Waarom emigreer Afrikaners so maklik?

‘n Oud-Vrystaatse Boerseun is pas vir die Australiese Skole Rugbyspan gekies. Die sewentienjarige Philip Potgieter se wortels lê diep in Petrus Steyn, waar sy 78-jarige ouma steeds boer. Sy pa, voorheen ‘n senior amptenaar by die Vrystaatse departement van landbou, het ‘n pos aan die Universiteit van Queensland aanvaar. Die gesin woon sedert 1999 in Australië, nog voor Philip vier geword het. Hy sal graag eendag vir die nasionale span van óf Suid-Afrika, óf Australië wil speel.

Hierdie is een van letterlik honderdduisende voorbeelde van Afrikaners wat Suid-Afrika vaarwel toegeroep het en hulle talente vir ander lande beskikbaar stel. Terwyl Afrikaners voor 1994 snedig na Engelssprekende “chicken runners” verwys het, is daar in 2012 seker nie een Afrikaner sonder familie wat geëmigreer het nie. Dr Treurnicht het graag ‘n Israeli staatsman aangehaal wat gesê het Jode byt vas in Israel, “because we have no ships in the harbour.” Vandag is dit duidelik dat dié stelling nie breedweg op Afrikaners toegepas kan word nie.

Emigrante word selde meer kwalik geneem, maar diegene wat ernstig oor die voortsetting van Afrikaner-identiteit is, sal moet ondersoek hoekom Afrikaners die land so maklik verlaat. Die omvang van die verlies vergelyk met dié van die Britse konsentrasiekampe. As dit so voortgaan, sal die Afrikaner se bittereinde in vredestyd en relatiewe voorspoed aanbreek.

Tot 1994 het Afrikaners hulle absoluut met die Suid-Afrikaanse staat vereenselwig. Die woorde “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika” het vir talle dienspligtiges bloedige werklikheid geword. Met die ANC se oorname het hierdie band vir talle Afrikaners verval. Die sentrale motivering, waarvoor goed en bloed geoffer is, her verdwyn en ‘n vakuum gelaat. Identiteit sou voortaan anders ervaar word.

Oor die algemeen kan ‘n mens sê dat Afrikaners Westerlinge met ‘n Germaanse taal is, grootliks met ‘n Anglo-Amerikaanse waardestelsel, en ‘n sentimentele band met Afrika. Wanneer indiwiduele Afrikaners voel dat hulle omgewing sy Westerse karakter verloor, neig hulle om weg te trek. Ten spyte van die taal wat aan Nederlands verwant is, voel sulke “trekkers” blykbaar tuis in ander Engelssprekende lande, waar hulle waardes aansluiting vind. Die taal word prysgegee en Afrika word deel van ‘n sentimentele heimwee.

Ervarig met immigrante, ook in Suid-Afrika, is dat die eerste geslag bande met die vaderland en moedertaal behou, dat die tweede geslag nog daarvan bewus is, maar vanaf die derde geslag is dit ‘n “toevallige” deel van ‘n mens se afkoms; iets sonder alledaagse betekenis.

Daar is Afrikaner vryheidstryders wat glo dat vervreemding van die Suid-Afrikaanse staat Afrikaners sal motiveer om vryheid in ‘n eie gebied te herskep. Dit blyk egter nie die geval te wees nie. Vir Afrikaners om ‘n lewensvatbare etniese groep te bly, sal ook positiewe dryfvere gevind moet word.

‘n Hernude verbintenis tot ‘n unieke taal en tot die bodem van Afrika is die minimum. Daaruit moet die krag van ‘n ideaal groei wat Afrikaners binne etniese verband bind, al vervreem die Suid-Afrikaanse staat hulle dag vir dag.

16 gedagtes oor “Waarom emigreer Afrikaners so maklik?

  1. Baie insiggewend Wynand!

    Jou een paragraaf en veral hierdie sin het baie vir my uitgestaan . “Wanneer indiwiduele Afrikaners voel dat hulle omgewing sy Westerse karakter verloor, neig hulle om weg te trek”.

    Vir die ouer generasie glo ek dit is die hoof rede vir emigrasie, omrede die simptome van ‘n verlore westerse karakter o.a. die afbreek van maniere, taal, geloof, opvoeding, tradisies ens. lei tot ‘n samelewing wat verval. Misdaad/korrupsie steek ook dan natuurlik sy lelike kop uit.

    Die Afrikaner is stadig besig om aan al die bogenoemde simptome te ly, alhoewel ‘die nasie’ nog altyd oor hierdie simptome beskik het, en dit net vererger. Waar die afrikaner grootliks wegtrek opsoek na ‘n meer westerse beskawing omrede dit tweede natuur vir hom is, doen die massas in SA nie. Daar is duidelik ‘n verskil in die vlak van beskawing en wat aanvaarbaar is t.o.v. ‘’n westerse karakter’. Wat weereens ‘n direkte invloed het op hoe Afrikaners SA ervaar.

    Die jonger generasie gaan verken gewoonlik eers die wêreld voordat hul permanent verhuis. Ek was ook in so ‘n situasie. Na 5 jaar in die buiteland wil jy of bly of jy wil terug trek. Min trek terug en ek kan verstaan hoekom. Jy offer jou materialistiese wêreld met sy blitsvinnige internet, geld, geriewe, vervoer, eerste wêreld samelewing met eerste wêreld dienste op vir ‘n land wat presteer t.o.v. misdaad en waar jy baie ekstra uitgawes het nl. versekering, medies, sekuriteit en die lys gaan aan.

    Hoekom sou énigiemand wou terugtrek?
    Ek sou nooit terug getrek het net vir Suid-Afrika nie, hoekom sou ek? Ek het terug getrek, omrede ek vertel was van Orania en omdat ek tóe eers hoop gehad het vir my mense. Dit is die boodskap wat ons moet uitkry na al die Afrikaners daar in die buiteland en in SA.

    In Oktober is ek en Quintin al 2jaar hier, en ek kan jou sê, die lewenskwaliteit wat ons in Orania ervaar is onvergelykbaar met die van Europa! Orania en toekomstige volkstaatgroeipunte, bv. Vygiesvlakte op die Weskus, moet nou net groei dat dit bars sodat ons as deel van die westerse beskawing onsself op ‘n persoonlike en staatkundige vlak kan uitleef hier in ons deel van Afrika.

  2. Anthony Schlemmer

    Dankie Wynand, goeie onderwerp wat bespreek word.

    Die hoofstroom Afrikaanse media beheer nog steeds opinie. Afrikaner selfbeskikking is nie op die agenda nie, en word inderdaad afgelag !!

    Ons enigste teenvoeter is om Orania ‘n ongekende sukses in die geskiedenis van hierdie land te maak. Dit sal mense laat “regop” sit en hulle dan ook ‘n duidelike alternatief bied (Teen byvoorbeeld emigreer)

    Nieteenstaande dink ek ons het honderde duisende Afrikaners verloor wat nooit weer sal terugtrek Suid – Afrika toe nie. Behalwe as pogings vir ‘n volkstaat suksesvol is. Dan sal hulle vinnig kom kyk !!

    1. Dis waar. Wat wel steurend is, is dat soveel Afrikaners wat heerlik aan die vleispotte van ander lande gaan smul vinnig-vinnig vergeet hoeveel van hul vriende en familie agterbly en uitdagings moet oorkom waarvoor hulle nie kans gesien het nie en boonop nie ‘n vinger lig om te help nie.

      Vir diegene wat in die buiteland is en darem lidmaatskap van Afrikaner organisasies behou, ontwikkeling op Orania help befonds en skenkings aan liefdadigheid organisasies soos Helpende Hand maak – vir julle haal ek my hoed af… vir die res het ek nie goeie woorde nie.

  3. Ebert

    ‘n Belangrike tema wat jy aanraak Wynand.

    Iets wat vir my baie interessant is, is hoe laag die vlak van verbintenis is wat daar bestaan met die begrippe Afrikanerskap en Afrikaner.

    Volksgenote wat ek in die buiteland raakloop, verwys nooit na Afrikaners nie, maar altyd na Suid-Afrikaners, al praat hulle van Afrikaners.

    Dit is asof Afrikaneridentiteit op 3 eksterne pilare gebou is:
    1) Suid-Afrika (Ons vir jou Suid-Afrika en Die lied van jong Suid-Afrika)
    2) Christenskap
    3) Afrikaans.

    Ongelukkig is hierdie drie pilare besig om te verkrummel.

    As jong Afrikanerman wat gepoog het om te presteer, het ek niks behalwe diskriminasie teen my geken op skool, universiteit en in die werksplek nie. Waarom kan ek nie my rug op Suid-Afrika keer as Suid-Afrika sy rug op my keer nie? Daarbenewens word bates wat in Suid-Afrika gehou word, weens inflasie, lae ekonomiese groei en groeiende politieke onstabiliteit by die dag minder werd.

    Geloofsbelewenis het ‘n private saak geword en word meermale slegs as verbruiksitem benut terwyl sekularisasie en indiwiduele vryheid voorrang geniet.

    Afrikaans word ‘n struikelblok tot werksgeleenthede en word selfs in Suid-Afrika al hoe meer na die kombuis gerangeer.

    Is dit dan werklik verbasend dat so baie Afrikaners emigreer?

    Vir my is die vraag eerder hoe die verskynsel van emigrasie positief benut kan word? Indien ons volkslojaliteit kan kry in ruil vir landslojaliteit, glo ek dat emigrasie selfs voordelig kan wees, want soos met Israel kan ‘n ondersteunende diaspora vir ons meer beteken as ‘n groep dwase wat hulself ten eerste as Suid-Afrikaners sien, en Suid-Afrika wil “maak werk””, sonder dat hulle hoegenaamd met die gemiddelde Suid-Afrikaner assosieer of verteenwoordig.

    Na my mening kort ons ‘n verbintenis tot Afrikanerskap en dalk selfs vir die eerste keer ‘n interne waardering van wat die menswees van Afrikanerwees vir ons beteken. Dan kan ons saamwerk, ongeag waar ons ons bevind.

  4. Ek glo ‘n faktor wat bydra is die aanhoudende toestroming van immigrante na SA vanuit ander Afrika lande.

    Ek verstaan daar is al soveel soos ‘n ander halfmiljoen Nigeriërs alleenlik in SA, om nie eens te praat van al die buurstate se burgers wat hier woon en werk nie.

    Iets wat vir my ook baie opvalled was oor veral die afgelope 5 jaar is die rasse skrede waarmee die informele nedersettings om tradisioneel Afrikaner oorheersde en gestigde dorpe toegeneem het. Kyk maar na al die plattelandse dorpies bv. Wolmaranstad, Bloemhof, Viljoenskroon, Bothaville…, om maar ‘n paar te noem. Die plakkerskampe is alreeds 2 tot 3 keer so groot soos die oorspronklike dorpies, waarvan die meeste van hierdie dorpies deur Voortrekkers gestig was en uitgebou en onderhou was. En hierdie mense gaan beslis nêrens heen nie, want alle dienste word vir hulle beskikbaar gestel met belastingbetalersgeld, terwyl die oorspronklike dorpies vervalle en verlate raak en die infrastruktuur geleidelik afgebreek word. (En ons kan seker maar aanneem dat daar nie vir hierdie dienste betaal word nie…)

    Groot grosse van hierdie gemeenskappe is eerste generasie immigrante en ondertrou in baie gevalle met die plaaslike bevolking.

    Dit veroorsaak op sy beurt dat tradisioneel Afrikaanse skole oorstroom word deur volksvreemdes wat uiteraard aandring op onderrig in ‘n “verstaanbare” taal, wat lei tot die verengelsing van diié skole.

    Daarmee saam bring dié oorpopulasie van die gebiede aanliggend tot hierdie dorpe nuwe uitdagings ten opsigte van werksgeleenthede en die werkloosheidsyfer het weer die neiging om indiwidue tot krimenele aksies te “dwing”…

    Die gemiddelde aanwas is ook ver bo die van die Afrikaner en gekoppel aan die voortdurende emigrasie van Afrikaners na “groener weivelde” dink ek dat daar ‘n baie klein minderheid Afrikaners gaan wees oor nog 2 tot 3 dekades van nou af.

    Dit is soveel te meer ‘n rede vir dié wat nog die vermoë het om te help om Orania en die groter volkstaat gebied te ondersteun en waar moontlik te bevolk, (of te minste so te beplan dat hul volgende generasie die geleentheid sal hê om die gebied te bevolk), andersins sal ons ook uiteindelik verdwyn….

  5. Dit is heel eenvoudig om verskeie redes hier is drie redes:
    1) Mense wil die beste hê vir hulle self en gesin. In ons huidige postmoderne kapitalistiese stelsel word beste gemeet aan geld en nie ander waardes nie. Dus ons soek wat vir ons die meeste geld op lewer, finansiële sekuriteit. Die selfde rede waarom so baie Orania-aanhangers nog buite rond hang.
    2) Die ander volkere het dit reg gekry dat ons vir ons geskiedenis skaam en baie jong Afrikaners is skaam om ‘n Afrikaner genoem te word. Baie Afrikaners glo nie hulle kultuur is iets om voor te veg nie. Dus as ek geen Afrikaner is nie, dan hoort ek ook nie meer in Afrika nie. Dus ons kry in Orania ongelukkig mense wat nie hou van ander mense nie, in plaas van Afrikaners wat wil veg vir hulle kultuur.
    3) Vorige generasie Afrikaners was goed opgelei en in aanvraag in die buit wêreld. Verder is dit nou maar een maar baie makliker met internet en e-pos om na poste te soek en om ‘n CV in die buiteland te kry as in 1994.

    Op ‘n meer positiewe nood, ek is daarvan oortuig dit kan ons Volkstaat ook goed doen. Die mense verdien goeie geld en as hulle ‘n hart kry vir ons saak dan is sake reg.
    1) Hulle kan geld skenk en belê vir projekte in die Volkstaat. (Soos baie Orania-uitwoners, dankie.)
    2) Hulle kan terug kom met geld en kennis en dit belê in die Volkstaat. (Soos Quintin en Rozanne)

    Wat staan ons te doen: Bemark Orania aan die emigrante as ‘n oplossing vir ander Afrikaners. Laat hulle dan geld skenk vir projekte in Orania.

  6. Ek voel nie heeltemal so pessimisties nie!

    Hou in gedagte die middel tagtigerjare se negatiewe gees. Daar was min in die vooruitsig.. Die vervalle dorpie, Orania, het nie beindruk nie. Inteendeel, ‘n persepsie van verregs en agterlik is rakende Orania is deur die NSA se ‘maakwerkers’ geskep.

    Die westerse wêreld, met ‘n sterk ekonomie, was aanloklik met so baie geleenthede daar. Afrika wil ons nie hê nie was ook die algemene gevoel!

    Negatiewe persepsies is nog op plekke diepgewortel maar hoe geweldig positief het die Orania-beeld nie in die afgelope vyf/ses jaar geword nie. Min besoekers verlaat Orania deesdae negatief. Die gety is beslis besig om te draai!

    Re die geen skepe in die baai nie: Die verswakte wêreld ekonomie sorg daarvoor.

    Onthou net een ding: Elke nuwe geriefie in Orania, is ‘n tree nader aan die status van ‘n volwaardige alternatief vir Perth, of waar ookal. Ons moet doodeenvoudig net aanhou saai, oestyd sal wel kom.

  7. Kort, maar treffende artikel wat op 20 Aug. in die Volksblad verskyn het:

    JONG WITTES HET NIE HOOP VIR SA

    Maryna Lamprecht

    JOHANNESBURG. – Anders as hul swart eweknieë, het die meeste wit Suid-Afrikaanse jong mense nie hoop vir die land se toekoms nie, het ’n peiling van die marknavorsingsmaatskappy Pondering Panda getoon.

    Meer as 18000 Suid-Afrikaners jonger as 35 het daaraan deelgeneem.
    Net 34% van wit respondente meen Suid-Afrika gaan oor tien jaar ’n beter land wees om in te woon, terwyl 66% meen die land gaan oor tien jaar slegter daaraan toe wees as nou.
    Altesaam 61% swart, 44% bruin en 27% Asiese respondente was positief oor Suid-Afrika se toekoms.

    As jy nie swart is nie, glo jy waarskynlik dat dinge in die volgende tien jaar slegter eerder as beter gaan raak, het Butch Rice, medestigter van Pondering Panda, gesê.
    “Net swart Suid-Afrikaners is in die meerderheid optimisties oor Suid-Afrika. Alle ander rasgroepe is meestal pessimisties.

    “Dit is ’n aanduiding van die moontlikheid dat baie jong mense ’n toekoms elders oorweeg, aangesien hulle nie hoopvol is oor die land se toekoms nie.
    “Dit kan onrusbarende implikasies hê vir emigrasie in die toekoms en moontlik tot ’n brein­kwyn lei.”

    Volgens die hoop-indeks is Suid-Afrikaners onder 18 meer hoopvol.
    Altesaam 58% van diegene tussen 15 en 17 jaar het gesê hulle glo in ’n blink toekoms vir Suid-Afrika.

    Oor alle rasgroepe heen het 46% van respondente tussen 25 en 34 gesê hulle is positief.
    Die meeste swart respondente het gesê hul grootste bekommernis is werkloosheid, terwyl die res veral besorg is oor misdaad.

    Rice het gesê dit is duidelik dat swart en wit jong mense se wêrelde baie verskil.
    ’n Studie van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) wat in Februarie bekend gemaak is, het gewys dat die wit bevolking in Suid-Afrika teen ’n tempo van 0,3% elke vyf jaar afneem. Indien dié neiging voortduur, sal Suid-Afrika se wit bevolking teen 2161 uitsterf.

    Volgens die SAIRV is die afname weens laer geboortesyfers en emigrasie.

    1. “Dit is ’n aanduiding van die moontlikheid dat baie jong mense ’n toekoms elders oorweeg, aangesien hulle nie hoopvol is oor die land se toekoms nie.
      “Dit kan onrusbarende implikasies hê vir emigrasie in die toekoms en moontlik tot ’n brein­kwyn lei.”

      Hoekom sou Pondering Panda beweer die emigrasie van die ander rasgroepe tot ‘n brein-kwyn kan lei?

      Wat maak die ander rasse meer “brainy” as die swart Suid-Afrikaners wat hier aanbly en eksponensieël vermeerder.

      Beweer Pondering Panda dat ander rasse, alhoewel by verre in die minderheid, meer breins het as swart Suid-Afrikaners en dat die verlies aan hierdie minderhede so ‘n geweldige invloed sal hê op die vermoë van die SA populasie?

      Laat mens wonder wat die statistiek om gemiddelde breinkrag per rasgroepering is dat Pondering Panda so ‘n stelling sou maak… (Dalk het die peiling ‘n IK toets of vaardigheidstoets ingesluit?)

      Andere sou beweer dat sulke statistiek rassisties is en nie korrek kan wees nie.

    2. Anthony Schlemmer

      Een van die mees onverklaarbaarste verskynsels in die geskiedenis van die mens, was seker vir my die oorweldigende JA stem in die 1992 referendum!! Wat nou besig is om te ontvou in die land was toe al so voorspelbaar, ‘n 5 jarige kind kon dit raaksien.

      Nietemin kan ons sien hoe belangrik ons pogings op sukses in Orania, en groter Volkstaat gebied werklik is, om die Afrikaner se behoud en vooruitgang.

      Ek is positief, dinge gaan gebeur ! Ons moet net ons pogings verdubbel !!

      1. Theuns van Rensburg

        Die vraag wat in die referendum gestel was, was so gestel om te mislei. Indien die vraag wel gelui het;” oorgawe en totale oorheersing deur n swart regering?”, sou dit 100% nee gewees het. Die Afrikaner is mislei en oorhandig aan barbare, en al hulle wapens en strukture is verniet saam oorhandig. Die stryd het begin.

  8. Terugklingel: Waarom emigreer Afrikaners so maklik? | myAfrikaans

  9. bart vosloo

    Ek wil kort wees deur te se dat dit vir baie van ons bitter is dat ons kinders oorsee is. My seun Jacques wat baie ESKOM mense sal onthou was een van die mees suksesvolste mense wanneer dit by Eskom onderhoud gekom het. Hy het die land verlaat omdat onbekwame mense in poste aangestel is [alhoewel dit hom nie geraak het nie want hy was reeds in die bestuurskader] en Eskom Miljoene op n slag gekos het weens foute wat hulle begaan het en daarna weg geneem en in hoer pos aangestel is. Regstellende aksie was vir hom die finale besluit om sy geliefde land te verlaat. Vandag beklee hy n hoe pos by een van die papierfabrieke in NZ. Saam met hom werk nog 17 Suid-Afrikaners van Rotex en Eskom wat eens op n tyd instandhoudings werk in SA vir Eskom gedoen het.

    1. Voorwaar baie hartseer dat ons volk soveel kundigheid verloor.

      Miskien sal dié volksgenote wat noodgedwonge moes gaan eendag te vinde wees om hul kundigheid, as adviseurs, met dié van ons wat Volkstaat help bou kom deel wanneer die tyd aanbreek.

      Die verlies aan kundigheid en Afrikaner werketiek is oraloor te bespeur in die NSA.

      Wie weet Bart Vosloo, miskien oor 10 of 20 jaar is ons as volk weer vry en sal jou seun dalk oorweeg om terug te keer….

  10. Petrus

    As een van die Afrikaners wat deur die meul van diensplig was (weliswaar aan die einde van die grensoorlog en as dokter wat dus nie fisies geveg het nie), en in Suid Afrika gebly het, en belange in Orania het- ‘n paar klippe in die bos.
    Ons voorouers het uit diverse plekke in Europa herheen ge emigreer agter beter omstandighede aan/ hierheen gevlug weens vervolging.
    Toe dinge te warm word in die Kaap, was daar weer ‘n migrasie binneland in na beter omstandighede.
    Dan is daar ook nog die ouens wat destyds Peru toe is.
    Soos hoë cholesterol en ADHD in ons gene is, is ons ‘n volk van mobieles, van migreerders, want dit is die gene wat vir ons geselekteer is deur ons voorouers.
    Verder is die wêreld as geheel ook meer mobiel. Londen het al meer meer immigrante as gebore Britte.
    Die een oftwee ouens wat ek oorsee ken wat eerlik s met my, en nie almal probeer oortig hoe wonderlik it daar is nie, vertel ens van die harde werk, die min tyd vir jou gesin en disrimiasie- “maar dis darem veiliger”. En “Ons doen dit vir ons kinders” alhoewel hulle nie tyd het o saam met hul gesinne deur te bring nie.

    Maar net nog ‘n opinie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s