Orania: Gereelde vrae en eerlike antwoorde

Orania is vir talle buitestaanders die ideale dorp, ‘n soort sprokiesland waar daar geen armoede en geen misdaad is nie, almal met almal vriende is en vir mekaar omgee en almal saamstaan.

In vergelyking met dorpe en stede elders is dit seker so en in baie opsigte is dit naby aan die ideale samelewing vir Afrikaners.

Nogtans is daar besoekers wat dinge raaksien wat nie in lyn is met hulle verwagtings nie, of die tipiese vrae vra wat iemand sal vra as hy nie bekend is met die Orania-ideaal nie.

Dit is ons doel om die vrae wat die gereeldste gevra word op webwerwe of op besoekstoere, eerlik en breedvoerig te beantwoord. Orania is nie hemel op aarde nie, maar miskien die naaste wat jy in Afrika daaraan sal kom.

Vervolgens sal ek in 4 afdelings die mees algemene vrae behandel. Die afdelings is:

1.       Ideologiese, en sosio-politieke kwessies

2.       Vrae oor die voorkoms van Orania, instandhouding van huise en tuine

3.       Sosio-ekonomiese en geloofsgebaseerde vrae

4.       Vrae oor erfenis, kultuur en opvoeding

 

Deel 1: Ideologiese en sosio-politieke kwessies

1. Is Orania slegs vir blankes?

Die vraesteller dink gewoonlik nog in apartheidsterme van rasseklassifikasie en plekke wat aan sekere rasse toegedeel is en waar ander nie mag kom nie.

Orania is nooit as dorp vir blankes gestig nie en dit was nooit die stigters se bedoeling om apartheid te laat voortleef in Orania nie. Indien ons dit sou doen, is dit nie net moreel onverdedigbaar nie, maar sal ook van ons ‘n teiken maak in die Nuwe Suid-Afrika waar ras sensitiwiteit sterk is.

Orania is gestig as ‘n eerste groeipunt vir ‘n toekomstige Afrikaner-volkstaat. Ons hoef nie nou te beredeneer wie of wat ‘n Afrikaner is nie, diegene wat dit vra doen dit gewoonlik om konflik te veroorsaak en nie as ernstig bedoelde vraag nie, dus gaan ek ook nie in die strik trap nie. Almal in Suid-Afrika, van watter volk en afkoms ook al, weet wat ‘n Afrikaner is, want die Afrikaner is al eeue in suidelike Afrika gevestig en al het hulle soos enige volk op aarde met die tyd ook maar verander, is dit steeds ‘n duidelik identifiseerbare volk met sy eie taal, gewoontes, gebruike en kultuur, nes Indiërs, Zoeloes, Xhosas, Duitsers, Engelse, Portugese ens.

Orania is gebou op vrye assosiasie. Dit laat ruimte vir mense wat nie as Afrikaners gebore is nie, om hulle, mits hulle wil integreer met die Afrikaner se leefwyse, taal en kultuur, met Oraniërs te vereenselwig en Afrikaners te word.

Daar is pertinent nêrens in die Afrikanervryheidstigting se grondwet ‘n rasse kwalifikasie aan Afrikanerskap gekoppel nie, maar net so min soos wat ek nie weet van ‘n volwaardige wit Xhosa of wit Sotho nie, weet ek ook nie van ‘n swart Afrikaner nie. Daar kan wel so iemand wees maar dit verander nie die wese en kenmerke van die Afrikaner nie.

Orania is wêreldwyd die enigste Afrikanerdorp, so hoekom moet dit dan ‘n multi-kulturele plek wees? Daar is hordes multi-kulturele stede oor die wêreld heen vir diegene wat so iets verkies, maar daar is ook etnies homogene dorpe en streke, in Afrika sowel as in Europa of Asië, dus is daar ook plek vir ‘n Afrikanerdorp en ‘n Afrikanerstreek.

Verder is Orania ‘n kultuurdorp en mense wat wel blank is maar nie Afrikaners wil word nie (en aandring op bv. Engelse of Duitse skole en verenigings) sal nie hier inpas nie en kan gerus aansluit by hulle eie volksgenote.

As opvolgvraag word dan gewoonlik gevra of swart mense in Orania mag inkom. Natuurlik, as besoekers mag hulle inkom en word hulle met die nodige respek en beleefdheid hanteer net soos enige besoeker. Ons glo aan volkseie arbeid en gee werk aan ons eie mense en het dus geen plek vir vreemde arbeid wat geld uit Orania se ontwikkelende ekonomie onttrek nie, ongeag van ras.

‘n Onlangse voorbeeld hiervan is toe ‘n “leliewit” jong Britse toeris Orania besoek het en so baie van die dorp gehou het dat hy sommer permanent hier wou woon en werk. Hy het egter nie belanggestel om ‘n Afrikaner te word nie en verstaan toe ook dat ons hom ongelukkig nie kon help met verblyfreg nie. So ook sou hy nie in bv. Denemarke kon gaan vestig het bloot omdat hy wit is nie. Soos hy ‘n Deen sou moes word om in Denemarke te vestig, so ook sou hy ‘n Afrikaner moes word om in Orania te woon. Wat verblyfreg op Orania aanbetref is die Afrikanerkultuur die bepalende faktor – beslis nie die blanke ras nie.

2. Gaan die ANC-regering Orania nie probeer toemaak wanneer dit te groot word nie?

Orania se bestaan word deur die regering erken, alhoewel hulle ‘n ander ideologie (swart oorheersing) voorstaan. Die strewe van Orania as selfstandige kulturele en taalentiteit wat selfbeskikking binne ’n bepaalde grondgebied wil beoefen word beskerm deur artikel 235 van die Suid-Afrikaanse Grondwet en die Verenigde Nasies se deklerasies oor minderhede.

Die ANC-regering het ook al by monde van Minister Valli Moosa in 1998 in die parlement verklaar dat die strewe van sommige Afrikaners (d.w.s. Oraniërs) om die gebied tussen die Oranjerivier en Weskus as ’n tuiste vir die Afrikaner se taal en kultuur te ontwikkel, legitiem is.

Verder was daar ook ‘n belangrike Hooggeregshofuitspraak in 2000 oor Orania se reg om as onafhanklike plaaslike owerheid te funksioneer. Onderhandelings met die regering oor ‘n groter mate van erkenning gaan intussen voort.

Belangrike figure uit die swart geledere is reeds in Orania ontvang en het bevestig dat hulle die strewe van die gemeenskap aanvaar en selfs bewonder, soos oudpresident Nelson Mandela, president Jacob Zuma, aartsbiskop Desmond Tutu en ANC-jeugleier Julius Malema. Sulke besoeke help om die persepsie van Orania as ‘n “apartheid dorp” te breek en om moontlike konflik te vermy.

Onthou, Orania is reeds ‘n feit wat nie weggevee kan word nie, of die regering daarvan hou of nie. Ongeveer ’n duisend inwoners, met derduisende ondersteuners daarbuite, kan nie sommer net “verbied” of “toegemaak” word nie. Ons is hier om te bly en geen dekreet van die regering sal ons dwing om te trek en alles wat ons met ons eie arbeid oor meer as 20 jaar opgebou het net te oorhandig nie.

Maar bygesê, daar is geen konflik met die regering nie danksy volgehoue skakeling deur die Orania Beweging en ander instansies en daar is goeie samewerking met staatsinstellings soos Eskom en Telkom wat met Orania besigheid doen.

‘n Onlangse voorbeeld is ook die goeie samewerking tussen Statistiek Suid-Afrika en die Orania gemeenskap met die 2011 sensus. Orania het sy eie telbeamptes aangestel en was die eerste dorp in Suid-Afrika wat die sensus voltooi het en in die openbaar daarvoor deur die hoof van Stats SA geprys is.

3. Hoekom vorder dinge so stadig met die vestiging van ‘n volkstaat?

Ons het destyds, toe Orania in 1991 gestig is, ook gehoop dat meer Afrikaners die idee sal aangryp en meehelp by die totstandkoming van die volkstaat. Dit was destyds iets heeltemal nuut en iets wat nog nie vantevore beproef is nie en waarby lesse van soortgelyke pogings geleer kon word nie.

Die naaste aan die Afrikanerstaat-vestiging was miskien die stigting van Israel, maar dit was onder ander omstandighede en in ‘n ander tyd. Dit het ongelukkig beteken dat Orania al die foute moes maak om te leer, soos ‘n klein kind, om uiteindelik op ‘n harde manier te leer wat werk en wat nie.

Vele mense is in die proses ontnugter, projekte het misluk, geld is verloor. Ongelukkig was daar geen ander manier nie, want dit was letterlik soos iemand wat ‘n onontdekte terrein verken, geen kaart het nie en niemand ken wat voor hom al daar was nie.

Intussen is ons vandag wel op die punt waar ons weet wat werk en wat nie werk nie. Die grondslag is nou goed gevestig en daar word reeds goed gevorder. Stewige groei die afgelope paar jare is bewys daarvan. Baie tyd en energie word nou ook spandeer aan die vestiging van werkende instellings wat elke terrein kan behartig en wat professionele bestuur en personeel het om dit te doen.

In die beginjare is baie dinge aangepak deur mense wat idealiste was (en ons haal ons hoed vir hulle af), maar wat op gebiede moes werk waarin hulle geen ondervinding gehad het nie. Orania het nou sy kinderskoene ontgroei en is in meer as een opsig volwasse. Orania se 21 jaar feesvieringe pas goed by ons huidige toestand: gereed om vorentoe te gaan, nog nie klaar geleer nie maar sterk en stewig.

Verder is vestiging ook nie iets wat net deur die Orania Beweging afgedwing kan word nie. Mense wat Orania steun en graag hier wil vestig moet nog steeds self hulle somme maak en talle dinge oorweeg voor hulle kan vestig. Voorbeelde hiervan is hulle huis wat verkoop moet word, skuld wat afbetaal moet word, ‘n goedbetaalde werk wat gelos moet word, vriende en familie, ‘n skool ens. wat agtergelaat moet word.

Veral vir die middelklas, die ruggraat van elke gesonde samelewing, is dit nie maklik om te skuif nie en om ‘n verlaging in hulle lewensstandaard te aanvaar nie. Daarom het hulle tyd nodig en werk met 5 of 10 jaar planne om geleidelik hulle trek na Orania voor te berei.

Terwyl ons trots is op die talle mense wat die afgelope jare hier gevestig het, kyk ons met afwagting na die ander wat in proses is om hulle oor een, twee of meer jare hier te vestig. Dit is beter as mense hulle beplanning reg doen en kom om te bly, al verg dit jare se voorbereiding, as wat hulle ‘n emosionele besluit neem om te kom (soos vrees vir misdaad) en dan besef dat hulle nie hier aanpas nie of nie ’n bestaan kan maak nie. 

4.  Sal die internasionale gemeenskap ‘n Afrikaner Republiek aanvaar?

Dit is eintlik nog te vroeg om so ‘n vraag te vra want Orania is nog vêr van enige staatstigting af. Nogtans is dit goed om solank buitelandse ondersteuners te vergader en om ons saak te begin internasionaliseer.

Verlede jaar het die Orania Beweging met ‘n program begin om buitelandse ondersteuners op ‘n meer geordende manier te groepeer en het selfs getroue en waardevolle persone aangestel as “ambassadeurs” vir Orania, byvoorbeeld in Engeland, Italië (Suid-Tirole) en Duitsland.

Daar is reeds goeie bande gevestig met die Vlaminge en met Nederlanders. Orania het egter ondersteuners oor die hele wêreld heen en die Orania Beweging ontvang daagliks e-posse met ondersteuningsboodskappe, voorstelle en vrae. Bande word ook gebou met gemeenskappe in suidelike Afrika wat ook streef na selfbeskikking.

‘n Belangrike stap vir erkenning van ons vryheidstrewe was die lidmaatskap van UNPO (Unrepresented Nations and Peoples Oragnisation) wat die Vryheidsfront Plus namens die Afrikaner minderheid opgeneem het. Dit bied aan ons vryheidstrewe ‘n waardevolle internasionale forum en drukgroep.

Die Orania dinkskrum EPOG (Eenheid vir Politiek, Omgewing en Geskiedenis) doen op gereelde grondslag navorsing oor ander volke se vryheidstrewe en watter lesse daaruit te leer is. Die internasionale gemeenskap is geneig om feite te aanvaar. As ‘n volk wil afstig, ‘n gebied beheer, interne asook eksterne steun het en dit deur ‘n referendum kan bewys, dan word die nuwe staatstigting gewoonlik aanvaar. Die onlangse verkryging van onafhanklikheid van state soos Oos-Timor, Kosovo, Montenegro en Suid-Sudan dien as voorbeelde.

Ons is egter nog nie daar nie en moet nou eers fokus op die ekonomiese ontwikkeling en meerderheidsbesetting van ‘n gebied wat ‘n toekomstige Afrikanerstaat sal word.

Vir internasionale aanvaarding is die toepassing van demokratiese praktyke soos gereelde en regverdige verkiesings, algemene stemreg vir almal wat in die gebied as burgers woon, nie-diskriminerende bestuur en beskerming van minderhede ononderhandelbaar.  Geen staat in die wêreld sal ‘n Afrikanerstaat aanvaar waar bv. permanente inwoners wat nie Afrikaners is nie van stemreg uitgesluit word. Daarom is meerderheidsbesetting so noodsaaklik.

5. Hoekom steun die meerderheid Afrikaners steeds organisasies soos die DA wat ‘n beter Suid-Afrika belowe, eerder as om hulself vir ‘n onafhanklike Afrikaner Republiek te beywer?

Steun vir die volkstaatidee hoef nie noodwendig aan steun vir ‘n politieke party gemeet te word nie. Volgens onlangse meningspeilings in Beeld en Burger steun ‘n meerderheid van die respondente (wat oorwegend Afrikaners is) die gedagte van ‘n volkstaat.

Mense onderskei egter tussen ‘n langtermyn-ideaal soos die volkstaat wat hulle hoop eendag sal realiseer, en hulle dag tot dag vraagstukke wat baie prakties van aard is.

Die Demokratiese Alliansie belowe tipies ‘n beter woonbuurt, beter dienste en meer veiligheid, wat mense hier en nou raak waar hulle woon. Uit anekdotiese bewyse kan ons aflei dat heelwat meer mense die volkstaat idee steun as wat vir die Vryheidsfront Plus stem, die enigste party wat openlik sy steun aan die Orania-selfbeskikkingstrewe toegesê het.

Partypolitiek word as onidealisties en selfs vuil en korrup beskou en daarom wil vele Afrikaner-kiesers glad nie stem nie, of stem vir die DA as die kleiner euwel teenoor die ANC. Hulle steun wel die Orania-idee deur Orania te besoek, deur lede te word van die Orania Beweging en deur saam te gesels op vryheidsgesinde webwerwe.

Ons moet ook aanvaar dat alle Afrikaners nie in ‘n Afrikanerstaat wil of kan woon nie, selfs al steun hulle die bestaan daarvan. Mense het vir hulle tuistes geskep, is gewortel in hulle gemeenskappe, of kan dit ekonomies net nie bekostig om te verhuis nie. Dit is ‘n bekende feit dat die meerderheid Jode nie in die staat Israel woon nie, maar oor die wêreld versprei is. Hulle steun egter nog steeds die staat Israel as hulle kulturele tuiste en Israel kan weer as staat met sy internasionale hefboomkrag die belange van Jode wêreldwyd verdedig.

Sluit dus aan by die Orania Beweging en wees op hierdie wyse deel van die ideaal om vir Afrikaners ’n eie Republiek te skep, al sal jy nie binnekort daar kan gaan woon nie. Alle hulp en ondersteuning is welkom – op ons eie sou ons nie al so vêr gekom nie. Sien http://www.orania.co.za om aan te sluit.

Deel 2 volg binnekort!

24 thoughts on “Orania: Gereelde vrae en eerlike antwoorde

    1. Ek stem saam Ben – ek kon slange vang toe E-Nuus onlangs ‘n verslag in Kleinfontein gaan doen het en die jong joernalissie afgesluit het met ‘ek is so en so, vir E-NUUS uit Rayton’ terwyl sy duidelik in Kleinfontein was.

      Ek dink Sebastiaan se argument is gebaseer op die feit dat almal, m.a.w. die hoofstroom Afrikanervolk, Kleinfontein, die Hooggeregshof, die ANC en die hele wereld Orania erken as ‘n Afrikanerdorp. Ek weet dat die oorgrote meerderheid van ons hier op Orania beslis vir Kleinfontein erken as ‘n Afrikanerdorp, maar ek is nie seker of die res van die wereld dit ook so sien nie (en dit is vir my onaanvaarbaar).

      Toe ‘n swart Times-joernalis ‘n artikel geskryf het na die 2011 munisipale verkiesing waarin sy genoem het dat “Orania in die ANC se hande is” omdat hulle die Tembelihle (Hopetown) munisipaliteit gewen het (en Orania volgens die OVK deel van hierdie munisipaliteit is), toe het ons die redakteur van Times herinner van die Hooggeregshofuitspraak dat Orania nie deel van die Tembelihle munisipaliteit is nie en ons ons eie Verteenwoordigende Raad moet verkies wat dan verantwoordelik is vir die lewering van munisipale dienste te Orania.

      Die Times se redakteur het toe onmiddelik die artikel onttrek en vir Orania se President gevra om die saak te verduidelik soos dit is. Times het hierdie verduideliking toe gepubliseer in die artikel, nl. “Orania is not in black hands”.

      Ek dink ons moet meer versigtig wees met ons bewoording en nie Orania bevorder op ‘n wyse wat kan voorkom dat ons Kleinfontein se bestaansreg ontken nie – ek het self al per ongeluk op daardie skil getrap en nadat ek my fout erken het, het ek dit nie weer gedoen nie.

      1. Nou op ‘n meer ernstige manier: ek het nie Kleinfontein doelbewus verswyg nie, ek het eenvoudig op daardie stadium nie daaraan gedink nie. Anders sou ek dit genoem het. Maar dit is wel ook soos Quintin sê, amper niemand buite die behoudende Afrikanerkringe weet van Kleinfontein nie. Dis ook debatteerbaar of dit ‘n dorp is of ‘n soort voorstad is, maar aan die Afrikaner-karakter en die gesindheid van die mense is daar geen twyfel nie.

  1. Michael

    Baie mooi en sinvol uiteengesit Sebastiaan. Dit beantwoord aan meeste vrae sou ek sê. Hierdie tipe vrae en antwoorde moet op ‘n manier wyer versprei word, daar is steeds baie mense wat nie weet van Orania nie. Vir my is die verskil tussen Orania en Kleinfontein die volgende. Orania is binne die volkstaat gebied, is beter ontwikkeld en sy potensiaal is onbeperk.

  2. Ja-nee… baie goeie artikel Sebastiaan. Jy bied nugter antwoorde op vraagstukke waarmee baie Afrikaners worstel wanneer hulle Orania begin verstaan. Ek het self hierdie vrae in die begin gevra en as dit nie vir ordentlike verduidelikings (soos hierbo uiteengesit) was nie, dan sou ek nie vandag op Orania gebly het nie!

  3. Orania is die idiaale plek vir mense met waardes en beginsels! Daar was ook niks met apartheid verkeerd nie! Elke volk het sy eie land gehad waar hy homself kon regeer volgens sy waardes en beginsels! Dit was net n probleem vir die parrasietiese kultuur soos die indringer bye nie hulle eie neste bou nie maar ander indring als opvreet tot daar niks oor is nie dan trek hulle weer na die volgende nes of land! Kyk wat het van Zimbabwe oorgebly! SA Gaan dieselfde pad en Orania is gebou op selfbeskiking! Orania gaan so groei maar my grootste vrees is dat hulle hom ook eendag gaan wil indring en oorvat as daar niks meer van SA oorgebly het nie!

    1. Arnold de Beer

      Dit sal, veral in die toekoms, wanneer Orania ‘n groot stad geword het, en ‘n trekpleister vir misdadigers word.
      Daar moet sommer van vroeg af vinnig met boosdoeners afgereken word. Dit is ‘n groot storie wat op sy eie manier opgelos sal word.

    2. Ons gebruik ons eie arbeid op Orania om ons eie grond te ontwikkel en ons eie instellings te bou. Dus kan die indringer bye nie inkom nie. Onthou – blankes in Suid-Afrika was byna van dag 1 af afhanklik van die indringer bye se goedkoop arbeid, met die gevolg dat ons vir hulle ‘n oop deur gegee het om ons nes in te vaar… en toe sommer ook die nes oor te neem. Eie grond + eie arbeid = nuwe toekoms.

  4. Pieter Senekal

    Dit is werklik n sinvolle artikel wat die huidige en toekomstige moontlikhede van Orania uitwys. Alhoewel ek dink dat opsies wat deur ander vryheids soekende organisasies ook n bydra lewer is Orania die enigste wat tot n Afrikaner staat kan lei. Met verloop van tyd sal almal by Orania inval. Bronkhorstspuit en Rayton is nou ingelyf by die Tswane munisipaliteit, oor die volgende 20jr sal Pretoria, die Oos en Wes rand en Johannesburg ontwikkel tot een van die grootste mega stede in Afrika, Kleinfontein sal slegs n klein wit kolletjie binne n groot swart dorp wees. As ons vry wil wees, is Orania en die Noord Kaap die enigste opsie.

  5. Abram F Celliers

    ‘n Baie sinvolle artikel. Ek wens net sulke tipe artikels kry meer sirkulasie. Want die mense wat dit lees, is meeste van die tyd al klaar ten gunste van ‘n volkstaat.

    Ek glo wel dat Kleinfontein ‘n baie groot rol in die toekoms het om te speel. Dink maar net watter geleenthede daar is vir ‘n Afrikaner gebied naby Gauteng. Vir ekonomiese inskakeling is dit belangrik, asook vir die burgers wat nie in ‘n volkstaat bly nie, maar in die Noorde van Suid-Afrika.

    Net om terug te kom by my eintlike vraag.

    Ek weet die Boere-Afrikaner volksraad het ‘n vergadering gehou in Orania.

    Nou wil ek graag weet. Is daar samewerking tussen die twee organisasies? Altwee van hulle het ‘n gesamentlike doel, m.a.w. selfbeskikking. Hoe skakel die twee bymekaar in?

    Sal graag wil hoor

    1. Sover ek weet is daar geen amptelike samewerking nie. Die twee instellings is ideologies gebind, maar in praktyk kyk hulle na twee verskillende roetes.

      Orania weet waar die volkstaat gaan wees en is reeds besig om dit ‘n werklikheid te maak.

      Die VVK bemiddelde volksraad weet nog nie waar die volkstaat gaan wees nie, maar glo hulle kan dit ‘n werklikheid maak deur 1) ‘n vryheidseis by die regering in te dien, 2) die volk te vra waar hulle ‘n volkstaat wil he, en 3) met die regering ‘n skikking aan te gaan om daardie grondgebied of minstens ‘n deel daarvan te laat afstig.

      Die VVK bemiddelde volksraad se vryheidseis is al oorhandig, maar die regering ignoreer dit op hierdie stadium. Die volksraad het onlangs twee beroepe op die volk gedoen om briewe aan die regering te stuur om hulle te vra om asb. te reageer op die vryheidseis.

      Ek wens hulle sterkte toe, maar dink die poging is besig om te misluk, indien dit nie reeds ten volle misluk het nie. Myns insiens gaan dit ‘n groter uitdaging wees om eenstemmigheid by die volk te kry m.b.t. die ligging van die volkstaat, as wat dit gaan wees om die regering sover te kry om op die vryheidseis te reageer.

      Nietemin, die VVK bemiddelde volksraad volg ‘n roete wat nog nie getoets is nie. Dit dien dus ‘n belangrike doel. As dit werk, dan is ons koppe deur. As dit misluk, dan weet ons met sekerheid dat daardie roete in ‘n doodloopstraat eindig.

      1. Arnold de Beer

        Quintin;
        Dit is wat ek geweldig waardeer hier op julle blog. ‘n Mens kry gou ‘n antwoord.
        Ek het ook al belangstelling verloor in VVK en ook ander Volkstaat stigters.
        Terugvoer van hulle kant is so stil soos ‘n oorlogskip.
        Wat my egter bekomer, is dat Dr P Mulder net so stil geraak het oor die Volkstaat.
        Sal jou mening hier baie waardeer.

  6. Arnold de Beer

    Ek het al in die verlede hieroor kommentaar gelewer. Maar sal graag van van Quintin ‘n antwoord wil kry.
    Is daar ‘n rede hoekom ‘n erf op Orania so duur is?
    Ek het al die argument gehoor van markgebaseerde pryse en al daardie stories.
    Die meerderheid Afrikaners het nie daardie klas geld nie.
    Daarmee wil ek ook nie sê dat Orania erwe verniet moet weggee nie. Kan daar nie ‘n plan gemaak word om die Afrikaners eers daar te kry en dan op ‘n ooreengekome metode hulle solank verblyf plek te gee nie. Verhuring of lang termyn afbetaal plan of enigiets om die Afrikaner net daar te kry nie?
    Mense wat woon op ‘n plek veroorsaak dat daar meer behoeftes geskep word.
    Dit veroorsaak weer meer mense wat in daardie behoeftes moet voorsien.
    Dit gaan hel gaan aan die begin, mense gaan kom en gaan, en weer kom.
    Laat daardie mense self die infrastruktuur bou met hulp van Orania waar dit moontlik is.

    Stig ‘n tweede dorp waar die nuwe intrekkers self sorg hoe hoe hulle die mas opkom.
    Net soos wat Orania gedoen het 21 jaar gelede.
    Daar moet tog sekerlik êrens ‘n stukkie van Orania se 8100 hektaar grond wees wat vir hierdie doel opsygesit kan word.
    Ek wil amper ‘n pofader wed dat daardie nuwe dorp in minder as 21 jaar Orania gaan verby steek.
    Met goeie beplanning, maar met die minste “Red Tape” sal daardie dorp deur die vindingrykheid van die Afrikaner in rekord tyd gebou word.

  7. Miskien net dit solank: hier was al verskeie pogings om goedkoop stuuke grond buite Orania se dorpsgebied, op plaasgrond, beskikbaar te stel vir mense wat dit self ontwikkel. Dit het gou verkoop want almal soek iets wat goedkoop is. Ongelukkig het min ontwikkel maar gou besef dat hulle nie kans sien om hulle eie water, krag en riolering te voorsien en het dit daarom weer met ‘n gelaaide prys in die mark gesit. Ander weer het begin plak omdat hulle proses van vestiging ‘n permanente toestand geword het.
    By die oorgangshuise, wat net water en geen krag het nie, het ons ook gesien dat mense wat eintlik net tydelik daar sou bly later dit permanent maak en geen aanstaltes maak om hulle op te hef nie.
    Die wat vindingryk is en inisiatief neem, is gewoonlik nie arm nie, en die wat arm is, neem gewoonlik nie inisiatief nie. Ongelukkig my ervaring na 7 jaar op Orania.

    1. Arnold de Beer

      Kan nie van jou verskil in hierdie opsig nie.
      Het self, met wat hulle hier noem, Fly by nights te doen gehad. Soos ek voorgestel het moet daar ‘n vorm van orde gehandhaaf word, maar nouja ook nie maklik nie.
      Sien uit om aflewering 2 te lees.

  8. Terug pieng: Deel 2 van Orania vrae en antwoorde: Voorkoms en Behuising « Vry Afrikaner

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s