Platteland: Onontbeerlik!

Die Afrikaanse filmbedryf is sonder twyfel besig om uit sy nate uit te groei. ’n String Afrikaanse rolprente het die afgelope paar jaar op die grootskerm verskyn, maar afgesien van ’n paar suksesse het nie een van hierdie films regtig ’n baanbreker impak gemaak nie. Is Platteland die rolprent waarvoor almal gewag het om Afrikaanse-film na die volgende vlak te neem?

Sean Else en Deon Opperman, ‘n dubbel Hertzogprys-wenner,  is twee van die begaafste draaiboekskrywers van ons era. Die laaste keer toe dié twee hul talente saamgesnoer het, was Afrikaners bederf met die kultuur-historiese musiekblyspel, nl. Ons vir Jou, wat met ’n dawerende applous herhaaldelik bevestig was as die beste Afrikaanse teaterproduksie van alle tye. Else en Opperman het hul sukses op die planke opgevolg met ’n dergelike resultaat op die silwerdoek in hul nuutste meesterstuk: Platteland.

Else het die regie van Platteland behartig en die rolprent saam met Philo Pieterse vervaardig. Pieterse is die bekroonde vervaardiger wat aan stuur van trefferflieks soos Orkney Snork Nie, Boetie Gaan Border Toe en Kringe in ‘n Bos was.

Die sukses van Platteland kan egter nie net aan Else, Opperman en Pieterse toegeken word nie. ’n Span van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf het bewys dat hulle ook die mas kan opkom as akteurs in eie reg. Steve Hofmeyr is welbekend vir sy rolspel talente, maar Bok van Blerk, Lianie May, Jay du Plessis, Vaughn Gardiner en Karlien van Jaarsveld verbaas die gehoor met skitterende vertonings.

Die storie speel af in die omgewing van die Oos-Vrystaatse dorpie, Vrede. Riana van Niekerk (Lianie May) veg verbete om haar oorlede ouers se plaas te red van Mike Ferreira (Steve Hofmeyr). Mike het ‘n donker agenda en het reeds byna al die plase in die omgewing bekom. Nog net Riana se familieplaas staan in die pad van sy sinister plan.

Soos talle boere in die kontrei reeds geleer het, besef Riana dat Mike se ambisie geen perke het nie en dat nie net haar plaas nie, maar haar lewe ook in gevaar is. Sy is opsoek na iemand wat haar kan help om die plaas te red en wanneer die afgetrede spesmagte veteraan, Dirk Pretorius (Bok van Blerk), op die dorp aankom beland die kat behoorlik in die duiwehok.

Dirk is ’n swerwer met vele geraamtes in die kas. Sy lewe is geruïneer deur sy eks nadat sy ouers in ’n plaasaanval vermoor is. Hy probeer om op sy voete te kom en moet diep delf om weer die man te word wat hy eens op ’n tyd was.

Die rolverdeling sluit ook die akteurs Hannah Grobler (Bakgat, Getroud Met Rugby), André Odendaal (Hartland, Getroud Met Rugby), David Clatworthy (7de Laan), Wynand van Vollenstee (Karate Kallie), Ivan Zimmermann (Egoli, Dit wat stom is), Paul Luckhoff (Egoli, Hopeville), Izak Davel (Egoli, Getroud met Rugby – Die Onvertelde Storie), Cobus Visser (Egoli, Villa Rosa), Marcel Schoeman (Torings), Annette Engelbrecht (Orkney Snork Nie), Viljé Maritz (Binnelanders) en Dirk Stoltz (Song vir Katryn, Binnelanders) in.

Platteland is ’n musiekblyspel wat oor al die nodige bestanddele beskik om as ’n ware treffer beskryf te word. Die kamerawerk, storielyn en klankbaan is eersteklas en staan nie terug vir enige Europese of Amerikaanse rolprent nie. Die verhaal beeld die uitdagings uit wat Afrikaners aan die suidpunt van Afrika tans in die gesig staar en bied hoop dat ons nog ’n toekoms het mits ons terugkeer na ons kernwaardes, kultuur en bittereinder volkskarakter.

Dit is ’n boeiende liefdesverhaal met hope aksie wat beslis die nuwe maatstaaf in die Afrikaanse filmbedryf geword het. Platteland kan in een woord opgesom word: Onontbeerlik!

 

3 thoughts on “Platteland: Onontbeerlik!

  1. Baie geluk aan die draaiboekskrywers en akteurs. Aan Johan Vorster ook baie geluk.
    Sal graag met hom wil kontak maak, ons is familie maar het nog nie ontmoet nie. Het saam met sy moeder grootgeword in Bloemfontein.
    Het kontak verloor met sy gesin weens verhuising. Dankie vir ‘n puik rolprent.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s