Ontwikkel of vergaan

Vry Afrikaner is daadwerklik betrokke by ekonomiese ontwikkeling en werkskepping in die Oranjeriviervallei-Weskus volkstaatgebied. Orania, die hoofgroeipunt in die ooste van die toekomstige Afrikaner Republiek, het reeds bewys dat Afrikaners in staat is om selfbeskikking op ’n vreedsame en volhoubare wyse te implementeer. Dit is juis belangrik dat ons nou op hierdie momentum voortbou deur ekonomiese ontwikkeling te versnel.

Sonder ’n sterk ekonomiese grondslag sal daar nooit genoeg werksgeleenthede vir Afrikaners in die aangewese volkstaatgebied wees nie. Sonder werksgeleenthede sal Afrikaners nie hier kan vestig om sodoende ’n meerderheid in die volkstaatgebied te vorm nie.  Om ons ideaal van ’n onafhanklike Afrikaner Republiek, waar ons en die nageslag vry, vreedsaam en vooruitstrewend kan lewe, te realiseer is dit ’n vereiste dat ons eers ’n meerderheid in hierdie streek vorm.

Tans skiet ons nog vêr te kort wat Afrikaner meerderheidsbesetting van die volkstaatgebied aanbetref a.g.v. die slakkepas waarteen ekonomiese ontwikkeling geskied, wat op sy beurt werkskepping en bevolkingsgroei vertraag. Die grootste rede waarom ontwikkeling stadig vorder is omrede die oorgrote meerderheid Afrikaners, veral die wat finansieel in staat is om ‘n verskil te maak, tans nie betrokke is by ontwikkelingsprojekte in die volkstaatgebied nie. Derhalwe is dit uiters belangrik om soveel as moontlik Afrikaners in te lig van ons doelwitte en die rol wat hulle kan speel om ‘n verskil te maak.

Ten spyte van beperkte hulpbronne toon Orania gesonde groei, maar ons uitdaging begin en eindig nie om Orania optimaal te ontwikkel nie. Orania sal nooit alle Afrikaners kan huisves nie, dus moet ons eerlik met onsself wees en besef dat elkeen van ons ’n bydrae moet lewer om nie net meer Afrikaners betrokke te kry by die volkstaat ideaal nie, maar ook om self te belê in ontwikkelingsprojekte in Orania en die groter volkstaatgebied.

Te min mense dra tans te swaar aan ’n verantwoordelikheid wat elkeen wie met die Afrikanerdom vereenselwig veronderstel is om te help dra.

Verder groei die huidige Afrikanerarmoede-krisis buite die volkstaatgebied teen ’n tempo wat die proporsies van die Depressiejare van die vorige eeu begin aanneem. Diegene wat met hierdie stelling wil stry is welkom om gerus “Afrikaner armoede” te gaan Google. Hulle sal geskok wees met wat hulle sien.

Organisasies soos Helpende Hand, sommige kerke, skole en individue probeer hard om ’n verskil te maak, maar die crux van die saak is dat armoede slegs deur werkskepping opgelos kan word en dat niemand behalwe die mense wat tans by Orania betrokke is ernstig besig is om vir Afrikaners werk te skep nie.

Hier het ons nou aan twee kern uitdagings geraak wat ons sal moet oplos indien ons ernstig is oor ons oorlewing in Afrika.

Vry Afrikaner se strategie om ekonomiese ontwikkeling in die aangewese volkstaatgebied te versnel bevorder nie net Afrikaner republikeinse onafhanklikheid nie, maar bied ook ’n oplossing vir derduisende Afrikaners wat in armoede verval a.g.v. die Suid-Afrikaanse regime wat Afrikaners se ervaring en potensiaal eenvoudig ignoreer ten gunste van hul beheptheid met swartbemagtiging.

Ons bied ekonomiese ontwikkeling in die vorm van projekte wat ontwerp is om beleggers van ’n goeie opbrengs te verseker, volkseie arbeid te bevorder en handeldryf tussen Afrikaner ondernemings in die volkstaatgebied en hul markte binne en buite dié gebied na nuwe hoogtes te neem.

Tyd is ’n faktor. Die Suid-Afrikaanse regime gaan nie Afrikaners se omstandighede verbeter nie. Inteendeel, hul doelwitte druis direk in teen ons belange. Hierdie doelwitte word immers so duidelik soos daglig vervat in hul Nasionale Demokratiese Revolusie (N.D.R.): swartbemagtiging, grondhervorming en die herrangskikking van welvaart d.m.v. nasionalisering as dit moet.

Daar is soveel bewyse wat vir ons aandui dat die skrif aan die muur is. Dink net bv. waarom die regering nooit vir Julius Malema aangevat het oor sy uitlatings jeens Afrikaners en ons belange nie. Selfs nadat o.a. Genocide Watch, diplomate en talle Europese Parlementslede ernstig beswaar teen hom begin maak het, het ANC swaargewigte steeds vir Malema openlik ondersteun in die haatspraaksaak wat hy verloor het.

Selfs “koelkop kapitaliste” soos Tokyo Sexwale, wat vir al wat ’n liberalis is hoop gee dat daar nog ’n pad saam met die ANC gestap kan word, het vir Malema ondersteun in sy saak dat “Kill the boer” nie haatspraak is nie. Dit wys vir ons presies hoe die Suid-Afrikaanse regering sake sien. Die van ons wat soveel tyd op die partypolitieke en minderheidsregte fronte spandeer versoek gereeld dat die regime bv. plaasmoorde as ’n prioriteitsmisdaad klassifiseer. Waaroom ignoreer die regering hierdie pleidooie? Kyk na die N.D.R. – die antwoord lê daar!

Enigiemand wat nog dink dat alles gaan regkom, m.a.w. dat Suid-Afrika in die breë gaan funksioneer volgens De Klerk en kie se grondwet, is eerlikwaar van sy sinne beroof. Die liberale meningsvormers wat ons deur die jare van naïwiteit en wensdenkery beskuldig het omdat ons in die volkstaat glo is besig om een na die ander van opinie te verander of dieper verby die punt van redding te sink.

Werk saam om ekonomiese ontwikkeling van die volkstaat te versnel of wees bereid om te vergaan – dis so eenvoudig soos dit.

Vir meer inligting oor Vry Afrikaner se strategie vir ekonomiese ontwikkeling in die volkstaatgebied, sien gerus ons webwerf: http://www.vryafrikaner.za.org

26 thoughts on “Ontwikkel of vergaan

  1. Hi Quinton, Die besprek is belangrik, en een wat al Suid Afrikaners betrek, maar mag ek bietjie Engels praat.
    You know my very strange ideas and my fears. As a tour operator I hear the impact that the European economy is going to have on South Africa. Finances are tight there, and that means that money that may have drifted our direction is at risk. Top of the reasons for the risk is in fact our politicians, corruption and general failure to control.
    We have started a FB page, ECONOMIC FREEDOM CHARTER, by the people, for the people. Our focus is to give space to all sectors of our population to contribute towards input on our way forward.
    I personally have crazy ideas with regard to the easing of by-laws and regulations to give all of us space in the economic sector.
    Our target is to get 1 000 000 contributors to how we should live, outside of politics, and we believe we can achieve this, then we will go forward.
    Keep up the good work there, I am following you.

  2. Anthony Schlemmer

    Johan Rupert het onlangs 3,5 miljoen EURO’S aan welwillendheid geskenk !! Dink wat se verskil so ‘n bedrag aan ons Helpsaamfonds kon gedoen het !

    Miskien moet die Helpsaamfonds ‘n bemarkingspan stig wat hierdie superryk Afrikaners kan nader vir skenkings. (Wiese is nog een – daar is baie ander)
    Ongelukkig weet mens nou nie wat hulle persepsies oor Orania is nie. Name van skenkers is mos in elk geval vertroulik.
    Mens sal partykeer verbaas wees hoe toeganklik hierdie mense is.

    Oranje se groei is net te stadig. So ‘n goed gemotiveerde bemarkingspannetjie kan miljoene insamel by die regte mense. Byvoorbeeld ‘n 15 miljoen rand behuisings projek sal ons ‘n groot hupstoot gee. Nerina en Elim is puik pogings met min geld, maar ons sal moet groter dink.

    Dankie vir ‘n “bak yswater oor die kop” artikel !

    1. Abram F Celliers

      Anthony. Jy het ‘n baie geldige punt. Uit vorige ervarings kan ek met u deel dat ryk sakemanne wel bereid is om geld te gee. Maar nie dit noodwendig doen as hulle ‘n pamflet in die pos kry nie. Meeste van hulle maak nie eers pos oop nie. Dus lê die Ja/Nee besluit nie by hulle nie, maar die PA wat die pos oopmaak. Hulle sal ook nie sommer hulle ore uitleen vir iemand wat by ‘n braaivleisvuur geld praat nie. Ek het gevind dat indien jy die persoon met ‘n afspraak in sy kantoor nader, jy baie meer regkry.

      1. Anthony Schlemmer

        Absoluut Abram. Dan sal ‘n gesiene persoon soos Carl Boshoff (DAAR IS ‘N PAAR ANDER NATUURLIK OOK) in die vlees self dit moet doen. Dit is nou as mens rerig GROOT GELD donasies wil he!! Ek praat nie hier van 100 duisend rand nie !
        Ek vertrou Quinton hulle besef dit darem.

  3. Maurice

    julle het nou omgekeerde Apartheid, julle blankes word gediscrimineerd, waardeur julle geen werk kry, ek kom al 32 jaar in julle pragtige land en ek het die land sien verander van ‘n mooi rustig land na wat dit nou is geword.
    Ons land (Nederland) gee ontwikkelings geld aan Suid Afrika nie, maar dat verdwyn almal op die bank rekeninge van julle leiers in die buiteland (Switserland) en alles wat daar oor bly gaan na die swart bevolking.
    Hulle gee nie wat daar met die blanke bevolking gebeur in Suid Afrika, hulle redeneer dat hul verdiende loon van al die jare onderdrukking van die swart bevolking.

    1. Dit is waar Maurice – ek het wel gesien dat die Nederlandse parlement onlangs besluit het om hul skenkings aan SA heelwat te verminder juis a.g.v. massa korrupsie deur die swart politici.

      Ons glo dat ‘n volk homself moet red, dus staan Afrikaners nie bakhand by die ryk state en verwag van hulle om ons te help nie. Baie Afrikaners besef dat ons slegs kan oorleef as ons onafhanklik van Suid-Afrika word. Die dorp Orania is juis in 1991 gestig om ‘n groeipunt vir ‘n toekomstige Afrikaner Republiek te wees. Orania het al baie ontwikkel sedertdien, maar daar is nog uiters baie werk om te doen alvorens ons onafhanklik kan word. Tyd is ‘n luuksheid wat ons nie het nie en omstandighede raak by die jaar net slegter.

      Die punt is dat ons nou alles moet insit om ekonomiese ontwikkeling te versnel sodat meer Afrikaners in die volkstaatgebied kan vestig. Ons sal eers kan afstig sodra ons ‘n sterk ekonomie het en ‘n meerderheid in hierdie streek vorm. Hoe langer ons vat om hierdie doelwit te bereik, hoe meer Afrikaners gaan in armoede verval en vermoor word.

  4. Andre de Kock

    Goeie artikel Quintin!
    My kommentaar op die kommentaar:
    @Cedric-you are still caught up in the Rainbow nation. Your Economic Freedom Charter is a pipe dream. Rather spend your energy working for a free Afrikaner state where your tourism business will bloom!
    @Anthony-Johan Rupert is ‘n Kaapse liberalis met sy neus in die WWF. Jy sal niks uit hom uitkry nie. My oupa het gese-as jy ‘n volk wil bou-los die rykgatte en die predikante uit-konsentreer op die kinders-anders het jy net komitees ipv vooruitgang.
    @Maurice-Mag die PVV van Geert Wilders vir julle ‘n ommekeer bring-anders gaan julle dieselfde paadjie loop. Nederland het die Afrikaner in die rug gesteek deur met die ANC te heul-die Jode het dieselfde gedoen-en kyk hoe behandel die ANC hulle nou!

  5. Maurice

    @Andre, Op 12 September het ons verkiesings in Nederland en mens sê dat die SP (Socialistische Partij) dalk die grootste word, as hulle in die regering kom, is ons land seker verlore, maar geen van die partye kan ‘n regering vorm met 76 setels of jy kry ‘n regering van minimaal 5 of 6 partye en hulle het 6 maande later weer verkiesings, want niemand (met die uitsondering van die VVD = liberale) wil saam werk met die PVV van Wilders. Ek stem self PVV, maar mens (vriende / kennisse) noem my (uiters) regs of rascist.
    D66 (democraten) is die gevaarlikste, hulle is vir meer mag van Brussel (EU), terwyl SP en die PVV teen Europa is, al die ander partye is ook vir die EU, maar die praat nou oor mindere mag, bang om setels te verloor op 12 September en wanneer hulle weer gekies word, word alles weer omgekeer, men is nie geinterresseer in die stem van die volk!

  6. Abram F Celliers

    Ek het al hierdie kommentaar op ‘n vorige artikel van Ben Le Roux geplaas. Ben (vir my seker Oom Ben), het terug geantwoord. Maar ek was nie oortuig nie. Oom Ben se argument stem baie ooreen met wat Quintin hier skryf. Ek het ook ‘n artikel al gelees wat Sebastian Biehl geskryf het. Daar het hy gepraat dat sonder politieke mag, nie nie ekonomies kan groei nie. Ek het verstaan dat daardie artikel gerig was op die Afrikaners buite Orania, en dat hulle oë moet oopgaan. Wat ek dink Sebastian in kort wou gesê het was dat sonder politieke mag, jou kinders nie noodwendig dieselfde ekonomiese voordele sal hê as wat jy tans het, of ‘n jaar of wat gelede gehad het nie. Dit sien ons tans met die groeiende getal Afrikaners wat in armoede lewe.

    Maar. Ek glo vas dat sonder die nodige politieke mag sal Orania ook ‘n plafon bereik. Ek sal nog baie meer voorbeelde wil gebruik, maar ek gaan eers op wetgewing, en veral belasting wetgewing stop. Indien Orania die nodige politieke mag het, kan hulle Orania d.m.v belasting wetgewing, en ander wetgewing, buitelandse beleggings lok. Almal praat van die “gateway” na Afrika. En Orania kan dit wees.
    Winste in Orania is nogsteeds onderhewig aan Suid-Afrikaanse belasting. Wat, soos ons weet, nie gaan vir ontwikkeling in Orania nie. M.a.w. geld wat nie daar is nie, word op die water gegooi.

    Politieke onsekerheid vir ‘n Afrikaner besigheidsman is net so groot in Gauteng, as in Orania. Indien plase afgevat gaan word, tel dit vir plase in die Noord-Kaap ook. Nie net die in Limpopo nie. Indien daar groter politieke sekerheid is vir Afrikaner selfbehoud in die Noord-Kaap, dan sal die mense skuif. Op hierdie oomblik is dit nie daar nie.

    Ek het baie bewondering vir wat Orania al reggekry het en nogsteeds regkry. Maar ‘n mens kan net so vinnig en so vêr in tweede en derde rat ry. Erens moet ‘n mens oorsit vierde en vyfde toe. Niemand stry dat jy wel in derde rat van die Kaap na Pretoria kan ry nie. Jy doen dit net versigtig, en stadig, as jy nie die voertuig wil seermaak nie.

    Maar daar is ‘n paar dinge wat hierdie “versigtige” benadering tot gevolg het. Eerstens word die voertuig (Afrikaners) se potentiaal nie ten volle benut nie. Tweedens. Jy kom te laat by jou eindbestemming aan.

    1. Ebert

      Abram,

      Hoe, sou jy reken, moet Orania te werk gaan om van derde rat na vierde en vyfde rat oor te skakel?

      Ek reken dat Quintin se voorstel hierbo, deel van die oplossing is.

      Sien selfbeskikking, of soos jy dit stel – politieke mag of die mag om jou eie belastingwette te skryf, word opgeneem. Dit word nie uitgedeel nie.

      Alle onafhanklikheidsbewegings moes werk vir wat hulle wou kry. Nêrens is dit op ‘n skinkbord oorhandig nie. Nie aan die VSA nie, nie aan die OVS of die ZAR nie, nie aan Kosowo nie en ook nie aan Suid-Soedan nie.

      Voertuie wat in vierde of vyfde rat probeer wegspring vrek voordat hulle baie ver vorder. So werk dit maar met pogings om kortpad te vat.

      So sal Afrikaners ook ons selfbeskikking moet verdien.

      Die eerste fase tot selfbeskikking is om de facto beheer oor jou eie sake uit te oefen. Dit is alleen moontlik indien jy die werklike meerderheidsbewoners van ‘n gebied is sodat jy die plaaslike regering kan aanwys, en ja dit begin by plaaslike regering. Dit begin nie by nasionale regering of die internasionale geregshof nie. Dit begin ook nie by papiermeerderhede wat nie eens ‘n munisipaliteit kan vorm nie.

      Die tweede fase is om eksterne erkenning van die de facto situasie te verkry.

      Ja, vryheid is soos ‘n sneeubal – ‘n groot sneeubal is baie meer indrukwekkend as ‘n klein sneeubal, maar alle groot sneeuballe het as kleintjies begin.

      Orania is reeds ‘n erkende plaaslike regering met sy 1000 inwoners. Wat kort hy om ‘n staat te word? Net een ding: nog inwoners.

      1. Presies… en wat kort hy om meer inwoners te kry? Meer werksgeleenthede wat geskep word deur ontwikkeling.

        Afrikaners wat ‘n onderneming of selfs net ‘n afdeling van ‘n onderneming Orania toe kan skuif moet dit doen. Afrikaners wat in staat is om te bele in ontwikkelingsprojekte in Orania en die groter volkstaatgebied moet hul oe begin oopmaak en hul hande in hul sakke steek. Dis die kort en die lank van die ekonomiese oplossing en ek voel dat ons reguit daaroor moet praat.

        Abram maak wel ‘n goeie punt dat mense huiwerig is om in die volkstaat te bele omrede daar nie sekerheid is m.b.t. die politieke situasie nie. Daar is wel ‘n akkoord tussen die VF en die ANC oor die volkstaat wat uit 1993/4 dateer. Dalk moet ons politici weer daardie perd opsaal en almal herinner aan die bepalings wat daarin vervat word.

        Ebert is wel 100% reg dat jy eers de facto werklikhede moet skep sodat daar ‘n de jure (wetgewing) roete kan volg.

        Dit is my grootse probleem met bv. die VVK wat eers ‘n de jure roete volg sonder dat hulle ‘n de facto been het om op te staan. Om te argumenteer dat Suid-Afrika ons sin was (de facto) en ons op ‘n gedeelte daarvan geregtig is soos ‘n stuk koek wat net afgesny kan word, gaan ons nerens bring nie… al is dit gedeeltelik waar, is dit ook so dat ‘n volkstaat slegs volhoubaar is indien bv. alle arbeid deur Afrikaners verrig word. Hierdie konsep is nog baie vreemd vir die oorgrote meerderheid Afrikaners. Al hoe ‘n gemeenskap met volkseie arbeid kan funksioneer is as die gemeenskap van meet af met volkseie arbeid as hoeksteen gestig is (de facto werklikheid).

        Orania se formule is reg, ons kort net meer hande om te help bou…….

    2. Abram F Celliers

      Ek antwoord Ebert en Quintin hieronder:
      Ek het nou die dag met ‘n baie goeie besigheidsman gepraat. Soos gesprekke in SA maar loop het dit later by politiek gekom. Hy sê toe vir my dat solank die regering hom net toelaat om besigheid te doen, hy baie van die ANC se strooi sal opvreet. Ja, hy is ongelukkig met die stand van sake, maar soos enige besigheidsman wat die heeltyd kostes in sy kop uitwerk, is die koste van besigheid doen waar hy tans is, minder as wat dit sal wees om na ‘n volkstaat te skuif.
      Ek is oortuig dat sakemanne soos hy, in die meerderheid is. Nie omdat hulle lafaards is nie. Hulle het baie families wat lewe van hulle besighede. Direk en indirek. Oppak en loop, is nie so maklik nie.
      Maar. Ek lees vandag weer dat Gwede Mantashe praat van radikale ekonomiese beleid wat in die volgende jaar geimplementeer moet word. En dit is hier waar ons moet ratte wissel.

      Sakemanne het lank voor 1994 met die ANC geonderhandel onafhanklik van die NP. Dit was vir hulle duidelik dat die “politieke” omgewing onder die latere jare van die NP-regering nie tot voordeel was vir hulle besighede nie. Die gras het groener aan die ander kant van die draad gelyk. Die “Beloofde gunstige ekonomiese politieke omgewing” onder ‘n ANC regering het vir hulle beter geklink.
      Met die ANC wat gefaal het, en met nog taaier regerings beleid wat kom, gaan dit nie moeilik wees, om met besighede te onderhandel nie. Ons “produk” wat verkoop moet word is ‘n gunstiger politieke klimaat waarin ons hulle sal kan toelaat om besigheid te doen tot hulle (die besigheidsman) se voordeel.

      Ons moet net by magte wees om daardie politieke klimaat te skep.

      Hoe kry mens dit reg. Quintin het al ‘n voorstel hier op Vry Afrikaner gemaak dat dorpe binne die voorgestelde gebied by die stembus oorgeneem moet word. Daarvoor het ‘n mens ‘n politieke party nodig. Vir lank het almal gehoop dit is die VF+. Ongelukkig gebeur daar nie veel van hulle kant af nie. As dit kom by selfbeskikking bygesê. Maar, ‘n mens kry mos “rak” maatskappye. Dit is gewoonlik makliker om eerder ‘n dormante maatskappy oor te koop, veral deesdae, ‘n mpy wat alreeds vir BTW geregistreer is, dan koop jy eerder daardie maatskappy oor, as om ‘n nuwe een te stig.
      Die VF+ is dalk daardie “rak” maatskappy, en omdat hulle onder Genl. Constant Viljoen ‘n akkoord onderteken het, is die VF+ as party, die “maatskappy” om te koop. Die “direkteure” moet dalk net verander……
      As die meerderheid mense bv. VF+ stem het in die beplande volkstaat streek, dan is ‘n groot stap geneem na politieke onafhanklikheid.
      Begin dan deur propaganda en met die bietjie politieke mag wat gekry is, die gunstige omgewing skep wat die massas sal lok.

      Dit sal dan ‘n beter posisie skep om onafhanklikheid te verklaar.

      Dan het ‘n mens nie eers by die konflik uitgekom wat volg nie. Die onafhanklikheids voorbeelde wat Ebert noem, soos bv. die VSA, Suid-Soedan, Kosova en ons vorige Boere Republieke, is almal die nagevolg van gewapende konflik. Maar eers het die inwoners politieke spiere begin wys.

      Die bg. politieke plan is vêr van ‘n finale werkende plan. Dit besef ek. Maar die IDEE wat ek graag sal wil hê ons moet oor praat is dit.
      ‘n Ekonomiese ontwikkelingsplan vir ‘n onafhanklike Afrikaner staat in die Noord-Kaap, of enige ander plek in SA, gaan ‘n mens net so vêr bring. Dit sal moet integreer met ‘n agressiewe politieke strategie. Die een sal nie werk sonder die ander een nie.

      Net soos die VVK beskuldig word dat sy agressiewe politieke strategie hom nêrens sal bring sonder ‘n ekonomiese ontwikkelingsplan nie, is die teenoorgestelde waar vir Orania.

      Soos ek al hier genoem het. Ons sal vars en nuut moet begin dink oor Selfbeskikking

      1. Ebert

        Abram,

        Ek dink nie ons is blind vir die noodsaak van politieke aktivisme nie. Ons is almal ten gunste van ‘n vreedsame beslissing en daarvoor is georganiseerde politieke aksie noodsaaklik. Orania is sekerlik een van die mees omvattende politieke argumente wat die Afrikaner sedert 1994 op die tafel gehad het en steeds het, want sy hele wese gaan oor die herstel van die Afrikaner se politieke mag oor homself.

        Politiek is asems. ‘n Politieke party kan die beste grondwet en die deugsaamste leierskap ooit hê, maar as hy nie kiesers het wat vir hom kan stem nie, kan hy nie ‘n meerderheid behaal nie.

        Die doelwit met ekonomiese ontwikkeling en hervestiging is juis om ‘n stewige steunbasis vir die politieke aksie daar te stel.

        Dit is dus ‘n geval van doen die een en laat die ander nie agter nie.

      2. Abram, as gewese VF+ jeugleier van die Noord-Kaap en nasionale jeugleier kandidaat kan ek jou waarborg dat dit wat jy hierbo bepleit deur vele ander, myself inkluis, al probeer was. Die probleem met hierdie strategie is dat die “maatskappy” waarna jy verwys reeds meer as 10 jaar gelede van die rak afgehaal is deur mense wat ons saak in baie, baie klein dosisse ondersteun.

        Ek twyfel glad nie dat dr. Pieter Mulder en sy dagbestuur in beginsel saamstem met die Oranjeriviervallei-Weskus vokstaat strewe nie – hy en sy ondersteuners het net besef dat dit hulle nie stemme gaan besorg nie. Sonder stemme misluk hulle, dus dryf hulle ander sake om stemme te probeer werf en redeneer dan dat dit indirek die vryheidsideaal bevorder omdat daar darem verkose Afrikaners in die parlement sit wat simpatiek is teenoor ons saak.

        In ruil vir die ondersteuning wat hulle by vryheidsgesinde Afrikaners kry, wend hulle darem ‘n poging aan om ons ideaal te bevorder deur bv. UNPO as ‘n voertuig te gebruik om ons saak te internasionaliseer.

        Daar is seker meriete in hul argument, maar baie mense kan eenvoudig nie daarmee vereenselwig nie omrede ons voel dat ons meer moet en kan doen.

        Kry meer Afrikaners en ekonomiese ontwikkeling in die aangewese volkstaat en jy sal sien dat sterker politieke bedingingsmag sal volg. Dit sal my nie verbaas as bv. die VF+ dan skielik uit die kas uit gaan spring om die vryheidstryd se politieke aanslag te probeer lei nie, m.a.w. weer vryheid behep gaan raak nie. Hulle sal argumenteer dat hulle mos van meet af die stryd gelei het en om dit te bewys sal hulle sommer hul akkoord met die ANC en strokies van beleggings wat hulle deur die jare in Orania gemaak het in die lug swaai. Moet ook nie AfriForum se toekomstige invloed in hierdie verband gering skat nie…

  7. Ebert

    Quintin,

    Oor die punt van onsekerheid – ja daar is onsekerheid oor belegging in Orania, maar die onsekerheid is nie groter as die onsekerheid oor Tshwane nie. Ek sou argumenteer dat jy minstens in Orania gewaarborg is van munisipale dienste, en dus is Orania meer seker as Tshwane. Waarom moet Orania minder risiko as Gauteng inhou indien Orania soveel meer potensiaal bied as Gauteng? Aan die einde van die dag was ‘n belegging in Lehman Brothers, een van die grootste banke in die VSA, selfs meer riskant en tog het mense geld daar belê, so ook in Enron, Krion en Sharemax.

    Die uitdaging vir ons wat beleggers wil lok is om goeie opbrengste in verhouding tot risiko te lewer. Dan sal die beleggers altyd kom. Kyk maar na die OSK.

    Ons het reeds gesien dat die ANC nie veel respek vir die grondwet van Suid-Afrika het nie. Ek verwag nie dat hulle veel agting op die akkoord sou plaas nie, tensy mens hulle hof toe daaroor sou vat, maar op hierdie stadium is dit nie die ANC wat ons grootste probleem is nie. Dit is eerder die persepsies wat ons mede Afrikaners oor ons huldig en die dinge wat hulle aandag aftrek.

    1. Abram F Celliers

      Die rede hoekom Orania minder risiko moet inhou gesien in die lig van besigheid doen, is eenvoudig. Hoekom dan die besigheid skuif? Onkostes is geweldig groot, om ‘n besigheid te skuif, of selfs net ‘n nuwe afdeling te open. Maak nie saak waar nie. Nie eers te praat van die “dooie” tyd wat daarin moet ingaan nie. En dit vreet kapitaal en reserwes. Sê nou maar die besigheidsman besluit wel om te skuif. Hy gaan al die kostes aan, en kry sy hope papierwerk agtermekaar. Om nie eers te praat van die emosionele kostes, al is dit net aanvanklik, wat met so ‘n groot skuif gepaard gaan nie.
      Sê nou maar dit is gedoen. Die nuwe besigheid staan. Nou tree die ANC se radikale beleid in werking. Nou is die “nuwe” besigheid nogsteeds onderhewig aan daardie beleid. En die besigheidsman het net verloor.

      Nou vra ek weer. Hoekom skuif? (Asb. hier speel ek net duiwelsadvokaat)

      1. Anthony Schlemmer

        ‘n Mens skuif omdat jy onwrikbaar glo in Afrikaner selfbeskikking. Net soos die eerste pioniers wat Orania gestig het, daardie stap moes maak!!

      2. Ebert

        Hoekom skuif?

        Wel, eerstens sal ek besigheidsmense nie aanbeveel om net te ontwortel en te skuif nie, want die risiko’s buiten politieke onsekerheid is te groot. Ek sou hom of haar aanbeveel om eerder stapsgewys in Orania en die groter gebied te belê deur middel van die beleggingsvoertuie wat reeds bestaan of deur Vry Afrikaner van stapel gestuur word. Daarna kan die water getoets word met ‘n tak en as dit als werk kan die ondernemer besluit om sy hoofkantoor te skuif.

        In baie gevalle, danksy moderne kommunikasietegnologie, kan ondernemers na Orania skuif sonder dat hulle hul ondernemings heeltemal uitmekaar hoef te haal daar waar hulle vandaan kom.

        Orania is ook nie goed geplaas vir sekere soort besighede nie en alternatiewe sal deur sekere ondernemers oorweeg moet word.

        Besigheidsontworteling en verskuiwing is dus ‘n moeilike en hoë risiko saak sonder om politiek in ag te neem en mense sal baie goeie redes hê om nie te skuif nie al sou Orania ten volle onafhanklik wees.

        Hoekom in Orania belê?

        Wel dit is ‘n ander vraag as om ‘n besigheid te ontwortel en te verskuif. En die antwoorde is veelvoudig, onder meer dat Orania meer volhoubaar is, groter stabiliteit geniet, geen stakings oplewer, versekerde munisipale dienste lewer, goeie buurmanskap nastreef, goeie opbrengste lewer en die potensiaal van politieke mag vir Afrikaners inhou.

        Politieke sekerheid sal egter eers gebeur wanneer ons dit kan afdwing en daarvoor moet daar belê en ontwikkel word. Soos in enige besigheid is groei slegs moontlik indien belegging plaasvind. Diegene wat eerste belê neem wel groter risiko (soos in enige onderneming), maar hulle pluk ook die meeste vrugte, soos diegene wat eerste huise in Orania gekoop het maar al te goed weet.

        Die besigheidsman het in jou voorbeeld het egter nie net verloor nie, want hy bevind hom nou in ‘n gemeenskap wat vir hom omgee. Indien hy nie geskuif het nie sou hy ook alles verloor het, maar daarmee saam sou hy hom in ‘n omgewing bevind het waar mense bereid is om hom te vermoor vir die klere aan sy lyf en die R50 in sy beursie, met niemand wat naby genoeg is om hom te help nie.

  8. Abram F Celliers

    @Anthony Schlemmer: Ek stem saam. Afrikaner selfbeskikking kom tans neer dat dit by die persoon wat wil trek ‘n politieke geloofssaak is. En vir die mense wat die groot skuif al gemaak het, ‘n Geloofssaak. (Een met ‘n klein “g” en een met ‘n groot “G”.) Eintlik kan ‘n mens nie die twee skei nie.

    Maar hier gaan dit, soos al genoem is, om ‘n volk te maak trek. En die vrae wat daarom saamgaan. Hoekom is al die Afrikaners wat ten gunste is vir selfbeskikking nie saam op die Orania trein nie? Wat gaan daardie “klein” dingetjie wees wat Afrikaners in strome sal laat trek Noord-Kaap toe? Wat keer mense? Of beter, waarvoor wag die mense?

    Ek stem saam met die Orania model. Ek dink net die Noord-Kaap Trek (Orania) soos dit al hier genoem is, kort ‘n goeie politieke “wingman”.

    1. Ebert

      Abram, die “klein” dinge wat mense verhoed om na Orania te skuif is hul aanpasbaarheid by hul huidige omstandighede, hul gemaksone, die nabyheid van vriende en familie, die beskikbaarheid van goedkoop arbeid, die trekkrag van ontwikkelde ekonomieë in die buiteland, die gebrek aan goedbesoldigde geleenthede in Orania en negatiewe persepsies jeens Orania wat oor baie jare deur ‘n negatiewe media aangeblaas word.

      Om hierdie hindernisse af te breek is ‘n groot uitdaging wat ‘n omvattende strategie verg. In die media, op die grond, in die ekonomie, in die akademie en in die politiek.

      Daar is ongelukkig nie ‘n kitsoplossing nie. Net harde werk, geloof, vindingrykheid en deursettingsvermoë.

  9. Vir beleggers geld: hoe groter die risiko, hoe groter ook die potensiele opbrengs. As jy in lank reeds gevestigde lande soos Switserland, VSA of Duitsland belê waar alles veilig en voorspelbaar is, sal jou opbrengs minimaal wees.
    As jy in absoluut hopelose lande soos Kongo of Haiti belê dan is dit eenvoudig roekeloos, want die risiko is net te hoog.
    In albei gevalle is die lande se rekord en rigting waarin hulle beweeg dit wat vir jou ‘n aanduiding van hulle risiko en geleenthede gee.
    ‘n Slim belegger belê in lande of gebiede wat nog op ‘n lae vlak is, maar wat in die regte rigting beweeg (politiek raak stabiel, omgewing raak besigheidsvriendelik, infrastruktuur kom in plek, maar meeste beleggers sit nog op die kantlyn en wonder). Dit geld vir meeste Oosterse lande wat die laaste tyd so fenomenaal gegroei het (Sjina, Vietnam, Indië ens).
    Soos wat die risiko afneem, neem geleenthede ook af en neem koste toe. Om die rede is belegging in Japan nie meer so aantreklik soos 20 of 30 jaar gelede nie, toe Japan dit was wat Sjina nou is.
    Of vat ‘n voorbeeld in ons eie land: wie 20 jaar gelede, toe meeste mense negatief was oor Suid-Afrika, grond in die Kaap gekoop het, is vandag ‘n miljonêr, want al is die Kaap deel van Suid-Afrika, is dinge daar beter as elders. Nou is grond belaglik duur en lewer waarskynlik nie meer veel groeipotensiaal nie.

    Dit geld vir Orania ook: ons het nog nie alles in plek nie, ons is nog nie ‘n Switserland nie, mar as jy na die afgelope 20 jaar kyk gaan Orania vorentoe en kom dinge in plek.
    Die slim belegger sien dit raak, koop terwyl dit nog redelik goedkoop is en geleenthede baie en kompetisie min, en aanvaar nog ‘n paar jaar van struikelblokke, maar is dan gevestig wanneer Orania opstyg.
    Wie oor 20 jaar in Orania wil belê wanneer alles gevestig is en klopdisselboom loop, sal dan die prys moet betaal vir dit wat ander opgebou het en wat risikos gevat het toe dinge nog in beweging was.

  10. tulpenvaas

    Ja, ik kan niet anders zeggen, Quintin, het lijkt mij, dat je het goed ziet. Nu nog, breng dit bericht de wereld in, zodat anderen het kunnen horen.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s