Blik na buite: Belangrike internasionale gebeure die afgelope tyd

Suid-Amerika

Argentinië/Groot-Brittanje: herdenking van Falkland-oorlog en nuwe spanning oor ‘n ou konflik.

Presies 30 jaar gelede het die Falkland-oorlog tussen Groot-Brittanje en Argentinië plaasgevind. Brittanje besit twee klein eilande voor die Argentynse kus in die Suid-Atlanties, waar slegs skaapboerdery bedryf kan word, en waar ‘n bevolking van sowat 2500 mense, meesal van Britse afkoms, bly.

Geskiedenis: die eilande behoort sedert 1833 aan Groot-Brittanje, wat destyds as seevarende wêreldmoondheid orals kolonies gevestig het en klein, strategiese eilande beset het. Die Falkland-eilande was onbevolk en Argentinië was op daardie stadium, kort na onafhanklikheid van Spanje, nog in wording en het nog geen beheer oor sy suidelike dele gehad nie.

Die Falkland-eilande was tegnies niemandsland, nes Antarktika. Argentinië se aanspraak is alleenlik op geografiese nabyheid gebaseer. Dit was nooit Argentynse gebied nie en daar het ook nooit Argentyne gewoon nie.

In April 1982 het Argentynse troepe deur middel van ‘n lug- en seeaanval die eilande, wat geen noemenswaardige Britse verdediging of garnisoen gehad het nie, beset. Brittanje, onder Margaret Thatcher, het onmiddellik gereageer en oorlogskepe die lang pad suid gestuur om dit weer van Argentinië te herower, wat ook geslaag het. In Juniemaand van dieselfde jaar was die oorlog verby. Daar was 258 gesneuweldes aan Brittanje en 649 aan Argentinië se kant.

Die motief vir die verowering deur Argentinië was in die eerste plek die poging van die vallende militêre bewind om die bevolking se steun deur middel van ‘n nasionalistiese buitelandse avontuur te verkry. Na die mislukte verowering het die regering in Argentinië tot ‘n val gekom.

In Brittanje se geval is daar gesê dat die kool nie die sous werd is nie, groot uitgawes is aangegaan en soldate het gesterf vir ‘n waardelose stuk aarde aan die einde van die wêreld. Maar vir Margret Thatcher was dit ‘n beginselsaak: niemand daag Britse gesag so uit sonder reaksie nie. Brittanje se status in die wêreld was reeds aan die taan, en deur die Falkland-oorlog is Brittanje weer as moondheid geag. Mev. Thatcher se gewildheid het ook sterk toegeneem na die suksesvolle bevryding.

Intussen bou egter weer konflik op rondom die Falkland-eilande: Argentinië het nooit amptelik die Britse aanspraak erken nie en reken die eilande nog steeds as besette deel van sy grondgebied en as ‘n doring in die vlees. Vir ‘n lang tyd van interne woelinge en ekonomiese krisis in Argentinië was die Falkland-konflik nie prioriteit nie.

Nou is Argentinië egter ekonomies sterk en vol selfvertroue. President Christina Kirchner belemmer die Falkland-eilande op allerhande maniere en gebruik sterk nasionalistiese taal om haar land se aanspraak te bevestig en Brittanje tot gesprekke oor die status van die Falklande te dwing. Skepe wat die Falkland-eilande aandoen word in Argentynse hawens geweier en vlugte en lewering van kos is opgeskort.

Chile, met wie Brittanje goeie betrekkinge het, vlieg nog na die Falklande toe, maar moet oor Argentynse lugruim vlieg en Kirchner het reeds gedreig om dit te verbied.

Die Falklanders, geharde en trotse Britte, help hulself deur so ver moontlik self voedsel te produseer (verbouing van groente is feitlik onmoontlik, maar versorging met eiers en vleis is genoeg) en is vasbeslote om nie te swig vir die Argentynse boelie-taktiek nie.

Afrika:

Libië: federalisme na Gaddafi-sentralisme?

Libië is in ‘n interessante oorgangsfase na die verwydering en dood van die langtermyn-diktator Muammar Gaddafi. In die oostelike stad Benghazi, tweede grootste stad naas die hoofstad Tripolis in die Weste, is die ‘n semi-outonome deelstaat, nl. Cirenaïka, uitgeroep – ‘n historiese naam vir die oostelike streek van Libië wat sy oorsprong in die Romeinse tydperk het (ons ken Simon van Sirene wat Jesus se kruis help dra het, uit die Nuwe Testament).

Die meerderheid van Benghazi se inwoners staan blykbaar agter hulle leiers se stap, maar in die res van die land het dit vrese vir die verbrokkeling van Libië wakker gemaak.

Na die val van Gaddafi bestaan nog geen sentrale beheerliggaam nie, slegs ‘n oorgangsraad wat verkiesings en ‘n nuwe grondwet voorberei. Die uitoefening van gesag vind dus op plaaslike vlak plaas. 

Misurata, die derde grootste stad, en tydens die burgeroorlog deur Gaddafi se troepe beleer en erg beskadig, het onlangs sy eie plaaslike beheerstruktuur geskep en plaaslike verkiesing gehou om weer as munisipaliteit te kan funksioneer, eerder as om te wag tot daar ‘n grondwet is en reels en regulasies van bo vasgestel word.

In die geval van die strewe van Cirenaïka se outonomie is daar egter ongemak in ander dele van Libië en die vrees vir afskeidingspogings wat Libië sal versplinter. Daarby weeg ook die feit dat Libië se olierykdom grootliks in die Cirenaïka gevestig is, swaar.

Afskeiding is glad nie die bedoeling nie, beweer die leiers van Benghazi. Hulle soek net ‘n beter bedeling vir hulle streek en meer inkomste uit die olie na ’n lang tydperk van Gaddafi-bewind, waar Benghazi afgeskeep is ten gunste van die hoofstad Tripolis en die sentrale streek rondom Sirt, waar Gaddafi vandaan gekom het.

Die opstand teen Gaddafi het immers juis in die Ooste en in Benghazi begin, m.a.w. die dele van Libië wat die minste simpatie vir Gaddafi gehad het.

Die federale verdeling van Libië in sy 3 historiese streke nl. Tripolitanië, Cirenaïka en Fezzan, elkeen met sy eie streeksparlement, het in die tyd voor Gaddafi se staatsgreep en magsoorname reeds bestaan. Gaddafi het streng sentrale beheer toegepas, met die mag in Tripolis en rondom hom as diktator gekonsentreer. ‘n Federale indeling van Libië sou dus ‘n beduidende stap wees om die Gaddafi-nalatenskap te verwyder.

2 thoughts on “Blik na buite: Belangrike internasionale gebeure die afgelope tyd

  1. Baie interessant, dankie Sebastiaan!

    Ek wil my verstout om te se dat ek nie gekant is teen Argentinie se aanspraak op die Falkland-eilande nie. Uit hul oogpunt gesien besit ‘n vreemde moondheid grondgebied na aan hul kuslyn – ‘n grondgebied wat moontlik gebruik kan word vir ‘n inval op hul vaderland.

    Of Brittanje ooit weer imperialistiese neigings gaan he is ‘n debat vir ‘n ander dag, maar as ons onsself sou vra of die inwoners van ‘n Afrikaner Republiek eendag daarvan gaan hou as die Britte ‘n eiland reg langs ons kuslyn gehad het, sou ons waarskynlik dieselfde antwoord as die Argentyne gee…

  2. Eugene

    Ek glo nie die Falklands sal ‘n groot politiekery of oorlog afgee nie. Argentinie was destyds ‘n militere junta en vandag ‘n demokrasie en twee demokrasiee sal nie sommer oor so iets ‘n grootskaalse oorlog ontketen nie. Daar sal tog nydigheid (soos met die vlugte) wees, maar ek sal nie verbaas wees as Brittanje die Falklands vrywillig afstaan nie. Maar mens weet nooit met die Tories nie!

    Libie kan straks die volgende sesessie-geval in Afrika wees, maar Afrika as ‘n vasteland is baie konserwatief daaroor.

    Andersins ‘n lekker ontleding, Sebastiaan!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s