Rapport rubriekskrywer looi DA met die kaalkop waarheid!

Vry Afrikaner publiseer graag Frans Cronjé, adjunk-uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, se interessante rubriek wat op 16 September 2012 in Rapport verskyn het. Dit wil voorkom of die ligte begin aangaan by sommige Afrikanermeningsvormers wat kan spog met ’n Naspers spreekbuis.

Die besef dat die DA nie daartoe in staat is om Afrikaners se beste belange te bevorder nie, was die eerste stap vir menigte van ons wat opsoek was na ’n volhoubare oplossing vir ons volk.

Die meeste van ons ondersteun vandag die gedagte van gebiedsgebaseerde-vryheid en is op een of ander wyse betrokke by Orania. Te danke aan Orania word daar noemenswaardige betekenis gevoeg by die volkstaatgedagte a.g.v. die gesonde implementering en ontwikkeling van selfwerksaamheid, selfstandigheid en selfbeskikking binne hierdie groeiende Afrikanergemeenskap. Tyd sal leer of meningsvormers soos Frans Cronjé ook betrokke gaan raak by ons positiewe, vreedsame en volhoubare strewe. Hier volg sy huidige denkraamwerk:

Die meeste lesers van dié rubriek is waarskynlik wit, Afrikaanssprekend, middelklas en hardwerkende belastingbetalers.

Sou hulle stem, is dit waarskynlik vir die Demokratiese Alliansie (DA) omdat hulle glo dié party bevorder hul belange beter as enige ander party. Hul steun is waarskynlik een van die groot redes waarom die DA die laaste tyd so snel gegroei het.

Maar die DA se ondersteuners moet hulle staal: Hulle gaan verraai word omdat die DA ten opsigte van sy partybeleid op koers is om dieselfde rassistiese en sinlose swart ekonomiese bemagtigingsbeleid (SEB) te aanvaar wat die ANC die afgelope tien jaar inspan om teen wit mense te diskrimineer.

Die DA het sy nuwe SEB-beleid op 28 Augustus uitgereik. Daar is egter niks nuuts in nie. Die DA sê dat hy in die breë saamstem met die SEB-wetgewing wat deur die ANC-regering ingestel is.

’n Sentrale komponent van die ANC se SEB-beleid is ’n telkaart waaraan private ondernemings se bemagtigingstatus gemeet word. Dié status word bepaal deur hoeveel swart personeellede, bestuurders en aandeelhouers ’n onderneming het; ook wat die werkgewer doen om swart mense se vaardighede en ondernemings in swart besit te help ontwikkel en hoeveel dienste en produkte ’n onderneming van swart sakelui koop.

Vaar jy vrot op dié telkaart, het jy ’n probleem omdat jy nie met die regering sake kan doen nie en ook omdat ander ondernemings nie met jou sake sal wil doen nie.

Die staat kan entrepreneurs dus straf as hulle nie rasteikens haal nie.

Dié benadering tot bemagtiging is egter gedoem.

Dit is gedoem omdat dit die uitgangspunt huldig dat die verantwoordelikheid om swart Suid-Afrikaners te bemagtig by wit mense berus. Dié uitgangspunt is nie net rassisties nie, maar ook ontmagtigend teenoor swart mense omdat dit suggereer hulle kan net suksesvol wees met wit mense se hulp.

Dis voorts sinloos weens die uitgangspunt dat daar hope swart professionele en sakelui is wat net wag om in die ekonomie opgeneem te word, maar dat wit teenstand teen transformasie hulle daarvan weerhou. Gevolglik moet die staat wetgewing instel om wit mense te dwing om swart professionele en sakelui te help.

Voorstanders van dié beleid ignoreer die feit dat net drie uit elke 100 swart Suid-Afrikaners professioneel gekwalifiseer is en dat net drie uit elke 10 matriek het.

Nogtans sê die DA in sy onlangse SEB-beleidsdokument die party “glo ons moet die telkaart wysig, nié weggooi nie”. Daar word dan voorstelle aan die hand gedoen, maar die sentrale vertrekpunt is presies dieselfde een as wat die ANC huldig.

Die DA-beleidsdokument bevat ook die bedekte dreigement dat swart mense “geregtig is op regstelling” en dat versoening op die spel is, sou SEB nie afgedwing word nie. Diegene wat die beleid kritiseer is dus rassiste wat die geduld van die swart meerderheid beproef.

Laastens voer die dokument aan die staat moet sy koopkrag inspan om ondernemings in swart besit te bevoordeel.

Die DA sê dus as hy die dag regeer, sal hy sy ondersteuners se belastinggeld gebruik om teen hulle te diskrimineer

13 thoughts on “Rapport rubriekskrywer looi DA met die kaalkop waarheid!

  1. Anthony Schlemmer

    Absoluut benoemingswaardig dat die waarheid in Rapport gepubliseer word. Nieteenstaande is dt vir my as Afrikaner vreesaanjaande leesstof !!
    Sjoe ! Ons sal moet saamstaan soos nooit tevore !

  2. Nou toe nou!! Frans Cronje som dit nogal heel goed op. Wens net die VF+ leier het nie in Zuma se kabinet gesit nie terwyl sy party nie genoeg doen om steun vir die vryheidsideaal te ontwikkel nie (en daardeur misluk om hul missie uit te voer). Die VF+ sou hierdie klas van nuus kon melk vir meer steun.

    Die DA kan so potitief wees oor SEB as wat hulle wil, maar solank as wat dr Mulder in Zuma se kabinet dien gaan Afrikaners bly DA stem want baie mense voel dis veel erger van ‘n opposisie leier om vir Zuma te werk as om pro SEB te wees. Mulder speel dus in Zille se hande in terwyl hy eintlik anti SEB is en sy pro… SA partypolitiek is darem ‘n onderstebo en deurmekaar spul!!

  3. Werner

    Ek onthou nog Trollip se epos wat in woede beveel : “wanneer gaan hierdie ‘Afrikaner probleem’ weggaan!?” En dan verander Kaapstad straatname links en regs om die ANC te paai. Hul is twee kante van dieselfde muntstuk. Die bestemming is eenders.

    1. Werner

      Wel om te besef hoe geskroef ons nasie vd begin af was,
      hoef mens bloot na ons landsvlag te kyk met die Britse vlag in die
      middel. Ja, die Britse vlag! Vir enigiemand wat ons geskiedenis ken
      is dit duidelik hoe “compromised” ons land was. Verbeel jou Israel
      Se vlag met n swastika langs die dawidster! Of selfs Indie se vlag
      met die union jack op. Dis ondenkbaar.

      1. Jaco

        Miskien is die Britse vlag in die “ou” SA vlag die olifant in die kamer.

        Hoeveel mense sal nog mense soos Slim Jannie Smuts goedpraat, maar wat die direkte oorsaak is dat “kompromie” aangegaan was. Dit was eintlik nie kompromie nie, dit was slegs oeverblindery om die Boere te paai dat die volle oorgawe nie so ooglopend sal wees nie.

        Die Boer het net homself te blameer vir sy swak oordeel.

        110 jaar gelede het die Boere geleentheid gehad om hulle oorgawe te beveg, 20 jaar gelede was hulle net grootpraterig om die oorgawe te beveg. Met oeverblindery het ons toe nooit geveg nie.

        Dit is dieselfde “ingelse” wat toe ons bedonner het, wat nogsteeds ons bedonner. Ek vermoed dit is net toevallig dat hulle ingels praat, hulle eintlike lojaliteit sit by ‘n ander plek.

        Daar is miskien nog ‘n ingelsman in die land wat nie te sleg is nie.

  4. Jan Smuts

    Dit is tyd dat ons almal weer besin oor hoekom ons hier geplaas is. Miskien is ons mag van ons weggevat as gevolg van die feit dat ons nie veronderstel was om enige mag te he nie. Dit was nooit die bedoeling om te regeer nie, maar om te dien… Ons leef in Afrika, eet in Afrika, werk in Afrika, maar wil ons eie klein plekkie he…weg van Afrika.

    1. Jan, die Afrikaner is in Afrika gebore en is inheems aan ons pragtige kontinent. Ons gun enige volk of stam die reg en vryheid om oor hul eie sake te besluit (m.a.w. oor hulself te regeer) – so ook is dit net regverdig dat ons daardie reg en vryheid mag uitleef in ons eie gebied. Dis dalk nie die rykste plek in die wereld nie, maar kom kyk gerus hoe ons hier in Orania besig is om op ‘n vreedsame wyse Afrikaners se vryheid te herstel.

  5. as ek so lees na al die komentaar dan besef ek net weereens dat elke antwoord gepaard gaan met eie ondervindinge

    stap ‘n dag in ‘n ander man se skoene en jy sal verstaan waarom dinge vir hom belangrik is wat vir jou onbelangrik is. as ek moet eerlik wees met myself stem ek vir die DA omdat daar nie werklik ‘n ander party is waar by ek my kooigoed sal bring en saamslaap nie…….

    ek het geen poletieke kennis nie, maar uit my hart kan ek sê ek is ‘n boorling van Afrika, en ek beskou myself as ‘n afrikaan, nie oor ek wit is nie, maar oor die feit dat dit my plek is, die plek waar my wortels lê, en die plek wat ek vir niks sal verruil nie!!!!

    wit en swart sal net kan saamstaan as ons vergeet van onself en begin dink aan mekaar, gister is verby, more kom nog, dit is wat ons vandag doen en sê wat saakmaak, en as jy iets sê moet jou dade dit weerspieël!!!!!!!!!!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s