Donker dae lê voor vir Euro-sone

Griekeland: verkiesing gooi politieke stelsel om en bedreig voortbestaan van Euro-sone.

Die pasafgelope parlementsverkiesing in Griekeland het die politieke stelsel omvêrgegooi. Tot dusvêr was daar twee groot partye, die Nuwe Demokrasie (ND), effens regs van die middel, en die Sosialistiese Party (PASOK), gematig links.

Hulle het mekaar gereeld afgewissel. Kleiner partye het geen noemenswaardige rol gespeel nie. Dié stelsel blyk nou vir goed verby te wees. Weens die Euro-krisis in Griekeland het die Eerste Minister, Georgios Papandreou, verlede jaar bedank en plek gemaak vir ‘n regering van finansiële deskundiges wat deur albei groot partye gesteun is.

Dit was egter slegs ‘n tydelike nood-regering wat die reddingsmaatreëls tussen Griekeland en die EU moes onderhandel om dan plek te maak vir ‘n verkose regering.

Die pasafgelope verkiesing het dinge egter nou éérs bemoeilik. Dit was niks minder nie as ‘n aardskudding. Die eens dominerende ND het geval van 33% na 18% toe, alhoewel dit die grootste party bly en weens ‘n reeling wat die grootste party bevoordeel, meer setels kry as wat die geval volgens die persentasie sou wees.

In die tweede plek kom die ver-linkse Syriza met 17% , wat gekant is teen die Euro-stabiliteitspakket.

Eers in die derde plek kom Pasok, wat in 2009 ‘n groot oorwinning behaal het met 43% van die stemme en tot onlangs toe die regering was, met slegs 13%, ‘n geskiedkundige val.

Pasok was as regeringsparty op die voorfront van die onderhandelinge vir ‘n stabiliteitspakket, wat lenings aan die feitlik bankrot Griekeland teen streng besparingsmaatreëls behels het.

Die mense haal hulle swaarkry nou op Pasok uit, alhoewel die regering (later deur ND halfhartig ondersteun) net gedoen het wat onvermydelik was.

In die vierde plek kom die nuutgestigte “Onafhanklike Grieke”, ‘n afsplitsing van ND, wat die spaarpakket nie wou steun nie.

Dan volg die kommuniste met 8%, aan die ander kant van die spektrum die ultra-nasionalistiese “Goue Dagbreek” en dan nog ‘n linkse party, die “Demokratiese Linkses”, ideologies tussen Syriza en Pasok geleë.

Om ‘n regering uit sulke weersprekende partye te vorm is uiters moeilik. Die krisis het die 2 eens groot partye ND en Pasok bymekaar gebring en hulle is die enigste twee partye wat staan by die spaarpakket. Selfs saam het hulle nie ‘n volstrekte meerderheid nie, en alle ander partye is teen die spaarpakket en wil die verpligtinge wat ‘n voorganger-regering onderhandel het, nie nakom nie.

Die ND-leier, mnr. Samaras, het reeds na die eerste dag van pogings om die regering te vorm handdoek ingegooi. Nou is die onus op die leier van Syriza as die naasgrootste party wat ‘n anti-spaarpakket regering uit linkse kragte wil vorm. Selfs dit is moeilik, want die linkses alleen (sonder Pasok wat by die spaarpakket staan) het nie genoeg setels nie en die kommuniste wil boonop deel van geen koalisieregering wees nie. Heel waarskynlik sal dan oor ‘n maand weer gestem moet word in die hoop dat dan meer stabile omstandighede sal ontstaan.

Vir Griekeland lê moeilike tye voor. As die land nie sy skuld- en spaarvereistes nakom nie, sal geen krediete meer toegestaan word nie en die land is effektiewelik bankrot. Die verwagting en eis van die linkses in Griekeland en elders, dat “die rykes” soos Duitsland nou maar net vir die armes moet betaal is iets wat reeds binne ‘n land en volk tot groot ontevredenheid lei, maar des te meer tussen volke wat eintlik niks deel behalwe ‘n geografiese gebied nie.

Die hele redding van die Euro het ‘n verdere knou gekry deur die verkiesingsoorwinning van die sosialis Francois Hollande by die Franse presidentsverkiesing. As sosialis glo mnr. Hollande nie aan spaar nie maar wil eerder groei stimuleer deur nog meer krediete, verkieslik teen lae rente. Dit is klaarblyklik die geval dat sosialiste en ander linkses nie die ekonomie verstaan nie en miskien ook daarom so goed met die armes kan vereenselwig.

Kanselier Merkel van Duitsland het met die neerlaag van Nicholas Sarkozy haar belangrikste bondgenoot vir die Euro-redding verloor en staan nou alleen as iemand wat glo aan fiskale dissipline teenoor ‘n meerderheid lande wat wil voortgaan met skuld maak.

Oekraïne: hantering van opposisie gooi skadu oor Europese Sokkerbeker.

Die eertydse president van die Oekraïne, Julia Timosjenko, is verlede jaar in ‘n omstrede hofsaak tot 7 jaar tronkstraf gevonnis weens misbruik van haar amp toe sy president was.

Alhoewel seker nie alles pluis was onder haar bewind nie, het die hofsaak die aanskyn gehad van ‘n politieke proses deur president Victor Janoekowitsj om van sy hoof-teenstaander ontslae te raak.

Timosjenko en Janoekowitsj is al ou vyande, met mev. Timosjenko wat destyds met die Oranje Revolusie as die ster van demokrasie en van die Weste gevier is, terwyl mnr. Janoekowitsj as kwasi-kommunistiese apparatsjik met sterk bande na Rusland beskou is.

Die reeds omstrede hofsaak en veroordeling van mev. Timosjenko is vererger deur die bewering dat sy in die tronk mishandel is en siek is en toegang tot mediese hulp geweier word.

Van die toedrag van sake het nou ‘n inner-Europese diplomatieke konflik geword. Die Europese Unie staan op vir mev. Timosjenko en het selfs gedreig om die spele van die Europese Sokkerbeker, wat in Oekraïne plaasvind, te boikot. (Poolland is die ander land wat gesamentlik met Oekraïne die gasheerland is en wat nie daardeur geraak word nie).

‘n Streeksbyeenkoms wat in Oekraïne sou plaasvind, is reeds weens boikotte deur Wes-Europese leiers uitgestel. Mev Timosjenko het ‘n hongerstaking begin om aandag te trek op haar mishandeling. Intussen het die Oekraïnse regering ingestem dat sy behandel mag word, selfs deur Duitse medici wat hulle dienste aangebied het. Haar hongerstaking is blykbaar nou beëindig.

Die vrees bestaan dat ‘n nuwe outokratiese blok in Oos-Europa vorm, met hardhandige leiers wat min ooghare vir demokrasie het en teenstanders laat toesluit of intimideer.

Belo-Rusland is al sedert 20 jaar ‘n soort diktatorskap met skyn verkiesings en opposisie wat geslaan en toegesluit word onder president Lukasjenko. Rusland se onlangse omstrede presidentsverkiesing wat mnr. Putin gewen het en wat hom al hoe meer as ‘n kwasi-diktator gedra, met sensuur en hardhandige optrede teen betogers, wek ook kommer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s