Blik na buite: Demokrasie en staatsgrepe in Afrika

Afrika

Mali: staatsgreep en Toeareg-rebellie.

Verlede week het dele van die weermag na ‘n bloedige staatsgreep die mag in die hoofstad Bamako oorgeneem. President Amadou Toumani Touré is ontsetel, die presidentspaleis oorgeneem en beskadig, die radiostasie beset en opstandige en lojale soldate het heen en weer in die strate op mekaar geskiet en plunderings het voorgekom.

Die mag berus nou by  kaptein Amadou Sanogo en sy Junta. Oor 2 maande sou verkiesings in Mali plaasvind. Sanogo het, soos enige staatsgreepleier, aangekondig dat wet en orde herstel sal word en dat hy na ‘n kort tyd verkiesings sal voorberei en dan sal uittree.

Die weermag regverdig hulle staatsgreep daarmee dat president Toure nie beslissend genoeg teen ‘n rebellie van noordelike Toeareg-stamme optree het nie en toelaat dat die weermag verneder, hulle soldate vermoor en Mali se territoriale integriteit bedreig word.

Dit pas in die tradisie van Afrika weermagte se selfbeeld, wat hulle sien as die ruggraat van ‘n verskeurde en onstabiele land en vir hulleself die reg voorbehou om van tyd tot tyd in die politiek in te meng. Iets soos ‘n suiwer professionele weermag wat net op landsverdediging gerig is bestaan nie in Afrika nie.

Die Toeareg is ‘n nomadiese Hamitiese volk wat in die Sahel en die Sahara woon en wat in Mali, dele van Niger, Algerië, Mauritanië en Libië woon. Hulle is een van die staatlose volke wat orals ‘n gemarginaliseerde minderheid is.

Reeds in die 1990’s was daar ‘n rebellie van Toeareg, wat egter met ‘n vredesverdrag beëindig kon word. Enkele groepe het nietemin voortgeveg, maar dit was onduidelik of dit gaan oor Toeareg-vryheid of oor roof en plundering.

Verskeie avontuur-toeriste en buitelandse werkers is gedood of ontvoer en teen losprys weer vrygelaat. Die gebied waar die Toeareg woon is ‘n regsvrye ruimte en vol gevaar, maar daar het sedert die vredesluiting geen oorlog meer geheers nie.

In die laaste tyd het dinge vererger, met ‘n al-Qaida afdeling wat die wetteloosheid van die Toeareg-gebied misbruik om daar te skuil en wat met die Toeareg en gewone rowers saam onrus in die streek stook. Na die ontseteling van Muammar Gaddafi, diktator van Libië einde laas jaar, het talle Toeareg-vegters, wat onder Gaddafi se beskerming was en as sy elite-soldate gebruik is, terug beweeg na hulle stamland in die Sahel en Sahara toe en ‘n geweldige inspuiting vir die oorblywende rebelle en struikrowers gegee.

Die Toeareg-rebellie het sedertdien weer vlam gevat en die rebelle het reeds verskeie dorpies in die noorde van Mali oorgeneem en ‘n groep soldate tereggestel. Vlugtelinge stroom uit die veggebied na die buurlande.

Dit is moeilik om die Toeareg-rebelle te vang, want hulle ken die Sahara soos die palm van hulle hand, terwyl dit vreemde en vreesaanjaende terrein vir die swart mense uit die digter bevolkte en meer vrugbare suidelike dele is. Die Toeareg-rebelle, wat baie lank in klein groepe en sonder koördinasie, en selfs teen mekaar geveg het, is nou grootliks verenig in die Nasionale Beweging vir die Bevryding van Azawad.

Azawad is die Toeareg-naam vir hulle gebied, wat behalwe die noordelike deel van Mali ook dele van Niger, Algerië, Libië en Mauritanië insluit. Die ideaal is ‘n eie Toeareg-staat, alhoewel dit uiters moeilik bereikbaar is as soveel lande se grense in gedrang is. Kol Gaddafi het juis die Toeareg misbruik deur vir hulle te suggereer dat hy simpatie met hulle strewe het, terwyl hy hulle net as pionne teen die ander lande van die streek gebruik het.

Mali is wel ‘n baie arm land en was vir lank redelik onbekend en irrelevant gewees. In die laaste paar jaar vind daar egter al hoe meer mynbedrywighede (uraan, goud, selfs olie) plaas waarby ook Suid-Afrikaanse maatskappye betrokke is. Avontuur-toerisme het ook toegeneem en die Toeareg het aan die een kant gedeeltelik finansieel daarby gebaat, maar aan die ander kant geleidelik verander van eens trotse nomade wat die handelsroetes deur die Sahara (veral sout) beheer en gelei het, na folkloristiese foto-objekte vir Westerse toeriste.

In die laaste tyd het ontvoerings en selfs moord op toeriste plaasgevind, wat blykbaar veral op die rekening van die al-Qaida afdeling gaan. Dit het die ontluikende toerisme gesmoor en die Toeareg val weer terug in hulle ou, ongebonde lewenstyl. Ekonomiese geleenthede word egter minder soos wat die tradisionele kameelkaravane besig is om uit te sterf.

Senegal: Wade uit, Sall in.

Anders as in Mali, het bemoedigende dinge in Senegal, Mali se westelike buurland, gebeur. Na ‘n verkiesing wat as demokraties beskryf kan word, het die president Abbdoulaye Wade, wat al 12 jaar regeer, in die tweede rondte van die presidentsverkiesing met 34% teen 66% teen die opposisiekandidaat Macki Sall verloor en die neerlaag aanvaar en uitgetree.

In die eerste rondte het Wade wel die meerderheid stemme gehad (34%) teenoor Sall se 27%, maar alle opposisie kandidate het hulle kiesers opgeroep om Sall teen Wade te ondersteun.

In Afrika is dit nog steeds die uitsondering dat ‘n president ‘n verkiesing toelaat waarin hy ontsetel kan word (lande met oormagtige staats partye waar verkiesings betekenisloos is, soos in Suid-Afrika, tel nie daaronder nie) en wat die uitslag dan ook aanvaar en nie eenvoudig dit deur manipulasie of georkestreerde geweld ongedaan maak nie (soos Robert Mugabe).

Zambië en Ghana het laas jaar ook vergelykbare verkiesings gehad waar die sittende president uitgestem is en dit so aanvaar het. Mnr. Wade het self vir baie jare as opposisieleier geveg teen die eenparty bewind van sy voorgangers Abdou Diouf en Leopold Senghor.

Mnr. Wade is aanvanklik met groot verwagting begroet toe hy in 2000 president geword het na 30 jaar as opposisieleier wat ook verskeie kere in die tronk was. Hy het ‘n suksesvolle bewind van ontwikkeling en modernisering gevoer wat Senegal stabiel en ekonomies voorspoedig gemaak het, maar in die laaste tyd was daar al hoe meer tendense van outokratiese leierskap en korrupsie.

Mnr. Wade het ‘n sekere ooreenstemming met oud-president Mbeki: hy het hom gesien as leier van ‘n streek moondheid, het baie van sy tyd aan NEPAD spandeer (waarvan in tipiese Afrika-manier niks behalwe hoogdrawende voornemens en talle konferensies en toesprake gekom het nie) en het ‘n beheptheid met Afrika se idealisering gehad en ‘n enorme standbeeld wat lyk soos kommunistiese helde beelde en wat die Afrika-gesin idealiseer, laat bou (nogal deur Noord-Korea).

Sy ouderdom van 85 jaar het ook teen hom begin tel. Hy het ook probeer om sy ongewilde seun Karim as sy opvolger voor te berei, aangesien hierdie termyn sy laaste een sou wees. Wade het self ‘n grondwet verandering teweeg gebring wat presidentstermyne (soos in die VSA) beperk word tot 2. Hierdie sou egter sy 3de termyn gewees het en daar was ‘n grondwet hofsaak oor die geldigheid van sy kandidatuur.

Wade se argument, wat die hof gevolg het, was dat die grondwet veranderings eers in sy tweede termyn aangebring is en die eerste termyn van 2000 tot 2006 dus nie tel nie. Die uitspraak het egter tot ontevredenheid en gewelddadige betogings in die aanloop tot die verkiesing gelei.

Mnr. Sall, die aangewese president, is 50 jaar oud en was ‘n vertroueling van mnr. Wade. Hy het verskeie politieke ampte beklee, soos burgemeester, minister, parlementspresident en van 2004 tot 2007 eerste minister onder Wade as president (soos in die Franse stelsel, is die eerste minister aan die president ondergeskik en word deur hom aangestel).

Die twee manne se uitval het begin toe Sall as parlementspresident Wade se seun Karim, wat minister van Vervoer en Myne was, ondervra het oor ‘n korrupsiesaak waarby Karim betrokke was. Na die uitval het Sall uit sy pos en uit die regerende Senegalese Demokratiese Party (PDS) bedank en sy eie party gestig met die hoofdoel om Wade te ontsetel.

Mnr. Sall word as ernstig, doelgerig, polities ervare en hardwerkend beskryf. Anders as mnr. Wade sal mnr. Sall, ten minste in die begin, fokus op die voor die hand liggende probleme soos infrastruktuur en armoedeverligting. Kritici voer egter aan dat hy nie werklik anders as mnr. Wade is nie, omdat hy uit dieselfde dampkring kom.

One thought on “Blik na buite: Demokrasie en staatsgrepe in Afrika

  1. Dit is verblydend om te sien dat Wade vreedsaam uitgetree het. Hou egter die seun Karim dop – ek het ‘n gevoel ‘n nuwe magstryd is op die horison vir Senegal.

    Wat Mali aanbetref, weereens ‘n voorbeeld van koloniale grense in Afrika wat die oorsaak van meeste burgeroorloe is. Dan weer aan die ander kant, as elke stam sy eie staat sou gehad het dan sou ons waarskynlik meer konflik tussen soewereine state in Afrika gesien het (eerder as burgeroorloe).

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s