Blik na buite: Swede en Afghanistan

Europa:

Swede: land raak ontslae van kontant.

Swede is op pad om die eerste land ter wêreld te word wat geen kontant meer gebruik nie. Dit is ironies aangesien Swede ook die eerste land was wat banknote in 1661 ingevoer het, en daarmee voor ander lande was wat slegs munte gebruik het.

Kontanttransaksies maak slegs nog 3% van Swede se transaksies uit en feitlik orals kan ‘n mens met kaarte of per selfoonoorplasing betaal, terwyl al hoe minder plekke hoegenaamd nog kontant aanvaar. In openbare vervoermiddels word reeds geen kontant meer aanvaar nie, mense koop hulle kaartjies per selfoon transaksies.

Selfs kerke het nou plek-plek so vêr gegaan om ‘n kaartleser pleks van ‘n kollektebord om te stuur omdat kerkgangers nie meer kontant by hulle dra nie.

Daar is voorstanders van die kontantlose samelewing in Swede (soos die ABBA-sanger Bjoern Ulvaeus) wat dit hulle missie maak om kontant uit te faseer. Die argument is veral dat dit misdaad fnuik want meeste misdade, veral diefstal en roof, gaan oor kontant. Met elektroniese betalings kan ook die bron van misdadige transaksies opgespoor word. Bankrowe het aansienlik verminder, maar ongelukkig neem internetbedrog ook toe. Vir ou mense is die aanpassing nog moeilik.

Kontant sal seker nooit heeltemal uitfaseer nie want daar is mense wat nie kwalifiseer vir kredietkaarte of nie ‘n bankrekening of selfoon het nie. Kontant sal dan amper net nog die ruilmiddel van die skadu ekonomie van die armes wees.

Swede is ‘n hoogs moderne staat wat trots is daarop dat hulle innoverend en progressief is en voorloop met tegnologie. Omdat mense grootliks dieselfde lewenspeil het, is dit ook maklik om stelsels te verander.

Orania ken die debat rondom kontant wat besigheid belemmer omdat ook in Suid-Afrika al hoe meer mense net nog van kaarte gebruik maak. Banknote was egter altyd meer as net ‘n ruilmiddel: dit was ‘n stuk van ‘n land se identiteit en iets waarmee die land homself daargestel het deur sy taal, sy beroemde persoonlikhede of geboue en natuurtonele op die note te plaas.

Veral vir buitelandse besoekers is buitelandse geld ‘n belangrike item van ‘n land se karakter. Kontantlose samelewings is reg in lyn met globalisering en gelykmaking, en sekere mense gaan selfs so ver om te beweer dat dit totale kontrole a-la-Orwell se boek “1984” moontlik maak, omdat geen handel meer kan plaasvind sonder elektroniese beheer nie.

Asië

Afghanistan: die terugkeer van die Taliban?

Dinge ontwikkel van sleg na erger vir die VSA en NAVO in Afghanistan. Hoe langer die besetting voortduur, hoe minder lyk dit asof die situasie permanent kan stabiliseer en Afghanistan ‘n demokrasie na Westerse voorbeeld word.

Suksesse vir NAVO wissel, maar op die lang termyn is die oorlog nie wenbaar nie. Meer nog, die hoofrede vir NAVO en veral die VSA se militêre betrokkenheid in Afghanistan vanaf 2001 was die feit dat die destydse Taliban-bewind skuiling aan Osama bin Laden en al-Qaida gegee het, wat op sy beurt verantwoordelik was vir die 11 September 2001 terrorisme aanval op die VSA.

Uit ‘n realpolitiese oogpunt was die inval in Afghanistan dus heeltemal geregverdig as dit daaroor gegaan het om die verantwoordelikes van 11 September tot rekenskap te roep. Soos goed bekend is, is mnr bin Laden intussen gedood en het al-Qaida gevoelige slae gekry deurdat talle van sy sleutel leiers gedood is, ook in Afgahnistan, maar meer nog in Pakistan (waar Bin Laden geskuil het) en in ander wêrelddele.

Die motief vir die besetting van Afghanistan het intussen geleidelik verskuif van diegene van oorlog teen terrorisme (realisme) na die van die opbou van ‘n demokratiese samelewing wat menseregte in ag neem (idealisme).

Terwyl linksgesinde regerings soos destyds in Duitsland die inval in Irak teen die “progressiewe” en sekulêre mnr Saddam Hussein veroordeel het, het selfs partye soos die Groenparty die inval in Afghanistan en die daarstelling van ‘n langtermyn-besettingsmag geregverdig met die menseregteskendings deur die Taliban, veral hul onderdrukking van vroue.

Na die verwydering van die Taliban is die skynbaar pro-Westerse mnr Hamid Karzai as president geïnstalleer en het op ‘n stadium ‘n popster-status geniet. Sy demokratiese legitimering was egter twyfelagtig en hy kon net deur massiewe manipulasie verkiesings wen en sy bewind is blykbaar erg korrup.

Die teenwoordigheid van Westerse magte het die laaste tyd verder steun verloor, na die verbranding van Koran-boeke in ‘n Amerikaanse basis wat blykbaar ‘n onbedoelde flater was, en nog meer onlangs die amok-loop van ‘n geestelik onstabiele Amerikaanse soldaat waarin talle Afghaanse burgerlikes dood is.

Verder sukkel die Weste ook, soos in die geval van Vietnam, met ‘n pers wat eensydig die vergrype van die Weste uitlig en die van die vyand net terloops noem, asof aanvalle deur Moslem-terroriste minder erg is.

Die teenwoordigheid van soldate in Afghanistan raak ook in die Westerse lande toenemend ongewild en van die kleiner bondgenote het reeds onttrek. Waarskynlik sal vorentoe ‘n geordende onttrekking onderhandel word – met die verklaring na buite dat die Afghaanse regering nou gereed is om beheer oor te neem, en met die Taliban as deel van ‘n regering van nasionale eenheid.

Die Weste sal so sy gewete sus en sy mislukking verdoesel terwyl dit daarop neerkom dat die Taliban (nes die Viëtkong in Vietnam) deur gewetenloosheid en hulle houvas op die bevolking die oorlog uiteindelik wel gewen het en weer ‘n streng Islamitiese bewind sal oprig.

2 gedagtes oor “Blik na buite: Swede en Afghanistan

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s