Deel 2 van Orania vrae en antwoorde: Voorkoms en Behuising

Deel 1 het gehandel oor ideologiese en sosio-politieke vraagstukke. In deel 2 bespreek ons estetiese en eiendom verwante kwessies.

1. Is daar planne om Orania se ontvangsgebied op te gradeer?

Dit is waar, Orania se ingang rondom die vulstasie lyk nie na wense nie, veral met die stowwerige oppervlakte. Ons kan u egter gerusstel dat die ontvangsgebied een van die Dorpsraad se prioriteite is. ‘n Stads- en Streeksbeplanner het reeds ‘n ondersoek oor die verfraaiing van die die ingang gedoen. Die Afsaal besigheidsblok is reeds opgeknap, maar sal vorentoe nog verbeter word onder nuwe bestuur. Vir die vulstasie is ook uitbreiding en verbetering van voorkoms in die pyplyn.

Soos dit met alles gaan moet sowel die Dorpsraad asook besighede in Orania fyn beplan oor hulle prioriteite. Die gelde wat omgesit word is min in vergelyking met stede en daarom beteken ‘n spandering op voorkoms ‘n verlies aan ander kante. Sekere mense wil graag sien dat die Dorpsraad meer geld op goedkoop behuising spandeer en nie op estetiese voorkoms nie. Mense moet ook onthou dat Orania al ongelooflik baie verbeter het sedert die eerste intrekkers in 1991 hier gevestig het.

Diegene wat Orania gereeld besoek sien die vordering. Dit is egter ‘n dorp in ‘n ontwikkelingsfase en dit kan nie orals van die begin af mooi lyk nie. Die ingang is egter belangrik om ‘n goeie indruk met die intrapslag te kry. Indien u wil help met donasies vir estetiese verbetering kan u die Orania Beweging kontak by http://www.orania.co.za of 053 207 0062.

2. Hoekom is daar so baie voorafvervaardigde huise in Orania?

Orania was voor sy stigting as volkstaatdorp eers ‘n tydelike dorp van die Departement Waterwese wat vir ‘n tydperk van sowat 20 jaar ingenieurs en werkers moes huisves wat die Vanderkloofdam en Oranjerivierkanaalstelsel gebou het. Omdat dit as tydelike dorp bedoel was, is net enkele steenstrukture opgerig soos die huidige gemeenskapsaal, die hospitaalgebou (nou Dorpskantoor) en die poskantoor.

Na die afhandeling van die bouwerk het Orania ontvolk en vervalle geraak. In 1991 is dit deur die Afrikanervryheidstigting op ‘n veiling gekoop, met alle bestaande strukture. Alhoewel die huise vervalle was, was dit vir die intrekkende pioniers ‘n bate om darem ‘n huis te hê en nie van voor af ‘n huis te moes bou, veral aangesien van die begin af van volkseie arbeid gebruik gemaak is en Orania op daardie stadium nog oor geen opgeleide bouers beskik het nie.

U kan uself indink hoe Orania sou gelyk het as elkeen sy eie huis probeer bou het: ‘n krom en skewe plek vol halfklaar strukture. In hierdie opsig was dit ‘n seën dat daar reeds voorafvervaardigde huise was wat herstel kon word.

Intussen word meer en meer van die voorafvervaardigde huise vervang of met stene ombou en nuwe huise wat opgaan is deurgaans van beter gehalte. Behalwe vir die bestaande voorafvervaardigde huise en nuutgeboude steenhuise is daar ook heelwat alternatiewe boumetodes wat kostebesparend en klimaatvriendelik is, soos bv. strooi, polistireen, veselsement panele, boublokke en selfs ‘n Aardskip uit herwinbare materiaal.

3. Hoekom lyk sommige huise en tuine onversorg?

Ons probeer nie verskoning maak vir huise en tuine wat onnet lyk nie. In meeste gevalle is dit oorblyfsels van die pionierskultuur van die eerste intrekkers, waar op die wesenlike gefokus is en netjiese tuine ‘n luukse was.

Orania het egter die pioniersfase ontgroei en die Dorpsraad hou ‘n wakenede oog oor huise en tuine wat nie op standaard is nie en het permanente tuindienste aangestel om die groot sypaadjies te versorg. Daar is ook inisiatiewe uit die gemeenskap om huise en tuine te verbeter, soos die jaarlikse tuinkompetisie en GOG (Gemeenskap Ontwikkeling Groep) wat mense wie nie die fondse of die vermoë het om dit self te doen nie, te help om deur middel van donasies hulle huise netjies te verf en tuine te versorg.

Weereens moet besoekers kyk na die verbetering en die tempo van verandering en nie vaskyk in enkele tuine wat nog steeds onversorg is nie. Mense van buite is ook gewoond aan die beskikbaarheid van goedkoop arbeid wat ‘n voltydse tuinier moontlik maak. In Orania verrig Afrikaners die arbeid en ons betaal ons werkers ’n ordentlike loon. Daar is wel tuindienste, maar dit is relatief duur en nie almal kan dit bekostig nie.

In meeste huishoudings werk beide man en vrou en daar is eenvoudig nie ook nog tyd vir tuinwerk nie. Erwe en sypaadjies is in meeste gevalle heeltemal te groot omdat ons sit met die erfenis van die ou Suid-Afrika, toe grond en goedkoop arbeid om dit te bewerk volop was.

Intussen word meer en meer erwe onderverdeel om instandhouding makliker en meer hanteerbaar te maak. Laastens moet besoekers ook aanvaar dat in hulle tuisdorpe ook nie alle huise en erwe mooi versorg is nie. Mense kyk gewoonlik vas in hulle middelkalswoonbuurt en vergeet dat elke dorp ook dele het waar arm Afrikaners bly.

In Orania het ons nie die woonbuurtskeiding tussen arm en ryk nie en daarom kan in een straat ‘n slordige huis langs ‘n netjiese een wees. Danksy GOG en die Orania Dorpsraad word die probleem egter aangespreek. Weereens moes die Dorpsraad ‘n moeilike keuse maak om die beperkte fondse opsy te sit vir estetiese bevordering.

Indien u graag ‘n bydrae wil maak tot GOG se verbetering van Orania se voorkoms, kan u gerus skakel met mev. Corrie Jacobs by 082 921 4004.

 4. Hoekom is daar dikwels so baie eiendomme in die mark? Beteken dit dat baie mense wil wegtrek?

Allermins – Orania se bevolking groei teen ‘n baie gesonde tempo. Eiendomme was vir baie lank goedkoop en in die begintyd het talle mense meer as een eiendom gekoop, of uitwoners het huise gekoop en dit verhuur.

Intussen het eiendomspryse egter geweldig gestyg en ingehaal op die algemene styging wat Suid-Afrika sowat 7 jaar gelede beleef het. Mense wat twee of meer eiendomme besit het, het een in die mark gesit om wins te maak, uitwoners wie se planne verander het of wat geldelik in die knyp was het ook besluit om te verkoop.

Meeste verkope in Orania is inwoners wat nuwe eiendom op die dorp koop, tipies mense wat ouer word en hulle groot huis verkoop om ‘n kleiner en maklik onderhoubare aftreehuis te koop. Natuurlik is daar ook mense wat gewoon kanse vat en kyk of hulle ‘n goeie prys kan kry, sonder dat hulle eintlik gedruk is om te verkoop.

Daar is inderdaad tans ‘n ooraanbod van eiendom in die mark en die markkragte sal dit regstel as verkopers besef dat pryse begin stagneer of selfs val.

5. Hoekom is huise en erwe so duur vir ‘n plattelandse dorp?

Talle besoekers het die verwagting dat Orania maar net ‘n gewone plattelandse dorp is en is verbaas dat eiendomspryse nie so veel laer is as in die stede nie. In vergelyking met buurdorpe soos Petrusville of Strydenburg is eiendomme in Orania inderdaad duur.

Eiendomspryse is egter ‘n goeie aanwyser vir ‘n dorp se gewildheid en ekonomiese ontwikkeling. Huispryse in die buurdorpe (met uitsondering van Vanderkloof – ‘n gewilde vakansie- en aftreedorp) is laag omdat die dorpe agteruit gaan, die blanke bevolking minder en ouer word en besighede wegtrek. Niemand wil in sulke dorpe bly nie, al is daar ook groot en pragtige huise te koop.

Orania daarteenoor is ‘n groeiende en voorspoedige gemeenskap. Daar is min dorpe in die wereld wat kan spog met Orania se uiters lae misdaadsyfer. Die natuurskoon, veiligheid, bestendige bestuur en, bowe al, die vryheidsideaal is groot trekpleisters wat aanvraag vir eiendom op Orania onderskei van enige ander plattelandse dorp.

Verder is talle huise wat te koop is onlangs gebou teen vandag se veel duurder boukoste. Boumateriaal kom van vêr af en die aanlê van dienste word elke jaar duurder. Hier is normale markkragte aan die gang, alhoewel natuurlik hier en daar ook verkopers is wat te veel vir hulle eiendom vra.

Vir meer inligting oor eiendom op Orania, sien gerus: http://www.afsaal-op-orania.co.za/prop/index.php?PageID=7&action=page_display

13 thoughts on “Deel 2 van Orania vrae en antwoorde: Voorkoms en Behuising

  1. Een van die mense op ons blog het vroeer Franklin D. Roosevelt se bekende gesegde aangehaal, nl. “Build it and they will come”. Dis inderdaad heel gepas om hierdie stelling met Orania te assosieer.

    Ons moet ook net onthou dat alles geld kos. Mens is beperk tot die hulpbronne tot jou beskikking, hetsy beleggers, arbeid, grondstowwe ens. Soos meer Afrikaners Orania toe trek of van buite af in Orania bele, so groei die gemeenskap se uitvoervermoe.

    Daar is min dinge wat my so kan irriteer soos iemand wat sy neus optrek vir alles wat Afrikaners al in Orania vermag het en dan nie daartoe in staat is om te besef dat as hy nie tevrede is met iets op Orania nie, niks en niemand hom keer om sy gewig in te gooi om dit waarmee hy ontevrede is te verbeter nie. Daar is miljarde op miljarde Rande binne die Afrikanerdom opgesluit, maar Orania (wat die Afrikanerdom bevorder) sien tans bittermin daarvan.

    Besef die meerderheid skatryk Afrikaners daarbuite dan nie dat as hulle net ‘n druppel in die emmer kan gooi, ons oornag behuising vir meer arbeiders kan oprig, ons meer winkels kan bou, ons meer infrastruktuur en fasiliteite kan skep en die dorp se voorkoms na ‘n nuwe vlak toe kan vat nie? Orania is nie net ‘n goeie finansiele belegging nie, maar ook ‘n belegging in jou mense se toekoms!

    Elkeen van ons kan ‘n verskil maak sodra ons besef dat as ons saambou aan ons ideaal om vir Afrikaners ‘n land van ons eie te skep, vryheid in ons tyd meer as net haalbaar is.

    Terloops, ek het in 2009 ‘n pragtige 3000 m/2 woonerf op Orania vir R 150 000 gekoop en hom in 2011 vir R 220 000 verkoop, waarmee 2 nuwe besigheidserwe toe aangekoop is. Waar anders in suidelike Afrika sou ek tydens die moeilikste deel van die resessie sulke uitstekende groei op my belegging gekry het as Orania?

    1. Arold de Beer

      Quintin:
      Lekker gelees en stem met alles saam. As ek net my voete op Orania kan kry, sal ek aan al hierdie planne deelneem.
      Soos ek elders genoem het, sal; ek eers my bestaande eiendom hier moet verkoop voordat ‘n skuif moontlik is.
      Om eers te wag totdat ‘n mens se huis eendag verkoop is, bevoeter die entoesiasme.
      Intussen kan die woonhuis darem verhuur word.

      Soos jy tereg uitwys, alles kos geld en dit word by die dag duurder.
      Maar dan aan die anderkant; Sweet hoef nie altyd geld te kos nie. En soos dit vir my lyk ia daar baie mense op Orania wat baie doen sonder vergoeding.
      En dit is goed so. Wens ek kon reeds my sweet daar uitdeel.

      Tog voel ek dat daar erwe op ‘n makliker metode aangebied moet word. ‘n Soort oorbrugings perseel waar bv. ‘n karravaan of selfs ook ‘n netjiese opslaan huis gebou kan word.
      Iets wat later verwyder of gesloop kan word, nadat ‘n nuwe intrekker sy voete gevind het. Natuurlik sal dit met ‘n kontrak gepaard moet gaan, anders word ‘n tydelikke opset naderhand ‘n permanente gedoente.
      Dit moet goed beheer word om die ( jammer om dit te sê) lamsakke en luiaards weg te hou.
      Hoop om nuus in hierdie verband van Orania te kry.
      Voorspoed aan al julle manne en vroue wat wonderlikke werk doen.

  2. Inderdaad Quintin. Bou dit en hulle sal kom.Tenspyte van die bedorwe staat waarin die Afrikaner nog verkeer is Orania ‘n sukses. Vir baie jare het die vorige regering ons bederf met ‘n luilekker joppie in een of ander staatsdept.,met subsidies vir behuising, goedkoop mediese behandeling ens. ‘n Ooraanbod van goedkoop arbeid ons net verder bederf.

    Daar is nog te veel potpaddas onder ons, mense wat salig onbewus is van die selfvernietigende situasie waarin hulle verkeer. Ander weer wat onder die waan verkeer dat as ons net ‘saamstaan’, ons genoeg druk op die huidige regime sal kan toepas om ‘n groot gebiedstoegewing en fondse beskikbaar te stel om Afrikanerland gevestig te kry.

    Ons het nie meer ‘n oom in die meubelhandel nie, daai dae is verby! Orania is vir my die bewys dat daar nog ‘n sterk pioniersgees onder ons is. Daarteenoor is daar die kritici wat skynbaar nog onder die indruk verkeer dat daar bloot by ‘n staatsdepartement om ‘n subsidie aansoek hoef gedoen te word, om al hierdie ou dingetjies wat krap, reg te stel. Dit werk nie so nie!

    Orania bewys wel deeglik dat om iets tasbaars daar te stel ‘n suksesresep is. Baie ander groepe met baie voorstelle het al die afgelope agtien jaar gekom en gegaan. Hulle groot gebrek lê daarin dat hulle nie bou nie!

    Hier skets Sebastiaan die prentjie eerlik en reguit. Dit bewys dat die dorpsbestuur wel deeglik van die kleiner irritasies bewus is en werk daarvan maak.

  3. Hello Sebastiaan. Ek het jou in 2000/2001 by Solidariteit se kantore in Centurion ontmoet toe jy ‘n navorser was. Ek dink jy was by in ‘n vergadering met Flip Buys en die Helpende Hand fonds wat ons ondersteun het.
    Ek harp aan oor die waterkwessie in Orania. Uit jou agtergrond as bobaas navorser: Kan jy asb vir ons die watertoelaag wat die Orania distrik uit die Oranjerivier mag trek uitlig. Presies hoeveel water is beskikbaar in terme van waterregte op die grond in Orania, en hoeveel van dit is reeds toegeken?

  4. Sebastiaan, Oom Ben, Quintin, en andere,
    Dankie vir artikels en kommentare soos hierdie. Vir uitwoners soos ek wat nie elke dag Orania eet, slaap en drink nie help hierdie inligting baie om my gedagtes en argumente te artikuleer wanneer ek hier met “potpaddas” (hou van daai ene oom Ben) te doen kry. In 1991 het ek geld by my pa geleen om n besigheidjie op Orania te begin. Ek het n volle R5.00 se wins gemaak, maar moes na drie maande platsak en stert tussen die bene daar weg. Slegte herhinneringe van Orania? Nee! n Paar fundamentele besigheidslesse geleer in die proses? Beslis! Daar gaan nie n dag verby dat ek nie aan hierdie ideaal dink en my terugkeer daarheen beplan nie.

  5. Anthony Schlemmer

    Orania sal net so vinnig groei as wat daar werksgeleenthede geskep kan word ! Een Afrikaner Entrepreneur met ‘n briljante idee kan in ‘n kort tyd ‘n reuse verskil maak op Orania. Hierdie tipe van mense is broodnodig vir die toekoms en selfbeskikking idiaale van die Afrikaner. Ons huidige akademiese stelsel skep grootliks werksoekers, dit moet werkskeppers produseer !

    1. Michael

      Jy’s heeltemal reg Anthony as een groot fabriek daar open sal dit aanleiding gee tot die volgende een, dit sal ‘n domino effek hê wat ons baie nodig het.

  6. Terug pieng: Deel 3 van Orania vrae en antwoorde: geloof en sosio-ekonomiese kwessies « Vry Afrikaner

  7. Ek het ‘n vraag. As julle streef na ‘n volkstaat, hoekom word eiendom en self die ekonomie van die nuwe suid Afrika dan nog steeds in berekening gebring? As ek op Orania bly, gaan ek nogsteeds mzanzi belasting verskuldig wees?

  8. Hennie Taljaard

    Moenie die buurdorpe afskryf nie. Voor jy dit weet vestig Afrikaners hulle ook in Perusville, Van Der Kloof, Philipstown ens. met Orania as hoofstad. Anders dink!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s