Afrikaners kan “oop” samelewing nie hanteer nie

Die tenor van die sogenaamde hoofstroom-meningsvormers, waaronder die Afrikaanse media, sekere liberale dosente, filosowe en skrywers, is dat ons ons moet verheug oor die “oop” samelewing wat aangebreek het. Ons is volwasse en bevry en het nie meer die ewige voorsê van predikante, Broederbonders en onderwysers nodig nie soos in die “slegte ou dae”. Dis min of meer die trant van die bogenoemde groep mense. Soos met enige ideologie word dit so gereeld herhaal tot jy dit later begin glo en nie meer vra of dit werklik so is nie.

Ons weet almal dat die verlede dood is en dat die dae van die Christelik-nasionale regering soos wat mense bo 30 dit nog sal onthou nie meer sal terugkeer nie. Die vraag is egter of die huidige “oop” samelewing werklik so goed vir ons is.

Die huidige super-verligtes wat hulle op die voorpunt van ‘n nuwe golf voel is eintlik net die Suid-Afrikaanse agterhoede van die 1968-omwenteling en waarvan “vrye” liefde, dwelmmisbruik, anargie, rockkonserte, Oosterse gelowe en uitdaging van gesag en tradisie die uitdrukkingsvorme was. Dié tydperk staan ook bekend as die Hippie-era.

Vir die Afrikaner is daardie dwaalweg gespaar omdat in die 60er en 70er jare die Christelik-nasionale bewind nog sterk gevestig was en Suid-Afrika in elk geval in ‘n soort selfverkose kulturele isolasie verkeer het, wat in dié geval beslis ‘n seën was.

As ‘n mens net daagliks die koerante lees en kyk na al die vrot vrugte van die “oop” samelewing, van verkragtings, satanistiese moorde, brutale aanrandings, verbrokkeling van alle norme en waardes, dan wil jy naar word en wens ons was eerder ‘n land soos Saoedi-Arabië, waar swaar misdadigers ter dood veroordeel word en dwelms nie vrylik beskikbaar is nie.

Daar is ‘n skreiende wanbalans in die media tussen die berigte wat gewoonlik koud-klinies oor onbeskryflik brutale misdaad skryf asof dit alledaags is (wat dit ongelukkig in ons siek samelewing is!), en rubriekskrywers wat vanuit hulle akademiese of oorsese ivoortorings emosioneel en amper histeries skryf hoe sleg die verlede was, hoe verkramp en rassisties Afrikaners is, hoe verkeerd outoriteit, Bybelse gesag en streng reëls is.

Die mens is, van enkele hoogs gesofistikeerde en gekultiveerde individue afgesien, nie in staat om uit eie wil moreel goed en verantwoordelik op te tree nie. Of, om ‘n voorbeeld te stel: jy kan nie verwag dat jou kinders alle soorte immorele gedrag op TV en in flieks kyk en met bedenklike maats meng, en dan verwag dat hulle uit hulle eie die regte en goeie sal doen nie.

Ook Christene wat ‘n morele onderbou het en dit aan hulle naaste en hulle kinders oordra, moet erken dat hul oortuigings dikwels ook maar met die nodige gesag en straf onderskraag moet word en nie deur oortuiging alleen insink nie.

Afrikaners wat in die huidige “oop” samelewing woon waar alles toegelaat is moet besef dat hulle nie die beste van al twee wêrelde kan hê nie: om alles te kan doen en die hele wêreld met al sy invloede tot jou beskikking te hê, en gelyktydig te verwag dat veiligheid en Christelike waardes asook gesonde gemeenskappe die norm sal wees.

Natuurlik is ‘n polisiestaat of ‘n diktatorskap ook nie die antwoord nie.

Daar is nie iets soos ‘n ideale samelewing op aarde nie. Eers na die Wederkoms en tydens die Duisendjarige Vredesryk sal ons weet hoe ‘n volmaakte bestel lyk. Dit is egter nie op aarde moontlik met al die wreedaards en moordenaars wat vry rondloop nie.

Dit is ook nie net ‘n swart-wit verskynsel nie. Tradisionele swart gemeenskappe was en is nog steeds baie veilig en daar is duidelike reels. Bendegeweld en satanisme kom ook in “wit” Europa voor. In Suid-Afrika is die samestelling van die land egter net te uiters, baie armes, groot ongelykheid, baie verskillende kulture, geen saambindende waardes nie, ‘n nuwe elite wat ‘n swak voorbeeld stel en self by korrupsie en misdaad meedoen, en etniese haat en geweld teen die minderheid wat gereeld deur die ophaal van ‘n onregverdige verlede geregverdig of ten minste gerelativeer word.

Dit is wel so dat ‘n oorsigtelike en homogene samelewing met sy oorgelewerde reels en kultureel gebaseerde wette van self baie minder tot die weersinswekkende misdaad en ongehoorde gedrag lei. Daar hoef nie polisie kontroles en streng wette te wees nie as die gemeenskap dieselfde waardes deel en as oortreders weet dat hulle deur die gemeenskap verstoot sal word, iets wat baie erger kan wees as ‘n tronkstraf in ‘n anonieme samelewing.

Die meeste Afrikaners verkies, volgens my waarneming, om te leef in hulle eie gemeenskappe, maar nogtans word Orania en soortgelyke gemeenskappe net met spot oorlaai en afgemaak as agterlik en isolasionisties. Is daar hoegenaamd ‘n alternatief tot die “oop” samelewing, anders as ‘n geïsoleerde, tradisionele samelewing, wat nie die druk van opening op die lang duur kan weerstaan nie? Liberale denkers beweer dat elke samelewing dialekties opbeweeg, van die tradisionele, homogene geslote en geïsoleerde samelewing na die oop, heterogene, geglobaliseerde samelewing.

Oppervlakkig beskou mag dit onvermydelik lyk, maar daar is ook genoeg voorbeelde waar volke of groepe teen die golf in leef en die “oop” samelewing trotseer en selfs floreer en uitbrei as alternatief. Die Amish, met hulle radikaal anti-modernistiese lewensbeskouing en wat volgens die logika van die liberaliste lankal deur die “oop” samelewing weggevee sou word, bestaan nie net voort, maar gaan vooruit en word groter. ‘n Mens hoef seker nie so radikaal anders te wees as die Amish nie, maar daar is genoeg “normale” mense wat besef dat die “oop” samelewing hulle menslikheid en hulle waardes vernietig. Waar alles toegelaat is en niks heilig is nie kan net nihiliste en uiterste materialiste tuis voel.

Ook Orania beweeg teen die stroom in en weerlê die logika dat so ‘n swem teen die stroom ‘n futiele oefening is en oorgawe aan die “oop” samelewing vroeër of later onvermydelik is. Anders as verwag word ons, soos die Amish en talle ander wat ‘n alternatief bepleit, nie minder nie, maar meer, namate meer mense besef dat die “oop” samelewing aanvanklik sag op die oog en op die oor en soet in jou mond is, maar galbitter in jou maag, met verskriklike nagevolge.

Diegene wat die “oop” samelewing wil hê kan daarin leef en die prys betaal, maar die wat iets beters soek kan ook as groep ‘n alternatief nastreef.

7 thoughts on “Afrikaners kan “oop” samelewing nie hanteer nie

  1. Daar moet ‘n balans gevind word tussen die isolasionistiese en oop samelewings.

    As ons kyk na ‘n volkstaat soos Denemarke dan sien ons dat daardie bevolking presies so ‘n balans handhaaf. Aan die eenkant is hulle een van die strengste en mees geslote lande in Europa mbt immigrasie en multikulturalisme, maar aan die anderkant bied hulle totale vryheid van spraak, persvryheid en demokrasie. Een van Europa se grootste rockkonserte, nl. Roskilde, vind in Denemarke plaas en Forbes klasifiseer die Dene as een van die gelukkigste bevolkings in die wereld, met die laagste selfmoordsyfer en waar die minste korrupsie plaasvind. Meer as 80% van hul bevolking behoort aan die kerk en die oorgrote meerderheid is behoudend sover dit hul tradisies en geskiedenis aangaan. Die Dene lewe dus in ‘n moderne samelewing met konserwatiewe waardes.

    Ons sien dieselfde in Orania – die gemeenskap is konserwatief in vele opsigte maar hier is gereelde rock vertonings, die kuierplekke is stampvol oor naweke en kort rokkies is in die mode. Mens hoef nie in ‘n oop samelewing te bly om modern te wees nie. Vind net die balans tussen die uiterstes van liberalisme en verkramptheid sodat jy die lewe kan geniet sonder om afstand te doen van tradisie en waardes.

    Wanneer die liberalis dink dat jou gemeenskap te konserwatief is en ‘n verkrampte ou regse dink dat jou gemeenskap te liberaal is dan weet jy dat jy op die regte pad is 🙂

    Dankie vir die skitterende artikel, Sebastiaan – ek het dit baie geniet!

  2. Willem

    “en wens ons was eerder ‘n land soos Saoedi-Arabië,”… nie ‘n goeie voorbeeld nie. Hierdie lot skynheilige barbare hoereer net so lekker soos die onsedelikes in die res van die wêreld. Hulle moet net seker maak hulle word nie gevang nie want dan is hulle in die moeilikheid…

  3. RUDOLFHERBST

    “Diegene wat die “oop” samelewing wil hê kan daarin leef en die prys betaal, maar die wat iets beters soek kan ook as groep ‘n alternatief nastreef.”

    En dis presies wat vanuit Orania bewerkstellig word, of dié wat daarteen is nou daarvan hou of nie…

    Dankie Sebastiaan, dit is beslis ‘n oogoopmaker vir die wat wil sien!!!

  4. Johann Eksteen

    Die (on)deugde van ‘n ” …oop, heterogene, geglobaliseerde samelewing.” sal eersdaags behoorlik getoets word. Sosiale ingenieurswese is gewoonlik ‘n groot mislukking.

  5. Deur om jouself oop te maak vir die oop, heterogene en geglobaliseerde samelewing maak jy jouself oop vir ‘n hele stel probleme, of eerder simptome. Vir sommige is dit baie maklik om van alles wat hul ken af te sien om die ‘lekker lewe’ te lewe deur om oor niks om te gee nie (dit is volop in Mzanzi). Vir ander (soos ek) is dit uiters moeilik om alles wat ek ken en is op te offer vir iets wat geensins beter is as ‘n geslote samelewing nie, maar erger. Ek voel nie genoodsaak om my taal, kultuur of geloof en prys te gee vir die oorlewing van die ‘grys-blob’ wat die wêreld-burgers is nie, want ek is trots op al daardie goed.

    Die waterskeiding tussen ‘n oop- en geslote samelewing het al lankal plaasgevind. Dit is dan geen verrassing om te sien dat ons weereens in die minderheid is met ons sieninge nie… Dit is wel verblydend om te sien dat sekere lande nou begin skop teen die konsep van ‘n oop-samelewing en weer hul volkskarakter omhels.

    Ons kan maar net bid vir n soortgelyke ontwaking onder die Afrikaner.

  6. Tess Bester

    I enjoyed reading the article as well as the comments! A free and open Society will never work…Look what happened to our beautiful Country in just 15 years!!! Our Children need stability! Morals are not in their vocabulary! We need to bring back the good ‘old Christian’ values and this can’t happen in this very OPEN and FREE Society that we already have! I don’t know why people are fighting for someting, (free and open for all Societies), we already had pushed down our throats…..
    Everyone do what they please in this Country… It is only a handful of law-abiding Citizens that are being regulated!! Criminals are having a ball… We, the minority, must just persevere and stand up for our rights… Thank you for this wonderful eye-opening article.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s