Afrikaans! Waarom dit bestaansreg het.

Internasionale Moedertaaldag, die 21ste Februarie, het sonder veel bohaai gekom en gegaan. ‘n Nuwe taalwet, duidelik daarop ingestel om Afrikaans verder te marginaliseer, is nou op die agenda. Ook dit word skynbaar, sonder veel bohaai, deur Jan Alleman gelate aanvaar.

Hoekom gaan ons so onverskillig om met hierdie belangrike komponent van ons volkswees?

Slaag diegene wat die persepsie van Afrikaans as iets minderwaardig wil skep, en dit sodoende vernietig, nou in hul doel? Sonder ‘n eie taal is ‘n volk weerloos blootgestel en onderworpe aan invloede van buite af. Invloede waaroor hy min of geen beheer het nie.

Lande met een van die sogenaamde wêreldtale as gebruikstaal, mag dalk polities onafhanklik wees, hulle mag selfs beheer oor hul genepoel uitoefen dmv beheerde immigrasie, maar hulle denke word deur die sterkste lid of lede in die taalgroep oorheers of ongevraagd aangevul.( Skotland skree onafhanklikheid maar die BBC en die Britse pers beinvloed en manipuleer oplaas Skotse denke).

Sy taal is tog dit waarin ‘n etniese groep sy privaat gesprekke voer, waarin sy gedagtes vorm kry, waarmee sy kinders op skool, nuwe inligting die maklikste verwerk. Dis so ‘n deel van sy persoonlikheid soos wat sy gene van sy biologiese samestelling is.

Ons val in die Engelse taalwêreld se invloedsfeer en ons word hoofsaaklik deur Amerikaanse en in ‘n mindere mate, Britse denke beinvloed. Niks fout met blootstelling aan ander kulture nie. By ons is dit ongelukkig, ‘n eensydige blootstelling aan Anglo/Amerikaans.

Afrikaans, ons skans teen hierdie opdring en manipulasie van buite af, word knaend aangeval. Nie meer net van Brits/koloniale kant af nie, maar nou ook deur Afrikane wat self geen duidelikheid het van wie of wat hulle is nie! Hulle praat Afrika maar tree koloniaal op. Pionne? gemanipuleer deur die Anglo/Amerikaanse geldmag? ‘n Geld en politieke mag wat nie sy houvas op Afrika wil prysgee nie?

Hoe dit ookal sy, ons taal is onder druk. Niks nuuts hieraan nie! Afrikaans was nog altyd in sy vyande se visiere. Die aanslae is sovêr oorleef. Groot skades is gely maar die talentvolles onder ons is wakker gemaak en tot optrede toe gedwing. ‘n Krisis is mos maar ‘n wanning, ‘n skeiding tussen kaf en koring.

In die propagandaveldtog, waarin gepoog word om Afrikaans as minderwaardig en kru voor te stel, is halwe waarhede en wanpersepsies aan die orde van die dag. Ek het ‘n groot deel van my werkslewe op fabrieksvloere deurgebring en daar was die ‘rooinekke’ (veral in my Natalse dae) lief om sekere mites re Afrikaners en Afrikaans te versprei.

Van die bekendste onder hierdie mites is:

Afrikaans word net hier gepraat maar Engels in baie lande: So!!

Engels word in nog baie meer lande nie gepraat nie.Vir al hierdie reislustiges net dit. Reis het net betekenis as dit ‘n ontdekkingstog is, ‘n soeke na en ‘n skakeling met vreemde mense, vreemde kulture en ander insigte! Om Engelse in ‘n ander omgewing te besoek of om met Duitsers, Italianers, Russe of wat ookal elders Engels te loop praat, is ‘n foefie waarmee reisagentskappe hul brood verdien. Dit bevat die opwinding van ‘n vreemde omgewing maar van ander lande en hul bewoners leer ‘n mens op dié wyse, bloedweinig!

Om in Engels te skryf gee ‘n skrywer ‘n groter afsetgebied: So!!

‘n Afsetgebied dui nie gehalte aan nie. Inteendeel! Uitgewers en handelaars wil wins maak en sodoende raak skryf ‘n handelsitem. Sou Shakespeare, in die huidige kommersiële opset dieselfde impak hê? Van Wyk Louw het op die toneel verskyn toe ons ‘n kleiner groepie as nou was. Gehalte verdwyn maklik in getalle.

Engels bied ‘n groter verskeidenheid lees en kykstof aan: So!!

Dat daar goeie en groot kuns wêreldwyd voorkom het min te doen met die aantal boeke oor ‘n spesifieke onderwerp. Hollywood en Bollywood maak ook nie die wêreld se beste flieks nie. Hulle maak net die meeste geld. Talent is nie groepsgebonde nie maar dit kom voor asof talent, in kleiner gemeenskappe, ‘n groter koestering geniet.

Een wêreldtaal, soos bv. Engels, sal vrede bevorder: Rêrig?

Globalisering is hierin die mikpunt en voorbrand vir ‘n enkele wêreldtaal word lank reeds gemaak. Afrikaans is lokaalgeneig en daarom ‘n struikelblok in die pad van ‘n wêreldstaat met sy massamens en ‘n veraf sentrale regeringsvorm.

Die idee van ‘n wêreld waarin almal gelyk is, waarin almal ‘n gelyke toegang tot lewensbronne en middele het bestaan net in die gedagtes westerse liberaliste. Hulle enigste poging tot die toepassing hiervan het die hippie kultuur gebaar.

Die kommuniste en sosialiste verkondig iets soortgelyks maar die praktyk het reeds twee dinge bewys. 1) Gekonsentreerde mag gaan misbruik word en 2) die wegneem van ‘n individu se strewes en ywer lei tot stagnasie. ‘n Kapitalistiese wêreldstaat verskil van ‘n kommunistiese wêreldstaat bloot tov wie die kitaar slaan. Geld of ideologie. Teen hierdie soort gekhede moet ons gebieds- en taalgrense ons beskerm.

Afrikaans word as ‘n onderdrukkerstaal beskou. Deur wie?

Hier wys die vinger, in die algemeen na apartheid en in besonder na dr. H.F.Verwoerd. Hoekom word ‘n regering wat miljarde Rande spandeer om mense selfstandig in hul eie omgewing te kry, vir hulle infrastruktuur te bou en die omvattendste skolestelsel op die kontinent skep, as ondedrukkers beskou? In die tydperk is die swartbevolking tot die mees geletterde op die kontinent opgehef en infastruktuur in die tuislande, destyds verskaf, doen nog steeds diens. Beslis eienaardige ondedrukkers, of hoe?

Die strukture, nou onder ANC beheer, is besig om te verkrummel.

Ongelukkig was dr. H.F.Verwoerd nie die geleentheid gegun om sy planne deur te voer nie maar afleidings kan gemaak word deur hom te meet aan die optredes van sy waarskynlikste vertroueling en geesgenoot, sy skoonseun, wyle prof. Carel Boshoff. Hoekom kleef daar geen stigma aan prof. Carel nie maar dr. Verwoerd word verguis. Was die een nie maar tot ‘n mate die spieëlbeeld van die ander nie?

Die Engelse kan liefs voor hul eie deur loop vee. In die kolonialetydperk is dit miskien net Spaanse koloniale vergrype in Suid Amerika wat met Engelse koloniale vergrype wêrelwyd vergelyk kan word!

Afrikanerpolitici neig om katvoet om Afrikaans te loop. ‘n Vrees, destyds, dat aggressie jeens Engels, ons posisie in die aangesig van ‘swartgevaar’ sou verswak, het besluite oorheers. Dit was ‘n fout! Dit het die Afrikaner verwar en onseker oor sy taal laat voel en die Engelse het die situasie opportunisties uitgebuit. Hierdie verskonende houding steek nog gereeld kop onder ons politici uit!

Ons saak is reg en goed, ons skuld niemand enige verskonings nie.

In Orania is die slagspreuk “Ons dink en doen in Afrikaans”. Dis mos hoe dit moet wees!

Orania voorwaarts.

7 gedagtes oor “Afrikaans! Waarom dit bestaansreg het.

  1. Gert Kruger, VERWOERDBURG.

    Die dag het nie so baie ongesiens verbygegaan nie! Radio Pretoria het die volgende kommentaar op dié dag uitgereik:

    Vandag is dit Internasionale Moedertaaldag.

    Die dag herdenk onder andere die gebeure – vandag presies 60 jaar gelede – toe duisende studente op 21 Februarie 1952 in Pakistan in ’n opstand dood is, nadat hulle geëis het dat hulle taal, Bengaals, as ’n amptelike taal erken word.

    Op daardie stadium het Pakistan uit Oos en Wes Pakistan bestaan en het die huidige staat Bangladesh nog nie bestaan nie. Urdu was die enigste amptelike taal van Pakistan. Die taalstryd sou voortduur en uiteindelik sou daar eers in 1971 – na ’n lang en bloedige stryd – ’n nuwe staat Bangladesh tot stand kom, met Bengaals as amptelike taal.

    Internasionale Moedertaaldag is in 2000 deur UNESCO ingestel as ‘n dag waarop taalkundige en kulturele diversiteit gevier word. Vir UNESCO is taal die instrument waardeur kulturele erfgoed lewend gehou word. Deur moedertale lewend te hou, word die taalkundige en kulturele tradisies van volke in stand gehou, en word daar begrip vir die verskille tussen verskeie volksgroepe gekweek – aldus UNESCO.

    Dit bly egter interessant om daarop te let hoe taalstryde uiteindelik lei tot die vestiging van state.
    In Europa is die tale wat die drie laaste eeue oorleef het, die tale wat ook bestendiging kon vind binne ’n nasionale staat. In state waar meer as een taal geld – soos België en Switserland – het ingrypende grondwetlike maatreëls en eweneens geografiese afbakening van kantons, provinsies of deelstate gehelp om die taalregte van die onderskeie taalgroepe in ’n staat te bestendig.

    Ongelukkig het Suid-Afrika nie geleer by die geskiedenis van Europa en Asië nie.
    Met die grondwetlike bestel van 1994 is daar bitter min aandag gegee aan taal as bepalende faktor by provinsiale afbakening. Alhoewel elf amptelike tale in naam in die grondwet verskans is, het die ANC-bewind taalverskeidenheid eerder verder frustreer en op onsensitiewe wyse byvoorbeeld Xhosa-sprekende staatsamptenare in Afrikaanse provinsies ontplooi sodat Engels gaandeweg as lingua franca regoor Suid-Afrika gestalte kon kry.

    Na die suksesvolle hofaansoek van Mnr. Cerneels Lourens, ’n prokureur van Brits, waarin hy die staat gedwing het om sy grondwetlike pligte na te kom en wetgewing deur te voer wat meertaligheid in Suid-Afrika reguleer, het die regering uiteindelik gereageer met ’n siniese wetsontwerp wat voorsiening maak vir ’n formule waardeur Afrikaans noodwendig enige amptelike status sal verloor:

    elke provinsie sal die geleentheid kry om drie amptelike tale te kies;

    twee van die tale sal egter uit die kategorie van sogenaamd voorheen benadeelde tale moet kom – wat beteken dat al die provinsies na alle waarskynlikheid Engels saam met twee Afrikatale sal kies.

    UNESCO is in die kol deur aan te voer dat deur moedertale in stand te hou, die taalkundige en kulturele tradisies van volke lewend gehou en begrip vir die verskille tussen verskeie volksgroepe gekweek word.

    Die teenkant is egter ook waar.

    Waar moedertale doodgedruk word, word die taalkundige en kulturele tradisies van volke ook doodgedruk en die begrip vir verskille tussen volksgroepe uitgewis. Die resultaat is ’n tirannie van die meerderheid met verskriklike gevolge. Want volke laat hulle nie dooddruk nie.

    Die ANC-bewind moet hierdie les nog leer.

  2. Gert Kruger, VERWOERDBURG.

    En ek het die volgende oor dié dag uitgestuur:

    Gert Kruger
    Het jy geweet?
    Dit is vandag Internasionale Moedertaaldag! 
    

Die barometer waaraan ‘n volk gemeet kan word ten einde sy vryheid op politieke, kulturele en sosiale gebied te behou, is ongetwyfeld sy bereidheid vir die handhawing en verdediging van sy moedertaal op alle vlakke van die samelewing. Die onwil van ‘n volk om sy taal teenoor alle ander volke en tale te handhaaf waar hy hom in dieselfde geografiese grondgebied as sodanige volke en tale bevind, bring mee dat daardie onwil deurwerk na die volk op alle ander gebiede van die volkshuishouding.


    Indien die geskiedenis van die Afrikanervolk nagegaan word, sal gevind word dat die ontstaan en groei van ons taal hand aan hand met die ontstaan en groei van die volk gegaan het. So het dit gebeur sedert die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 in die Paarl. Hierna het dit, ten spyte van die voortdurende aanslag vanaf die Engelse kant, gegroei en gebloei tot 1924 toe dit naas Engels amptelike erkenning verkry het. Die trots van die Afrikanervolk op hul taal is hierna gehandhaaf totdat daar sedert die vroeë sestiger-jare weer ‘n doelbewuste aanslag van die Engelse kant gekom het.


    In hierdie tyd moes wyle dr Hennie Terblanche feitlik man-alleen reeds walgooi teen die Engelse aanslag en het hy die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans gestig. Dit het aanleiding gegee tot ‘n kompetisie wat uitgeskryf is deur die AFRIKAANSE TAAL-EN-KULTUURBOND (P & T) in samewerking met die Suid-Afrikaanse Instituut van Argitekte vir die ontwerp van die Afrikaanse Taalmonument teen die suiderhang van die Paarlberg. Een van die vereistes van die kompetisie was dat “……. Dit moet die wonder van ons kulturele (wat die taal insluit) en staatkundige opbloei (Republiekwording) versinnebeeld……” Dit is interessant om daarop te let dat hierdie opdrag juis geskied het in die tyd toe AFRIKANEREENHEID onder leiding van dr H F Verwoerd, sy toppunt bereik het.


    Ná dr Hennie Terblanche se oorlye het die aanslag, ten spyte van die hoë eise wat die fisiese oprigting van die Monument en die simboliese betekenis daarvan vir die Afrikanervolk en die Afrikaanse taal beteken en meegebring het, voortgeduur en dit ten spyte daarvan dat Engels ná Republiekwording gelyke status met Afrikaans gegee is.
    Vir al die jare was daar amptelik in die Staatsdiens en die openbare sektor wat grotendeels deur Afrikaners beman is, nooit teen Engels gediskrimineer nie. Ook nie deur die destydse SAUK waar daar ook gelyke verspreiding aan Engels en Afrikaans gegee is. 


    Die groot probleem het egter gekom deurdat Afrikaans al die jare ‘n baie beskermende status van ‘n Afrikaansbeheerde owerheid geniet het. Dit het aanleiding daartoe gegee dat Afrikaners self ‘n traak-my-nie-agtige houding teenoor Afrikaans ingeneem het. Dit, tesame met ‘n verhewigde aanslag van Engels ge-oriënteerde besighede het weer daartoe aanleiding gegee dat Afrikaners nie meer daarop gesteld was om in hul moedertaal bedien te wil word nie. Hierdie verskynsel het veral vanaf die vroeë sewentiger jare baie duidelik na vore gekom. Dit is veral weerspieël wanneer hulle met vakansie gegaan het en dan sommer Afrikaans by die huis gelaat het! Miskien het die destydse bekende Fanus Rautenbach in sy Afrikaanse program FLINK UIT DIE VERE, die toestand waarin die Afrikaner verval het om nie sy taal te handhaaf nie, die beste opgesom toe hy gesê het: “‘N AFRIKANER IS IEMAND WAT AFRIKAANS BY DIE HUIS PRAAT MAAR ENGELS IN DIE WINKEL!”.


    Toe F W de Klerk en sy verraderlike NP sedert die begin van 1990 reeds besig was om SA aan die ANC/SAKP uit te lewer, het die destydse SAUK hom ook reeds teen Afrikaans en derhalwe teen die Afrikaner begin posisioneer. Ten spyte van die stigting van die SAUK QUO VADIS-aksie in die laat 1980’s wat Afrikaners aangemoedig het om nie hul televisielisensies te betaal nie en die sukses wat daarmee behaal is; die latere herstigting van die GENOOTSKAP VIR DIE HANDHAWING VAN AFRIKAANS; besware deur Afrikanerorganisasies en besware deur Afrikaners individueel in die sg hoofstroommedia, het alles egter op dowe ore geval. Dié toestand, nl die aanslag teen Afrikaans in feitlik alle sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing, en die feit dat die Afrikaner nie effektief, hetsy in persoonlike verband of ge-organiseerd, weerstand daarteen kon bied nie, duur steeds voort.


    Miskien is dit maklik om die skuld vir hierdie toestand aan die aanslag van Engels kant te wyt. Maar die Afrikaner moet in hierdie verband ook maar hand in eie boesem steek en miskien sal dit melaats daar uit kom. Die vraag moet gevra word of die grootste enkele probleem nie moontlik die onwil van die Afrikaner self is om sy taal in die openbaar teenoor Engels te handhaaf en te verdedig nie. Hierdie bewering wat moontlik as ‘n feit gekonstateer kan word, word die duidelikste gereflekteer deur waarnemings wat enige oplettende taalbewuste en taalhandhawer op ‘n daaglikse basis kan maak waar hy ook al beweeg. Neem bv die kwessie van die name van besighede, selfs dié wat deur “Afrikaners” beheer of besit word: dit word deur Afrikaners, Engelse name gegee! As mens na al die Engelse name kyk, kan jy jouself net sowel verbeel dat jy in ENGELAND of LONDEN loop! By toonbanke of publieke bedieningspunte kan maar slegs geluister word hoedat “Afrikaners” heel geredelik en gemaklik aanvaar dat hulle maar in Engels bedien kan word! Indien jy as enkeling in teenwoordigheid van jou sg “mede-Afrikaner” jou op jou taalregte beroep deur aan te dring om in Afrikaans gehelp te wil word, staan jy alleen en word jy aangekyk asof jy die onredelikste mens op aarde is!


    Talle ander voorbeelde kan genoem word soos bv die neiging deesdae van besighede om terwille van die ANC se sg transformasie ‘n swart persoon by ‘n openbare bedieningspunt te plaas wat glad nie kan of selfs weier om jou in Afrikaans te bedien. In hierdie verband kan groot maatskappye soos OLD MUTUAL en SANLAM in VERWOERDBURGSTAD genoem word waarvan ek persoonlike ondervinding het en daarteen beswaar gemaak het. Hierdie is sekerlik die blatantste uittarting teenoor Afrikaans en Afrikaners. Want dit word gedoen ten spyte van die feit dat by verre die grootste getal inwoners in VERWOERDBURG blankes en derhalwe Afrikaanssprekendes is. Klaarblyklik is so ‘n toedrag van sake aanvaarbaar vir die meeste “Afrikaners” van VERWOERDBURG omdat hulle ook die naamsverandering na CENTURION maar gelate aanvaar het. As jy as enkeling kla, moet jy altyd hoor dat “niemand anders vóór jou of tot dusver enige beswaar gehad het nie”!


    ‘n Ander goeie en toepaslike maar moontlik die mees KOMMERWEKKENDSTE voorbeeld is die CITY OF TSHWANE NEWSLETTER wat reeds ‘n geruime tyd in PRETORIA en VERWOERDBURG areas in feitlik SLEGS IN ENGELS versprei word! Al die beskrywende items op die rekening wat van tevore in Afrikaans en Engels aangegee was, is in die jongste tyd slegs in Engels! Klaarblyklik neem verbruikers, waarvan die meeste Afrikaners en Afrikaanssprekendes is, daarmee genoeë want niemand doen niks daaromtrent nie! So is daar ook talle instellings soos SANLAM, OU MUTUAL, die UNIVERSITEIT VAN PRETORIA, groot maatskappye, banke bougenootskappe ens., wat met Afrikanerkapitaal, kundigheid en vermoeëns begin is, wat net doodeenvoudig, sonder inagneming van die feit dat die Afrikaner in hul kliënteopset en omgewing die mees verteenwoordigend is, summier oorslaan na Engels! Selfs hier blyk dit dat niemand enige beswaar het of enigiets kan doen nie!
    

Die ironie van hierdie toedrag van sake is weer eens dat hierdie “transformasie” nie so seer deur die Afrikaner se vyande afgedwing word nie as wat dit maar geredelik deur die “Afrikaners” binne daardie instansies aanvaar en met hul medewete deurgevoer word.


    Steekproewe wat nie so lank gelede nie by verskeie instansies/organisasies in VERWOERDBURG gedoen het, toon dat dit in die meeste van die gevalle die “Afrikaner” is wat, hoe pateties, ironies, snaaks en tragies ook al, binne daardie instansies/organisasies sit en werksaam is, wat klaarblyklik terwille van eie belang en om die ANC terwille te wil wees, die leiding in hierdie oorgawe en kapitulasie neem! 
    

Tydens ‘n toer van ek en my gade ‘n paar jaar gelede in die Kaap, het ons by die AFRIKAANSE TAALMONUMENT in die Paarl aangedoen. Daar het ons hierdie onheilspellende tendens waargeneem toe die hele terrein deur hoofsaaklik volksvreemdes en anderkleuriges instand gehou en bewerk word. Selfs binne in die ontvangslokaal is ons deur hulle bedien! Die ergste was egter toe ons opgemerk het hoe dat die volksvreemde, onderdrukkende simbool in die vorm van die “nuwe SA” se vlag, naas die Taalmonument se vlag, met die woorde DIT IS ONS êRNS, hoog bo in die wind wapper! Ons het dit aan die GHA gerapporteer wat onderneem het om die aangeleentheid met die Taalmonument op te volg. Tot vandagtoe is daar egter niks aan die aangeleentheid gedoen nie want ons verneem dat die status quo steeds daar geld.
    

Nietemin, hoe dit ookal sy, wat die geval ook al mag wees, desnieteenstaande, wil dit voorkom asof die Afrikaner wat die handhawing van sy taal betref, soos met baie ander situasies binne volksverband, ook in ‘n stryd met homself gewikkel is. Hierdie stryd van die Afrikaner teen homself sal op die langeduur tot sy taal se vernietiging lei.


    Indien hy egter bereid is om onverskrokke, sonder enige verskoning, oral waar hy hom bevind, Afrikaans te praat en daarop aandring om in Afrikaans bedien te word, kan ‘n spontane en basies ongeorganiseerde aksie rondom AFRIKAANS ontstaan wat later tot ander aksies kan uitkring. Maar solank die Afrikaner nie van hierdie reg van hom wat tans darem nog in die Grondwet van die “nuweSA” vir hom (en vir alle ander tale) verskans is, gebruik wil maak nie, bestaan daar geen moontlikheid dat enige ander aksie, tot sy taal se redding sal kom nie. Die vraag is wat die Afrikaner gaan doen die dag wanneer die ANC besluit om daardie stukkie papier waarop die verskansing van taalregte in die Grondwet geskryf staan, opgeskeur en op getrap gaan word? Gaan hulle dan wil wakker word?
    

Ons het waardering vir die werk wat die GENOOTSKAP VIR DIE HANDHAWING VAN AFRIKAANS (GHA) onder moeilike omstandighede doen.
aar moet egter besef word dat die stryd waarin ons ons tans t o v die aanslag van Engels teenoor Afrikaans bevind, ‘n stryd is wat baie meer dan OPVOERINGS, SWARTLYSTE, SKRYFKOMPETISIES ens., gaan verg. Die stryd teen die aanslag kan nie individueel alleen in ‘n gebied soos bv VERWOERDBURG of waar ookal in die land gevoer word nie. Daar sal ‘n meer goed georganiseerde plan van die grond af MOET kom wat taalhandhawers en –vegters saamsnoer sodat mens nie voel soos ‘n stem roepende in die woestyn nie! DAAR SAL TEN MINSTE ‘N MEER AGGRESIEWER AANSLAG VAN AFRIKANERKANT AF MOET KOM!
    

Gert Kruger

    N.S.
    (Sien ook Radio Pretoria se kommentaar in hierdie verband vir vandag, 21 Februarie ’12.)

  3. As my taal nie goed genoeg is nie, dan is my geld ook nie goed genoeg nie. Mens hoef nie ongeskik te wees met mense wat nie Afrikaans wil praat nie – spandeer eerder jou geld daar waar jou taal nog welkom is… Orania is die beste voorbeeld!

    1. Pieter

      Deur oral en altyd aan te dring op diens in Afriukaans, soos wat ek ook graag gedoen het, maak ‘n mens net meer vyande. Ek spits my liewer daarop toe om nie op my sogenaamde regte te staan nie, maar om in Afrikaans beleefd en liefdevfol teenoor ander op te tree.

      1. Pieter jy sê: “Deur oral en altyd aan te dring op diens in Afriukaans, soos wat ek ook graag gedoen het, maak ‘n mens net meer vyande.”

        Jy is voorwaar, wil dit vir my voorkom, na aanleiding van al jou kommentare wat ek nou al raak gelees het ‘n tipiese bitterbek pessimis.

        Dan uiter jy die volgende kontrasterende: “Ek spits my liewer daarop toe om nie op my sogenaamde regte te staan nie, maar om in Afrikaans beleefd en liefdevfol teenoor ander op te tree.’

        Wat op aarde bedoel jy met jy staan nie op jou “sogenaamde regte” nie, maar is beleefd en liefdevol teenoor nader in Afrikaans?

        Die ander waarna jy verwys verafsku Afrikaans en verstaan dit tien teen een nie eens nie. Vir wat sou jy nou met iemand wat jou taal, (en daarby seker vir jou ook), haat en nie verstaan nie, beleefd in Afrikaans wil kommunikeer?
        Dan kan jy mos net sowel na die Amazone gaan en beleefd en liefdevol met hulle in Afrikaans probeer kommunikeer.
        Hulle sal jou beslis nie haat nie, maar wel niks begryp van jou beleefdheid of liefdevolle benadering nie.
        Behalwe natuurlik as jy die eerste Afrikaner is waarvan ek gehoor het wat beleefd en liefdevol met iemand in Afrikaans kan praat en hulle verstaan presies wat jy sê, ongeag van die taal wat hulle praat.

        In beleefde en liefdevolle Afrikaans, maar ook eerlik: “Pieter, jy huigel!”

        En as ek dit nie mis het nie lyk jy vir my na die klassieke tipe wat daarvan hou om wrywing te probeer veroorsaak deur dubbelsinnighede kwyt te raak wat eintlik geen substansie het nie.

  4. Gert Kruger, VERWOERDBURG.

     Ek dink ons besef nie werklik in hoe ‘n mate Afrikaans al die afgelope aantal jare deur “ons mense”, die sg Afrikaners, in hulle daaglikse handel en wandel afgeskaal is nie. Wat myself betref vind ek dat in feitlik elke geval waar jy in die openbaar Afrikaans praat, hetsy oor die telefoon of met die swart agtergeblewendes agter toonbanke, daar ‘n geveg ontstaan. Indien jy in ‘n tou staan en by die toonbank Afrikaans praat voel jy soos ‘n stem roepende in die woestyn want feitlik alle blankes in die tou, waarvan die meeste waarskynlik “Afrikaners” is, staar jou aan asof jy die mees onredelike mens is wat leef! – -Net laasweek moes ek en die vrou ons bestuurderslisensies laat hernu. Wat ‘n nagmerrie-affêre was dit nie! Ons het vooraf foto’s van ons laat neem en na die Olifantsfontein- of Irene-lisensiekantore gery. Daar aangekom moes ons eers ‘n klomp vorms voltooi (wat gelukkig ook in Afrikaans beskikbaar was). – -Toe moes ons tussen die agtergeblewendes op die stoele gaan sit en kort-kort aanskuif totdat jy naderhand by die toesbeampte uitkom. En dis hier waar die probleem met Afrikaans tussen ek en die jongerige swart-Ingelssprekende vrou begin! Vooraf verduidelik sy vir jou in haar Afrika-Ingels wat jy moet doen nl om jou kop teen die elektroniese apparaat te druk wat dan sekere beelde na vore bring en sy jou sekere vrae sal vra. Dit was nog redelik verstaanbaar maar toe sy by die vrae kom, kon ek nie ‘n woord van haar Afrika-Ingelse uitspraak verstaan nie en besluit sy sommer net daar en dan dat ek vir ‘n oogtoets sal moet gaan en die sertifikaat vir haar moet bring. – -En dit was toe mos net daar waar hierdie Boer se bloed begin kook. In mooi beskaafde Afrikaans verduidelik ek vir haar dat ek goed kan sien maar nie haar Ingelse uitspraak kan verstaan nie en dat sy iemand moet kry wat my in Afrikaans kan toets. Die swartvrou ruk haar toe net daar op en skreeu-vra vir my in die taal van die anti-Chris of ek Zoeloe kan praat. Ek sê toe vir haar in Afrikaans dat dit nie tersake is nie want Afrikaans en Ingels is nog die twee amptelike tale en dat ek nie van die stoel gaan opstaan nie voordat iemand my nie in Afrikaans gaan toets nie. – -Maar gelukkig vir haar (en miskien vir my!) was daar ‘n blanke Afrikaanssprekende polisiebeampte in volle uniform en met sy vuurwapen aan sy bo-been, wat hierdie petalje gesit en aanskou het en wat besef het dat hier groot moeilikheid kom! – -Die volgende oomblik kom staan hy langs my en praat met die swart-Ingelse-Zoelie-vrou in Ingels en vra haar of hy haar vrae aan my in Afrikaans kan vra, waarop sy gelukkig (vir haar) instem. Die gevolg is dat ek toe die toets slaag maar die volgende moedswillige struikelblok het gekom deurdat sy vir my sê dat ek my foto’s sal moet laat oorneem omdat ek kwansuis nie direk in die kamera kyk nie maar my gesig skuins gedraai het! Waarop ek vir haar sê dat ek weier om dit te laat doen en vra of sy die kostes daaraan verbond sal betaal waarop sy my nie geantwoord het nie. Sy moes toe haar goedkeuring op die vorms gee terwyl die polisieman toekyk en haar gesigsuitdrukkings en liggaamshoouding het duidelik getoon dat sy nie gelukkig is nie. Toe ek van die stoel af opstaan kon ek op die gesigte van die almal sien dat hulle my aanstaar asof ek die onredelikste mens is wat lewe! – -Toe ons Saterdagaand by my broer-hulle kuier en die storie aan hulle vertel sê hy dat hulle laasweek ook hulle lisensies laat hernu het maar na die Raytonsentrum toe gery het omdat die publiek daar kwansuis vinniger gehelp word. Hy vertel toe dat presies dieselfde daar met hom gebeur het. Hy kon ook nie die swartvrou se Afrika-Ingels verstaan nie en het die toets gedop. Hy is toe versoek om ‘n oogtoets te laat ondergaan en die sertifikaat aan hulle te bring wat hy toe gedoen het en sy lisensie gekry het. – -Jammer vir die lang storie, maar nou vra ek met trane in my oë en dinges in my watsenaam, hoe lank kan ek so aangaan om by elke geleentheid eers ‘n geveg met die “nuweSA” en hulle oordonderende taal van die anti-Chris, te hê? Hierdie is maar net een van die talle stories wat ek onlangs oor die taalkwessie met hulle gehad het. O a met die plaaslike poskantoor wat geweier het om sekere dokumente te sertifiseer en die swart polisiebeampte by die Lytteltonpolisiestasie oor dieselfde aangeleentheid. Daar is nog talle soortgelyke gevalle oor die taalkwessie wat my in my lewe oorgekom het en waaroor ek seker ‘n boek kan skryf. Ek is al 74 jaar oud en die vrou is baie ontsteld omdat sy bang is ek gaan ‘n hartaanval kry deurdat ek altyd op Afrikaans aandring en daar dan ‘n geveg ontstaan! – -Hoe lank kan mens op dié manier aangaan en jou gesondheid nie daaronder lei nie? Ek het die anderdag met my huisdokter oor die probleme in wat mens in die “nuweSA” optel, gepraat waarop hy vir my sê: “Oom is mos met pensioen, waarom al die gesukkelry. Vergeet dit en geniet oom se pensioen.” !4 ure gelede ·

    ————————————————————————————————– 
 


    Wat ek nie hierbo genoem het nie: toe dit my vrou se beurt was om getoets te word (sy was net voor my), toe staan daardie swart-Ingelse-Zoeloe-vrou op en antwoord haar selfoon terwyl sy wegloop en daarop praat. Vir die volgende vyf minute+ het sy net verdwyn. Sy was die enigste bedieningspunt en die publiek moes maar geduldig sit en wag. Toe sy uiteindelik terugkom, het sy iets in haar mond geloop en kou. Dieselfde het gebeur toe dit my vrou se beurt was om haar lisensie by die betaalpunt te betaal. Die swartvrou agter die glasgordyn het vir ongeveer vyf minute of langer ook net verdwyn. My vrou se bene was naderhand moeg om so lank te staan en op die tydstip toe ek vir haar ‘n stoel wou bring om op te sit en wag tot die swart vrou besluit om haar werk een dag te kom doen, toe kom sy op haar tyd met haar selfoon in haar oor in haar glashokkie ingestap. Asof ons geduld nie reeds tot die uiterste getoets is nie, het ‘n jong gesette (dik) swartvrou langs my op die stoele waarop ons kort-kort moes aanskuif, met haar selfoon in haar oor kom plaasneem en aanhoudend hardop in ‘n swarttaal gepraat, gegiggel en gelag. Dit het seker vir die volgende vyftien tot twintig minute voordat dit my beurt was om te betaal, geduur. Toe ek later oor die alles wat daar met ons gebeur het dink, het ek onder die besef gekom dat dit alles blatante uittartting van ons was net omdat ons blank en Afrikaanssprekend was en ek geweier het om die taal van die anti-Chris met hulle te praat. Dit hang ook saam met dit wat hierbo in die Verkenners se mediaverklaring gemeld word, nl blatante uittarting van die witman. Die vraag is: wat kan jy as enkeling daaraan doen? Die antwoord is: Niks nie! Jy moet maar bereid wees om die taal van die anti-Chris te praat of om die beledigings en uittartings te vat indien jy aandring om in Afrikaans bedien te wil word. Die verdere vraag is net: hoe lank sal mens dit nog kan vat sonder om jou humeur heeltemal met hulle te verloor en dalk iets onverantwoordeliks te doen? Of moet ek nou maar my “houding verander” en by hulle eensydige gebruik van Ingels inval, soos daar deur sekere familie en vriende by my op aangedring word?

    1. Pieter Senekal

      Ek glo nie n mens kan Orania met die nuwe Suid Afrika vergelyk nie. In Orania woon net Afrikaners wat Afr praat,daar is dus geen probleem nie. In die NSA is baie mense wat elf verskillende tale praat. Die meeste mense kan nie al elf tale praat nie, so ons moet dmv Engels (daar is geen bewyse dat Engels die taal van die Anti- Chris is nie )of vinger taal met mekaar praat. Ander Pieter is dus reg dit help om orals en alewig Afr te praat nie, dit veroorsaak net vyandskap. Mense wat net Afr praat getuig van al die beledigings wat hulle verduur. Verduidelik asb vir my hoe gaan dit instandhouding van Afr bevorder. As al die swart klieénte by my besigheid aandring om in n swart taal bedien te word het ek probleme. Kom ons probeer op n rustige en kalm manier die gebruik van moeder tale te versterk

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s