Deel 4 van Orania vrae en antwoorde: kultuur, erfenis en opvoeding.

In deel 3 het ons gesels oor geloof en sosio-ekonomiese vraagstukke. In die vierde en laaste deel van “Orania: gereelde vrae en eerlike antwoorde” gaan ons vrae beantwoord wat handel oor  kultuur, erfenis en opvoeding op Orania.

1. Hoe word die Afrikanerkultuur uitgeleef in Orania?

Om mee te begin is Afrikaans die taal wat orals gebruik word in Orania. Dis nie net die omgangstaal van die mense nie, maar ook die taal van die besighede en die instellings, van advertensies, dorpskoerant, radiostasie, noem maar op. Hoeveel plekke in die wêreld kan mens besoek waar Afrikaans die enigste amptelike taal is?

Verder het ons ook ons eie Afrikaner-kultuurdae soos Bittereinderdag, Stigtingsdag, Geloftedag, Taaldag en ander wat op toepaslike wyse gevier word. Op gereelde grondslag vind ook toneelopvoerings, konserte, cantus, volkspele, gediglesings, boekbekendstellings, werkswinkels, konferensies ens. plaas, natuurlik alles in Afrikaans.

Die twee skole is ook bedrywig om kinders meer oor die Afrikanerkultuur te leer en skoliere is gereeld by kulturele aktiwiteite betrokke.

Hier is ook twee museums, Monumentkoppie en ‘n Afrikana-biblioteek wat Afrikaanse kultuurskatte bewaar en aan die mense bekendstel.

2. Aangesien julle sê dat julle nie teruggryp na die verlede toe nie, verduidelik dan hoe daar opnuut gedink word m.b.t. die Afrikanerkultuur op Orania?

Ons glo daaraan dat Afrikaners ook na die einde van die ou Suid-Afrika ‘n toekoms en ‘n reg op voortbestaan het. Alhoewel ons ook die era van die Nasionale Party bewind as deel van ons geskiedenis beskou, beskou ons dit beslis nie as die hoof- of enigste verwysingsbron nie.

Die Afrikaner se kultuur en geskiedenis strek baie wyer as die ou Suid-Afrika! Daarom ontwikkel ons ook nuwe simbole, wat wel eg Afrikaner is en waarin kenmerkende kleure gebruik word, maar wat nie net ‘n voortsetting van ou simbole soos die Vierkleur of die Unievlag is nie.

Orania se simbool, die seun wat sy mou oprol, is uniek en ‘ nuwe skepping wat ‘n nuwe era met eie arbeid uitbeeld. Die Koeksistermonument is ’n voorbeeld van ’n oorspronklike manier om die bydrae van vroue tot die Afrikaner se ontwikkeling te eer deur op die middel en nie persone te fokus nie.

Orania ontwikkel ook nuwe konsepte wat wegbeweeg van die ou denke. Te veel behoudende organisasies kla net oor dit wat verkeerd is en pleit vir ‘n voortsetting van gevestigde omstandighede.  Ons het ‘n eie werketiek ontwikkel en is voor op die veld van volkseie arbeid, iets wat aan Suid-Afrika vreemd is, maar in vooruitstrewende, homogene samelewings algemeen is.

3. Wat van al ons kultuurskatte en erfenis in ander dele van Suid-Afrika? Gaan ons ons monumente, standbeelde en museums op die ou einde moet prysgee?

Afrikaner monumente is vir elke opregte Afrikaner kosbaar. So belangrik soos wat die behoud van Afrikaner erfenis en monumente is, glo ons egter nie alleenlik aan agterhoed gevegte nie.

Die Orania Beweging is betrokke by die bewaring van ons erfenis en werk graag saam met die Erfenisstigting, wat na monumente soos die Voortrekkermonument en die Bloedrivier Erfenisterrein omsien.

Of ons die monumente en kultuurskatte uiteindelik gaan moet prysgee is ‘n ope vraag. Feit is dat Afrikaners buite Orania meer moet bydra en meer aktief moet wees as hulle hul monumente wil behou. ‘n Monument wat vergete raak en verval sal makliker gesloop word as een wat gereeld besoek en behoorlik onderhou word.

Orania kon wel help met die hervestiging van monumente wat verwyder is, soos die Ierse Vrywilligers Monument uit Johannesburg en allerhande kop- en borsbeelde van Afrikaner volksleiers. Orania is die enigste dorp (saam met Kleinfontein) waar so iets moontlik is omdat dit deur Afrikaners beheer word en Afrikaner monumente deur die inwoners gewaardeer en versorg word.

Laastens moet ons ook onthou dat monumente altyd weer herbou kan word, maar dat ‘n volk wat dood is, nie herskep kan word nie. Die oorlewing van die Afrikanervolk is belangriker as die behoud van monumente wat ‘n vergane volk herdenk.

4. Is alles op Orania Afrikaner-sentries, of leer die kinders in jul 2 skole darem iets van die wêreld buite Orania?

Ja, Orania is Afrikaner-sentries want ons glo dat kinders eers hulle eie volk se kultuur en geskiedenis moet ken en liefhê en goeie Afrikaans moet kan praat en skryf voor hulle met ander volke se tale en kulture kennis maak. Laasgenoemde is egter belangrik en kinders leer op skool genoeg van ander volke in Suid-Afrika asook van die buitewêreld.

Daar is gereelde blootstelling aan buitelandse besoekers van enige land denkbaar. Buitelandse joernaliste en studente voer gereeld onderhoude met Orania se skoliere oor die lewe in Orania en bied dan gewoonlik klasse aan oor die lewe in hul lande van oorsprong.

Talle Oraniërs het familie of vriende in die buiteland terwyl alle kinders Engels as verpligte vak op skool neem.

Radio Orania het benewens plaaslike gerigte ook programme oor wêreldgebeure en oor ander lande. Elke kind is met die internet vertroud, dus is daar ook op hierdie terrein oorgenoeg geleentheid om “die wêreld daarbuite” te leer ken. Niks op Orania word gesensor nie met die uitsondering dat die plaaslike internet diensverskaffer pornografiese webwerwe blokeer.

Die idee wat sekere mense het, dat Orania ‘n geïsoleerde en agterlike sekte-dorp is, is vêr van die waarheid af en sê eerder iets van die onkunde en isolasie van diegene wat sulke opinies aanhang.

5. Gaan die kinders op Orania kan aanpas by die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap as hulle bv. na skool iewers anders wil werk of studeer?

Orania se kinders lewe nie in ‘n kokon nie. Elke Oraniër besoek gereeld stede en dorpe elders. Mense het familie en vriende in ander dele van suidelike Afrika en die wêreld, so daar is gereelde wisselwerking.

Wat die skole aanbetref, presteer Orania se jongmense juis besonder goed en maak puik studente. Verskeie Orania-kinders studeer tans by universiteite orals in Suid-Afrika.  Sedert hulle stigting behaal inwonende kinders ‘n 100% slaagsyfer by Orania se twee skole.  Orania-kinders het dus eintlik ‘n voorsprong bo kinders van meeste staatskole wie se standaarde daal.

Die waardes en goeie maniere stel hulle juis in staat om mense van enige land en afkoms met respek te behandel. Daar waar alewig wrywing op skoolvlak tussen leerlinge van verskillende agtergronde is, ontstaan minagting en haat, maar in die geordende en homogene opset van Orania word respek geleer. As Orania-kinders buite studeer of werk is hulle juis goeie ambassadeurs vir Orania en help hulle sodoende om ‘n goeie beeld van ons dorp en strewe oor te dra.

Laastens moet eerder die vraag gevra word hoekom dit van Afrikaners verwag word om in ‘n gemengde, verengelsde samelewing sonder Christelike waardes in te skakel? Watter voordeel bring dit vir enigiemand? Vir die medium-termyn sal ons ons kinders toerus om ook in die gemengde en Engelse Suid-Afrika te kan werk en woon, maar ons langtermyn doelwit is om vir al ons kinders werk in die Afrikaner Volkstaat te gee sodat hulle nie teen hulle sin moet woon en werk waar hulle nie wil wees nie.

10 thoughts on “Deel 4 van Orania vrae en antwoorde: kultuur, erfenis en opvoeding.

  1. Henri

    Jammer vir my dom vraag, maar verduidelik asb aan my, bittereindersdag, stigtingsdag en Taaldag. Baie insiggewende artikel, maar wil ek die bewering waag, dat Afrikaans altyd saam met Engels in die besigheids wereld sal saamloop. Selfs as ek verder wil studeer sal ek by ‘n punt kom waar ek geen ander keuse gaan hê as om, Engels te studeer nie. Gaan die beginsel ook toegepas word, waar die leerder Afrikaans, Engels en ook ‘n derde taal, bv. Zoeloe kan leer.

    1. Henri, dankie dat jy vra.

      Bittereinderdag (31 Mei) herdenk ons ons voorvaders wat tot die bittereinde gestry het vir hul vryheid op die slagvelde en in die Britse konsentrasiekampe gedurende die Tweede Vryheidsoorlog.

      Stigtingsdag (6 April) herdenk ons die aankoms van Jan van Riebeeck en die eerste setlaars op die Drommedaris, De Reyger en De Goede Hoop. Hul aankoms aan die Kaap op 6 April 1652 het gelei tot die planting van die Afrikanervolk. Orania was, heel ironies, amptelik op 6 April 1991 gestig.

      Taaldag (14 Augustus) vier ons die Afrikaanse taal wat ten spyte van sterk aanslae vanuit Engelse en Hollandse kringe gevestig was as ‘n akademiese taal. Op 14 Augustus 1875 was die GRA (Genootskap van Regte Afrikaners) gestig in Paarl, wat gelei het tot die ontstaan van Die Patriot – die eerste publikasie in die geskiedenis wat in Afrikaans verskyn het.

      Geen taal leef in isolasie nie. As mens besigheid met Engelse kliente doen dan sal mens Engels vlot moet kan praat. Dieselfde reel geld vir Frans, Duits, Mandarin of watter taal jou mark ook al verkies om te praat. Daar is nie ‘n probleem om tersiere studies in Engels of watter taal ook al te doen nie – die punt is dat ‘n Afrikaner nie van die geleentheid weerhou moet word om ook in sy moedertaal te studeer nie.

      Ek weet nie van ‘n enkele gegradieerde Afrikaner, wat van gr. 1 tot gradieering in Afrikaans studeer het, wie nie Engels magtig is nie. Dus dink ek dat Afrikaners ‘n voorsprong oor die meerderheid Franse, Duitsers, Engelse ens. het, in die sin dat ons nie net in ons eie taal kan studeer nie, maar ook tweetaling is. Dit gaan enige logiese denkende mens se verstand te bowe dat sommige mense nie die waarde hiervan kan insien nie.

  2. Die kinders van Orania leer beslis Engels: “…Talle Oraniërs het familie of vriende in die buiteland terwyl alle kinders Engels as verpligte vak op skool neem…” So indien hulle dit ooit sou nodig hê, het hulle die vaardigheid. Talle lande se mense is voorste handelaars sonder om uitstekende Engels te besig.
    Kan iemand van Orania asb vir Henri antwoord op sy eerste vraag? Ek glo al daardie dae herdenk belangrike persone/mylpale in ons geskiedenis.

  3. Ek haal my hoed vir julle af. Initiatief en kreatiwiteit is dinge wat ‘n mens nie kan koop nie.

    Wat die Taal kwessie betref wil ek vir interesantheid noem dat die Moedertaal van die meerderheid mense in Europa Duits is.
    Hier waar ek woon is ek en my vrou die enigste mense waarvan ek weet wat Engels kan praat. Jy kan soveel engels praat as wat jy wil, jy sy sal in Duitsland nie regkom totdat jy Duits kan praat nie.

    Daar was ‘n tyd wat Duits verplig was in Afrikaanse skole, ek was nie in hierdie tyd op skool nie en het geen idee wanneer, waarom en onder wiese bewind dit opgehou het nie.

    Ek dink ‘n groot fout was om ons so veel en so graag aan Engels en Engelse lande te orienteer. Hulle is meestal ‘n vrot klomp mense en het nie veel om ons te bied nie. (Die mense bedoel ek, nie die taal nie.)

    Die Duitse mense is veel eerder mense met wie ons vriendskap moet soek, ek dink ons kan baie by hulle leer.
    Akademies kan ons in Duits alles leer wat ons in Engels kan leer en as dit kom by die hoogste vak Filosofie dan wil ek amper sê dat alles wat iets wêrd is, oorspronklik in Duits geskryf is.
    Wat Theologie betref is Duits op veel hoër vlak teensy jy belangstel in amerikaanse pop-Christenskap.
    Wat Industrie betref is Duitsland die leier in Europa.

    Ek wil nie noodwendig Duits en Duitsland ophemel nie ek wonder net hoe dit gebeur het dat ons, ons vriendskap met Duitsland verloor het.

    1. Andre, ek stem ten volle saam met jou. Te veel Afrikaners plaas heeltemal te veel klem op Engels. Ek is in die toerisme industrie en sal beslis nie honger slaap as my maatskappy ons dienste slegs in Duits verkoop het nie.

      Die rede dat Engels die Suid-Afrikaanse samelewing en ekonomie domineer is eenvoudig omrede byna alle Suid-Afrikaners in akademiese en besigheid kringe Engels as tweede of derde taal praat.

      In ‘n Afrikaner Republiek sal Engels heeltemal in die agtergrond wees, soos dit bv. in Duitsland is, omrede handel hoofsaaklik in Afrikaans gedryf gaan word. Ons sien hierdie verskynsel reeds in Orania – almal kan Engels praat, maar hoekom sal twee Afrikaners met mekaar in Engels komminukeer wanneer daar ‘n transaksie plaasvind? Dus sal jy sien dat bv. alle restaurante op Orania net Afrikaans gebruik op hul spyskaarte (soos alle restaurante in bv. Toulouse se spyskaarte in Frans is).

      Orania (en by implikasie die toekomstige Afrikaner Republiek) se ekonomie funksioneer in Afrikaans, dus is dit van uiterse belang dat Afrikaans as aanvoertaal gehandhaaf word in Orania se skole. Soos mense nie ver in Duitsland gaan kom as hulle nie Duits kan praat nie, so ook gaan mense nerens in Orania kom as hulle nie Afrikaans kan praat nie. Hierdie reel geld egter nie meer vir Suid-Afrika nie (m.b.t. Afrikaans).

      Die Afrikaanse taal kan slegs verder ontwikkel in ‘n omgewing soos Orania juis omdat die taal hier in alle aspekte van die samelewing bemagtig word. Afrikaans gaan oor ‘n paar geslagte ‘n stadige dood sterf in Suid-Afrika, maar hy gaan wel floreer in die Afrikaner Republiek.

  4. Hierdie is ‘n baie insiggewende artikel en seker die een in die reeks wat die meeste persoonlik met my spreek. Dit wys daarop dat kultuur oorleef deur fisies elke dag uitgeleef te word in ‘n ruimte wat aan jou die geleentheid en spasie daarvoor bied.

    Hierdie werklikheid word selde verromantifiseer en vasgevang in gedigte of boeke, maar dit is op die ou end wat die verskil maak. Die held wat veg om kulturele behoud of oorlewing is niks sonder die gewone manne/vroue wat net elke dag hul kulturele hart met passie uitleef nie.

    Om elke dag onbeskaamd as ‘n Afrikaner te leef is die grootste bydrae wat elkeen van ons tot ons kulturele oorlewing kan lewer.

  5. DAWID BOTES

    Ek woon nie in Orania nie,maar is al vir sowat n jaar n lid,en het die grootste respek gekry vir die manier waarop julle dinge doen.Ek Glo met harde werk en deursettingvermoe kan julle berge versit.Ek weet nie of ek ooit die geleentheid sal kry om ook daar te gaan woon nie,maar ek dink dis een van die grootste voorregte om jou kinders in so naiewe en sorgvrye omgewing te kan grootmaak,waar mens nog mens kan wees,en die een omgee vir n ander,in n liefdelose en bandelose wereld.En waar mooi nog mooi kan wees.Ek besef dat geen plek perfek is nie,maar die normes en vlak van selfrespek wat julle probeer hou,behoort deur enigeen wardeer teword.Hou asb vol daarmee,en alles van die beste.

    1. Dis nie die eerste keer dat hierdie vraag gevra word nie. Kan iemand ons asb antwooord, al is dit net erkenning dat niemand n antwoord kan gee nie omdat niemand weet nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s