Blik na buite: Woelinge in die Moslemwêreld

Egipte: Presidentsverkiesing 

Die eerste vrye en regverdige presidentsverkiesing in ‘n lang tyd, en die geskiedkundige eerste presidentsverkiesing na die opstande wat lang-termyn president Mubarak ontsetel het, het onlangs plaasgevind. Reeds met die parlementsverkiesing vroeër vanjaar was dit duidelik dat die Moslem-Broederskap sterk na vore kom.

In die eerste rondte van die presidentsverkiesing het twee kandidate as wenner en naaswenner na vore gekom wat twee uiteenlopende pole verteenwoordig en wat teen mekaar sal staan in die uitkloprondte op 17 Junie.

Die kandidaat van die Moslem-Broederskap, Mohammed Mursi, het sowat 24% van die stemme gekry. Hy is ‘n 60-jarige ingenieur wat min charisma het en eintlik die Broederskap se tweede keuse was nadat hulle leier gediskwalifiseer is. Hy is egter ‘n goeie beredeneerder en het ‘n koel kop. Hy staan vir ‘n Islamitiese herlewing en beskou ‘n terugkeer na die weë van Islam as die antwoord tot die magdom probleme wat Egipte tans kniehalter, soos stygende misdaad, die verval van wet en orde en ekonomiese agteruitgang.

Hy bepleit wel ‘n “gematigde” Islam en onderskei hom van die fundamentalistiese Salafiste-beweging, wat staan vir ‘n teokrasie, maar wie se kandidaat nie toegelaat is nie. Die Muslim-Broederskap kon staat maak op sy gevestigde netwerk onder veral die armes en die plattelanders, waar hulle met gemeenskapswerk en duidelike boodskappe die harte van die eenvoudige mense gewen het, alhoewel mnr. Mursi se relatief lae profiel en gebrek aan bekendheid teen hom getel het.

Die naaswenner is mnr. Ahmed Shafiq, met sowat 23% stemme, wat die laaste Eerste Minister onder president Mubarak was en dus as verteenwoordiger van die ou bewind gesien word, wat juis omvêr gewerp is. Hy het ‘n militêre loopbaan gevolg soos feitlik almal van die ou elite, was ‘n voormalige bevelvoerder van die lugmag en het goeie kontakte met die weermag wat tans die mag in Egipte in die hande hou en wat ook in die toekoms onder ‘n verkose president ‘n belangrike magsfaktor sal wees.

Hy word beskou as ’n bekwame en effektiewe administrateur. Mnr. Shafiq verweer hom teen aantygings dat hy die ou bewind wil voortsit. Hy volg eerder die konserwatiewe logika, dat Egipte se transformasie van ‘n langtermyn-diktatorskap na ‘n demokrasie geleidelik moet geskied en dat ‘n revolusionêre verandering net chaos en bloedvergieting meebring.

Hy sien homself as die man wat die oorgang kan bewerkstellig omdat hy die ou bewind kan saamneem en geleidelik kan laat inkoop in die nuwe era. Hy is ook aan geen politieke party verbind nie en sal in elk geval met die Moslem-Broederskap, wat die meerderheid in die parlement het, moet saamwerk. Sy steun lê veral by die ou elite, die middelklas, die sakemanne en almal wat by ‘n radikale verandering sal verloor. Ook dele van die stedelike laeklas wat bekommerd is oor die groeiende misdaad en wat ‘n sterk man soek, het vir hom gestem.

Die kandidaat van die woedende en revolusionêre jeug, die links-liberale Hamdeeh Sabbahi, het derde gekom wat nie voldoende is vir die volgende rondte nie. Hy het veral goed gedoen in die stede en onder die jeug en die progressiewe middelklas.

Die revolusionêre jeug het die uitslag as ‘n skok beskryf en het nou die keuse tussen twee euwels. Kort na die uitslag was daar weer gewelddadige betogings op Kairo se hoofplein, waar mnr. Shafiq se verkiesingskantoor beskadig is.

Alle kandidate het hulle verbind tot die revolusie, maar beskuldig mekaar daarvan dat hulle dit vir eie doelwitte misbruik. Soos met meeste revolusies skep dit baie energie waarmee die ou orde weggevee word, maar daar is geen uitgewerkte plan vir ‘n tyd daarna nie. Derhalwe lewer talle revolusies groot teleurstellings, hartseer en geweld op.

Ons kan byvoorbeeld aan die Franse Revolusie dink waar ‘n onregverdige bewind na ‘n kort tyd van euforie en ‘n gevoel van vryheid vervang is deur ‘n radikale bewind wat heeltemal oorboord gegaan het en nie net die ou orde nie, maar ook enigiemand wat as te gematig beskou was laat doodmaak het. In die ou einde het die revolusie net weer ‘n nuwe dinastie (Napoleon) tot gevolg gehad.

Dit geld ook vir die Russiese Revolusie, waar een gewelddadige bewind deur ‘n erger een verplaas is, met baie geweld en onderdrukking.

Intussen is die eertydse diktator, Hosni Mubarak, gevonnis. Hy gaan vir die res van sy lewe in die tronk sit weens hy die slagting van betogers beveel het. Sy seuns wat van korrupsie aangekla was, is egter vrygespreek, asook polisiehoofde wat ‘n aandeel in die onderdrukking van die betoging gehad het. Die vrysprake het weer tot nuwe betogings en onluste gelei.

 

Sirië: Burgeroorlog kry nuwe dimensie van geweld

Een land waar die opstande in Arabië nie tot ‘n min of meer vreedsame verwydering van die leier gelei het nie, maar tot ‘n burgeroorlog, is Sirië. Dit was een van die lande waar die betogings eers later en redelik versigtig begin het en aanvanklik het dit gelyk asof dit weer sou oorwaai, soos in Algerië, omdat die diktator, Basjer al-Assad, te stewig in die saal sit.

Intussen, sedert die begin van die jaar, stuur dinge egter meer en meer in die rigting van ‘n volskaalse burgeroorlog soos in Libië in die onlangse verlede. Net soos mnr. Gaddafi ‘n jaar gelede gaan mnr. Assad oor tot genadelose onderdrukking. Duisende mense is reeds gedood in gevegte en lugaanvalle op stede en dorpe wat deur die opstandiges beheer word.

‘n Wapenstilstand wat die VN se verteenwoordiger, die voormalige sekretaris-generaal, Koffi Annan, onderhandel het, is dadelik weer verbreek. Daar is wel sanksies teen Sirië toegepas, maar ‘n algehele veroordeling deur die VN word gekeer deur Sirië se bondgenote (die gewone verdagtes) Sjina en Rusland, wat as ‘n reël teen die Weste se drie permanente lede, VSA, Brittanje en Frankryk staan en besliste optrede belemmer, soos ook in die geval van Libië (of vroeër, Serwië).

Die oorlog het nou ’n nuwe dimensie gekry nadat in die dorp Houla, wat onder beheer van die opstandiges was, pro-regeringsmilisies ‘n slagting aangerig het en doelbewus van huis tot huis gegaan het en gesin na gesin doodgeskiet het. Sowat 100 mense, talle daarvan vroue en kinders, is summier tereggestel. Dit het die internasionale gemeenskap laat skrik en na ‘n nuwe rat laat oorskakel. Sirië se konflik is nou skielik weer hoog op die agenda.

Verskeie Westerse lande het onmiddellik Siriese ambassadeurs huis toe gestuur. Frankryk is, soos destyds met Libië, op die voorpunt van diegene wat selfs ‘n militêre ingryping soortgelyk aan die in Libië, oorweeg.

Skerper sanksies word nou bespreek en selfs Sjina en Rusland sal dit nou moeilik vind om Sirië se regering langer te probeer beskerm. Assad het wel ‘n kru samesweringsteorie verkondig: die moorde is deur “terroriste” (‘n term vir sy teenstanders) gepleeg wat op die manier Westerse inmenging wil afdwing.

5 thoughts on “Blik na buite: Woelinge in die Moslemwêreld

  1. Sebastiaan, dankie dat jy ons op hoogte hou van gebeure wat in die Moslemwereld aangaan. Ten spyte van die feit dat Islam ‘n bedreiging inhou vir wereld vrede sien mens orals in Suid-Afrika nuwe moskees in aanbou. Islam floreer in tollerante lande met multikulturele samelewings, met die gevolg dat geloofsvryheid die teelaarde vir ekstremisme skep. Islam mag nie toegelaat word in die toekomstige Afrikaner Republiek nie!!

  2. Henri

    Dankie Sebastian, insiggewende artikel. Ek dink ons kan nou min of meer die effek aanvoel wat die Israeliete vir jare ervaar. Die verblydende aspek is, dat die wederkoms van ons Skepper nie meer ver is nie. Al hierdie dinge moet gebeur ter voorbereiding van die groot onderdrukking en gepaardgaande. Kommerwekkend en tog verblydend.

  3. Andre de Kock

    Die grootste nuus in Israel die week is die gedwonge verskuiwing van onwettige immigrante uit Soedan en Eritrea wat in die suidelike dele van Tel Aviv plak met gepaardgaande misdaad en verkragtings. Na opstande deur die Joodse bevolking word hierdie indringers nou verkuif na ‘n tentedorp. Die res van die wereld skree “apartheid” maar Netyanahu en sy regering gaan voort met die arrestasies en verskuiwing met die verklaring dat die onwettiges die karakter, tradisies en aard van die Joodse staat bedreig.
    Aartsbiskop Desmond Tutu het onlangs daar opgetree en beswaar gemaak en word nou deur die Jode verguis vir sy uitsprake.
    En die wiel draai en die kierangs braai….

  4. Maryna

    Daardie “kru samesweringsteorie” van Assad gaan julle aan julle eie bas voel as die buitelandse inmengers (binnekort) die Malemas en die youth leagues teen die ANC regering bewapen en julle staan in die middel. Dit kom, wees maar voorbereid daarop.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s