Groot state vol klein volke!

Ten spyte van die feit dat hulle bloot monarge se ryksoorblyfsels uit vervloë tye is, latere verowerde gebiede insluit, of met gebiedsgrense sit, lukraak getrek deur koloniale magte, ens. verwys die meeste moderne state, ook Suid-Afrika, na hulself as nasiestate. Die kanse dat hul bewoners ‘n homogene nasie vorm, is ongelukkig gering!

Hulle is dus, nie net misleidend t.o.v. hul samestelling nie, maar in hul ontkenning van groepsverskille, ook potensiële brandpunte vir interne konflik, met verskille in ras, etnisiteit of geloof die lonte. In mengelstate, kom minderhede selde indien ooit, tot hul reg.

Die begrip ‘nasie’ kry dus hiér nuwe betekenis. Etniese- of volkstaat is, myns insiens, gevolglik ‘n logiese antoniem vir nasiestaat.

Hoe beïnvloed en manipuleer die regering van so ‘n so ‘n staat groepsdenke en hoe ontwrig en omvorm hulle gemeenskappe?

Kom ons begin by hul gesagstruktuur, naamlik die regering wat die wette maak. Wette en staatsoptrede moet binne die raamwerk van ‘n grondwet gemaak en gedoen word.

‘n Vraag dan: Is ‘n grondwet, as kontrole meganisme, voldoende om magsmisbruik mee te bekamp? Om bv. die RSA-regering in die grondwethof aan te pak, is vir Jan Alleman, ‘n onbegonne taak. Sulke regskundigheid en kostes is net bereikbaar deur kapitaalkragtige groepe en hulle tree nie noodwendig in belang van gemeenskappe op nie.

Diegene met ‘mindere’ klagtes word gevolglik van optrede ontmoedig, en sodoende word daar met ‘n legio grondwet oortredings weggekom. Is die afskaling van Afrikaans deur die ANC regering, arbeidsdiskriminasie, ens. voorbeelde van sulke grondwet omseilings?

In dit wat ons as demokrasie ken, word ‘n land regeer deur die groep wat 51% van die stemme op hulself verenig kry. Regeer beteken, nie 51% van die sê nie, maar die volle sê! Die res moet hul, ‘demokraties’, hierby berus.

Die maghebber dek gevolglik die hele veld! Tot sy beskikking het hy, nie net ‘n polisie- en weermag nie, maar ook beheer oor propaganda middele soos ‘n staatsradio en tv-netwerk.

Hul propaganda arsenaal sluit regeringsgesinde kommentators in wat regstaan om, teen vergoeding, aan debatte of besprekingsprogramme deel te neem.

Sulke politieke segsmanne spog meesal met ‘n titel of twee, professor, doktor ens. of/en met jare lange ondervinding in die perswese. Moenie hierdeur mislei word nie! Programleiers beheer die verloop daarvan volgens die uitsaaier (lees staat) se beleid. Is sulkes kundiges, of nuttige idiote?

Plaaslik, teenoor dié propaganda monster, staan die geldmag met sy teëvoeter in die vorm van ‘n koerant en tv netwerk. ‘n Staatsmonopolie versus ‘n kapitaalmonopolie, die ANC-staat se SABC teen die DA se Naspers.

Objektiewe bronne van inligting? Allesbehalwe! Wel ‘n spel van kieser manipulasie deur politieke en kapitale magsblokke.

Aanvaarding van die toestand hier, is ‘n bereidwilligheid om vasgevang te sit en uitgelewer te wees aan, of ‘n liberalistiese of ‘n kommunistiese bestuur. Vir die huidige, in die RSA as ‘n eenheid, lyk ander opsies hoogs onwaarskynlik.

Is daar ander opsies los van die RSA-eenheid, wat is hulle, hoe en waar kan hulle bespreek en gepropageer word?

Landuit is so ‘n opsie en ‘n beduidende getal Afrikaners het reeds hul ontevredenheid met die NSA op hierdie wyse uitgedruk. Landuit is ook ‘n duur opsie en ontwrigtend vir beide gesinne en hul nabye familie.

Baie wegtrekkers is reeds in hul nuwe omgewings ingeburger. Baie ander weer sal, mits daar ‘n lewensvatbare Afrikaner enklawe is met voldoende geleenthede, more op die eerste skip op pad terug wees. Met die verswakte wêreldekonomie is landuit ook nie meer so maklik nie. Dit bly maar ‘n traumatiese stap.

Afrikaners sit met ‘n gespletenheid. Aan die eenkant, is daar die met ‘n sterk vryheidsdrang. Hulle is nasionaliste en sê oor hul eie sake in ‘n eie gebied word voorop gestel. Dié tipe het die Groot Trek aangepak, hulle is ook die tipe wat, stroomop, ‘n groeipunt soos Orania van die grond af op maak werk het. Hulle beywer hul vir ‘n volkstaat.

Teenoor hulle staan die inskiklikes. Diesulkes het destyds die Groot Trek teëgestaan en staan ook nou Afrikaners (regses vir hulle) se selfbeskikkingsplanne tee. Elke tweede woord, by hulle, is ‘n Engelse een. Engels is ook die taal waarin uitdrukkings en aanhalings gemaak word, ongeag of dit uit Frans, Duits of Grieks afkomstig is. Boere-bashing is een van hul tydverdrywe. Hulle is die NSA-maakwerkers.

Die persepsie van die RSA as ‘n falende staat neem toe, en as dit waar is, raak die tyd vir die bou en vestiging van ‘n sterk Afrikaner enklawe min. Beteken dit dan dat daar in aller yl tot afskeiding van die RSA oorgegaan moet word?

Nee! Dit beteken bloot dat ons meer onafhanklik en selfstandig in ‘n gebied gevestig moet raak. Hoe ons ‘n eie leefruimte daar inrig en bestuur het min met die sentrale regering te doen. Hulle wette en belastings bly ongelukkig nog van toepassing. Alle ander reëlings, solank as wat dit uit eie bronne gefinansier word, is eiesake. Onafhanklikheidsdag sal die dag wees waarop ons ons wil kan afdwing! Kom ons kry die nodige daarvoor in plek.

Dié vorm van onafhanklikheid herinner sterk aan situasies in die tye voor die koms van die moderne staat toe bv. konings gebiedsbevolkings met rus gelaat het en bloot in hulle as belastingsbronne belang gestel het. Dit is natuurlik nie die ideaal nie maar iets waarmee ons voorlopig sal moet saamleef.

Om ons ideale mee te bevorder het die koms van die internet nuwe deure oopgemaak en vir ons ‘n sê- en protesplek teen die ongebreidelde manipulasie van die staatskolos en sy regering gegee. Dit gaan soms rof op die internet maar daar is ook sêplekke waar objektiwiteit in debatte voorkeur geniet. Vry Afrikaner is so ‘n sêplek, kom ons benut hom!

Die uiteindelike keuse lê tussen ‘n kwynende Afrikanergemeenskap in ‘n verswelgende staat, of een van moue oprol en beheer oor eie toekoms in ‘n eie gebied neem! Orania is ons wegspringplek, kom ons neem die regte besluit en bou en bevorder hom.

Die Vrede van Westfalen: interessante Nederlandse leesstof m.b.t. die ontstaan

van nasiestate. Sien http://nl.wikipedia.org/wiki/Vrede_van_Westfalen

6 gedagtes oor “Groot state vol klein volke!

    1. Martinaglia, Ek dink dis ʼn geldige observasie. Ek dink nie ʼn staat “moet” homogeen wees om ʼn sukses te wees nie, maar net so kan ʼn staat suksesvol wees as hy enige ideologie volg (demokrasie/sosialisme/mondagron/suiwer vryemark) dit maak nie saak nie. Die vraag wat vir my saak maak is, hoe groot is daai staat? Liechtenstein kon ʼn metro-stad gewees het in Amerika of Suid-Afrika. Dis lokalisme, hoe hulle hulself regeer is hul eie keuse. Lokale klein regerings strem “gesag” om mense goed te behandel andersins sou Liechtenstein ʼn leë plaas gewees het. In reuse state is daar geen kans vir ontvlugting nie.

  1. Anthony Schlemmer

    Baie goeie artikel ! Die Orania gebied (Dit is nou al ‘n gebied) is onteenseglik die enigste haalbare oplossing vir ons selfbehoud en vooruitgaan.

    Die alternatief wat die NSA bied is BAIE, BAIE duidelik die ondergang van die Afrikaner!!

    Onverklaarbaar, is daar nog steeds Afrikaners in die jaar 2012, wat dit nie kan snap nie.

  2. Goeie artikel oom Ben. Oom som die situasie goed op en dui die regte rigting aan.

    “Dit beteken bloot dat ons meer onafhanklik en selfstandig in ‘n gebied gevestig moet raak. Hoe ons ‘n eie leefruimte daar inrig en bestuur het min met die sentrale regering te doen. Hulle wette en belastings bly ongelukkig nog van toepassing. Alle ander reëlings, solank as wat dit uit eie bronne gefinansier word, is eiesake. Onafhanklikheidsdag sal die dag wees waarop ons ons wil kan afdwing! Kom ons kry die nodige daarvoor in plek”

    As inwoner van Orania kan ek getuig dat hierdie sienswyse korrek is. Dis absoluut waar dat die ANC regering min tot geen invloed het op die allerdaagse lewe van Oraniers nie. Natuurlik beinvloed hul besluite m.b.t. byvoorbeeld belasting en inflasie ons, maar rasstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, misdaad-beleid ens. het geen effek op ons nie. Alhoewel die situasie nog nie naastenby ideaal is nie, is dit darem al beter as orals anders in SA – die Weskaap inkluis!

    Die doemsprofete se nou seker ja, dis alles goed en wel maar as Orania en die volkstaat-gebied onder Afrikaner beheer groei dan sal die ANC dit kom vat. Glad nie waar nie! Al kom bly elke Afrikaner in die volkstaat-gebied sal ons bevolking ongeveer die helfte van Soweto se bevolking wees. 2.5 miljoen Afrikaners wat op hul eie gaan bly sal beslis nie vir die ANC ‘n kopseer wees nie… inteendeel, dit sal ‘n paar kopsere vir hulle oplos, bv. grondhervorming, meer ruimte vir swart bemagtiging, minder teenkanting van organisasies soos AfriForum wat die regering konstant hof toe sleep ens. ens. Feit is dat die kanse skraal is dat selfs die helfte van alle Afrikaners in die volkstaat-gebied sal wil bly en selfs al bou ons groot welvaart op sal dit steeds nie vergelykbaar met die RSA se BNP wees nie.

    Indien ons die gebiede waar die goudmyne is vir onsself wou opeis dan sou dit ‘n ander saak gewees het. Wie anders behalwe ons soek hierdie gedeelte van die Karoo en die Weskus? Selfs De Beers gee al groot dele van hul grond op die Weskus weg.

    Ek hoop hierdie skrywe bring bietjie nugterheid by diegene wat so vinnig is om namens die ANC te wil dink…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s