Riviere, damme, kanale en ‘n ‘Land van Volop’!

Met die oorgang van jagter tot landbouer het die mens se vestings, langs riviere en ander waterbronne, permanensie begin kry. Nedersettingsgroei het die organisering en beheer van watervoorsiening genoodsaak en landbouaktiwiteite laat versprei. Damme en kanale was dus die volgende natuurlike stap. In antieke tye was die Mesopotamiërs, die Egiptinare en die Chinese voorlopers op die gebied van dam en kanaalbou.

Die Chinese het veral in kanaalbou uitgeblink. Kanale wat duisende jare gelede gebou is het landstreke drasties verander en bewoonbaar gemaak.Een so ‘n gebied, yl bevolk en met ‘n lae reënval, het na die bou van ‘n omvattende kanaalstelsel daarin, bekend geword as ‘n ‘Land van Volop’! Hierdie kanale doen reeds diens vir die afgelope sowat 2 300 jaar.

“Water is lewe” is ‘n geykte uitdrukking maar die beheer daaroor of verlies van beheer daaroor, is waar gemeenskappe, selfs beskawings, gemaak of gebreek word! Die totale gesondheid van ‘n omgewing (en sy mense) word gemeet aan die gehalte van sy water en sy lug. Harmonie tussen die mens en sy omgewing is ‘n wederkerige aanvulling, ‘n simbiose en vorm die kern vir volhoubaarheid! Ongelukkig is omgewingsmisbruik en besoedeling deesdae die norm.

Is die Oraniërs in ‘n gesonde ekologiese verhouding met die Oranje? Het die Oranje die potensiaal waarmee ons ‘n volkstaat kan bou wat ook bekend kan word as ‘n ‘Land van Volop’?

Is die Oranje se water ‘n politieke hefboom waarmee daar druk op die volkstaat uitgeoefen kan word? Gereeld word ‘n mening uitgespreek dat die ANC hierdie lewensaar, nl. die Oranje se water, kan afsny! Steek daar waarheid in?

Uitvoering van so ‘n dwarsboming sal nie maklik wees nie. Daar is ‘n groot klomp water wat herlei sal moet word. Waarheen? Gauteng toe? Oos Kaap toe?Die koste verbonde aan so ‘n poging sal geweldig hoog wees en sal ook nie oornag uitgevoer kan word nie. Dan praat ons nie eens van gevestigde belange van, oa ook regeringsondersteuners, verder stroomaf, wat deur so ‘n stap geraak sal word nie!

Sulke vergrype kan in die Wêreldhof ‘n draai loop maak maar die hele gedagte van sommer net krane toedraai is ietwat verspot. Daar kan wel politieke kniehalters in verskillende vorms kom maar sovêr was dit, gelukkig, nog nie (ooglopend) die geval nie.

Kom ons los maar die bobbejaan, met sy moontlike politieke probleme, voorlopig agter die berg en spits ons toe op dit wat relatief maklik en prakties haalbaar is. As voorbeeld, aanpassings aan die loop van ‘n rivier soos die Oranje, kan op plekke gemaak word.

Die Oranje het nie altyd sy huidige roete gevolg nie! Lank gelede het hy, in die omgewing van Prieska, suidwaarts, in die rigting van van Wyksvlei gevloei. ‘n Aardkorsverskuiwing het ‘n heuwel in sy pad gestoot en hom op sy huidige roete gedwing.

Die oorspronklike roete kan weer met behulp van ‘n tonnel oopgestel en die watervloei verdeel word. ‘n Enorme gebied se potensiaal sal sodoende ontsluit word. Geringe aanpassings sal waarskynlik gemaak moet word terwille van paaie, huise en dorpe in die pad.

Riviere, in hulle ontstaansfase, soek die pad met die minste weerstand en herhaal die proses van versperring tot versperring! Met ingryping , tov die verwydering van versperrings, deur ons gekose, kan die rivier gemanipuleer word om ander roetes te volg. Soos wat die bolope van riviere almal by die ‘stam’ bymekaar kom kan uitlope dan stroomaf, soos takke van die stam af wegbeweeg.

Op die regte plekke behoort ‘n sluis, uitgrawing of tonnel beheer oor so ‘n vertakking te gee. Met sattelietkaarte behoort die vasstelling van sulke alternatiewe rivierlope deesdae maklik te wees.

Die ideaal sal wees om water so te benut dat daar slegs ‘n klein stroompie varswater die see bereik. So ‘n stroompie moet konstant wees, beide in tye van vloed en droogte. Die laaste gebruiker in die ry mag nie afgeskeep word nie!

Beheer oor die hoeveelheid water wat stroomop vertak kan word, word bepaal deur die invloei. In tye van vloed kan die maksimum vertak word en in tye van droogte die minste. Met sulke beheer kan vloedlyne irrelevant gemaak word.

Of ons, in hierdie moderne tye die antieke Chinese se prestasies kan ewenaar is ‘n ope vraag! Die heersers van daai tyd kon mense letterlik as slawe inspan. Vandag het ons moderne masjinerie tot ons beskikking.

Die verskil kom daarin dat dit destyds die wil van die heerser was wat bepalend was. Vandag sal dit die wil van die etniese Afrikaner-nasionalis wees wat die deurslag sal gee, politieke weerstand uit ander oorde tenspyt.

Geoordeel aan wat reeds in Orania vermag is lyk dit belowend maar meer mense sal van die moontlikhede van ‘n eie land en toekoms bewus gemaak moet word! Nedersettings soos Orania en (uit ‘n ander era en waar Afrikaners met pik en graaf ‘n lushof geskep het) Kakamas, is duidelike voorbeelde van waartoe ons instaat is!

Soos wat ‘n beeldhouer ‘n beeld in ‘n granietblok sien en dit dan bevry, so moet ons ‘n ‘Land van Volop’ in die Noord Kaap sien en daaraan werk om dit te verwesentlik. Die potensiaal is daar!

Raak betrokke, bring jou kant en sluit by die Orania Beweging aan!

10 thoughts on “Riviere, damme, kanale en ‘n ‘Land van Volop’!

  1. Ek is een van die water doemprofete. Toe ek daarop gewys het dat die regering die water gaan toedraai was daar geen sprake van politieke oorwegings nie. Die feit is dat Suid Afrika ‘n water arm land is. Die Noord Kaap is water brand-arm. Partymaal is die damme vol en partymaal is die damme leeg. As die damme leeg is kan mense nie meer besproei nie. Hierdie proses word sentraal beheer deur waterregte toe te staan. Mens kan praat oor die toedeling van die regte en of dit regverdig is, maar tans is daar nie meer water nie. Die ander feit is dat die regering tans besig is om damme in Lesotho te bou om water uit die Senqu rivier (bo Oranje) na die As-rivier en Gauteng te herlei.

    Ons koop vrugte by boere verder af in die Oranje wat baie graag wil uitbrei. Daar is bloot nie meer water konstant beskikbaar vir besproeiing nie.
    Ons kompetisie in Egipte in die Nyl delta het dieselfde probleem. 2,000 hektaar plase met 50 hektaar vrugte op. Die res is sand. Daar is ook nie meer genoeg water nie.
    Dit is maklik om met iets wat ongereelde water kan vat (dadels etc) te boer en dan net besproei wanneer die rivier in vloed is of wanneer die rivier vol is. Mens kan selfs met bosstok druiwe so boer en omtrent 500mm per jaar besproei. Dit is heeltemal anders as mens op klein stukke grond intensief moet boer met groente, vrugte en ander gewasse wat konstant water nodig het.
    Orania het 350 hektaar besproeiingsgrond volgens die webwerf.

    Ek sou baie bly wees om die opinie van die waterraad (of wat hulle ookal genoem word) te sien oor hoeveel besproeiingswater nog beskikbaar is in die “Onder PK le Roux” skema van die dam tot by die see.

    Ek sou ook baie opgewonde wees om die moontlikheid van ‘n alternatiewe dam in ‘n alternatiewe loop van die Orange te sien om water tydens vloed daarheen te herlei.

    As jy ‘n Toyota Hilux boer wil wees met ten minste genoeg geld om:
    -elke 5 jaar ‘n nuwe bakkie te koop en jou vrou in ‘n klein Yaris of soortgelyke kar te sit.
    -jou 2 kinders in ‘n R10,000 per jaar skool te sit
    -‘n R10,000 familie vakansie te neem
    -Jou kapitaal terug te betaal op jou grond
    – ‘n R12,000 per maand pensioen op 65 te he
    – Een kind vir 4 jaar universiteit toe te stuur

    het jy die volgende nodig: (30% belasting inaggenome)

    -1000 skape (R700 inkomste per jaar met ‘n R200 skeersel en R500 vleis teen 80% lam). Skape lewer dubbel die inkomste per GVE as beeste en as diefstal nie ‘n probleem is nie moet skape gebruik word.
    of 200 melkbeeste.
    of 10 hektaar sitrus (teen 60 ton per hektaar, R1,200 insetkoste en R2,000 verkooprys per ton plaashek)
    of 2 hektaar bessies
    of 200 hektaar besproeiingsmielies
    of 4,000 hoenders in rotasie
    of groente, maar die ryp-seisoen maak Orania se seisoen baie kort.

    Ek dink nie iemand wil Orania toe gaan om te gaan sukkel of kripeer van ellende nie. As die water daar is is dit die paradys. Ek sou graag wou sien dat iemand die toekomstige moontlikhede vir water by die regering kry.

    Met 350 hektaar klein-plasies onder besproeiing gaan dit baie moeilik wees om ‘n landbousektor te ondersteun.

  2. Unpeecee, die beperkings op die produksie van die vrugteboere, waarna jy verwys, is nie omdat die Oranje leeggeloop het nie maar omdat hulle waterregte beperk word. Hierin kan politiek wel ‘n rol speel. Feit is dat daar daagliks ‘n geweldige volume water, onbenut, die see inloop! Met die onlangse vloede is, nie net vanuit die Oranje nie, maar ook vanuit die Vaal (Gauteng), skademakend maar onbenut die see in,’n massa water dalk gelyk aan ‘n jaar? se normale vloei.

    Die probleem lê nie werklik in die skaarste nie maar daarin dat water verbeeldingloos en ondoeltreffend beheer word. Deur ‘n reeks van vertakkings te skep, wat as sponse kan dien, kan ‘n meer egalige vloei verkry word. Hier in lê die groot uitdaging!

    Terloops, boerdery aktiwiteite in Orania is nie net tot die beskikbare besproeiingsgrond beperk nie! Ook is Orania bloot die volkstaatsvertrekpunt. Die benadering tot waterbeheer het dus betrekking op die Noord Kaap of dan tenminste ‘n groot deel daarvan!

  3. Water is lewe – sonder twyfel. Baie goeie artikel, oom Ben. Ek is gelukkig om al deur Egipte te kon reis en dis ‘n feit dat daardie mense al vir derduisende jare elke druppel water op die mees vindingrykste maniere benut. Talle florerende stede en dorpe in die antieke Egtipte het eenvoudig tot niet gegaan wanneer die Nyl, of sy sytakke, van rigting verander het. Akhetaten is seker die bekendste voorbeeld.

    Wat die Oranjerivier betref, al bou mens 10 damme in Lesotho sal mens nog nie die Oranjerivier laat opgroog nie. Die Kaste en Mohale damme (deel van die Lesotho Hoogland Waterskema) vang maar net ‘n druppel in die emmer. Dan volg die Verwoerd en P.K. Le Roux damme wat nog ‘n druppel vang. Ek het by ‘n betroubare bron verneem dat soveel as 97% van die water wat deur die P.K. Le Roux-dam vloei uiteindelik in die Atlantiese oseaan beland.

    Dan is dit ook vir ons vandag moontlik om seewater te omskep vir landbou en menslike gebruik. Dit is duursaam, maar dit is moontlik.

    Nietemin, ek sou nie te veel stres oor die Oranjerivier wat deur die ANC “gekaap” gaan word en dit dan die einde van die volkstaat gaan beteken nie. Hulle kan skaars die infrastruktuur wat vir hulle oorhandig was bestuur – wat nog van die infrastruktuur skep om een van suidelike Afrika se grootste riviere Johannesburg toe te lei?? Dit klink soos iets wat in ‘n wetenskapfiksie boek behoort.

    Behalwe vir die feit dat al die plase noord van die Oranjerivier buite die aangewese volkstaat-gebied val, dus deel van die Suid-Afrikaanse landbousektor is en hulle hulself in die voet gaan skiet om die Oranjerivier “op te droog”, is dit regtig nie so ingewikkeld om van damwalle ontslae te raak indien hulle so kwaadwillig gaan wees om 1000 damme tussen Lesotho en Van der Kloof te bou nie…

  4. Hierdie gedurige gekef van een of ander doemprofeet oor waar en hoe Orania en die Volkstaat se wieletjies gaan afkom, maak ‘n mens agterdogtig. Met Orania se begin as groeipunt was die aanvalle venynig.

    Dit het toe nie gewerk nie en Orania floreer! Nou is die anvalle subtieler en belig met ‘feite’. As 97% van ‘ons dam’ se water onbenut see toe loop dan is dit tyd vir ‘ons’ om iets daaraan te doen!

    Die groot uitdaging bly, nie net om die water oor ‘n groter gebied versprei te kry nie, maar ook om die vloei egaliger te kry! In hierdie opsig is daar ruimte vir verbeeldingryke denke en innovasie. Oor die ANC-pampoenspook hoef ons ons nie te veel te kwel nie!

    1. NB NB! “Die groot uitdaging bly, nie net om die water oor ‘n groter gebied versprei te kry nie, maar ook om die vloei egaliger te kry!”

      Terwyl die vloedwaters vroeer hierdie jaar by die Oranjerivier afgekom het, het ons gesien dat Departement Waterwese geen antwoord vir die vloede gehad het nie. Dit gaan die verstand te bowe dat die damme reeds ongeveer 90% vol was voor die reenseisoen begin het. Dit is ‘n wonderwerk dat Orania nie skade gely het nie. Ek het persoonlik in my kantoor gesit en kyk hoe die rivier styg tot onder die restaurant en hotel (wat gelukkig op stelasies gebou is). Ander gemeenskappe was nie so gelukkig nie – Douglas en Upington sit met miljoene rande se skade.

      Die Oranjeriever se waters sal eers oor ‘n groter gebied versprei word die dag wanneer die Afrikaner volkstaat tot stand gekom het. Tot dan is ons afhanklik van die ANC-regime se Departement van Waterwese… nog een van duisende redes hoekom dit in ons beste belang is om ons vryheid te herstel!

  5. Wilma Hanekom

    Dankie vir die artikel, Ben! Ek wag al lank dat iemand oor die Oranjerivier as lewensaar van veral die Noordkaap skryf, met spesiale verwysing na die groeipunt Orania natuurlik. Goed om die Nyl as voorbeeld voor te hou. Moet ook nie vir Israel vergeet nie. Wat daardie Israeli’s in die halfwoestyn uitgerig het word deur die wereld wonderwerke beskou.

  6. Inderdaad ‘n insiggewende en nodige artikel. Ons kan nie net oor die politiek praat nie, ons moet ook oor die ekonomiese sy van die volkstaat praat, en alles begin en eindig inderdaad by water.
    Daar is al na Israel verwys, ‘n land wat met die karige water van die Jordaan (na my wete mindert as 10% van die Oranje se water) en dit nog gedeel met Jordanië, nie net ‘n staat van 5 miljoen mense aan die gang hou nie, maar selfs ‘n uitvoerder van vrugte is.
    Die logika van UnPC, dat jy altyd groter en groter moet gaan om jou gedurig stygende “behoeftes” (eintlik begeertes) aan te voldoen lê juis aan die wortel van die probleem hoekom so min Afrikaners die kopskuif kan maak om in Orania en die volkstaatgebied te bly.
    Jy bou eers ‘n klomp skuld op omdat jy ‘n reuse huis, nog ‘n strandhuis en ‘n wildsplaas, en ‘n Mercedes, en ‘n dubbelkajuitbakkie, en ‘n flashy inkopiemotor vir jou vrou en jou dogter en jou seun ens moet koop, en ten duurste vakansie moet hou ens ens, en dan verklaar jy die bedrag as jou absolute miminum lewenspeil en werk daarvolgens jou benodigde inkomste uit.
    Omdat uitgawes weens inflasie en stygende begeertes gedurig styg, maar inkomste uit boerdery fluktueer, is meeste groot boere volgens die logika genoodsaak om gedurig nog groter te gaan, nog harder te werk ens. Dit maak egter dat hulle die idee om in Orania nuut te begin nie eens sal oorweeg nie.
    Werk liewer andersom: kom sonder skuld hier aan, kyk wat jy kan verdien en werk jou begroting daarvolgens uit. Jy werk hard in die begin, behaal sukses, spaar en ploeg dit in die besigheid in en oor ‘n paar jaar is jy welvarend genoeg om al daardie begeertes soos oorsese vakansie, strandhuis, tweede en derde motor ens te kan vervul. Hier is boere op Orania wat dit reg gekry het.
    Terloops, die ryk en vol lewe wat hierdie plek so besonders maak, het jy ook en juis sonder al die kapitalistiese statussimbole, sonder om ‘n sukelaar te wees, maar juis ‘n ryk man (ryk in die sin van kwaliteit lewe).

  7. Terloops, die Lesotho Hooglandwaterskema is na my wete redelik afgesluit en die water wat opgegaar en noordwaarts na Gauteng gelei word het nog steeds nie die Oranjerivier se watervlak sigbaar verminder nie. Die invloed van damme word oor die algemeen oorskat. Ons het nou al menige akriksenario gehoor van die Eufraat, Nyl, Okavango ens wat sou opdroog weens lande se waterbenutting en dambou en dit het nie gebeur nie.

  8. Wilma Hanekom

    Nog iets waaroor ek wonder is die besoedeling van die Oranje, maw die water wat Orania bereik, hoe skoon dit tans is en wat in die toekoms voorlê.

  9. Philip

    UNPEECEE noem n paar ware feite wat nie lukraak afgemaak kan word as negatiewe kritiek nie. Om al sy menings by voorbaat te diskrditeer is so goed as om te se dat globale verwarming nie bestaan nie en dat dit Orania nie in die toekoms sal raak nie. Nietemin, dat Orania se water ooit eendag “afgesny” sal word is hoogs onwaarskynlik. Dat die owerhede die Oranje se water in die verre toekoms heelwat strenger sal bestuur, is gewis. Dit is onvermydelik. Niemand het nog enigsins Namibie in gefaktor in hierdie debat oor die Oranje se toekoms nie. Namibie gaan nie op hul loure sit en toekyk hoe Azania hul water afsny nie. Namibie is geregtig op Oranje water en die moontlikheid bestaan goed dat Nambie in die toekoms n dam in die rivier wil bou vir hul eie gebruik. Gelukkig vir Orania moet daardie water verby hierdie dorp soontoe loop. Deur egter nou al met woestyn plante en truksvye op Orania te begin boer en op te hou besproei is n paar dekades te vroeg (maar opsigself nie n slegte idee nie).

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s