Republikeine maak vise-presidentskandidaat bekend

Paul Ryan, ‘n Republikeinse kongreslid vir Wisconsin en voorsitter van die begrotingskomitee in die kongres, is gekies as Mitt Romney se vise-presidentskandidaat.

Die keuse van die vise-presidentskandidaat skep altyd geleentheid om die nuus vir ‘n ruk weer te beheer. Gewoonlik is die vise-presidentskandidaat iemand wat die leemtes van die presidentskandidaat vul, m.a.w. as die presidentskandidaat uit die noorde is, sal die vise-presidentskandidaat uit die suide wees, as die een jonk is sal die ander een ouer wees, as die een liberaal is sal die ander een konserwatief wees.

Ryan is jonk en dinamies teenoor Romney wat al in sy 60’s is. Ryan is konserwatief, veral ten opsigte van fiskale beleid en hy geniet steun uit die Tea Party Beweging terwyl Romney nooit besonder gewild by die konserwatiewe grondvlak was nie.

Dit sal die Republikeinse basis weer aanvuur en opgewonde maak, iets wat Romney nie kon regkry nie. Romney het tot dusvêr redelik onsuksesvol op president Obama se foute en die swak ekonomie gefokus, wat hom nie veel steun besorg het nie, maar Ryan bring nou substansie en beleid saam.

Verder, Romney word beskou as iemand wat nie altyd ‘n duidelike politieke lyn het nie, ideologies vaag is en in die verlede sy posisie dikwels verander het. Ryan daarteenoor is bekend vir sy duidelike standpunte veral ten opsigte van belasting en die balansering van die begroting en het vir homself naam gemaak as ‘n kundige op hierdie gebied in die kongres.

Ryan, ‘n man met gesonde beginsels en ‘n ware konserwatiewe uitkyk in die Amerikaanse sin, is boonop intelligent en nie so ’n maklike teiken soos die destydse Republikeinse vise-presidentskandidaat Sarah Palin nie. Ook wat morele kwessies soos aborsie en gay-huwelike aanbetref is hy uitgesproke konserwatief.

Hy was op die kortlys van die vise-presidentskandidate en sy benoeming kom nie as ‘n verrassing nie. Die Demokrate en hulle linkse media-ondersteuners sal wel ‘n paar punte teen Ryan vind om hom swart te smeer, soos die feit dat hy ‘n wit man is en nie “minderhede” verteenwoordig soos wat ‘n swart, Spaanssprekende, Asiatiese of vrouekandidaat sou doen nie.

Wees maar seker dat die linkse media hom ook sal brandmerk as harteloos omdat hy belasting en uitgawes wil verlaag en daarmee saam ook minder maatskaplike en mediese hulp vir die armes sal gee.

Vanweë Amerika se multikulturele samestelling, die invloed van onwettige immigrasie en die tempo waarteen die bevolkings van die Afro-Amerikaanse en Hispanic minderhede groei, benodig die Republikeine toenemend meer steun uit minderheidsgroepe. In hierdie opsig is die Hispanics se steun van kritiese belang in groot swaai-state soos Florida. ‘n Kandidaat uit die suide en verkieslik ‘n prominente Republikein van Spaanse afkoms sou dalk meer voordelig gewees het in hierdie verband. Dit is egter goed om te sien dat meriete geseëvier het.

Romney voer sy veldtog met die slagspreuke: “Believe in America” en “America’s Comeback Team”. ’n Paar jaar met hom en Ryan in die saal sal Amerika onbeskaamd terugkeer na hul meer tradisionele westerse identiteit.

Na deeglike ondersoek van die Romney-span se beleid, veral met betrekking tot die ekonomie, immigrasie, die huwelik, aborsie, Sjina, Iran, Israel en Afrika, wens ons almal hier by Vry Afrikaner hulle alle sukses toe in hul poging om die Obama-administrasie te vervang.

Die VSA presidensiële verkiesing vind op 6 November 2012 plaas.

Meer oor die Romney-veldtog: http://www.mittromney.com

4 thoughts on “Republikeine maak vise-presidentskandidaat bekend

  1. Quintin Diederichs

    Dit klink als goed – ek het hul beleid gaan lees en in die Afrika afdeling vaar hulle nogal uit teen die Mugabe-regime. Stem saam met alles waarvoor hulle staan maar ons sal moet wag en sien of hulle gaan doen wat hulle se.

  2. Anthony Schlemmer

    Twee puik konserwatiewe leiers. Amerika en inderdaad die wereld, sal beter af wees onder hulle leierskap ! Beide van hulle weet waarvan hulle praat. Ek het al baie onderhoude gevolg. Hou altwee duime vas vir ‘n wen.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s