Die einde van Suid-Afrika bied nuwe hoop

Een van die mens se grootste behoeftes is om sin te maak van die wêreld waarin ons leef. Sodra die wêreld om jou nie meer vir jou sin maak nie, is ingrypende verandering net ’n kwessie van tyd.

Die behoefte om sin te maak het die vroeë mens uit sy grot uitgedryf sodat hy vir homself ’n meer gerieflike skuiling kon bou wat hy agtergelaat het op sy lewenslange swerftog agter sy volgende maaltyd aan. Dieselfde behoefte het hom weer genoop om op te hou swerf omrede hy intussen geleer het hoe om te boer. Indien die mens nie ’n behoefte gehad het om sin te maak van die wêreld om hom nie, dan sou hy nooit geleer het hoe om vir homself ’n huis te bou of om voedsel te produseer nie.

Wanneer iets nie meer vir ons sin maak nie dan wil ons dit verander sodat ons omstandighede kan verbeter. Dit sal vir die bedelaar baie sin maak om te begin werk vir sy geld sodra mense ophou om vir hom alles pasella te gee. Hierdie beginsel geld ook vir volke.

Arm nasies is afhanklik van ryk nasies, presies soos die bedelaar afhanklik is van die uitdeler. Kragtens die liberale tradisie is alle mense immers gelyk. Ons almal het dieselfde potensiaal om sin te maak van die wêreld en as sodanig vir onsself te sorg.

Die wêreld se rykste nasies, Brittanje en die VSA in besonder, het die moderne era se liberalistiese identiteit geskep na die Tweede Wêreldoorlog tot ’n einde gekom het. Liberalisme tesame met die gepaardgaande hippie-kultuur het soos ’n veldbrand regoor die wêreld versprei. Hierdie twee liberale en vrygewende nasies word vandag geken as dié wat die meeste aalmoese uitdeel in die Derdewêreld.

Indien ons aanvaar dat almal gelyk is, soos die liberale nasies verkondig, dan is dit mos teenproduktief wanneer daar vir die arm nasies net genoeg gegee word om aan die lewe te bly. Sodra die vloei van aalmoese opdroog dan sal dit vir die arm nasies mettertyd begin sin maak om hul omstandighede te verbeter deur harder te werk vir hul oorlewing.

Maar wag. Wanneer arm nasies aan die werk begin spring, gaan hulle hul skaars hulpbronne mos inspan om hul vooruitgang te bewerkstellig.  ’n Arm nasie wat stabiel ontwikkel en totale beheer oor sy skaars hulpbronne geniet skep ’n werklikheid waarin die ryker nasies toenemend afhanklik raak van hierdie nuwe rolspeler om hul behoefte vir sy skaars hulpbronne te bevredig. Dit kom natuurlik teen ’n prys wat die ryker nasies nie noodwendig wil betaal nie. Om aalmoese uit te deel kos heelwat minder.

Insgelyks is dit ’n feit dat die vrygewige en liberale Brittanje reeds vir eeue lank oorloë voer in die dele van die Derdewêreld waar meeste van die planeet se skaars minerale hulpbronne voorkom. Die VSA het gedurende die laaste eeu dieselfde paadjie begin stap as ouboet Brittanje. Die twee saam is ’n formidabele kombinasie met ’n invloedsfeer wat strek reg oor die hele wêreld, maar veral daar waar skaars minerale hulpbronne in groot hoeveelhede voorkom.

Aan die eenkant verkondig hulle liberale waardes van gelyke regte, nie-rassigheid en geloofsvryheid terwyl hulle aan die anderkant oorloë skep en voer, wapens verkoop en arm lande se skaars hulpbronne stroop. Terselfdertyd deel hulle kos, klere en medisyne uit in die Derdewêreld sodat hierdie nasies aan die lewe kan bly om hul konflik om oorlewing voor te sit, eerder as om in vrede te werk vir hul vooruitgang.

So word die ryk nasies ryker, die arm nasies armer en die hele wêreld meer liberaal.

Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Hierdie land se geboorte op 31 Mei 1910 is te danke aan Brittanje se hebsug wat hulle uit die Kaap en Natal kolonies gedryf het om die Boererepublieke se minerale rykdom in beslag te neem. Eers die Vrystaat se diamante en toe die Transvaal se goud.

Hebsug is werklik die enigste rede vir Brittanje se betrokkenheid in suidelike Afrika en die daaropvolgende totstandkoming van Suid-Afrika. Hierdie hartseer waarheid bring mens tot die besef dat as hier nie goud en diamante was nie dan sou byna 30 000 Afrikanervroue- en kinders nie hul lewens in Britse konsentrasiekampe verloor het nie.

Die Britte se plan met die Afrikaner in koloniale Suid-Afrika het basies neergekom op dieselfde strategie wat hulle in die Kaap toegepas het nadat hulle die Afrikaner se grond daar stelselmatig sedert 1795 geannekseer het: draai invloedryke Afrikanerleiers en kry hulle aan die kroon se kant, verengels die Afrikaner se samelewing d.m.v. sy kerke, howe en skole, kraak die Afrikaner se kultuur stelselmatig af sodat hy geneë sal wees om die kunsmatig meer modieuse Engelse kultuur aan te neem, stel hom in diens onder ’n Engelse bestuur sodat hy ekonomies afhanklik van die nuwe orde kan bly en beheer die media om sodoende die Afrikaner te transformeer in die perfekte Britse onderdaan.

Ofskoon vele Afrikaners getransformeer het, het ’n wesenlike getal geweier om in pas te val met hierdie samelewing. Die Britte se strategie het tydelik momentum verloor toe die Afrikaner op 31 Mei 1961 totale beheer oor Suid-Afrika bekom het na dr. Verwoerd se Nasionale Party dit vermag het om dié land as ’n soewerein onafhanklike republiek te verklaar.

Die arm Afrikanervolk het stabiel ontwikkel en sy beheer oor sy skaars minerale hulpbronne gebruik om ’n nuwe rolspeler op die wêreldtoneel te word. Brittanje en die VSA was skielik afhanklik van die Afrikaner wat groot hoeveelhede van die planeet se diamante, goud, uranium en ander skaars hulpbronne beheer het. Hierdie situasie het nie vir hulle sin gemaak nie en moes verander om hul magsposisie en invloed te konsolideer.

Vir 30 jaar het Brittanje en die VSA druk op die Afrikaner geplaas met hul liberale boodskap van gelyke regte, nie-rassigheid en geloofsvryheid. Die bantoe volke was toenemend opgesweep teen die Afrikaner-regering wat  vir hulle hul vryheid in hul eie lande gegee het terwyl miljarde rande bestee was om vir hulle infrastruktuur in daardie nuwe lande te skep. Die druk op die Afrikaner was egter te groot en die liberale boodskap het by te veel mense aanklank begin vind: die tafel was gedek vir verandering.

Die Afrikaner volg toe sy eie Fluitspeler van Hamelin, nl. F.W. de Klerk, blindelings in die ANC-beheerde Mzanzi in. Talle Afrikaners is vandag van die grootste aanhangers van liberalisme en dans al te gretig op die deuntjie van hul meesters terwyl die wêreld om hulle verkrummel. Soos hulle dans en armoede in Mzanzi toeneem vloei die aalmoese in vanuit Brittanje en die VSA.

Die patroon wat regoor die Derdewêreld plaasvind herhaal homself nou in suidelike Afrika. Radikale Afrikanistiese leiers verkondig liberale waardes maar skend terselfdertyd die mees basiese regte van hul bevolkings. Die Britse en Amerikaanse ‘vredesmagte’ is egter nêrens te siene nie omrede hulle te besig is om die olievelde in die Midde-Ooste te beskerm nadat hulle dit bloot net gevat het in die naam van liberale waardes: gelyke regte, nie-rassigheid en geloofsvryheid.

Rassistiese regeringsbeleid, korrupsie, grondhervorming, massa-misdaad, armoede en wetgewing wat mediavryheid kniehalter is presies wat die ryk nasies met hul liberale tradisie in suidelike Afrika wou bewerkstellig om die sub-kontinent te verswak sodat hul beheer oor die streek se skaars minerale hulpbronne gekonsolideer kon word en die moontlike bedreiging wat die Afrikaner ingehou het geëlimineer kon word.

Trouens, dit was die einste Brittanje en VSA wat Robert Mugabe se Zanu-PF en Nelson Mandela se ANC toegejuig het toe hierdie regimes aan bewind gekom het. Omstandighede in beide Zimbabwe en Mzanzi het eers stadig begin verswak voor volskaalse agteruitgang, misdaad en korrupsie die orde van die dag geword het.

Die rykes word ryker en die armes word armer te danke aan die barmhartige liberaliste wat naïef genoeg is om te glo dat hulle besig is om die wêreld ’n beter plek vir almal te maak terwyl hulle, meestal onwetend, die ryk nasies se belange bevorder.

Die Boererepublieke asook die Republiek Suid-Afrika wat die Afrikaner probeer bou het, is lankal tot niet. Die skrif is aan die muur vir die Afrikaners wat hulself nie van die ou Suid-Afrika of die nuwe Mzanzi kan losmaak nie. Kennis stel mens vry om te besef dat hierdie stelsels eenvoudig nie sin maak nie, presies soos kennis die nomad vrygestel het van sy lewenslange swerftog om te eet. Dit maak nie sin nie want ons het dit nie self gebou nie en kan as gevolg nie die geheel vir onsself toeëien nie, maar ons wil ook nie tot die einde van dae in die swart meerderheid se quasi-kommunistiese bedeling probeer oorleef nie. 

Daar is hoop vir ons. Soos die Britse samelewing in die Kaap en toe later in die Unie vir die meerderheid Afrikaners nie sin gemaak het nie en enkeles derhalwe genoop was om ’n alternatief te skep sodat omstandighede vir die volk in geheel kon verbeter, so ook is daar vandag enkeles wat weer die voortou neem deur vanuit Orania ’n nuwe Afrikaner Republiek in die Noordwes-Kaap tot stand te bring.

Hierdie Afrikaners is besig om iets nuuts te bou wat sin maak, so skep gerus hoop in die wete dat die einde van Suid-Afrika ons ‘n geleentheid gebied het om ‘n nuwe blaadjie om te slaan. Ons het ons les geleer en doen dit hierdie keer op die regte manier: eie grond en eie arbeid stel ons nie net teen die ANC nie, maar teen die hele wêreld vry.

20 thoughts on “Die einde van Suid-Afrika bied nuwe hoop

  1. Ek stem beslis saam oor die bedelary storie.

    Mens hoef net na Ethiopië te kyk om te besef hoe waar dit is.

    Ethiopië is die enigste Afrika-land wat nooit gekoloniseer was nie, maar tog het hulle bakhand gestaan by die Weste en in stede van om die aalmoese oordeelkundig aan te wend het hulle oor die afgelope 2 dekades net weer in erge hongersnood verval.
    Die verskil is dat hulle die keer, slegs 20 jaar later, met die aalmoese dit reg gekry het om hul populasie te laat vedubbel. (Ek praat onder korreksie, maar ek verstaan dis oor die 70 miljoen teenoor die 30+miljoen van die tagtiger jare).

    Dankie vir die bakgat uiteensetting.

    Hopelik lees ‘n paar van die liberale Afrikaners dit raak en besin!

    1. Dink net aan ‘n land soos Angola… veronderstel die Angolese het gedurende die afgelope 40 jaar in vrede gewerk vir hul vooruitgang eerder as om mekaar uit te moor. Angola het van die vrugbaarste grond, ‘n reuse kuslyn en van die meeste diamante in die wereld. Dit sou vandag een van die vooruitstrewendste lande in Afrika gewees het – ‘n rolspeler op die wereldtoneel. Wat is die realiteit? ‘n Verminkte, arm nasie wat gruwelik onderpresteer. Ons kan maklik se dat dit hul eie skuld is, en deels is dit ja, maar moenie uit die oog verloor wie wapens aan die verskillende faksies verskaf nie, die myne besit nie en al vir dekades lank aalmoese uitdeel aan die bevolking nie. Die skade wat Brittanje aan Afrika gerig het (en steeds rig) is onskatbaar. Hulle is egter besig om van binne af te vrot – stadig maar seker sal hulle kry wat na hul kant toe kom.

      1. Interresant dat jy noem hulle, Brittanje, is besig om van binne af te vrot.

        Ek hoor vanoggend op die nuus dat daar juis vandag oor die 2 miljoen Britse staatsdiens werkers staak en dat veral die lugdiens weens die afwesigheid van doeane-amptenare erge vertragings van tot 12 ure gaan hê.

        Die wiel draai beslis…

  2. Quintin, jy gebruik Angola as voorbeeld en dit is ‘n goeie een om die groot koloniale droogmaak mee te verduidelik. In pre-koloniale tye was Angola (of enige ander Afrikaland) nie ‘n eenheid nie. Die saam smyt van verskillende etniese groepe het al die bestanddele vir botsing bevat. Vir die koloniste was dit natuurlik nie van belang nie want hulle het gewere gehad,die res skildvelle en asgaaie. Orde was doodeenvoudig afgedwing.

    Miskien, dalk net miskien, sal die chaos wat nou in die Europese Unie aan’t ontwikkel is dalk die boodskap tuisbring. Mense is nie losstaande individue nie maar individue in groepsverband. En miskien sal die Afrikaner dan die krediet vir hierdie waarheid, wat hy reeds so lank verkondig, kry.

    Intussen moet ons bloot voortbou op dit waarmee ons nou besig is. As alles in duie sou stort dan sal nuwe ordes weer tot stand kom gebaseer op etniese verskeidenheid. Dit is ‘n elementere natuurwet. Nuwe groepe, nuwe spesies het hul eie uniekhied.

    1. Interessant! Dit is so dat omstandighede in ‘n oogwink kan verander. Ons moenie te gemaklik raak met die status quo nie. Daar is te veel verskillende magte aan die werk en mens kry die gevoel dat grootskaalse verandering in die lug is – veral in Europa. Ek dink dat die liberale wereld besig is om te vergaan… dit moet net nie vervang word met neo-fascisme of rassistiese diktators nie. Die regse opmars in Europa maak my opgewonde omrede hulle klem plaas op groepsidentiteit maar terselfdertyd vir ander groepe regoor die wereld dieselfde vryheid gun. Etnisiteit is in die kollig maar oordonner nie die debatte nie – ekonomiese en kulturele vraagstukke word net so doeltreffend aangepak. Die Front Nationale in Frankryk is die beste voorbeeld en ek is baie opgewonde oor hul kanse in volgende jaar se algemene verkiesing. Wie sou nou ooit gedink het dat die eerste vroulike president van Frankryk ‘n regter, ver-regse leier en blonde (!!) sou wees… beslis nie die liberale Francois Mitterrand nie hahaha

  3. Ek dink dis ‘n goeie en ewewigtige ontleding. Die armoede in Afrika is nie bloot die onvermoë van Afrikane om suksesvol te wees nie, dit is kolonialisme volgens nuwe reëls. Ons is in die netelige situasie dat ons deel van die koloniserende Weste, maar ook deel van die uitgebuite Afrika is. As ons nie die noodlottige, maar gerieflike pad van goedkoop arbeid (tipies kolonialisties) gevolg het nie, het ons onsself ondubbelsinnig by die vryheidsvegters gevind. Nou is ons posisie altyd gekompromiteer.

    1. Dankie Wynand! Ek stem saam met jou en dis wonderlik dat ons uiteindelik uit ons foute geleer het. Niemand kan ‘n plek soos Orania van kolonialstiese denke beskuldig nie – juis te danke aan die toepassing van volkseie arbeid.

      Die eerste vryheidstryd teen Europese imperialisme in suidelike Afrika was immers deur die Afrikaner geveg. Ons voorvaders het selfs aan die kant van swart konings geveg teen tiranne soos Dingaan.

      Die onus berus op ons generasie om die euwels van tipies koloniale denke (soos die uitbuiting van goedkoop swart arbeid) by Afrikaners die nek in te slaan.

  4. Ek hou van die artikel en sy gevolgtrekkings, maar die eensydige uitsondering van die VSA en Groot-Britanje as die skurke is effens simplisties. Natuurlik het die twee lande geweldige invloed en het Suid-Afrika in kritieke oomblikke in die steek gelaat. Maar nou moet ons ook onthou dat feitlik almal teen die blank beheerde Suid-Afrika gekant was: sowel die derde wêreld, asook die kommunistiese Oos-blok en die Weste. Die twee regerings wat wel af en toe vir Suid-Afrika in die bres getree het in die 80erjare was Margret Thatcher van Groot-Britanje en Ronald Reagan van die VSA. In die 80er moet ‘n mens dus differensieer en die twee lande nie as vyande maar as “kritiese bondgenote” reken, ten minste wat die twee konserwatiewe regerings betref. Die anti-apartheidaktivisme was wel in veral Britanje se bevolking sterk, maar dit geld vir baie lande van die Weste, terwyl elders veral die regerings die voortou geneem het. Suid-Afrika se vriende kon jy op een hand tel: Taiwan, Israel, en dalk nog Malawi en Paraguay.
    Die beheer oor SuId-Afrika se ekonomiese en startegiese posisie was wel ‘n rede, maar daar was ook talle lande en regerings wat uit suiwer idealistiese (liberaal-humanisties tot kommunisties) redes Suid-Afrika beveg het.

    1. Daar was beslis uitsonderings gewees – sekere belangegroepe en invloedryke individue in die VSA en VK was simpatiek teenoor die Afrikaner-regering, maar oor die algemeen kan daardie twee state en Amerikaans- en Britsbeheerde multinasionale korporasies asook hul media uitgesonder word as die ouens wat die skroewe die styfste gedraai het. Vandag pluk hulle vrugte ter waarde van multimiljard dollars as gevolg.

      Ek het so ‘n boekie hier by my, nl. “How they hate us”, wat bestaan uit berigte van bekende Britse en Amerikaanse koerante. Meeste artikels handel oor o.a. Malan, Strydom en Verwoerd. Wanneer mens bietjie lees wat die media in daardie twee lande vir hul publieke vertel het van Afrikaners dan laat dit jou eers besef hoe sterk die aanslag van alle kante af teen ons volk was. Gedurende dieselfde tydperk was daar volskaalse volksmoord aan die gang reg langs ons in Mosambiek… daaroor het hulle geswyg.

      Sou hulle die Afrikaner se beleid van afsonderlike ontwikkeling so gruwelik uit proporsie uit geblaas het indien hier net so min goud, diamante en ander skaars minerale hulpbronne as in Mosambiek is?

  5. Ek is bly om die geleentheid om hier by Vry Afrikaner te gesels. Ek en my vrou Nettie het now twee keer op Orania gekuier en one is praat met lof oor wat julle doen. Die ‘Anglo / American” groepe, die geld groepe het veroorsaak dat ons mense, swart en wit, gedoen het wat one gedoen het. Ja, daar was steun vir die Afrikaner, maar die steun was met die doel om ons te gebruik om die ‘Rooi gevaar’ weg van hulle minerale te hou.
    Vandag nog is heirdie groep besig om wat oor-bly van ons land, in mekaar te laat stort. Die groep, Engels, Afrikaans, Swartes, is nog besig om hulself ryk te maak, en hulle doen hulle bes om Anrikaner Kultuur en African Culture dood te maak.
    Die Suid Afrikaner witte, as ook die internationale media, ‘jammer ek moet nou gou Engels skryf’ they are sacrificing the Afrikaner in an effort to hide all their guilt.
    As die Engelse en die rykes nit beriek het wat hulle teen 1948 beriek het, sou die Afrikaner nie noodwendig die rigting in gegaan het waar ons het.
    Wat Suid Afrika nodig het is dat ons typisie Orania ontwikkiling in baie van ons gebiede volg.

    1. Emma, met die gebrek aan Afrikaanse Universiteite en die vooruitgang van ‘online’ ondderrig moet Afrikaners in Oranje (en ladswyd) dit oorweeg om te help om tersiêre afstand-kursusse in samewerking met Vlaamssprekende universiteite te skep. In die ou ZAR het talle goedgeleerde mense hulle opvoeding in Holland gekry. Opgevoede mense in Haiti praat creole by die huis en Frans in meer formele situasies. Ons het vir baie jare dieselfde met Afrikaans en Nederlands gedoen. Ek moes nog baie Nederlands lees op skool. Het my nie doodgemaak nie – inteendeel, dit gee Afrikaners deel aan ‘n internasionale kultuur sonder om hulle eie taal te verloor.

  6. Kultuur is belangrik, van my ou swart vriende sė Amerika en Engeland is van die enigstes wat nie ‘n kultuur het nie, dus is hulle altyd in ‘n stryd of oorlog gewikkel. Hulle sė hul is a baster volk, nes ons kleurlinge.
    As ‘n Engelsman in Suid Afrika laat dir my verlore voel dat ek geen kultuur het nie.

    1. Cedric, as jy (soos ek) in die VSA woon en jy kyk na die komediant Barry Hilton, of jy sien die acting van Leonardo di Caprio in Tears of the Sun (weliswaar as ‘n Rhodesier) dan besef jy die Engelse Suid-Afrikaners het wel ‘n unieke kultuur in Afrika geskep.

  7. Hi Gerhard, Ek het gaan draf en gedink. Ek is nou al 65 en ek weet van geen kultuur wat ons bind nie. Die groot verskil in ons groep was altyd geld, vra my, ek ken van altwee kante. My seuns was skool toe by Michael House, en die groot verskil in kultuur is die wyn glas wat ons gebruik. Barry Hilton is ‘n Rhodesier, daar het die Engelse hulle manier vol gehou. Ek voel nog ek het geen unieke kulruur. Gaan goed my vriend

  8. Die Afrikaner regering het die Rhodesieers lekker ‘gedrop.’ Die geskiedenis van die Afrikaner is een van verkeerde besluite en verkeerde beleid. Orania probeer darem nie om ander volke te oorheers nie maar net om ‘n heenkome te skep vir die “blankes” wat daar tuis voel. Niks daarmee verkeerd nie. Natuurlik moet Orania hul storie ken om werklik die Orania beginsel op groter skaal suksesvol uit te voer. ‘n Mens kry ongelukkig die indruk dat daar wel elemente binne Orania is wat ‘n wanbegrip het van hoe om ondersteuners te werf en wat ook ‘n abie eng visie vir die toekoms van die Afrikaner het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s