Prof. Carel Boshoff se toekomsvisie

Tydens ‘n gesprek met dr. Wynand Boshoff oor die toekoms van Orania, het hy my vertel van ‘n skrywe wat sy pa ‘n paar weke voor sy afsterwe vir hom gegee het in die hoop dat dit later versprei sal word.

Dit handel oor die toekoms van suidelike Afrika en hoe vrede en stabiliteit in die streek bewerkstellig gaan word, al dan nie. Hierdie is een van die laaste artikels uit wyle prof. Carel Boshoff se pen en word hier vir die eerste keer met die publiek gedeel. Dis opvallend dat prof. Boshoff byna ‘n jaar voor Julius Malema se skorsing reeds gemeen het Malema is “nie die prins wat die troon sal bestyg nie”. 

Ek maak nie daarop aanspraak om ‘n politieke kommentator te wees nie. Maar ek wil graag, indien u die tyd daarvoor afstaan, my mening gee oor hoe dit vir my lyk die politieke verloop  in die RSA gaan plaasvind en waar ek die plek van Orania in hierdie ontplooiing sien.  My skrywe is dus nie noodwendig objektief nie.

Die kragte wat in die RSA bedrywig is, is nog nie werklik sigbaar en op hierdie tydstip waarneembaar nie. Groot en belangrike name van persone wat tans figureer is ook nog nie die werklike rolspelers van die toekoms nie. Net as voorbeeld:  Mnr. Mosiuo Lekota van COPE, of sy opponent-vennoot Shilowa ewe min. So is mnr. Julius Malema nie die prins wat die troon sal bestyg nie. Trouens, die leemte in die Suid-Afrikaanse politiek is dat die persone wat op die oomblik die verhoog betree, eerder faksie-leiers as nasionale leiers is. Dit op sigself maak die speelveld gevaarlik, want faksie-leiers kan op faksie gevegte uitloop en kan vir die bestendigheid van die land noodlottig wees. Dit kan naamlik eerder uitloop op  anargisme as op politieke verdeling  langs logiese lyne.

Laat ek maar die aap uit die mou laat. Ek is oortuig dat etnisiteit eerder as charismatiese leierskap die toekoms gaan beheer.  Lekota is ‘n Suid-Sotho, soos Malema ‘n Noord-Sotho is, soos ook Shilowa. Trouens, dit is wat Cyril Ramaphosa uit die spel gehou het, sodat hy die presidentskap verbeur het.

Op die oomblik is dit mnr. Jacob Zuma wat as Zulu die toneel beheer en hy sal aan die rol vasklou, nie noodwendig in sy persoon nie, maar in sy volksverband.  Daarmee gaan die tweede groot mag, naamlik die Xhosa, nie onbeperk genoeë neem nie.  Mnr. Zuma is slim genoeg om sy posisie met “sy” mense (die Zulus) te versterk en vir die toekoms is dit net ‘n vraag of daar ‘n Xhosa-leier is wat hom kan uitdaag.

Generaal Bantu Holomisa kon die man gewees het, en kan dit nog word, maar hy het in jeugdige oormoed sy kanse verspeel. Dit sal goeie voetwerk verg om weer in die spel te kom.

Daar kan dus twee moontlikhede na vore tree: Zuma kan vir hom en vir die Zulus ‘n opvolger voorberei  en die presidentskap in eie geledere hou, met groeiende ongeduld van die kant van die Xhosas. Of die Xhosa-kamp kan‘n charismatiese leier lewer wat die Zulus op hulle plek sit.

Intussen moet die geografiese basis van beide groepe ook eers ontleed word. Die Xhosa se gebied is goed geëien en beslaan natuurlik die Oos-Kaap (Trans- en Ciskei) en reik uit na die Kaapse skiereiland as hul natuurlike uitbreidingsgebied. Die Zulus aan die ander kant het KwaZulu-Natal en strek hulle hande uit na Gauteng en Mpumalanga.

Wat in hierdie argument van groot belang is, is dat die vier groei sones van die RSA dan reeds toegeëien is. Port Elizabeth tot by Oos-London en die Kaapse skiereiland behoort by die Xhosas. Gauteng en Durban-Pinetown (met Richardsbaai en Newcastle) val in die Zulu-gebied.

Wat die res van die land (Vrystaat, Limpopo, en Noord-Wes) aanbetref, is ‘n saak van mindere belang. Dit sluit geringer etniese groepe in en sal na een of ander van die sterkes neig of kleiner eenhede vorm – soos byvoorbeeld Botswana en Lesotho.

Die Noordwes-Kaap en daarmee Orania asook die volkstaat-gebied lê so ver buite die visie van genoemde twee magsblokke, dat nie een van die twee om die “dorre streek” ‘n stryd sal aanknoop nie. Dit gee die Afrikaner die geleentheid om die gebied te beset, te ontwikkel en hulle daar in te grawe om mettertyd ‘n derde magsblok te vorm.

Nou is die belangrike vraag: Gaan die twee swart magsblokke mekaar aanvat en deur geweld die eenheid in die RSA handhaaf, of sal hulle vroeg genoeg die sinvolheid van twee state ter wille van onderlinge vrede begryp en aanvaar? Dit kan stabiliteit en groei in die sub-kontinent bewerkstellig. Die alternatief sal, eg Afrika, ‘n ewigdurende en uitmergelende stryd meebring wat slegs rampspoed, armoede en hongersnood sal meebring.

Die twee swart magsblokke het elk genoeg water, vrugbare grond, mynpotensiaal en nywerhede om hulleself  sinvol besig te hou met die opbou van ‘n stabiele subkontinent, en die Afrikaner die geleentheid te gee om ‘n bydrae tot die opbou van die gebied te lewer. In elk van die drie magsblokke sal genoeg kundigheid, ook van “Westerse” (blanke) kant, wees om die potensiaal te ontsluit.

Die ontplooiing van die totale beeld sal sekerlik nie in enkele jare plaasvind nie, en mag dalk nie so vredevol geskied as wat gewens kan word nie, maar dat dit belofte en hoop vir almal inhou, is seker nie buite ons verbeelding se bereik nie.

Prof. Carel Boshoff (9 November 1927 – 16 Maart 2011)

8 gedagtes oor “Prof. Carel Boshoff se toekomsvisie

  1. Die Noordwes-Kaap met sy vrugbare landbougrond, skoon riviere, pragtige kuslyn, wit strande, antieke koppies, asemrowende berge en uitgestrekte vlaktes is sowaar die plek waar die Afrikaner se soeke na ‘n heimat besig is om tot ‘n einde te kom. Hierdie gebied het ‘n besonderse pad met die Afrikaner gestap deur ons geskiedenis en dis ironies dat ons voorvaders reeds besig was om hier te vestig toe die Britte die Kaap in 1795 kom annekseer het. Lank voor ons volk gekyk het na die ooste en die noorde van suidelike Afrika, het ons reeds ‘n band met die land van ons begin vorm. Dis juis hier waar van die grootste hoofstukke in ons geskiedenis opgeskryf staan, bv. Magersfontein, en waar ons vir die eerste keer ‘n gemeenskap gevestig het wat met ons eie arbeid gebou en bestuur word, nl. Orania. Die Noordwes-Kaap het deur die eeue geduldig bly wag vir die Afrikaner – die tyd het aangebreek dat ons trek na ons eie.

  2. Mike

    Ek stem saam met Prof Carel se ontleding van die politiek wat betref die Xhosa en die Zoeloe. Ek het net ‘n probleem met die kleurling volk. Die bruinmense woon ook al dekades lank in die deel van die land, hoe gemaak as hulle ook aanspraak maak op die deel van die land?

  3. Dante

    Ek het nog altyd prof Boshoff se opinie waardeer en het geniet om die ook te lees. Wat vir my opvallend is is sy woordgebruik wat so beskeie is, dit is n teken van n persoon met intelek.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s