Blik na buite

Europa:

 

Roemenië: yshockey, die volkslied, nasionalisme en etnisiteit. ‘n Interessante verwikkeling, wat weer wys hou sterk etniese nasionalisme onder die dekmantel van staatspatriotisme is, het in Roemenië plaasgevind, en meer spesifiek tydens ‘n yshockeywedstryd tussen Roemenië en Hongarye wat in die Karparthe-streek (Siebenbuergen) plaasgevind het. Die merkwaardige daaraan was dat die Roemeense span feitlik uitsluitlik uit etniese Hongare bestaan het wat as etniese minderheid op Roemeense grondgebied woon. Alhoewel daar twee nasionale spanne (Roemenië en Hongarye) teen mekaar gespeel het, het in praktyk Hongare teen Hongare gespeel. Die Roemeense span het toe gewen, maar toe die Roemeense volkslied gespeel is, het geen speler (en min van die toeskouers) saamgesing nie, terwyl almal trots en hardop saamgesing het toe die Hongaarse volkslied gespeel is. Die Hongaarse volkslied is nie ‘n lied wat die land Hongarye besing nie, maar is die lied van die Hongaarse volk wat baie ouer is as die moderne staat Hongarye, wat eers na die 1ste Wêreldoorlog ontstaan het. Dit besing die lang vryheidsstryd van die Hongaarse volk in die 19dee eeu teen hulle magtige bure, die Habsburgers en die Russe.

Roemeense media, meningsvormers, politici, sportlui en gewone mense was hoogs ontstoke oor die minagting van die volkslied en lelike beskuldigings en haatspraak is teen die Hongaarse yshockey-spelers in die besonder en teen die Hongaarse minderheid in die algemeen geuiter. Die gemoedere loop tans hoog en die nog altyd bros verhoudings tussen die twee volksgroepe, die “staatsvolk” en die minderheid, is weer op ‘n laagtepunt. Ook taal is altyd ‘n kwessie en wrywings ontstaan in die gebiede van die Hongaarse minderheid oor wat die omgangstaal moet wees, of dorpsname tweetalig moet wees ens.

 

Dit is so dat sekere volke, ook beïnvloed deur hulle geografie, sterker in sekere sportsoorte is as ander. Die Hongare uit die koue en bergagtige Karparthe-streek was nog altyd goeie yshokkey-spelers en het ‘n soort monopolie in die sport, terwyl die etniese Roemene, wat in die laagliggende Donau-vallei en kusgebiede woon, nie veel met yshockey uit te waai het nie.

‘n Vergelykbare situasie heers ook in Suid-Tirole, wat polities deel van Italië is. Met enige wintersport by byvoorbeeld die Olimpiese Winterspele vaar Italië gewoonlik baie goed (saam met Switserland en Oostenryk), maar dit is te danke aan die etniese Duitsers wat in die bergagtige Suid-Tirole woon, terwyl die etniese Italiaaners nie juis uitblink in wintersport nie (omdat die plat dele of middelslagberge in die eintlike Italië nie juis geskik is vir wintersport nie).

Ook kan ons hier aan Suid-Afrikaanse sport dink: elke keer wanneer die Springbok-rugbyspan saamgestel word, is daar een of ander sportfunksionaris of politikus wat kerm dat die span nie “verteenwoordigend” is nie (en by implikasie nie die “ware Suid-Afrikaners” bevat nie).

Die meesal Afrikaanse rugbyspelers het vir lank die volkslied Nkosi Sikele glad nie saamgesing nie omdat dit niks vir hulle beteken het nie. Ook die toeskouers is meesal Afrikaners, en elke keer wanneer na ‘n redelike stilte met die eerste verse van die volkslied oorgeslaan word na die “Stem”-gedeelte, hoor ‘n mens hoe die volume in die stadion optel.

 

Agtergrond: Honagrye het eers na die 1ste Wêreldoorlog ontstaan op grond van die Wilson-plan en nadat die verloorder van die oorlog, die Habsburg Ryk (waarvan Oostenryk die oorheersende deel was), in nasionale state opgedeel is. Roemenië, wat saam met die oorwinnaars geveg het, het aanspraak op grondgebied as oorlogsbuit gemaak en het sy grondgebied omtrent met die helfte vergroot deur die bergagtige Siebenbuergen met die Karparthe-gebergte te ontvang. Alhoewel daar ook heelwat Roemene in die gebied gewoon het, was die gebied grootliks deur Hongare en ook ‘n hele paar Duitsers bewoon. Die Hongare is onder die Habsburg-bewind daar gevestig as ‘n soort weerbare grensboere en het oor eeue daar ‘n gemeenskap gevorm wat ‘n sterk identiteit ontwikkel het. Die skielike inlywing by Roemenië en die Roemeense nasionalisme in die 20ste eeu en die ystergreep van die kommunistiese diktator Ceaucescu het die lewe moeilik gemaak vir die Hongaarse minderheid. Eers na die val van die ystergordyn het hulle op druk van die Europeese Unie (waarvan sowel Hongarye asook Roemenië lid is) kulturele regte ontvang en het ‘n mate van selfbeskikking in hulle gebiede.

 

Frankryk/Turkye: parlement besluit oor Armeense volksmoord-mosie. Die Franse parlement het ‘n wetsontwerp voorgstel wat die verloening van erkende volksmoorde, ook die Armeense volksmoord, verbied en straf. Dit is reeds in talle lande wet om die verloening van die Holocaust (Joodse volksmoord) te verbied en te bestraf, maar die Armeense volksmoord, alhoewel amptelik aanvaar as volksmoord, het nie naastenby dieselfde status nie. Dit is ook omdat Turkye sy internasionale gewig gebruik om die volksmoord dood te swyg en diegene wat dit volksmoord noem, te boelie. Die besluit van die Franse parlement help om die Armeense volksmoord van vergetelheid te red. Almal is bewus van die holocaust, min weet van die Armeense volksmoord, die eerste volksmoord in die 20ste eeu.

 

Die besluit, wat eksplisiet deur die Franse president Sarkozy gesteun is, kom op ‘n tydstip in die aanloop tot die volgende presidentsverkiesing aanstaande jaar, waar president Sarkozy moet spook om herkies te word. Die Armeense minderheid in Frankryk, wat juis weens die volksmoord na Frankryk gevlug het, en wat sowat ‘n half miljoen mense is, is ‘n aansienlike drukgroep in Frankryk (amper vergelykbaar met die Jode in die VSA) en Sarkozy hoop dat hulle steun ‘n verskil vir hom sal maak in die verkiesing. Die Franse parlement was feitlik eenparig in sy besluit om die volksmoord te erken en die verloening te verbied en te straf. Slegs een verlinkse splinterpartye, asook enkele individuele lede van die groter partye het teen die mosie gestem. Frankryk sien hom as ‘n baken en bewaarder vir menseregte en speel daarom ook ‘n rol in die wêreld om dit te bevorder.

 

Historiese feite: Die volksmoord aan die Armeniërs, ‘n oeroue, christelike volk wat histories in die Kaukasus-streek en in Oos-Anatolië woon, is deur die Turke en die Osmaanse Ryk as lastige minderheid beskou en in die eindtyd van die Osmaanse Ryk tydens die 1ste Wêreldoorlog in 1915 op ‘n wrede manier uitgewis. Armeniers is deur Turke uit hulle dorpe saamgedryf en ‘n groot vlugtelingstrek is oor honderde kilometers na die grens gelei. In die proses is weerlose Armeniers, menige van hulle vroue, kinders en ou mense doelbewus doodgemaak, gemartel en verkrag. Baie meer het weens die ontberings van die trek gesterf. Sowat ‘n miljoen Armeniërs is so vermoor en vandag woon daar feitlik geen Armeniërs meer in Turkye nie. Talle het gevlug na Wes-Europa, by name Frankryk, maar ook na die VSA.

 

Kritici in Frankryk het daarop gewys dat dit nie die parlement se werk is om in historiese debatte deel te neem nie en dat die besluit ekonomies negatief vir Frankryk sal wees, wat goeie handelsbande met Turkye, ‘n groeiende en opkomende land, het.

 

Turkse reaksie: Turkye het reeds in die voorveld van die besluit probeer om met dreigemente en beïnvloeding van parlementslede die wetsontwerp te kelder. Na die aanvaarding van die mosie het die Turkse Eerste Minister Tayyip Recep Erdogan, soos gewoonlik as dit kom by die kwessie van die volksmoord op die Armeniërs, histeries en aggressief gereageer. Erdogan het met ernstige en langdurige gevolge vir Frankryk gedreig en op sy beurt Frankryk beskuldig van Moslem-haat en van ‘n geskiedenis van volksmoord, veral met betrekking tot die koloniale oorlog in Algerië. Die Turkse ambassadeur in Parys is terug geroep. Turkye se houding is dat hulle in hulle geskiedenis niks verkeerd gedoen het nie, en allermins skuldig is aan ‘n volksmoord.

 

Beoordeling:Die Turkse houding is uitdrukking van oordrewe nasionalisme. Geen land en volk op aarde het ‘n heeltemal skoon geskiedenis nie, allermins Turkye, wat vir die grootste deel van sy geskiedenis ‘n veroweraar en heersersvolk was. ‘n Staat behoort volwassenheid genoeg te hê om sy foute in die verlede te erken, te bely en verskoning te vra. Turkye het juis ‘n lang geskiedenis van onderdrukking van ander volke en is selfs in vandag se tyd nog betrokke by hardhandige en kultureel onderdrukkende optrede teenoor die Koerdiese minderheid.

Die Turkse houding van woedende ontkenning bring ons na die ander uiterste, die een van totale selfhaat en anti-nasionalisme weens gruweldade in die verlede, waarvoor Duitsland ‘n sprekende voorbeeld is. Duitsland het na die neerlaag in die Tweede Wêreldoorlog sy skuld met veral die uitwisseng van groot dele van die Joodse volk erken en verskoning gevra en vergoeding betaal. Dit was wel reg, maar die Duitse skuldgevoel is vandag so ingebrand in die volk dat dit omgesit het in selfhaat en anti-nasionalisme, wat so ver gaan dat Duitsers altyd op die voorpunt is van bewegings wat vermenging, verinternasionalisering en uitwissing van identiteit bevorder.

 

 Terwyl in Turkye geen openlike debat oor die volksmoord moontlik is nie, omdat die regering dit ontken en enige Turkse historici wat die histories korrekte siening aanhang bykom, is in Duitsland enige debat wat nie algehele veroordeling van die Nazi-bewind sonder enige nuanses is nie, verbode.

Hoe absurd die Turkse houding egter is, word duidelik as ‘n mens jou voorstel, Duitsland sou Israel booikot en probeer isoleer omdat Israel die uitwissing van die Jode as volksmoord herdenk.

 

 

5 thoughts on “Blik na buite

  1. Ja dit is ‘n goeie analise oor die ontkenning van nasionaliteit in die van ouds idealisties Duitsland (Die deformierte Gesellschaft). Die huidige Duitse generasie het die destydse nasionaal-sosialisme egter “oorwin” met das Grüne Totalitarismus van Günther Hartkopf
    http://www.novo-magazin.de/85/novo8520.htm Eine Grundlage ihres Weltbildes bildet die von Dennis L. Meadows 1972 im Auftrag des „Club of Rome“ herausgegebene Studie zur Weltwirtschaft mit dem Titel Die Grenzen des Wachstums. In seinem Sinne sind sie angetreten, die Gesellschaft umzugestalten. Im tieferen Sinne zielen sie auf eine Weltherrschaft der Bürokraten ab.
    Federführend dieses Projekt mit angestoßen hat der mittlerweile verstorbene Staatssekretär Günter Hartkopf, FDP-Mitglied seit 1957. Er agierte als beamteter Staatssekretär im Bundesinnenministerium unter den Ministern Hans-Dietrich Genscher (FDP), Werner Maihofer (FDP), Gerhart Baum (FDP), Jürgen Schmude (SPD) sowie wenige Monate unter Friedrich Zimmermann (CSU).

  2. Chris

    Yshokkie nie Yshockey? Mooi geskiedenis lessie, maar wat help dit ons? Moet ons dus aanvaar dat ons uitgewis gaan word? Ons het ook skuld erken en om vergifnis en vesoening gevra, nou’s ons eens magtige land 80%-disfunksioneel en word ons een vir een vermoor sonder dat iemand ‘n vinger lig om dit te keer. Die hartseer uit die mens se geskiedenis is eerstens dat mense mekaar uit roei (gewoonlik Gods aanbidders) en dat ander dit sien en weet, maar eerder ander pad kyk en NIKS doen om dit te keer nie!! DIE VRAAG IS:- Wat gaan ons doen om verdere bloedvergieting te keer?

  3. Baie interessant Sebastiaan. As die lotsbestemmings van etniese groepe maar net deur hulself gemaak kon word, en nie deur vêr verwyderde, magshonger figure nie sou die wêreld ‘n heel ander plek wees!

  4. Gervo

    En niemand vra: Hoekom gebeur al hierdie dinge met ons? Waarom is ons aan sulke onmenslikheid, verminking, verguising, verraad en bespotting oorgegee? Ek weet dat wanneer ons van onsself gaan begin wegkyk daar groot ontnugterende feite na vore gaan kom wat ons nie maklik sal kan of wil hanteer nie. Het DIE SIENER dan nie gese^ dat DIE ALMAGTIGE sy kant sal bring maar dat Hy ‘n gelowige en gehoorsame volk soek nie? Mag Hy sy Gees van EWIGE WAARHEID en EWIGE LIG stuur sodat ons tot bekering kan kom om deur Hom verlos te word.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s