Jong Leeus

Wanneer mens dorpe soos Stellenbosch, Swellendam en Graaff-Reinet besoek, let jy op dat iets besonders in suidelike Afrika gebeur het gedurende die 17de en 18de eeue. Die geboorte van ’n nuwe volk word nie net versinnebeeld deur die skepping van ’n nuwe taal en kultuur nie maar ook tasbare en sigbare werklikhede soos nuwe monumente, geboue en selfs dorpe.

Waar daar vroeër niks was nie, is daar nou iets wat ons herinner aan mense wat eeue voor ons gelewe het. Mense wat ook uitdagings moes oorkom in hul stryd om oorlewing in ons pragtige, maar donker kontinent. Hul intelligente besluite en harde werk het immers vooruitgang vir die nageslag moontlik gemaak. Wanneer ’n mens besef dat jy ’n afstammeling van hierdie mense is dan weet jy dat jy  ook deel is van ’n storie wat nooit geskryf sou wees indien elke generasie wat voor jou gelewe het nie verantwoordelikheid vir sy eie tyd geneem het nie.

Wanneer jou gedagtes verder wentel dan tref dit jou dat hierdie einste voorvaders van jou dapper helde opgelewer het waaroor vandag nog gepraat en gesing word. Jy kan die storie inkleur met ware karakters soos o.a. Jan van Riebeeck, Andries Pretorius, Marthinus Steyn, Paul Kruger, Christiaan de Wet, Koos de la Rey, Barry Hertzog, Hendrik Verwoerd en Carel Boshoff. Elkeen van hierdie mense het twee dinge in gemeen: hulle is deel van die heldedom waarmee Afrikaners identifiseer en hulle het verantwoordelikheid vir hul eie tyd geneem. Is hulle nie juis deel van die Afrikanervolk se heldedom omrede hulle verantwoordelikheid vir hul eie tyd geneem het nie?

Iets besonders is in die 21ste eeu weer besig om in suidelike Afrika plaas te vind. Te midde van die ‘scramble out of Africa’ staan die kern van een besonderse volk rotsvas in die grond waarop die grootste hoofstukke van sy bestaan geskryf is. Eerder as om te vlug of om hul taal, kultuur, erfenis, geloof en heldedom op die altaar van nasiebou te offer, swem hierdie kern stroomop in ’n tyd wat daar doelbewus afstand geneem word van volkstrots, tradisie en selfs Christenskap.

Weereens kom ons in aanraking met tasbare en sigbare werklikhede. Nuwe monumente, kerke, skole en selfs dorpe word gebou. ’n Dawerende kreet word in die steen en sement van hierdie werklikhede opgesluit: DIE AFRIKANER SAL NOOIT OPGEE NIE! Hoe vinniger diegene wat ons smaad dit verstaan, hoe beter vir hulle.

Wanneer mens ’n dorp soos Orania besoek sal jy oplet dat die Afrikaner onder geen omstandighede ses voet onder is nie. Geen volk wat besig is om uit te sterf bou nuwe skole waarin sy moedertaal bevorder word nie, bou nuwe kerke waaruit die geloof waaraan ons almal van kindsbeen gekoppel is verkondig word nie en rig nuwe monumente en standbeelde van sy heldedom op nie. ’n Volk wat lewe doen al hierdie dinge – en wat meer is, hy doen dit met sy eie arbeid want hy kán!

’n Beroep word vandag op die Afrikanerjeug gedoen om op te staan en saam te bou aan die toekoms van ons mense. Elke jongman en -vrou wat voel dat daar nie vir hom of haar plek in Afrika is nie, voel so omdat hulle nog nie verantwoordelikheid vir hul eie tyd geneem het nie. Dis die skole, kerke,  volksmedia en -organisasies se plig om vandag vir die Afrikanerjeug ’n gemeenskaplike toekomsvisie te gee.

Ware leiers kan nou gerus na vore tree en hulself skaar by die groeiende kern wat vanuit Orania besig is om tasbare en sigbare werklikhede van nuuts uit die grond uit op te bou. Dis hoe ons onsself op vreedsame, volhoubare en intelligente wyse van ’n toekoms verseker – ons doen dit uit liefde en respek vir ons eie, nie uit haat of vrees vir ander nie. Wees maar seker dat met sterk leierskap en ’n eendragtige toekomsvisie die jong Afrikaner daarbuite ’n impak sal maak wat kristalhelder deur die eeue gaan weergalm.

Laat die nageslag ons ken as die generasie jong leeus wat verset teen ongeregtigheid gebied het en ’n werklikheid van ons onstuitbare drang vir vryheid in ons eie tyd gemaak het.

11 thoughts on “Jong Leeus

  1. Wonderlik!
    Mense dink omdat ons in die 21ste eeu leef dat dit nie meer nodig is om geskiedenis te maak nie, al die harde werk is mos al klaar gedoen om ons vandag te kry waar ons is.

    Juis a.g.v. die omstandighede waarin ons onsself tans bevind is dit noodsaaklik om geskiedenis te maak!

    ‘Laat die nageslag ons ken as die generasie jong leeus wat verset teen ongeregtigheid gebied het en ’n werklikheid van ons onstuitbare drang vir vryheid in ons eie tyd gemaak het’ … Puik!

  2. Ek is een van die wat “gevlug” het, maar dit maak my trots om die artikel te lees. Ek smag om Orania te kan sien. My Christenskap hier in die verte het eerder versterk, want dit is nie maklik vir almal weg uit jou land, ek kry swaar want ek mis my mense, ons wyse van lewe, wie ons is…. daar is net een so ‘n nasie met die pragtigste TAAL….

    1. Dankie Malinda – jy het nie gevlug nie. In jou hart is jy steeds ‘n Afrikaner en dis duidelik sigbaar in die paar woorde wat jy hier gedeel het. Waar ook al jy nou in die wereld is, jy kan steeds betrokke raak en ‘n verskil maak.

      Begin deur om by die Orania Beweging oor die internet aan te sluit. Dit kos maar net R 40 per maand / R 480 per jaar. Die duisende mense wat al lede is van Orania Beweging sit elke maand/jaar hul druppel in die emmer en so maak ons daardie emmer vol. Daardie emmer spoel dan uit in die talle projekte wat tans hier aan die gang is: o.a. behuising vir arm Afrikaners (wat wil en kan werk) en nuwe besighede wat op die been gebring word om werkskepping te stimuleer.

      Jy sal dan ook elke 2 weke ‘n nuusbrief ontvang om jou op hoogte van sake te hou van alles wat hier gebeur. Elke 3 maande ontvang jy ook ons mooi tydskrif, nl. Voorgrond.

      Gesels met jou mede Afrikaners waar jy ook al is oor die oplossing wat Orania bied en moedig hulle aan om ook aan te sluit. Jy weet, ek kyk so na Israel en sien dat net 30% van die Joodse bevolking in die wereld wel in Israel bly. Die 70% wat nie in Israel bly nie ondersteun wel vir Israel waar hul ook al kan. Nuwe skole, hospitale en universiteite word in Israel gebou te danke aan almal wat hul druppels in die emmer sit.

      Soos die Jode vir Israel het, die Swazis vir Swaziland, die Iere vir Ierland, die Dene vir Denemarke ens. ens. so wil ons vir die Afrikaner ook ‘n land van ons eie skep met ons eie arbeid. Daar sal ons beste belange bevorder word, veilig wees en kan aangaan met die lewe as vry Afrikaners. Orania in die Bo-Karoo is die sigbare en tasbare vertrekpunt van hierdie Afrikanerland wat sal trek tot teenaan die Weskus. Ons is al vir 20 jaar besig hiermee en word elke jaar net sterker en sterker.

      Mense het ons jare terug afgeskryf as ‘n pypdroom wat die ‘ANC nooit sal toelaat nie’. Hier staan ons nou – 2 van die ANC presidente het Orania al kom besoek (Mandela en Zuma) en hulle is min gepla of daar nou ‘n duisend of ‘n miljoen Afrikaners wil afstig – hul steunbasis is die 50 miljoen wat buitendien nooit in hierdie gedeelte van suiderlike Afrika kom bly het nie want hulle stel nie in die Karoo en Weskus belang nie. Ons is ‘n klein volkie en wat ons hier aanvang is regtig nie vir hulle ‘n kopseer nie. Ek deel hierdie dinge met jou want ek vermoed jy gaan hieroor wonder of selfs oor uitgevra word 🙂

      Hiermee dan Orania Beweging se webwerf waar jy meer kan sien en leer asook aansluit: http://www.orania.co.za

      Vryheid in ons tyd!

      Q

      1. Pieter

        Hallo Quentin

        Ek wil nie graag stry hieroor nie maar wil net graag iets in perspektief plaas. Regstellende aksie asook rasionalisering het baie mense hopeloos te vroeg uit poste geplaas en die Afrikaner het geweldig verarm. Daar is ongelukkig ook onder ons “trailer trash” wat nie wil werk nie en wat net wil bedel, maar ek dink dat ons die feite onder die loep moet neem. Hoeveeel Afrikaners is daar in totaal oor in SA en hoeveel van hulle het nog werk? Weet jy dat nagenoeg 900,000 alreeds verarm is en dat ongeveer 220,000 in die uiterste ellende in plakkerskampe leef? Minstens vyf persent van hulle kan dalk uitstekend presteer mits hulle op ‘n manier bemagtig word. Sommige se inkomste per maand is nie eens R2,000 nie en R40 is vir hulle regtig baie geld.

        Het iemand asb die nuutste betroubare syfers vir ons?

        Ook wil ek mooi vra dat mense nie hier in onliefde gaan lelike goed se en oordeel oor ander nie; ons is veronderstel om mekaar by te staan maar Facebook het bewys hoe harteloos en soms liederlik vuil met die mond oor ander geoordeel word. Ek hoop nie dat iemand hier dieselfde paadjie gaan volg nie.

        Ons as gesin moes ook maar onder die uiterste omstandighede met R20 ‘n begin maak en ons het, te midde van swaarkry, alreeds ander gehelp en in vier jaar meer as ‘n kwartmiljoen Rand se huur betaal. Werk is sewe dae per week en sonder enige vaste inkomste; ons prate van ware entrepreneurskap. Dit kan gedoen word!

        Armes word gewoonlik deur grondbesitters uitgebuit en ons kan self hiervan getuig. Ons as gesin is geestelik sterk en ons vertroue in die Heer het baie gehelp maar daar is ander wie nie sulke vegters soos ons is nie en wie nie dieselfde paadjie sal kan stap nie. My hart gaan uit na ordentlike, sagte mense wie – anders as ek – liewer die ander wang draai vir nog drama.

        As ons die goeies wat tans gewoon net nie opsies het nie, gaan vervreem, wie is ons dan uiteindelik? Watter volk met integriteit sal sy eie lammers weggooi?

        My ervaring van Afrikaner-hulporganisasies is dat hulle baie mooi beloftes maak maar dan kom met formaliteite wat gewoon nie haalbaar is vir mense in benarde posisies nie.

        Wie se verantwoordelikheid is die armes wat hulleself nie kan help nie? En: daar waar die ouers gewoon nie wil werk nie, is dit die kleine kindertjies se skuld?

        Die Bybel leer dat die wat nie WIL werk nie, nie moet eet nie. Wat van die duisende wat tans nie KAN werk nie? En wat leer 1 Joh 3:17 ons as gelowiges?

  3. Jy is reg. Neem net in ag asb. dat die herstel van ons vryheid in ‘n eie Afrikaner Republiek ook Afrikaner armoede gaan oplos. Jy verwys na al die simptome van die probleem wat armoede veroorsaak maar versuim om die oorsaak uit te wys.

    Ons volk is uitgelewer aan die massas binne die Nuwe Suid-Afrika – ons het geen selfbeskikking oor ons eie aangeleenthede en instellings nie en het ook geen politieke beheer oor ons volksbestaan nie. Privaat inisiatief kan wel beperkte sukses behaal t.o.v. die verligting van armoede, maar in die lange duur koop mens net tyd en plak mens ‘n plyster op die kanker wanneer jy Afrikaner armoede binne die ANC bestel probeer verlig.

    As arm mense ‘n toekoms wil he dan moet hulle aansluit by Orania. Vir my vryheid is ek meer as bereid om 4 worsbroodjies per maand te verkoop teen R 10 elk sodat ek my lidmaatskap van die Orania Beweging kan betaal.

    Mense (ryk of arm) wat nie meedoenloos te werke gaan vir hul volk se vryheid nie, het nie hul prioriteite in die lewe reg nie en gaan op die ou end verloor a.g.v hul eie ongewilligheid om te luister na die oplossings wat vir hulle duidelike uiteengesit word.

    1. Pieter

      Quentin, ek sieen geensins dat jy die liefde van Jesus Christus openbaar nie. Die wyse waarop jy te werk gaan, spreek van ‘n ego wat liewer aanstoot kan gee as om ander te oortuig. Dit is presies om hierdie rede dat ander vandag die Afrikaner haat en ook die rede waarom Jesus Christus ons onder ‘n onderdrukkende regering geplaas het. Ons ego is te groot en ons eiegeregtigheid, terwyl ons ‘n swetsende, suipende volk geword het, is ons ondergang.

      Oorweeg asseblief om ‘n beter, meer Skriftuurlike bendaering te volg en jy sal gou sien dat jy ander oortuig. Daar is min dinge wat ander van iemand wegstoot en selfs die Heer draai weg van so ‘n persoon, as een wat op regte aandrang maak, met geweld wil heers oor ander en wat nie “GRACE” in sy lewe het nie. Afrikaans praat bloot van GENADE maar in Engels word onderskei tussen MERCY and GRACE wat dit beter verwoord en tipeer.

      Terloops, die advies wat iemand gege het, dat verarmde Afrikaners slegs vier worsbroodjies moet verkoop teen R10 elk om sy/haar maandelikse lidmaatskap alhier te betaal, is onprakties en ondeurdag. Ten eerste verwys die persoon na OMSET en nie na WINS nie. Jy moet baie meer worsbroodjies verkoop om R40 wins te maak. Dit beteken dat jy ten eerste die rou voorraad moet kan aankoop, wat vir hionderde duisende verarmde Afrikaners gewoon onmoontlik is, want hulle lewensstanbdaard maak van ‘n stukkie wors ‘n droom…..

      Die persoon wat elders die kommentaar gelewer het, is ook nie daarvan bewus dat mense, selfs krepueles, gearresteer en vervolg word as hulle sonder ‘n permit smous nie. Dit kos minstens R600 om so ‘n permit te bekom en oins sien in Kaapstad hoe die Mteropolisie arme kreupeles verjaag en/of arresteer en vervolg. Dit, terwyl dertig of meer motors per uur sonder ligte laatnag in die straat voor my huis verby ry en die Metropolisie sit en niks doen nie.

      Boonop leef baie verarndes tussen ander Afrikaners wat ewe arm is en is hulle tientalle kilometers verwyder van ‘n moontlike kopersmark. Dit is gewoon ondeurdag om van derduisende te verwag om R40 per maand vir lidmaakstap, wat nie onmiddelike voordele bring nie, te betaal terwyl oorlewing ‘n akute stryd is. Dit wa salreeds dat daar, ter wille van lidmaatskap en R40 wins uit ‘n arme per maand, teen ons eie armes gediskrimineer en hulle uitgesluit van broederskap word. Dit lyk my of die Volkstaat-gedagte dus gaan oor die inwin van R40 per kop per maand en nie oor die belange van die volk nie. Ons het nog nie eens die grond nie en alreeds word aangedring op ‘n belasting omdat iemand in Excel sommetjies gemaak het oor hoe om ‘n kantoor te befonds!

      1. Pieter

        Dankie vir die liefdevolle kommentaar wat weereens bewys hoe graag die Afrikaner homself van andxer wil onderskei. Dit is ook ‘n wonderlike voorbeeld van kleurvolle taalgebruik, wat veral jonger lesers kan gebruik as voorbeeld van sinvolle en opgevoed ekommunikasie.

        In Afrikaans, natuurlik!

      2. Interresant hoe sommiges altyd redes verskaf oor hoekom iets NIE gedoen kan word nie.

        Wat van ‘n houding van moet nooit opgee nie, kyk vorentoe, bly posotief en doen alles wat jy kan om die situasie te verbeter.

        Ons is almal immers op geleende tyd hier en die lewe hou nie vir ewig aan op aarde nie. Dus is dit elkeen se plig wat ernstig is oor vryheid vir hulself, maar veral vir hul nageslagte, om te doen wat hul kan om ‘n verskil te maak.

        As elkeen van die Afrikaners wat so swaarkry onder hierdie regime met sy diskrimenerende raswette net elkeen R10.00 ‘n jaar aan die helpsaamfonds skenk sit jy met ‘n paar miljoen rand per jaar wat weer gebruik kan word om infrastruktuur vir juis sommiges van hulle te kan skep om ook deel van doe Orania gemeenskap te kan word.

        Maar dis seker makliker om van dié wat gelukkig is om nog die vermoë te kan hê om by te dra om sommer namens almal alles in plek te kry.

        Dink net waar sou ons oupas en oupagrooitjies gewees het na die ABO as hulle ook aan elke verskoning gedink het om nie in eendragtigheid met hul pennies en sjielings ‘n verkil te help maak nie. En na die ABO was byna alle Afrikaners wat dit oorleef het in ondenkbare armoede en elende gedompel gewees. Maar tog het hull dit reg gekry om skole te bou, hospitale te bou, paaie te bou en nog die rekening wat die Engelse aan ons gestuur het vir die oorlog terug te betaal. Dink jou dit in, jy betaal die mense terug vir die geld wat hulle spandeer het om jou volk in absolute armoede te dompel en jou volksgenote en kinders wreed te laat omkom in helkampe.

        Myns insiens het dit eerder tyd geword vir elkeen om almal wat wil te motiveer om eerder te belê in die daarstel van ‘n volhoubare toekoms vir hul nageslagte, eerder as om te kerm en kla oor hoekom hulle kwansuis nie ‘n bydrae sal kan/wil maak nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s