou stelling “Inderdaad, apartheid het daartoe gelei dat die Afrikaner sy eie ondergang veroorsaak het.” is onwaar.

    Afrikaners was inderdaad mislei deur die NP en sy media sedert Vorster aan bewind gekom het, want hy het nie ‘n beleid van Apartheid gevolg nie, maar van INTEGRASIE. Afrikaners was gemaak glo dat die toegewings wat hulle sou maak soos ‘n Maorie of twee in ‘n rugby span die ANC en sy trawante sou sus.

    Dr Albert Hertzog, Jaap Marais, Willie Marais en Louis Stoffberg (wat die HNP gestig het) het die volk teen hierdie verraderlikheid gewaarsku….

    Toe die HNP in 1981 sukses begin behaal met die Algemene (vervroegde) Verkiesing daardie jaar soos bv deur landwyd meer stemme as die amptelike opposisie (PFP) op hulle verenig; een uit elke drie stemme in Transvaal gekry het; en die meerderheid stemme van die NP met duisende gesny het, was die KP gestig om dié opmars te stuit.

    Dit was juis die beleid van INTEGRASIE wat tot ons ‘ondergang’ gelei het en die ‘vlermuise’ wat teen die HNP geveg het.

    Verder moet ek jou gelukwens met die stuk.

  5. André Alkema

    Beste Rudolf,

    “Dit was in elk geval ‘n leunagtige bestel waarin die britse opperbevelhebbers ons voorvaders ingedwing het in die Unie. Twee wêrelderkende Boere state was gevoeg by die res van wat die huidige SA uitmaak. ‘n Resep vir mislukking…”

    is ongelukkig nie heeltemal waar nie. Selfs al sou jy die onafhanklikheid van die Transvaal en die Vrystaat gekry het, sou jy nog steeds gesit het met die miljoene volksvreemdes (en hulle ongebreidelde aanwas) tussen die Afrikaner/Boer.

    Jammer dat persone wat hunker na die herstel van die boere republieke nie hierdie werklikheid wil erken nie. Die ander ding is dat Engels die amptelike taal in die Oranje Vrystaat was……

    Die rol van die GRA (14 Augustus 1875 – Paarl) en die Kaapse Rebelle word te maklik vergeet.

    Die Genootskap van Regte Afrikaners het in hulle koerant die Afrikaanse Patriot hulle mede volksgenote in die Transvaal en Vrystaat opgeroep om die anneksasie van van 1877 ongedaan te maak. Dit is dan ook verwesenlik met die Majuba veldslag op 27 Februarie 1881.

    Die eerste voorsitter, ds SJ du Toit se seun dr JD (Japie) du toit ook bekend as Totius het as Kaapse Rebel saam met die Transvalers teen die Engelse geveg in die Tweede Vryheidsoorlog. Totius het ook later ‘n groot rol gespeel in die tot standkoming van die Potchefstroom Universiteit en die werk wat sy vader begin het deur die Bybel in Afrikaans te vertaal, in 1933 voltooi.

    Vriendelike groete.

    1. Beste André,

      “Jammer dat persone wat hunker na die herstel van die boere republieke nie hierdie werklikheid wil erken nie.”

      Ek sou myself nie as iemand beskryf wat terug hunker na die herstel van die Boere Republieke nie en besef die onhaalbaarheid daarvan in die huidige situasie, maar het slegs verwys na die leunagtige bestel waarin die onafhanklike 2 Boere Republieke, afgesien van die feit dat die Vrystaat Engels as amptelike taal gehad het, in gedwing is met geodkeuring van die leiers van daardie tydperk, Botha en Smuts.

      Ons is almal bewus van die Rebellie teen die Unie wat tot die dood van oa. Japie Fourie gely het en baie doeltreffend deur die Unie Regering gefnuik is.

      Ons is ook almal terdeë bewus van die Afrikaner Nasionalisme wat posgevat het en die feit dat die Afrikaner uiteindelik na byna 60 jaar volle beheer oor die huidige grongebied verkry het met Republiekwording.

      Dis ook gedurende die tydperk wat die bewussyn ontstaan het dat, juis as gevolg van die swart volkere se ongebreidelde aanwas, dit genootsaak was om ‘n sisteem van afsonderlike ontwikkelling in ‘n eie grondgebied te bewerkstellig.

      Ongelukkig is Dr. Verwoerd vermoor voordat hy die onafhanklikheid van die tuislande kon bewerkstellig.

      Myns insiens, die enkele grootste fout wat oor die afgelope eeue gemaak is deur die Afrikaner/Boer is die afhanklikheid wat hulle gehad het van die goedkoop swart arbeid wat dan ook mildelik beskikbaar was en in baie gevalle ook goed misbruik is.
      Van selfwerksaamheid was daar geen sprake nie en in baie gevalle oor vele fasette van ekonomiese aktiwiteite heen het ons volk in toesighouers verander wat soms by onvermoë is om die fisiese werk self te kan doen weens ‘n gebrek aan ondervinding of die wil wat ontbreek.

      Gedurende die tydperk onder die Apartheids Regime was daar verskeie individue waarvan Prof. Carel Boshoff seker die bekendste is wat besef het dat as daar nie uiteindelik ‘n gebied identifiseer en ontwikkel word eksklusief met die oogmerk op die behoud en ontwikkeling van die Afrikaner as aparte volk nie ons uiteindelik met presies die probleme sou sit wat tans aan die orde van die dag is.

      Dis ook die rede dat hy dit uiteindelik sy lewenswerk gemaak het om, ten spyte van al die doemprofete, Orania as groeipunt te vestig.
      Dis tog jammer dat die werk wat hy onder die vaandel van AVSTIG, (tans die Orania Beweging), reeds oor ‘n tydperk van 6 dekades gedoen het, so op die agtergrond gedwing is en die meningsvormers gedurende die Apartheids Regime asook die Afrikaner meningsvormers tot en met die hede dit altyd probeer teen gaan en elke moontlike rede sal aanhaal, met of sonder nagevorsde data, oor hoekom dit onmoontlik sou wees om ‘n eie onafhanklike Republiek in die voorgestelde gebied te vestig.
      Ek glo nie Prof. Boshoff het besef hoe oningelig die Afrikaner was en meestal steeds is aangaande die werk wat die Orania Beweging doen nie.
      Dink nou net hoe sou die voorgestelde gebied daaruit gesien het as daar twee of aelfs drie dekades gelde reeds begin is met die vestiging van verskeie groeipunte soos Orania gebaseer op selfwerksaamheid…….

      “Die rol van die GRA (14 Augustus 1875 – Paarl) en die Kaapse Rebelle word te maklik vergeet.”

      Dit mag so wees, maar dalk is dit meer as gevolg van die steeds groeiende onkunde en gebrek aan kennis aangaande ons geskiedenis onder jonger generasies Afrikaners.
      Weinig van die ouer generasies is bewus van jou stelling en daar heers in sekere groeperings steeds die persepsie dat die Afrikaners en Boere steeds heel aparte volkere is.
      Mense vergeet, seker gerieflikheidshalwe, dat daar oor die afgelope 109 jaar sedert die beëindiging van die 2de Vryheidoorlog, konstant tusseen die gebiede rondgetrek is en daar dus een volk tot stand gekom het.
      Dit sluit nie eens die immigrante in wat oor die afgelope eeu deur ons geassimileer is nie.

      Danie Theron is nog ‘n goeie voorbeeld van ‘n Kapenaar wat uiteindelik ZAR burgerskap verkry het en ons weet wat hy vir die saak beteken het.

      Ek glo dat daar nie te veel in die verlede gelewe moet word nie, maar dat ons dan daaruit moet leer, soos oom Paul Kruger gesê het, en die goeie daaruit moet neem en dit toepas.

      My grootste wens is dat die wie nie oor hul egos kan kom nie en leiersposisies vul, hetsy selfaangesteld of in diens van organisasies, tog so sal maak en eerder gemeenskaplike grond sal vind om as een kollektiewe groep te begin praat sonder om nodige te hê om hul identiteit op te gee.
      Dis om van naar te word as mens sien hoe ons “leiers” mekaar uitkryt as onbevoeg en onbekwaam en sou een leier dalk as mens ‘n oordeelsfout begaan word hy sumier gekruisig en ge-ettiketteer.

      Groete!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s