Ons en die nasiestaat-moles!

Te veel en te maklik word daar gesê, dat ons gelukkig is om in moderne tye te kan leef, tye waarin individuele regte verskansing in ‘n grondwet geniet, tye waarin die staat, volks- en rasgroepe as gelyk in ‘n demokratiese nasiestaat beskou en behandel! Is dit werklik so, is die moderne nasiestaat en die sg. demokrasie werklik dit wat dit voorgee om te wees?

Voor die koms van die hedendaagse nasiestaat, het septerswaaiende konings en keisers hul bevolking bloot as onderdane beskou om te gebruik en te misbruik na goeddunke. Die Franse revolusie het ‘n nuwe era ingelei toe die situasie omgekeer en die beheer in die hande van die burgerlike samelewing geplaas is. Frankryk het ‘n republiek geword en is as ‘n eenheid beskou, almal moes nou gelyk en slegs Frans wees!

Adellike gesag is dus deur ‘n nasiestaat met ‘n burgerlike regering vervang. Dit het die nuwe samelewingspatroon in Europa geword. ‘n Waarskynlike rede vir so ‘n omwenteling juis in Europa, anders as elders, was dat mense daar tog ‘n sekere mate van vryheid en beweegruimte onder monarge gehad het.

Konings het die plaaslike aard en karakter van hul prinsipaliteite, provinsies, distrikte, munisipaliteite ens. met rus gelaat. Hierin lê die groot verskil! Die moderne nasiestaat en sy meeloper, demokrasie, ontken nie etnisiteit en groepsregte nie maar stel dit ondergeskik aan individuele regte.

Die revolusionêres se oogmerk was om die absolute mag van die monargie te breek en met ‘n stelsel van gelykstelling te vervang. Hoofsaaklik was dit klasverskille wat moes verdwyn maar so ‘n proses raak immers elke faset in die samelewing. Ter bereiking van dié doel moes die staat dus sy sentrale gesag vergroot.

Was die revolusie tot voordeel van die gewone burger? Grootliks ja, maar nie heeltemal so nie, want mag in ‘n demokrasie word aan getalle gemeet met die talrykste wat die oorhand het. Minderhede, ongeag enige voortreflike eienskappe eie aan hulle, word ondergeskik gestel of uitgewis. Is die baba nie hier, in die nasiestaat, saam met die badwater uitgegooi nie?

Ten spyte van mooi tooisels, soos republiek, demokrasie en vryemark, vorm daar magsblokke (partypolitiek) t.o.v. ras-, etniese-, godsdiens- en taalgroepe wat hul wil op ander kan afdwing. Die partypolitieke stelsel, in ‘n sg. demokrasie, vereis van ‘n enkele party of groep slegs 51% van die stemme om beheer oor die res te kan uitoefen! In ‘n koalisie kan selfs die enkele grootste groep opsy geskuif word. Meesal, met ‘n 2/3 meerderheid kan ‘n regering selfs die grondwet verander! Die talrykste heers dus, floreer en oorleef.

Wat dan van die res? Moet hulle maar, ewe inskiklik, alles prys gee? Enige etniese enklawe, in so ‘n opset, word dus deur en aan buitestanders onderhorig gemaak! Ongelukkigheid met so ‘n situasie kom oral voor, die Iere, Skotte, Walliesers, Baske en Koerde is maar enkele voorbeelde.

Ons, die etniese Afrikaners, het sedert 1994 so ‘n situasie begin ervaar. Wat ons verder weerloos laat is ons verspreidheid. Vir loskom uit hierdie dwingelandy en onafhanklik te raak, benodig ons ‘n enkele enklawe, groot genoeg om volhoubaar en selfstandig te kan funksioneer.

Sterk Afrikanervestings bestaan nie meer nie! Inagnemende ons status as ‘n minderheid, sal ons vestiging in ‘n enkele aaneengeslote gebied moet kry mits ons as ‘n onafhanklike Afrikanervolk wil voortbestaan! Ons verspreidheid, daarenteen, het ‘n eie streeksaard aan verskeie Afrikaner/Boer groeperings gegee. Dit is ‘n bate wat gekoester moet word. Hoe behou ons dit in ‘n enkele gebied? Beslis nie d.m.v. ‘n dominante sentrale regering met beheer oor elke distrik nie!

Wat is dan die alternatief tot die nasiestaat?

Myns insiens, verseker kommunalisme of lokalisering, m.a.w. plaaslike gemeenskappe in beheer van hul eie sake en in gesonde kompetisie met mekaar, die mees direkte sê aan sy lede. Partypolitiek of enige ander magsblokvorm het ‘n polariserende en dominerende effek en moet liefs vermy word. ‘n Volksraad, ter wille van ko-ordinering is wel nodig, maar dit moet onderhorig aan die streke bly. As teenvoeter vir verdere versplintering, moet lojaliteit, nie net aan die eie streek nie, maar ook aan die hele Afrikanerland gekweek word.

Klein is mooi! Ons ken almal die sêding van in kleindorpies weet almal mekaar se besigheid. ‘n Mens noem dit deursigtigheid, iets wat nie altyd in groot staatsburokrasie  of multinasionale maatskappye te vinde is nie. In ‘n klein gemeenskap is die gemeenskaplike aktiwiteite nie net nader aan diegene in beheer daarvan nie maar ook sig- en tasbaar vir, selfs deelnemend deur, die betalers daarvoor. Hoe verder aktiwiteite verwyderd van Jan Alleman af raak hoe groter die vermorsing, misbruik en korrupsie.

Orania is ‘n pragtige voorbeeld van klein wat mooi is. Die dorp word goed bestuur danksy die deursigtige aard van die opset. Die gewone belastingbetaler daar is daagliks in kontak met die aanwenders van sy belastinggeld. Sou dit nog so deursigtig wees as die sentrale regering groot bedrae geld daar bewillig het? Ek glo nie so nie. Dit sou waarskynlik, soos in so baie gevalle elders, aasvoëls daarheen gelok het, op soek na iets te ase.

Die westerse wêreld toon tekens van verval en of daar ‘n kentering sal kom is nie duidelik nie! Kom ons bepaal ons by ons eie probleme en bou aan ‘n toekoms waarin waarheid en geregtigheid voorrang geniet. In ons soeke na ‘n gesonde en volhoubare leefruimte, uit die nasiestaat-moles uit, het ons reeds vir Orania as ‘n werkbare voorbeeld. Kom ons bou daarop voort.

Die Orania-model inspireer reeds ander Afrikanergroepe. Hetsy dit inisiatiewe in die vorm van vakansieoorde, eko-dorpe, kibboetse of bloot vestiging in bestaande dorpe in die geteikende gebied is, kom ons ondersteun dit.

Dit gaan nie oor ons eie rustige oudag nie, dis ‘n sinvolle toekoms vir ons nageslag wat op die spel is. Help bou daaraan, raak betrokke!

8 gedagtes oor “Ons en die nasiestaat-moles!

  1. Briljante stukkie insig oom Ben!

    Ek sekondeer so ‘n voorstel van uitvoerende vermoë op gemeenskapsvlak, met die nodige deursigtigheid, soos dit hoort.

    So is dit dan ook in Orania vir elke aandeelhouer moontlik om op versoek die Dorpsraad te noop om hul finansiële state vir inspeksie aan ‘n aandeelhouer voor te lê.

    Absoluut deursigtig, soos dit hoort….!!!

  2. Marius Buys

    Meneer u denke is ligjare vooruit. Ek stem heelhartiglik saam met een voorvereiste:

    Hoe oorreed jy n gesetelede en hoogs dominante magsgroepering om hulle mag prys te gee in ruil vir jou visie?

    Mooi vra, redeneer, argumenteer en selfs geregtelike stappe val op dowe ore.

    1. Mens vat hulle aan op hul uitdaging: “confront us with a reality that we cannot ignore” – Thabo Mbeki; en hul uitsprake: “the ideal of some Afrikaners to create a home for the Afrikaner language and culture in the North Western Cape is viewed by the government as a legitimate ideal” – Vali Moosa.

      De facto Afrikaner staatstigting is reeds aan die gang. Dit word met passie vanuit Orania ontwikkel. Mens hoef niemand behalwe jouself te oorreed om vry te wees nie… en as mens jouself moet oorreed eerder as om dit instinktief te weet, dan is daar talle lae van breinspoeling wat eers van ontslae geraak moet word voor mens werklik vry kan wees.

  3. Due process – Ordered Liberty
    http://pjmedia.com/andrewmccarthy/2012/05/13/welcome-to-ordered-liberty/

    Hier ‘n aanhaling wat histories (mede) ten grondslag lê aan die begrip individu in die rechtsfilosofie.

    Both the clause in Magna Carta and the later statute of 1354 were again explained in 1704 (during the reign of Queen Anne) by the Queen’s Bench, in the case of Regina v. Paty.
    In that case, the House of Commons had deprived John Paty and certain other citizens of the right to vote in an election, and had committed them to Newgate Prison merely for the offense of pursuing a legal action in the courts. The Queen’s Bench, in an opinion by Justice Powys, explained the meaning of “due process of law” as follows:

    It is objected, that by Mag. Chart. c. 29, no man ought to be taken or imprisoned, but by the law of the land. But to this I answer, that lex terrae is not confined to the common law, but takes in all the other laws, which are in force in this realm; as the civil and canon law…. By the 28 Ed. 3, c. 3, there the words lex terrae, which are used in Mag. Char. are explained by the words, due process of law; and the meaning of the statute is, that all commitments must be by a legal authority.

    Ek het die filosofie agter Orania soos nou deur mnr.Le Roux uiteengesit eerder gelees van mnr. Flip Buys van Solidariteit.
    Maar in die Afrikaner debat oor selfbestuur en ook in hierdie artikel word ten onterechte die internasionale reg op selfbeskikking, reg van assosiasie verwar met die (nog) afwesigheid van ‘n gebied.
    Daarom propageer ek om met ander gelijkdenkende etniese groepe soos Inkatha, Khoi ens as blanke gemeenskap na ‘n voorlopige raad vir die Konfederasie te werk. Hierdie voorlopige raad bespreek moontlike gebiede en aanvaar die grondbeginsel van ‘n Confederale Verdediging Organisasie gelei deur die toekomstige onderskeie ‘nasie’ state.
    Uitgangspunt vir die blanke gemeenskap in die Confederale debat moet wees om diens hoë (hoogste) arbeidsproductiviteit veilig te stel en te vergroot op enige geografies gebied en ekonomiese gebied in die belang van alle ander etniese groepe en veral op die gebied van die voedsel voorsiening op langtermyn.

    1. “Maar in die Afrikaner debat oor selfbestuur en ook in hierdie artikel word ten onterechte die internasionale reg op selfbeskikking, reg van assosiasie verwar met die (nog) afwesigheid van ‘n gebied.”

      Nie waar nie. Die gebied is in die Noordwes Kaap – alhoewel nog net ongeveer 10 000 ha daarvan deur ‘n oorgrote meerderheid Afrikaner bevolking bewoon word en onder Afrikaner bestuur is. 21 jaar terug was hierdie gebied maar net 140 ha groot. Duidelik brei ons uit op ‘n volhoubare wyse!

  4. hannes

    Hierdie is vir my ‘n baie goeie artikel waarmee ek werklik kan saamstem. Eerlikwaar, ek het al meer as eenmaal gedink, sommer net by myself, dat kleiner gemeenskappe beter sal werk, maar ek het nie te veel aandag daaraan gegee nie; ek het gedink ek is laf en dit is onrealisties, hoe suksesvol dit ook al mag wees. Maar nou klink dit vir my asof dit moontlik is en eintlik die doewit is! Ek is maar ‘n leek waneer dit kom by regering- of gemeenskapstrukture — ek weet nie wat ‘n ou dit sal noem nie — maar ek is bly hieroor; ek kry die idee dat dit meer van ‘n bekende, erkende of amptelike konsep wat toegepas word; meer as net ‘n gedagte in my agterkop.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s