Blik na buite: Belangrike internasionale gebeure die afgelope tyd

Europa

Rusland: parlementsverkiesings. Die party “Verenigde Rusland” het, soos verwag word, die verkiesing gewen. Dit is mnr Wladimir Putin, voormalige president en tans eerste minister, se party wat eintlik geen ander beleid het behalwe om mnr Putin se magsbehoud te verseker en dit ontwikkel toenemend in ‘n “staatsparty” wat die belange van ‘n elite dien en wat met geld en opgekommandeerde jubelkommandos alle ander partye oordonder.

Alhoewel daar geen werklike alternatief was om voor te stem nie het die burgers wel ‘n boodskap oorgedra: “Verenigde Rusland” se steun het met 14% gedaal, wat vir seker as neerlaag en verwerping gesien moet word. Die party kon net-net die volstrekte meerderheid wen met 49.7% (waarby die verdag van kook van die uitslag voor die hand liggend is), vêr van die 64% met die laaste verkiesing. Behalwe vir die duidelike afname in steun vir “Verenigde Rusland” het die daling in stempersentasie ook ‘n boodskap van ontnugtering gestuur: pleks van 65% vorige keer was die stempersentasie nou slegs 50%.

Daar was ook nie regtig alternatiewes nie. Die 7% drempel het dit moeilik gemaak vir liberale en burgerlike partye om setels te wen. Die ander partye wat setels gewen het, is die kommuniste met 20%, die verregse nasionalistiese “Liberaaldemokratiese Party” van die politieke nar Wladimir Sjirinofski met 12% en die party “Regverdigheid vir Rusland” wat 13% gekry het. Hulle is almal ook outoritêre partye en geen werklike alternatief nie. Dit laat ‘n mens al hoe meer dink aan die werkswyse van die kommunnistiese “volksdemokrasië”, waar kiesers behalwe vir die kommnistiese party ook vir betekenislose “groepspartye” kon stem wat deur die kommuniste gestig is en die rookskerm van demokrasie en keuse sou skep.

In die aanloop tot die verkiesing is betogers teen Putin in hegtenis geneem en kritiese webblaaie het van die net verdwyn. Bewerings van verkiesingsbedrog en twyfelagtige uitslae in sekere direk beheerde dele soos Tsjetsjenië, waar die stempersentasie 93% was en 99% vir “Verenigde Rusland” gestem het, plaas ook ‘n wolk oor die verkiesing.

Rusland ontwikkel al hoe meer in die rigting van ‘n outokrasie. Wladimir Putin is die kwasi-dikator wat die lotgevalle van die land bepaal, en sy posisie (weens termynbeperkinge) wissel tussen president en eerste minister. Nadat hy 2 termyne lank president was, moes hy vir 4 jaar met die pos van eerste minister tevrede wees en het sy handverlese presidentskandidaat, Wladimir Medwedew, verkies gekry. Die presidentsverkiesing is eers in Maart volgende jaar, waar Putin na alle verwagting as president gaan staan en van Medwedew verwag om plek vir hom te maak.

Nederland: mosie oor Afrikaner-volksmoord net-net verwerp. In die Nederlandse parlement het ‘n mosie gedien wat diskriminasie teen Afrikaners en die moord op Afrikaners spesifiek veroordeel. Dit is ‘n eerste keer dat ‘n mosie die Afrikaners spesifiek behandel en dit is des te meer merkwaardig dat dit ‘n mosie vir die Afrikaner is en  krities teenoor die ANC-regering. Dit komende van ‘n land wat vir dekades niks met die Afrikaners te doen wou hê nie en ‘n voorste ondersteuner van die sogenaamde bevrydingstryd was. Die mosie lui (verkort) soos volg:

“Ons staaf hiermee dat Suid-Afrika met hardnekkige vorme van diskriminasie en talle ernstige geweldplegings, waaronder rassistiese geweld, veral teen Afrikaners te kampe het, maar dat daar ook groot kommer heers oor basiese regte asook persvryheid;

aangesien Nederland in die verlede die Suid-Afrikaanse regering met juridiese kennis ten opsigte van menseregte, respek vir basiese regte en die bekamping van geweld en diskriminasie bygestaan het;

versoek die regering om te besin hoe Nederland in internasionale verband ‘n bydra kan lewer op die gebied van die opspoering, verhoeding en bestryding van diskriminasie en rassistiese geweldsmisdaad teen Afrikaners, en kan bydrae tot die beskerming van basise regte en persvryheid in Suid-Afrika.”

Die mosie is ongelukkig verwerp, met ‘n meerderheid van 80 teenoor 68. Wat interessant is, is dat sowel linkse asook regse partye vir en teengestem het, maar dat die meerderheid partye wat as links geklassifiseer kan word vir die mosie gestem het. Vir die mosie het gestem: Demokraten 66 (links-liberaal), Groen-links, Christen-Unie (Christelik konserwatief), Party van de Vryheid PVV (nasionalisties-liberaal), SGP (christelik-konserwatief), Sosialistiese Party (links) en Party voor de Dieren.

Teen die mosie het die 3 groot en “establishment” partye gestem: Partij van de Arbeid (Sosiaaldemokrate, gematigd-links), CDA (Christen-demokrate, gematigd-regs) en VVD (gematigd regs). Laasgenoemde twee partye vorm die koalisieregering, in die konteks vn Nederland regs van die middel, wat deur die PVV ondersteun word sonder formele koalisiedeelname.

Politici van die PVV het veral in toesprake sterk na vore gekom vir die lot van Afrikaners in Suid-Afrika en teen plaasmoorde en diskriminasie teen Afrikaners.

 

Asië

 

Sjina: einde van ekonomiese wonderwerk? Elke keer wanneer iewers ‘n probleem opdaag wat met die ekonomie te doen het, word na die redder Sjina verwys. Alles wat Sjina produseer is goedkoper as elders, alles wat ‘n hulpbron of voedsel is wil Sjina invoer.

Selfs met die ekonomiese krisis van die VSA en Europa is Sjina as die redder voorgehou wat dié streke uit hulle finansieële moeilikheid sal help.

Nou is dit egter so dat Sjina nie los van ander lande se ekonomiese toestande funksioneer nie. Dit is wel so dat die geweldige groot bevolking van Sjina oorbeweeg van ‘n arm na ‘n middelklas leefstyl en natuurlik daarmee saam alhoe meer verbruik en meer en meer soos Westerlinge begin leef. Maar Sjina se ekonomie is tot ‘n groot mate ook gebou op uitvoer en teer op die groot hoeveelheid goedere wat die Weste daar aankoop.

Nou, met die ekonomiese insinking in die VSA en Europa, neem Sjina se uitvoer en daarmee saam se inkomste ook af. Nywerheidsproduksie het die eerste keer in 3 jaar gekrimp.

Sjina se ekonomie sal nog steeds bly groei en voortstoom, maar die groei is nie meer eksponensieël van aard nie, maar afnemend.

Die onlangse verlangsaming in groei het ook te doen met die ingryping deur die Sjinese regering: om wegholinflasie te keer het die reserwebank die rentekoerse verhoog, wat besigheidskapitaal duurder maak en sodoende ontwikkeling briek.

Wêreld algemeen:

 

Christendom groei, ateisme krimp. Die algemene persepsie in die Weste is dat die Christendom krimp en die agnostisisme en ateisme toeneem namate mense meer verlig raak en meer kennis in insig opdoen.

Volgens ‘n onlangse ondersoek van die tydskrif “Bulletin of Missionary research” is egter die teendeel die geval.

Die Christendom is nie net die grootste godsdiens nie, maar ook die wat die vinnigste groei (en nie Islam, soos algemeen aanvaar word nie).

Van die sowat 7 miljaard mense op aarde is 2.3 miljaard Christene, en elke dag kom daar 83 000 nuwes by. Omtrent die helfte van alle Christene is Katolieke (1.2 miljaard), 426 miljoen is Protestante, 378 miljoen behoort aan onafhanklike kerke, 271 miljoen is Ortodokse en 85 miljoen Anglikane en 35 miljoen die res.

Die naasgrootste godsdiens is die Islam, met 1.8 miljaard aanhangers en ‘n daglikse groei van 79 000 mense.

Dan volg Hinduisme met 950 miljoen aanhangers en ook ‘n sterk groei.

Selfs Judaisme, ‘n klein godsdiens en onafskeibaar gekoppel aan die Joodse volk, het gegroei van 10 miljoen aanhangers in 1970 na 15 miljoen tans.

Die Christendom is nie net die grootste godsdiens nie, maar ook die wat die meeste wêreldwyd verspreid is. Veral in die sogenaamde derde wêreld soos Afrika en Asië neem die verspreiding van die Christendom deur sendingwerk toe, maar natuurlike aanwas in speel ook ‘n rol en maak meer as op vir die inkrimping van die Christendom in die tradisionele hartland Europa weens minder kinders en ‘n afkeer van God.

Islam groei sowel weens missionering asook weens natuurlike aanwas.

Hinduisme, anders as die Christendom en Islam, glo nie aan bekering nie, maar groei weens Indië se groot bevolkingsaanwas.

Daarteenoor is daar 658 miljoen mense wat hulle as nie-godsdienstig of agnosties beskryf en 138 miljoen wat ateiste is (wat aktief teen die idee van godsdiens is). Anders as met die wêreldgodsdienste, krimp die getal agnostici en ateiste elke dag met sowat 700. Die rede vir die afname is nie soseer ‘n terugkeer na God nie, maar die demografiese inploffing van Europa, waar meeste ateiste en agnostici woon. Ook Sjina beskik weens sy kommnistiese beleid oor groot getalle ateiste en agnostici en het weens die een-kind-beleid ook ‘n negatiewe bevolkingsgroei. Tipies is verder dat ateiste mense  ‘n selfsugtige yuppie-lewensstyl handhaaf en geen kinders het nie. As jy aan niks glo nie maak dit ook nie sin om te wil voortplant nie, want jy leef net vir jouself.

3 gedagtes oor “Blik na buite: Belangrike internasionale gebeure die afgelope tyd

  1. Dicky Steinberg

    Interessante analise oor Sjina, hoewel die konsensus beweer dat die Sjinese ekonomie sal voorthou om te groei, moet in ag geneem word die groot aantal werklose sowel as die rykdom per gesin na raming sowat $5000.00 teenoor die VSA van sowat $42000.00 per gesin.
    Alhoewel die weste ‘n ekonomiese verandering ondergaan en ontwikkelende lande besig is om stadig sosiaal, maatskaplik en economies te ontwikkel. Beteken dit dat die Weste nog ten minste 20 jaar van oorheersing in hulle het voordat die BRICS lande hulle sal inhaal. ‘n Ander teorie is dat Indië die groot rol speler in 30 tot 40 jaar tyd sal wees en nie Sjina met al sy sosiale kwessies en kwale.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s