Demografie: Genadelose werklikheid

Demografie is die studie van bevolkings en al hulle kenmerke. Die ou uitdrukking, “Demografie is Lotsbestemming”, is deur die hoogaangeskrewe demograaf, prof. Flip Smit, gewysig tot “Demografie is die geskiedenis wat nog moet gebeur.” Dit is die werklikheid wat dr Verwoerd in 1963 soos volg saamgevat het: “Op die ou end is dit getalle wat heers.”

Die geskiedenis is vol voorbeelde van etniese groepe wat hulle nie hieraan wou steur nie. Die Romeinse Ryk het al die vermoeiende take, selfs oorlog, aan sogenaamde barbare gedelegeer. Mettertyd het die Romeinse karakter van die Ryk meegegee. Rome is deur ‘n Germaans gebore generaal van die Ryk, Alarik, tot ‘n val gebring.

Die Britse eilande was onder Romeinse beheer en oorwegend deur Kelte bevolk, toe die Germaanse Angele en Saksers die eilande binnegeval het. Keltiese identiteit het slegs voortbestaan waar hulle in onherbergsame gedeeltes gekonsentreer het. In opvolgende eeue het Engeland genadelose militêre en kulturele veldtogte teen Wallis, Skotland en Ierland gevoer, maar weens demografie bestaan die Keltiese identiteite steeds.

Die Vikings van Willem die Veroweraar het groot dele van Engeland en Gallië verower. Grootskaalse hervestiging van “Normandiërs” het plaasgevind, maar vandag is slegs reste daarvan te bespeur. Die gevreesde Vikings is bloot in Engelse en Franse bevolkings opgelos.

Rusland is in die Middeleeue as ‘n Viking-staat gevestig. Skandinawiese handelaars het ‘n hoogs winsgewende roete tussen die Baltiese See en die Swartsee, met Konstantinopel as wêreldsentrum, ontwikkel. Hulle het die Slawiese stamme onderwerp en ‘n ryk met Kiev as hoofstad gevestig. ‘n Eeu of wat later was dit ‘n volledig Slawiese staat, soos dit vandag nog is.

Tegelyk moet ‘n mens erken dat die Romeinse kultuur merkwaardig veerkragtig vertoon het in Gallië, Hispania en Italia, dele van die antieke Ryk wat vandag nog Romaanse tale praat. Die krag van ‘n wêreldkultuur wat internasionale kommunikasie en ‘n regverdige regstelsel kon bemiddel, het die mag van demografie tot ‘n mate weerstaan.

Afrikaners verkeer in ‘n knyptang. Oorweldigende swart getalle en die Anglo-Amerikaanse wêreldkultuur bedreig hierdie klein inheemse kultuurgroep se selfstandige voortbestaan. Wat getalle betref, kom die eeue oue gebruik om goedkoop swart arbeid tot eie gerief en wins aan te wend, tot sy finale slotsom. Nie net is politieke mag verlore nie, maar simboliese transformasie in die vorm van naamsveranderings sal voordwoed.

Ekonomiese transformasie, of dit ‘n tweede oorgang of ‘n tweede fase genoem word, sal die proses binne afsienbare tyd voltrek. Plaasmoorde kan bes moontlik ook hiermee verbind word. Kultureel swig die een Afrikaansmedium skool na die ander, terwyl Afrikaans as tersiêre onderrig en openbare taal uitgeskakel word. Honderdduisende Afrikaners pleeg kulturele selfmoord deur hulle elders in die Anglo-Amerikaanse wêreld te vestig.

Afrikaners sal getalle moet konsentreer om ‘n gunstige demografiese werklikheid te skep. Versuim om nou emosioneel afskeid van groot dele van die land te neem, sal tot vernietiging deur verswelging, emigrasie of uitwissing lei.

7 thoughts on “Demografie: Genadelose werklikheid

  1. “Afrikaners sal getalle moet konsentreer om ‘n gunstige demografiese werklikheid te skep. Versuim om nou emosioneel afskeid van groot dele van die land te neem, sal tot vernietiging deur verswelging, emigrasie of uitwissing lei.” Hierdie waarheid kan nie genoeg beklemtoon word nie!

  2. As mens op die taalkaart hierbo kyk is dit verstommend om te sien hoe min Engels as huistaal gepraat word! Ek bly in die Noord-Kaap en kan getuig dat Afrikaans beslis die voorkeur taal is wat daagliks in besighede en in die openbaar gepraat word… die taalkaart is sonder twyfel akkuraat.

    As ‘n Afrikaner bv. in Pretoria in ‘n winkel of restaurant instap dan word jy in Engels gegroet (ongeag of die persoon wat jou groet ook ‘n Afrikaner is of nie), waar die totaal teenoorgestelde plaasvind in die Noord-Kaap. Die argument dat Engels as voorkeur taal noodsaaklik is om handel te dryf is absoluut fals hier in die samelewing waar ek woon.

    Punt is, ek het gekies om hier te kom bly en kan minstens uit ‘n taalkundige oogpunt werklik tuis voel in my omgewing, in teenstelling met die hedendaagse Pretoria (met die uitsondering van ‘n paar sterwende enklawes) waar ek beslis nie tuis voel nie.

    Dit maak baie sin dat soveel vryheidsgesinde Afrikaners besig is om in die Noord-Kaap te konsentreer. Deur Afrikaner meerderheidbesetting en die uitsluitlike gebruik van volkseie arbeid hier te bewerkstellig sal ons verseker nie dieselfde lot as die Romeine of die Normandiërs deel nie. Die feit dat hervestiging en volkseie arbeid besig is om in hierdie streek te groei maak my baie opgewonde oor die toekoms!

  3. Anthony Schlemmer

    Dankie Wynand vir ‘n insiggewende artikel. Dit is duidelik dat Afrikaners deel van die Orania Beweging weet watter roete om te volg vir ons vryheid. Die meerderheid Afrikaners is ten gunste van ‘n volkstaat, maar ons het groot ontwikkelings projekte nodig vir werkskepping om hulle te trek. Hierdie idee is absoluut, absoluut haalbaar nog in ons tyd ! Al is dit net meerderheid besetting in ‘n klein gebied soos ‘n Lesoto of Swaziland ! (Vir eers)

  4. Terug pieng: Demografie: Genadelose werklikheid « South Africa News

  5. Hierdie onderwerp lê so reg in my kraal.
    Aangesien Afrikaners op ander gebiede ‘n klein minderheid vorm, is die taal ‘n sterk faktor en moet ons van daardie voordeel gebruik maak.
    Tot onlangs was Afrikaans ons land se 2de grootste taal. Weens die feit dat byna 1-miljoen Afrikaners en Afrikaanssprekende bruinmense die land verlaat het; die aanwas onder Afrikaners afgeneem het; en die aanwas onder Xhosas geweldig toegeneem het, is Xhosa nou in die 2de plek en Afrikaans 3de.
    Ons vriende in Wes-Europa, veral in Vlaandere, lê groot klem daarop dat ons ‘n eenheid met bruin Afrikaanssprekers moet vorm. Die meeste Vlaminge stem nie met ons beleid van afsonderlike ontwikkeling saam nie, en beskou alle Afrikaanssprekendes as “Afrikaners”. Dit is daarom noodsaaklik dat ons ons strategie moet aanpas en nie ons potensiële vriende se vriendskap deur onnodige misverstande moet versuur nie.
    Ook die Nederlanders voel sterk oor hierdie aspek. Dit is daarom verkieslik dat ons nie té veel klem lê op ons ander probleme – soos plaasmoorde – nie, maar om die beuel van die taalprobleem dubbeld so hard blaas.
    As die Europeërs sien Afrikaners en bruin Suid-Afrikaners is verenig in hul stryd teen taalverwaarlosing en taaldiskriminasie deur nie-Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, sal hulle (ons vriende in Europa) meer simpatie met ons hê.
    Dit beteken geensins dat ons ander probleme nie aangehoor mag word nie (inteendeel), maar die taal moet ‘n prioriteit op ons lysie wees in ons gesprekke met stamgenote in Europa.
    Ons sal ook meer dikwels die Grondwet in gesprekke moet noem, en aan oorsese vriende daarop wys dat ons Grondwet – wat deur baie oorsee as die beste ter wêreld beskou word – gereeld deur die ANC oortree word.
    * Die Taalatlas hier bo is ‘n uitstekende hulpmiddel om kritici (binnelands en buitelands) se monde te snoer. Op my laaste besoek aan Nederland het ‘n paar Nederlandse toeriste aan Suid-Afrika langs my op die terugvlug gesit. Die lugwaardinne, wat ook Nederlanders op KLM was, het by tye gesprekke met my en my vrou gevoer. Hulle was baie verbaas toe ek vir hulle sê dat Afrikaans 3de en Engels 8ste op die lys van grootste Suid-Afrikaanse tale staan. Ek weet nou nog nie of hulle my geglo het nie, want hulle het my baie ongelowig aangekyk. Omdat vriend en vyand in die sake-wêreld in Suid-Afrika eentalig Engels is, dink besoekers dat Suid-Afrika eintlik ‘n Engelstalige land is. Kyk maar na meegaande taalkaart. Die pienk kleur wat Engels aandui, is byna niksseggend. Daarteenoor is die groen kleur wat Afrikaans aandui, oorweldigend – veral wat oppervlakte betref.
    As ons dus Suid-Afrika in taal-sones sou indeel, en dit op ons volkstaat sou van toepassing maak, wen ons die oorlog los hande. Engels daarenteen, moet mens met ‘n vergrootglas gaan soek. Dié van ons wat in debatte met nie-Afrikaners (en selfs met Afrikaners self) betrokke raak, en wat moet kan bewys dat Afrikaans oor ‘n groot oppervlakte gepraat word, kan (en MOET) hierdie kaart daarvoor gebruik.

  6. Willem van As

    Soos wat ek verstaan kan mens nie regtig uit die geskiedenis na individue kyk en hulle gedrag op huidige leiers probeer toepas om gedrag te probeer voorspel nie, want as dit by individue kom is daar te veel veranderlikes. Mens kan wel na groepe mense uit die verlede kyk en dan patrone van toepassing maak op die hede.

    Twee voorbeelde wat ek dink baie van toepassing op ons is, is Haïti en Zimbabwe, waar die demografie min of meer dieselfde was. Haïti was die kroon van die Franse ryk en die juweel van die nuwe wêreld. Die Franse het toe demokrasie daar ingestel en hulle het vir alle praktiese doeleindes ‘n “nag van die lang messe” beleef. Die Franse is uitgemoor en die land het verval. Almal weet ook wat in Zimbabwe gebeur het, min of meer dieselfde storie.

    Wat Suid-Affrika betref voel dit vir my dat totale verval soos in Haïti en Zimbabwe klaar gebeur het, dis nou net ‘n kwessie van wanneer dit gaan realiseer. Of dit nou 10 jaar, 100 jaar of 200 jaar vat maak nie eintlik saak nie.

    Om daai voorbeeld van twee skepe wat uit ‘n hawe vertrek en hulle rigtings verskil net met ‘n graad of twee, maar oor tyd verskil hul bestemmings drasties, te gebruik. As SA en Orania altwee skepe is, is SA se bestemming Haïti of Zimbabwe en Orania het ‘n opwindende mooi nuwe bestemming.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s