Vryheid of gelykheid? Of albei?

Daar woed al vir lank ‘n debat oor watter waarde hoër geag moet word, vryheid of gelykheid. Die aard van die twee waardes verskil nogal duidelik van kultuur tot kultuur en land tot land. Deur die eeue heen word onderskeidelik die een hoër geag as die ander een.

Die VSA word algemeen beskou as die bakermat van persoonlike vryheid, waarvoor mense bereid is om groot ongelykhede te aanvaar, solank almal wel die moontlikheid het om sy eie geluk na te jag. Dit is een van die kern beginsels van die Amerikaanse grondwet.

Onder die Obama-bewind het die skaal egter meer na gelykheid geneig en die omstrede gesondheidswetgewing wat aan almal mediese dekking wil besorg word deur talle as ’n aanval op die persoonlike vryheid van keuse gesien en het in ‘n ideologiese debat ontaard.

Die teenpool is kommunistiese lande waar gelykheid die hoogste waarde is en persoonlike vryheid tot die absolute minimum beperk word.

Daar is gedurig afwisselende golwe tussen vryheid en gelykheid. Na die val van die Ystergordyn in 1989 was vryheid die strydkreet wat feitlik orals oor die wêreld heen opgeklink het en wat die kommunistiese diktatorskappe weggevee het.

Die vryheidsdrang was egter van korte duur en dieselfde mense wat hulle lewens vir vryheid wou opoffer het later vir partye gestem wat groter gelykheid belowe het en daarvoor meer en meer in mense se persoonlike lewe ingegryp het. Orals in Europa neem onsekerheid toe en daarom is mense bereid om ‘n sterk staat wat alles reguleer te aanvaar. Liberale, vryheidsgesinde partye is op die agtervoet, terwyl sosialiste en sosiaal-demokrate orals verkiesings wen.

Die Afrikaner was deur sy geskiedenis ‘n vryheidsliefhebbende volk, maar meer nog ‘n versameling vryheidsliefhebbende individue. Die oorspronklike trekboer het vryheid verstaan as om koning in die wildernis te wees, sonder bure en owerheidsgesag naby. Eers later het vryheid ‘n volkstrewe geword soos dit veral tydens die vryheidsoorloë die geval was. Vryheid is gewoonlik iets wat mens na hunker as jy dit nie het nie, en as jy dit het dan gee jy dit maklik weer op vir groter voorspoed of groter sekerheid.

Van watter vryheid praat ons hier? In die konteks van die volkstaatstrewe praat ons van volksvryheid. Dit is nie die tipe vryheid van die Wilde Weste of van die trekboere nie, waar elke ou doen wat reg is in sy oë, en daarom gedurig wrywings oor kompeterende eise is. Die vryheid wat ons bedoel is om as volk waarvan die individuele lede min of meer dieselfde waardes en lewensuitkyk het, oor onsself regeer en ‘n owerheid kies wat in ons belang optree en wat aan die volk verantwoording doen.

Maar wat dan van die ander waarde, gelykheid? Kan ons van ‘n vrye volk praat as daar groot ongelykhede is en as dele van die volk met haat en jalousie na die ander kyk wat welvarend is?

Totale gelykheid soos onder kommunisme is nie moontlik nie en ook nie wenslik nie. Skreiende armoede langs fabelagtige en spoggerige rykdom egter ook nie.

Die owerheid, ook in Orania, het ‘n plig om ter wille van vrede sekere minimumstandaarde daar te stel waar mense weens omstandighede dit nie self kan doen nie, soos om te sorg dat bekostigbare behuising en ‘n minimale mediese en werkloosheidsdekking beskikbaar is. Dit word egter van elke mens verwag om sy of haar bydrae te lewer. Armoede is geen verskoning om nie te werk nie. Slegs mense wat oud of gebreklik is het aanspraak op versorging deur ander, maar verkieslik nie deur die staat of die owerhede nie, maar deur maatskaplike instellings wat privaat bedryf word, soos kerke of liefdadigheidsorganisasies.

Welvarendes wat deur ondernemerskap en finansiële dissipline vir hulle ‘n goeie lewensstandaard geskep het, mag nie daarvoor gestraf word nie. Dit is egter ook in welvarendes se eie belang om die getal armes te verminder.

Werkskepping is die beste metode, en welvarendes is ook gewoonlik diegene wat uit die oorskot van hulle welvaart vir maatskaplike instellings of kerke op ‘n vrywillige basis gee. Herverdeling van rykdom deur middel van belasting (waarby die grootste deel nie werklik herverdeel word nie maar ‘n stelsel van burokratiese staatlike maatskaplike instellings aan die gang hou)  is die verkeerde weg.

Belasting moet eerder aangewend word om die regte gedrag te beloon, soos belastingtoegewings vir werkskepping en afskrywings vir donasies, of doeane op ingevoerde goedere, sodat plaaslike produksie en werkskepping aangemoedig word.

Ons moet aanvaar dat die armes altyd met ons sal wees, maar in ‘n hegte en etnies homogene gemeenskap is armoede en ongelykhede gewoonlik minder omdat mense meer omgee vir mekaar as in groot en diverse samelewings. Vergelyk net die vrede, voorspoed en relatiewe gelykheid in klein homogene lande, of eerder volkstate, soos Taiwan of Denemarke met die groot ongelykhede in ontwikkelende multikulturele lande soos Indië of Suid-Afrika.

26 thoughts on “Vryheid of gelykheid? Of albei?

  1. Vryheid verstaan ek. Gelykheid, wat is dit?

    As die strewe na vryheid beteken om soewerein te wil bestaan, onafhanklik en op jouself aangewese met geen ander standaard behalwe jouself nie, dan sluit dit die strewe na gelykheid uit want die strewe na gelykheid bestaan juis in die konstante vergelyking met die andere. Gelykheid het vergelyking nodig, ‘n tweede persoon. Vryheid nie.

    In hierdie sin is gelykheid en vryheid wedersyds uitsluitend.
    Gelykheid kan net bestaan as ons almal slawe is.

  2. Werner

    Werkskeppers behoort op die hande gedra te word, hulle is die rugstring van die ekonomie. Jaloesie of afgunstigheid teenoor werkskeppers deur werknemers is ondeurdag. In ‘n vryemarkstelsel staan dit enigeen tog vry om ‘n werkskepper te word? Werknemers wat nie werkgewers wil word nie agv risiko’s, het mos geen reg om afgunstig te staan teenoor werkgewers nie? Flukse, bekwame werknemers is altyd in aanvraag, selfs in ‘n moeilike ekonomiese klimaat. Ek dink Afrikaners is van nature hardwerkende mense, en as elkeen sy deel doen, kan daar volkome harmonie tussen ryker en armer Afrikanergemeenskappe wees. Wanneer die “baas” die goeie voorbeeld stel van harde werk wat beloon word, behoort die “klaas” ook gemotiveerd te wees. Uit my eie ondervinding is dit meestal “minder flukse” mense wat die klakouse is wanneer dit kom by die “have’s and not-have’s” debatte. Uitnemendheid, risko-nemers, vindingrykheid en harde werk MOET eenvoudig altyd aangemoedig word.

    Op ‘n meer pragmatiese noot, behoort wetgewing in die toekomstige volkstaat werkskepping te bevorder. As voorbeeld, salarisse is tans in die NSA nie BTW-aftrekbaar nie. Ek is nie ‘n boekhouer nie, en ek verstaan nie hoekom dit so is nie, dalk is daar ‘n goeie rede voor, maar as besigheidseienaar is al wat ek sien dat ek nog 14% op salarisse moet betaal. Dit beteken as ek ‘n nuwe pos wil skep of salarisverhogings gee, ek in ag moet neem dat dit in praktiese terme beteken dat ek moet begroot vir ‘n 14% uitgawe bo-op die salarisverhoging of nuwe salaris. Dit laat my twee keer dink oor salarisse. Natuurlik behoort arbeidswetgewing ook nie lui/skelm werknemers te beskerm soos tans die geval is nie.

    ‘n Ander saak wat my na aan die hart lê, is die vergoeding van lae-geskoolde arbeid. Ons het ongelukkig gewoond geraak aan die goedkoop swart arbeid. In eerstewêreldlande kan selfs ‘n toiletskoonmaker van ‘n skool redelike goeie behuising bekostig en sy gesin onderhou. Ek hoop dat vraag en aanbod in die volkstaat dieselfde sal wees, waar selfs die laags-besoldigde arbeiders vir hulle gesinne kan sorg sonder maatskaplike hulp. Dit moet egter nie deur wetgewing (minimumlone) afgedwing word nie, want dit sal weer slegs die luies tot voordeel wees.

    1. Uitstekend gestel Werner! Ek is tevrede om goeie werkers meer te betaal en self minder wins te maak. Dit maak my siek om te sien hoe min sommige werkgewers hul mense betaal en dan meer as 100% produktiwiteit en lojaliteit verwag. As mens ‘n werknemer op meriete aanstel en hom/haar ordentlik beloon vir sy/haar arbeid dan hoef mens nie gesonde produktiwiteit en lojaliteit te “verwag” nie, want jy sal dit in meeste gevalle outomaties ontvang. Dit begin dus om iemand op meriete aan te stel… vou daar en mens sal kort voor lank spyt wees.

  3. Anthony Schlemmer

    Gelykheid sal daar nooit kan wees wat inkomste betref nie. Mense sal nooit dieselfde salarise verdien nie. Daar sal net ‘n samehorigheid en liefde onder Afrikaners moet wees vir mekaar in ‘n volkstaat. Mense wat basiese dienste verskaf in so ‘n staat sal “op die hande” gedra moet word. Sonder hulle sal ons konsep van selfwerksaamheid ‘n vinnige dood sterf !

  4. Die konsep van vryheid vs die konsep van gelykheid. Dit is ‘n baie interresante verskynsel. Die twee word hier as teenpole gestel en dit mag wel korrek wees maar die konsepte van welsyn, maatskaplikke ontwikkeling en bemagtiging is natuurlik nie noodwendig afbrekend aan die idee van vryheid nie. Die probleem is dat ‘n volkstaat wat ekonomies kunsmatig geskep word binne ‘n gebied waar daar nie genoegsame hulpbronne of ‘n groot genoeg ekonomie bestaan nie, afhanklik is van belegging vir sy ontwikkeling. Dat die volkstaat vir ideologiese en nie ekonomiese redes geskep word is duidelik. Daar is sekeres wat Orania met die iere probeer vergelyk maar die Ierse model pas eerder by ‘n benadering soos die van OASE. Die Orania benadering groei glad nie vinnig genoeg om tans ‘n volkstaat te skep nie. Slegs deur die Israeli of Joodse sosialistiese model te volg sal dit moontlik wees on binne die groter omgewing van Orania ‘n volkstaat te skep. Die kwessie is of die skepping van die volkstaat die prioriteit is en of ideologiese en rasse teorie die prioriteit is? Dit sal Orania se toekomstige groei bepaal.

    1. Ebert

      Die konsepte van naasteliefde, ondersteuning, maatskaplike ontwikkeling en bemagtiging is inderdaad nie ‘n teenpool vir vryheid nie. Die suksesvolle modernisering van Afrikaners na die nederlaag van die Engelse oorlog is juis ‘n goeie voorbeeld van volkskapitalisme.

      Sosialisme en vryheid is egter wel onderling uitsluitend.

      Die rede waarom die Israeli’s ‘n sosialistiese model kon bekostig, was as gevolg van die finansiële steun wat hulle vanaf Westerse regerings (soos Engeland, Duitsland, VSA en Frankryk), Jode in diaspora (insluitend geldmagnate soos die Rothchilds) en evangelistiese Christene (wat glo dat die herstel van die Joodse staat ‘n voorvereiste vir die wederkoms van Christus is) ontvang het. ‘n Sosialistiese of gelykheidsideologie was ‘n voorvereiste vir die ontstaan van die Joodse staat omdat die Jode nie meer ‘n gedeelde taal en omgewingservaring gehad het nie. Jode wat brandarm was en slegs Russies kon praat moes saam ‘n land bou met ander Jode wat ryk was en Engels gepraat het of verskriklik getraumatiseerd was en Duits, Frans, Nederlands, Italiaans of Pools gepraat het. Gelykheid was hier die instrument wat die pad moes berei vir Vryheid wat kon volg nadat ‘n homogene gemeenskap gevestig is met ‘n gemene taal (Hebreeus, wat letterlik van die dood ontruk en gemoderniseer moes word). Byna elke Kibbutz is vandag ‘n kapitalistiese onderneming.

      Orania se vestigingsmodel verskil dus wesenlik van die van Israel en Afrikaners beskik eenvoudig nie oor die middele om so ‘n sosiale bestel te finansier nie. Ons het dit ook nie nodig nie.

      Orania se ekonomiese groei is direk afhanklik van die mate van belegging wat Afrikaners in Orania maak en die aantal mense wat daar vestig. Die totstandkoming van ‘n Afrikanerstaat in die Noord-Wes-Kaap kan dus eerder vergelyk word met die totstandkoming van Westerse state in Kanada, Australië en Nieu-Seeland. Ook in daardie lande was daar geen ekonomie voor vestiging nie, maar deur belegging, ontwikkeling en immigrasie is ekonomiëe geskep wat vandag van die voorstes in die wêreld verteenwoordig. Hierdie lande het elkeen ekonomiese vryheid as bakermat van suksesvolle en onstuitbare ontwikkeling gehad.

    2. Victor, ek sou nie se dat die Noordwes-Kaap enigsins minder hulpbronne bied om ‘n ekonomie van skaal te skep as bv. Ierland nie. Dis juis a.g.v. die feit dat hier tans nie ‘n “groot genoeg ekonomie bestaan nie” dat ons hierdie gebied gekies het om die volkstaat te ontwikkel. Niemand het gese dat dit oornag gaan gebeur nie – dit gaan meer oor hoe volhoubaar ons dit doen as oor hoe vinnig ons dit doen.

  5. Ebert

    Die Oase-model is nie vergelykbaar met die Ierse model nie. In Ierland leef Iere. Die Oase-gebied verskaf lewensonderhoud (blyplek, werksplek, kos en deurgang tussen blyplek en werksplek) aan meer Sotho’s en Zoeloes as wat daar Afrikaners op die aarde is. Daarbenewens is die Oase-gebied ekonomies geheel en al afhanklik van ANC-gesinde arbeid en ANC-beheerde verbruiksbesteding.

    1. Ebert ek kan nie meer met jou saamstem nie, absoluut puik argumente en pragtig verwoord! Die duidelikheid en insig van jou skrywe gaan jou voorlopers myle vooruit. Sin vir sin kroon jy die artikel met ‘n komentaar wat sekerlik net die beste artikels verdien en die moed wat jy openbaar daarin dat jy die waarheid so direk en onaangetas verkondig is merkwaardig. ‘n Afrikaner onder Afrikaners is jy! Mag een soos jy onder ons volk altyd te vinde wees! Prys Ebert, Prys Ebert. Ek is lief vir jou.

      1. Ebert

        Dankie, maar ek voel gevlei…

        Om een of ander rede wou my oorspronklike plasings nie verskyn nie, soe ek vermoed dit lê êrens tussen “spam” en “trash” op die blog se instrumentblad.

      2. Michael

        Andre ek het lanklaas so lekker gelag. Jou kommentaar op Ebert se skrywe is puik jy het my aand gemaak.

      3. Sjoe Oom Andre… was jy bietjie gewyn gewees toe jy hierdie kommentaar geplaas het? Word Press het Ebert se oorspronklike plasings as spam gesien… dis als behalwe! Ek het dit wel herstel.

      4. Nee, Mnr. Diederichs, dit was sommer ‘n grappie, ek drink nie. Ebert se oorsproklike komentaar het net die letter “a” as inhoud gehad, natuurlik het ek geweet dit was seker a.g.v. ‘n fout aan sy kant of aan julle kant of soos jy sê aan WordPress se kant.

        Noudat Ebert se “a” verwyder is maak my grappie ook nie meer sin nie. Darem kon ek een ou se aand maak.

        Ek wonder hoekom Ebert se komentaar as spam gesien is? Dalk gebeur dit as die helfde van die wêreld se lande, die woorde jode, christene, sosialisties en vryheid in een komentaar te lese is, wie weet?!
        Dalk sal dit goed wees as julle self sekere komentaar blok, komentare wat niks met die oorspronklike artikel te doen het nie byvoorbeeld.

  6. Beste Diederichs, dit is nie wys om op te styg terwyl daar ‘n Durenal in jou aanloopbaan le nie. So lui die Egiptiese gesegte.

    Die sosialistiese model van die Zioniste het die 2de wereld oorlog voorafgegaan. Dit was ‘n inherente ideologiese element van die Zionistiese stryd. Die rede daarvoor was dat dit die bekostigbare model was omdat daar kunsmatig ‘n ekonomie geskep moes word en omdat die vryemark model eenvoudig nie bekostigbaar was vir die vestiging van Jode binne Palestina nie. Die ander rede daarvoor was en is dat Zionisme wel sosialisme aanhang. Sosialisme kos eenvoudig minder in die vestigingsfase as wat ‘n vryemark stelsel sal kos. Sosialisme is glad nie ‘n voorvereiste om mense van verskillende lande, wat verskillende tale praat maar EEN geloof deel, te vestig nie.

    Orania se prestasie oor ongeveer 20 jaar was om 916 (is daar al 5 wat bygekom het?) inwoners te vestig binne ‘n klein gebied. Die syfers dui dus op ‘n stadige groei oor 2 dekades. Al die inwoners is ‘blank.’ Demografies weet ons dat daar wel ‘n redelikke bevolking in die Noord Kaap Provinsie woon. Die provinsie word deur die ANC regeer omdat die meerderheid van die inwoners vir die ANC stem. Die meerderheid van die inwoners van die Noord Kaap is Bruin Afrikaners of soos julle hul noem – kleurlinge.

    Aangesien Orania se beleid basies daaruit bestaan om slegs ‘blankes’ binne die ‘volkstaat’ toe te laat, is Orania ‘n ras gebaseerde ‘staat.’ Israel is ‘n Joodse staat, met blank en swart Jode, die basis van burgerskap is geloof en kultuur, nie ras nie. Binne die huidige rasse ideologie van Orania kan die uitbreiding van Orania, as ras gebaseerde staat, dus slegs geskied deur die verplasing van die Bruin Afrikaner meerderheid. Dit wil se Orania sal, om werklik ernstig te groei as volkstaat, die meerderheid van die inwoners van die provinsie waarin Orania gelee is dmv etniese reiniging moed verwyder. Die rede hiervoor is dat die inwoners nie gaan wil padgee nie en dat enige ekonomiese groei dan wel die bevolking lok.

    Ierland is ‘n eiland met ‘n homogene bevolking. Die Noord Kaap is ‘n streek met ‘n gemengde bevolking soos hierbo gemeld. Ierland het ‘n aansienlikke jaarlikse reenval, die Noord Kaap het nie. Iere het nie ‘n geskiedenis van rassisme en die onderdrukking van ‘n meerderheid mense van ander rasse binne hul land nie. Die ‘blanke’ Afrikaner daarinteen het wel so ‘n geskiedenis. Dit impliseer natuurlik reaksie vanuit die ANC en DA geledere tot Orania sowel as internasionale reaksie, sou Orania die onwaarskynlikke volksvestiging binne die Noord Kaap suksesvol aanpak.

    OASE poog om ‘n volkstaat te skep met ‘n afgebakende gebied waar Afrikaners wel die meerderheid vorm. Net soos Orania sal OASE ook binne SA moed funsioneer en met soortgelyke uitdagings moet worstel. Die idee dat die Noord Kaap om een of ander rede ‘n koverte streek is waar ‘n volkstaat stadig en ongesiens geskep kan word is pure fantasie. Orania was alreeds ongunstig op SABC. Die OASE en Orania benaderings is beslis nie uitsluitlik van mekaar nie en albei kan tegelyk voortgaan.

    Hitler het Rusland binnegeval en sodoende die mees gevorderde en magstigste land ter wereld tot op haar kniee gedwing. Dit kom van ‘n ja broer mentaliteit. Wat ek sien onder julle is nie ope vloei van inligting en debat nie maar eerder ‘n ja broer mentaliteit wat deur die werklikhede en die statistiek weerspreek word. Dit is maklik om Obama te spot en te se “Yes we can’t.” Dit gaan nie so aangenaam wees as die oorgrote meerderheid Afrikaners omdraai en se ” Yes you could’nt.” Hulle doen dit alreeds. So beste Quintin, noem my gerus papa.

    1. Ebert

      papa victor,

      Dit het die Jode ongeveer ‘n 1900 jaar geneem om met vestiging in hul gekose volkstaat te begin. Orania se vordering steek ook nie verskriklik af by dit wat gedurende die eerste 20 jaar van Zionisme gebeur het nie. In ag genome dat die Rothchilds mildelik bygedra het tot Zionisme reeds voor die tweede wereldoorlog. Die belangrikheid van die gelykheidsideologie vir die vestiging van die Israeli-volk kan ook nie met ‘n enkele sin wegredeneer word nie.

      Ek het vir geen oomblik die Noord-Kaap met Ierland vergelyk nie.

      Die tekortkominge van Afrikaners weens die klad van rassisme geld nie slegs vir Orania nie, maar ook vir OASE. So ook die steunbasis wat die Noord-Kaap vir die ANC bied (Alle munisipaliteite in die Vrystaat, Mpumalanga en Natal word deur die ANC beheer. Slegs Midvaal in Gauteng word deur die DA beheer). Maar jy is reg, OASE en Orania se strewes is nie onderling uitsluitend nie en dit is nie nodig om energie op hul verskille te mors nie.

      Die bekommernis oor die invloed van rassisme op ons strewe is geldig. Rassisme kan ons niks in die sak bring nie, tewens dit sal mense wat neutraal teenoor ons staan in vyande verander.

      Die vraag of die bruin gemeenskap as Afrikaners geklassifiseer kan word is ‘n belangrike vraag in die lig van die klad van rassisme op Afrikaners. Vooraanstaande lede van die bruin gemeenskap is absoluut gekant teen die gedagte om as Afrikaners geklassifiseer te word. Publieke uitsprake deur onder meer Alan Boesak en Danny Titus bevestig dit. Die bruin gemeenskap is beslis nie bereid om gekoopteer te word as kitsoplossing om die klad van rassisme van Afrikaners te verwyder nie.

      Die volgende struikelblok is die gebrek aan ‘n gedeelde geskiedensisbeskouing tussen die bruin gemeenskap en Afrikaners. Kan die bruin gemeenskap hulle vereenselwig met die grootste gebeurtenisse in die Afrikaner se verlede, te wete die Groot Trek, die slag van Bloedrivier, die Vryheidsoorloe en Apartheid? Ek verwag stellig nie.

      Beteken dit dat die bruin gemeenskap in die Noord-Kaap uitgedelg moet word vir ‘n Afrikanermeerderheid om daar te vestig? Ek glo nie. Met minder as ‘n 50,000 mense wat tussen Orania en die Weskus woon is uitdelging beslis nie nodig nie. Hulle kan volwaardige, stemgeregtigde, Afrikaanssprekende burgers van die gebied bly wat hulleself volgens hul oortuigings kan uitleef.

      Laastens is ek nie gekant teen maatskaplike hulp en opheffing nie. Ek het gister ‘n artikel op die Orania blog geplaas wat die konsep van Groepselfbou vir die beskikbaarstelling van bekostigbare behuising op Orania bekendstel. Dit kan gelees word by http://www.oraniablog.co.za/ontwikkeling-beproefde-metodes-vir-radikale-resultate/

  7. Beste Ebert,

    Dankie vir jou sinvolle respons.

    “Orania se vordering steek ook nie verskriklik af by dit wat gedurende die eerste 20 jaar van Zionisme gebeur het nie. In ag genome dat die Rothchilds mildelik bygedra het tot Zionisme reeds voor die tweede wereldoorlog. Die belangrikheid van die gelykheidsideologie vir die vestiging van die Israeli-volk kan ook nie met ‘n enkele sin wegredeneer word nie.”

    Elders op die Vry Afrikaner blad stel Quintin behoorlik ‘n opstel oor hoe daar al vanaf 1948 gewerk word om ‘n Afrikaner Volkstaat klaarblyklik in die Noord Kaap te vestig. Vir die rekord en volgens Quintin se redenasie kan ons dus terug kyk na 74 jaar se beplanning en ontwikkeling wat ‘n totale burgherskap van ongeveer 916 gevestig het!

    Wat die Zionisme se prestasie betref meld ons die volgende:
    Tussen 1882 en 1903 is 35 000 Jode in Palestina gevestig. Tussen 1904 en 1914 is 40 000 addisionele Jode in Palestina gevestig. Tussen 1919 en 1923 is ‘n addisionele 40 000 Jode in Palestina gevestig. Tussen 1924 en 1929 is ‘n addisionele 82 000 Jode in Palestina gevestig. Tussen 1929 en 1939 is ;n addisionele 250 000 Jode in Palestina gevestig. Teen 1940 was die Joodse bevolking in Palestina reeds 450 000. Die syfers toon duidelik dat die Joodse model wel toepaslik sou wees vir analise deur die Orania beweging, aangesien Orania as basiese beginsel op volks hervestiging steun.

    “Ek het vir geen oomblik die Noord-Kaap met Ierland vergelyk nie.”
    Dit is korrek, jammer as ek die indruk geskep het dat ek jou denke met die van Quintin verwar, dit is inderdaad Quintin wat die huidige senario van Afrikaner selfbeskikking met die Ierse model vergelyk het.

    “Beteken dit dat die bruin gemeenskap in die Noord-Kaap uitgedelg moet word vir ‘n Afrikanermeerderheid om daar te vestig? Ek glo nie. Met minder as ‘n 50,000 mense wat tussen Orania en die Weskus woon is uitdelging beslis nie nodig nie. Hulle kan volwaardige, stemgeregtigde, Afrikaanssprekende burgers van die gebied bly wat hulleself volgens hul oortuigings kan uitleef.”

    Ebert dit maak tot ‘n mate sin maar nou moet ons ook oorweeg wat gaan gebeur as daar op groter skaal ekonomiese ontwikkeling en ‘blanke’ Afrikaner vestiging in die voorgestelde gebied plaasvind. Die hele Noord Kaap is eintlik ‘n redelik arm streek. Die armer inwoners sal natuurlik beweeg na die areas waar daar groter ekonomiese groei plaasvind. Dit sal onmiddelik wryving begin veroorsaak tensy daar van die bruin Afrikaner arbeid gebruik gemaak word en die bruin Afrikaners ook volle regte binne die gebiede geniet, insluitend regte om besighede en plase te ontwikkel. Wat jy met jou stelling voorstel is nie volgens die rasse definisie en rasse ideologie ‘n (‘blanke’) ‘Afrikaner’ Volkstaat nie maar wel ‘n Afrikaanssprekende Volkstaat. Piet Croucamp maak die stelling dat die benaming ‘Afrikaner’ wel ideologies en polities gelaai is en dat die woord ‘Afrikaanssprekend’ dus meer inklusief is.

    1. Ebert

      papa victor,

      Ek sal nie stry dat ondersteuners van Orania met hul hele harte wens dat ons dieselfde sukses as die Israeli’s kan behaal nie.

      My oorspronklike punt was egter dat dit nie regverdig is om Orania se suksesse met die suksesse van Zionisme te vergelyk nie.

      Zionisme het reuse weldoeners gehad wat Orania of Afrikaners nie het nie.

      Die Jode was ryp vir die gedagte van die Zionisme teen 1882, maar die eerste pogings deur Jode om Israel te herwin het lank voor 1882 begin. Reeds in 1160 het die Jode in Kurdistan onder David Alroy gepoog om terug te keer na Palestina. Hernude pogings is van stapel gestuur in 1648 (onder Zabbatai Zevi) en in 1848 (onder Judah ben Shalom). Hoeveel Jode het in Palestina gevestig tussen 1160 en 1648 of tussen 1648 en 1848 of tussen 1848 en 1882? Is dit werklik regverdig om Orania se begindatum te vergelyk met 1882? Ek verwag stellig nie.

      Dit is duidelik dat die gedagte van hervestiging om ‘n eie staat te bou nog lank nie ryp is onder Afrikaners nie. Pogings soos die deur Oase lyk of dit hierdie rypwordproses kan vertraag, maar persoonlik dink ek Oase se ontstaan is deel van die rypwordproses.

      Die Jode kon Israel vestig sonder om deur Arabiere en Palestyne oorspoel te word. Die ekonomiese suigkrag van Kaapstad, Johannesburg, Kimberley en Bloemfontein sal vir baie lank groter wees as wat dit in die Orania-gebied sal wees, selfs al vestig ‘n meerderheid Afrikaners in daardie gebied.

      Hoe gaan die verhoudinge tussen die Bruin gemeenskap en Afrikaners wees wanneer Orania groot en suksesvol is? Ek weet nie, dit sal waarskynlik deur ons nageslag uitgewerk moet word. Ek kan net hoop dat dit vreedsaam sal wees en dat Afrikaans die wenner in ‘n simbitiotiese verhouding sal wees; vry van parasiete (veral Afrikaners wat op Bruin arbeid teer).

      1. Ebert, jy is reg. Die idee dat die hele SA gaan krepeer en op Orania gaan toesak sodra ‘n groot getal Afrikaners in die aangewese volkstaat gebied hervestig is verregaande. Die swart middelklas is reeds 2 keer groter as die hele Afrikanervolk! Ek deel jou sentiment t.o.v. vreedsame naasbestaan tussen vry Afrikaners en die inheemse stamme van die NWK.

  8. Quintin Diederichs, mag ek vra waarom julle my kommentare op julle blad sensor? Waarom word kommentare wat steun uitspreek vir ‘n eie Afrikaner Republiek gesensor? Ek verstaan nie?

  9. tulpenvaas

    Beste Sebastiaan,

    ik vind je artikeltje hierboven interessant. Toch heb ik een vraag: je zegt, dat behoeftige mensen bij voorkeur door kerken e.d. moeten worden geholpen en niet zo zeer door de overheid. Maar waarom zou de overheid van de volkstaat behoeftige Afrikaners niet kunnen/mogen/moeten helpen? Ik stel voor, dat het bestuur van de volkstaat Afrikaners die om de een of andere reden niet kunnen werken en bijv. ouden van dagen, weeskinderen, enz. bijstaat. Dit ook niet zozeer om moeilijkheden te voorkomen, maar uit (het grote woord) ….. liefde. En daarbij denk ik niet aan een vorm van ‘nationalistische trots-liefde’, maar aan oprechte christelijke liefde. Met ‘nationalistische trots-liefde’ bedoel ik het ‘wij-Afrikaners-zijn-trots-en-groot’ (*). Dat is dom gebral en een vorm van liefde die een persiflage is van de liefde zoals Christus die ons heeft opgedragen, toen Hij tijdens het laatste Avondmaal de voeten van de discipelen waste. Ik ben van mening, dat iedere gemeenschap uit elkaar valt en geen stand houdt, als de leden van die gemeenschap elkaar (binnen realistische grenzen!!) niet lief hebben. Dat is erg belangrijk: iedere gemeenschap verzandt en verliest het, als haar leden niet hartelijk voor elkaar willen zorgen. Als Afrikaners dus serieus zijn in hun streven naar een eigen land en volkstaat, moeten zij dit goed beseffen. Deze liefde is ook een christelijke opdracht en reikt over de grenzen van je eigen groep/volk heen. Ik stel voor, dat het bestuur van de volkstaat het voorbeeld geeft en voor gaat in deze vorm van ‘omge’. Zodoende zou zorg voor behoeftige Afrikaners ook een verantwoording zijn van het bestuur van de volkstaat.

    (*) Een mens mag natuurlijk best een beetje ‘trots’ zijn op zijn eigen volk. Dat is helemaal okay, maar zo’n ‘trots’ moet niet ontaarden in (blind) nationalisme.

  10. Johna128

    Hello! Do you use Twitter? I’d like to follow you if that would be okay. I’m undoubtedly enjoying your blog and look forward to new posts. aedkaddaedee

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s