Aandag entrepreneurs!

Ons kon nie beter nuus gekry het nie. Sowat ’n jaar gelede het ons met ons besighede, hond en al Orania toe getrek. Een van ons besighede fokus op die internasionale toerisme industrie en is uiters afhanklik van die Internet. Vir ’n jaar lank het ons gesukkel met stadige en onbetroubare Internet  maar dit het nou tot ’n einde gekom: Vodacom plant  ‘n nuwe 3G-toring hier op Orania!

Werk aan die toring het vroeg in November 2011 afgeskop en hulle behoort teen die tweede week van Desember die projek af te handel. Uit ’n besigheid oogpunt  gesien is hierdie nuus as’t ware manna uit die hemel. Enigiemand wat ’n Internetgebaseerde besigheid het, kan nou op Orania teen dieselfde spoed handeldryf as jou kompetisie in Kaapstad, Sandton of Pretoria. Prop net in en siedaar!

Orania is sonder twyfel besig om uit sy nate uit te groei. Wie sou nou ooit kon glo dat hierdie Afrikaner volkstaatgroeipunt binne die bestek van slegs 20 jaar ‘n volwaardige dorp kon word? Orania spog met ’n dorpsraad wie se boeke nog elke jaar sedert 1991 klop – iets wat veronderstel is om normaal te wees behalwe dat geen ander dorp of stad in Suid-Afrika dieselfde van hul finansies kan sê nie. Dalk lê die rede hiervoor in die feit dat Orania die enigste dorp in suidelike Afrika is wat van kop tot tone deur Afrikaners bestuur word?

Twee puik skole bied onderwys van gr. 0 tot matriek. Die matriekslaagsyfer in Orania is per kapita die hoogste van enige gemeenskap in Suid-Afrika. Hier is ’n silwerskoon Olimpiese standaard swembad, tennisbane, jukskeibane, rugbyveld en atletiekbaan. Kinders word groot met ’n gesonde inspuiting van dissipline uit die oude doos maar terselfdertyd ook met die vryheid om kind te wees. As mens so aan die FAK liedjies dink wat handel oor die ou mense se sorgvrye kinderjare dan kan mens nogal ’n parallel trek met die opset waaraan Orania se kinders gewoond is.  Minstens word die Playstation darem afgewissel met fietsry, borduurwerk en visvang.

Waar ons in Pretoria duisende rande elke maand spandeer het aan sekuriteit vir ons huis en besighede, het ons nie eens diefwering voor ons winkels of ons huis op Orania nie – wat nog van ’n alarmstelsel! Ons sluit nie eens ons motors nie. Hoekom? Hier bestaan eenvoudig nie iets soos misdaad nie. Om besigheid te doen in so ’n omgewing is ’n plesier en het beslis ’n positiewe uitwerking op mens se produktiwiteit.

Gepraat van besigheid, dit is waarskynlik die area waar Orania die beste presteer. Met ’n sterk landbou industrie wat jaarliks tonne produkte uitvoer na die buiteland en ’n toerisme industrie wat spog met ’n nuwe boetiekhotel en spa, ’n asemrowende vakansieoord en vele gastehuise is dit duidelik dat Orania ernstig is oor sy ekonomie. Kort op die hakke van landbou en toerisme is die konstruksie industrie met ’n stuk of 9 voltydse bouspanne wat nie kan bybly met al die bouwerk wat op Orania plaasvind nie. Hier is fabrieke, juwelierswinkels, restaurante, kruidenierswinkels, klerewinkels, kafees, koffiewinkels, kroeë, argitekte, wasserye, motorwerktuigkundiges, groentewinkels, slaghuise ens. Soos met enige ontwikkelende ekonomie is hier nog plek vir baie besighede op Orania.

Wat dit meer besonders maak is dat al hierdie besighede net deur Afrikaners bestuur en beman word. Die dorp het ’n unieke beleid van volkseie arbeid wat streng toegepas word in alle industrieë. Derhalwe kan Orania beskou word as die enigste dorp op aarde waar Afrikaners aktief en doelbewus bemagtig word in die arbeidsektor. Afrikaner arbeid kos dalk meer as goedkoop swart arbeid maar die bonusse strek van netjiese vakmanskap tot ongekende gemeenskapsveiligheid. Deur ’n skoon en veilige gemeenskap te hê spaar mens buitendien op baie ander dinge, dus betaal ek my mede-Afrikaner wat sy arbeid werd is met ’n glimlag op my gesig.

Om Orania toe te trek, eerder as Perth of Londen, was vir ons en ons besighede sonder twyfel die beste besluit wat ons nog ooit geneem het. Behalwe dat ons ernstig is om ’n volkstaat vir ons en die nageslag te bou, wil ons darem ook ’n bestaan maak wat mens in staat stel om eendag vir jou kinders die beste te gee wat jy kan. Dat Orania vir Afrikaners daardie balans bied is prysenswaardig om die minste te sê.

Aangesien Vodacom besluit het om in Orania te belê is dit dalk hoogtyd dat meer Afrikaner entrepreneurs  kom kyk wat hier aangaan en vir hulself ’n geleentheid skep. Die akademici en politici het al boeke vol geskryf oor Orania maar die sukses van die volkstaat hang van entrepreneurs af om ’n Eerstewêreld-ekonomie te skep wat voldoen aan Westerse standaarde.

Die vraag is nie wat Orania vir jou kan doen nie, eerder, wat kan jy vir Orania doen?

8 gedagtes oor “Aandag entrepreneurs!

  1. Dit is goeie nuus dat Orania 3G kry, maar dit is nog steeds Vodacom. Hulle internet is verskriklik DUUR! Vergelyke met wat ek vir my iBurst betaal (R198 vir 20GB), is Vodacom totaal heel en al van die pad af. Dit is alhoewel ‘n stappie in die regte rigting. Ek dink daar is dalk ‘n paar ander mense wat sal kan help met regte hoë spoed internet!

    1. Dis waar dat Vodacom nie die goedkoopste is nie maar dit bly die effektiefste buite die metropolitaanse gebiede. Die ander ISP’s se netwerke is uiters onstabiel en onbetroubaar hier in die Bo-Karoo. Ek stem saam dat daar meer opsies moet wees maar dan moet daar eers ‘n groter aanvraag wees. Teen die tempo wat Orania groei is ek seker dat Vodacom nie die enigste hoë spoed ISP gaan wees oor 5 jaar van vandag af nie.

  2. Van persoonlike ondervinding en as entrepreneur in Orania is ek self baie opgewonde oor die opgradeëring van Internet toegang. Ek kom van ‘n werk waar ons internet elke dag – en heeldag- gebruik om kliente te help met probleme. My werk is van so aard dat ek heeldag internet moet gebruik om afstands ondersteuning te doen, enige plek op aarde waar internet beskikbaar is.
    Ek stem saam dat Orania ‘n sentrale en noodsaaklike groei punt vir enige internet-baseerde besigheid is. Ek het self al met kliente gesels oor die risikoes en voordele wat met vinniger bandwyte gepaard gaan.
    Orania is nou ook op die internasionale kaart wat internet toegang betref – die belangrikste aantrekiing – en noodsaaklikheid vir besighede.

    Ek is ‘n trotse vry Afrikaner entrepreneur wat op die regte plek op die regte tyd hier geland het!

  3. Mari

    Dit bly die beste wat nog kon gebeur vir die Internet verbruikers op die dorp, dit wil se tot ADSL gaan kom. Ek persoonlik betaal eerder Vodacom duurder en het ‘n meer stabiele en betroubare internet konneksie as wat huidiglik in die Bo Karoo beskikbaar is.

  4. Ek het 10 jaar gelede met my vrou en kinders na Australia getrek. As ek maar net daai tyd geweet het van die fantasties dorp sou ek eerder na Orania getrek het. Op die oomblik het ek my eie solar besigheid in Australia, baie gelukkig maar my hart trek na Orania. Alles van die beste vir almal in Orania

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s