Selfwerksaamheid is oplossing vir plaasmoord-krisis

Week na week word ons geskok met nog ‘n gru-plaasmoord. Dit is gewoonlik oor naweke, wanneer mense wil ontspan en braai en rugby kyk wanneer die harde nuus van nog ‘n brutale plaasmoord ons tref. Nog ‘n niksvermoedende gesin of ‘n egpaar wat van familiebesoek of van die kerk afkom is grusaam vermoor. Die alomteenwoordige wanhoop en skok is al wat oorbly.

Op Facebook word met ontsteltenis kommentaar gelewer, op vergaderings kort na die moorde kom boere bymekaar en haal hulle frustrasies uit op ‘n regeringsamptenaar wat hulle wil toespreek. Die roep na die herinstelling van die kommando’s, van die doodstraf, beter bewapening van boere, meer polisie ens. klink luid op. 

Iewers verklaar ‘n vêrregse splintergroep dat, as daar nog een boer vermoor word, dit oorlog is. Die polisiekommissaris of ‘n ander funksionaris  belowe die boere dat die polisie hulle bes doen, en dat almal moet saamwerk om plaasmoorde te stop. Daarna vra hulle ook dat plaasmoorde in perspektief gesien moet word omdat meer swart mense vermoor word as wit mense in Suid-Afrika.

Perspektief kom juis daarop neer om na die per kapita moordsyfer te kyk. Dis waar ons oplet dat die persentasie swart mense wat vermoor word in vergelyking met hul totale bevolking heelwat minder is as die persentasie blankes wat vermoor word in vergelyking met ons totale bevolking. Nietemin, van die regering se kant af is dit duidelik dat plaasmoorde nie regtig so erg is nie.

Na ‘n ruk is alles weer vergete, die plaaspatrolies verslap, en die lewe gaan maar weer aan. Dan kom die volgende plaasmoord en alles begin weer van voor af. En so gaan dit al jare aan, al wat verander is die getal dooie boere wat net meer en meer word, en geen einde is in sig nie.

Elke plaasmoord sny in die Afrikaner se hart. Al is dit nie mense wat ons persoonlik geken het nie, is dit ‘n tipe mens wat ons goed ken en wat gewoonlik die beste van die Afrikanervolk verteenwoordig: gelowige, behoudende familie mense met goeie waardes, steunpilare van hulle gemeenskap wat by die kerk en plaaslike organisasies betrokke is en wie se opinie gewig dra. Boer vir boer sterf die platteland en die Afrikanerdom.

Dit help egter nie om net te treur en elke keer dieselfde reaksie te toon nie. Woede, skok, ontsteltenis en roepe na wraak en meer drastiese optrede is verstaanbaar, maar dit het nog nie die situasie enigsins verbeter nie. Ons kan praat en dreig en petisies skryf tot ons blou in die gesig is, ons kan niks meer van die regering verwag as dit wat die polisiemag reeds doen nie.

Die tendens is eerder dat die polisie geleidelik meer onbevoeg raak, ten spyte van vinnige optrede hier en daar. Die doodstraf sal nie heringestel word nie, en indien wel, sal die Boeremaglede die eerste ouens wees op wie dit toegepas gaan word deur die regering.

Die boere is nie prioriteit vir die regering nie, en die regering kom in elk geval nie eers by dit wat vir hulle prioriteit is uit nie, soos dienste vir die armes. Geen hofsaak wat die regering wil dwing om nou iets te doen vir veiligheid sal iets bereik nie, want ‘n hofuitspraak moet deur die regering afgedwing word en daar ontbreek die wil of die vermoë – of albei. Al daardie hoop op eksterne hulp kan ons dus maar vergeet.

Al wat die boere kan doen is om by hulleself te begin. As jy besef dat jy op jou eie aangewese is, maar dat jy nie alleen staan nie omdat daar talle boere in dieselfde situasie is, help dit alreeds. Dit sal wel ‘n aanpassing verg, en nogal ‘n drastiese een.

Ten eerste kan en moet boere nog meer as wat tans die geval is saam na hulle eie veiligheid omsien, al beteken dit dat jy in die aande patrollies ry pleks om TV te kyk. Plase kan, nes veiligheidsbuurte in die stad, saamgroepeer en op dié manier beweging van vreemde elemente beter beheer. Ook dit alles help egter maar net ten dele.

Op die ou einde is die crux die “adder aan jou boesem”, jou swart werkers. Dit is wel so dat die meerderheid plaaswerkers goeie, getroue en vredeliewende mense is. Dit is egter ook so dat by bykans elke plaasmoord iewers ‘n plaaswerker of ‘n huisbediende direk of indirek betrokke is.

Geen plaasmoord vind plaas sonder vooraf verkenningswerk oor die opset op die plaas nie, met ‘n plaaswerker as “Trojaanse perd”. Plaasaanvallers kan tussen hulle mede-swartes soos visse in die water rondbeweeg. Elke plaaswerker met sy magdom familie en kennisse wat by hom kan in- en uitgaan is ‘n veiligheidsrisiko, want kriminele kan ook deel van sy string kennisse wees. Soos enige mens skinder en praat swart mense ook oor hulle werkgewers en natuurlik word ‘n magdom inligting uitgeruil. Al is die bedoeling dalk onskadelik, is die gevolge dikwels dodelik.

Boere het nou die keuse om voort te gaan met die bekende, gemaklike lewe met groot plase, baie werkers, ‘n groot omset en ‘n benarde veiligheidsituasie, of hulle kan planne in werking stel om geleidelik na ‘n volkseie boerdery oor te skakel met al die implikasies wat dit behels.

Dit sal ‘n groot aanpassing verg, inkomste sal verminder, werksure sal toeneem en ‘n lank gekoesterde baas-mentaliteit sal verander moet word na ‘n pioniersmentaliteit. Dat Afrikaner-boere dit wel kan doen het hulle al menige kere bewys. Elke keer wanneer boere in arm Afrika-lande soos Mosambiek, Zambië of Kongo van vooraf begin, wys hulle dat hulle nog die pioniersgees in hulle het.

Hoekom sou dit dan nie moontlik wees in volkseie verband, en in ‘n Afrikaner-nedersettingsgebied waar die gemeenskap net uit Afrikaners bestaan nie? Kom kyk gerus hoe die boere in Orania dit regkry. Boere in die spervuur moet kom aansluit by die Oraniërs en sodoende in staat wees om ook veilig, winsgewend en selfstandig in hierdie gebied te kom boer.

Immer is die prys om dit nie te doen nie te hoog om te betaal: jou en jou geliefdes se lewe.

 

* Vry Afrikaner ondersteun TLU se inisiatief om plaasmoorde te bekamp. SMS asb. TLUSTOP na 48716 en maak ’n R 10 donasie om plase te help beveilig.

8 thoughts on “Selfwerksaamheid is oplossing vir plaasmoord-krisis

  1. Puik!!!! Mens kan nie anders as om simpatie te he vir die families wat al vir 3 of 4 generasies boer op hul familieplase in die ou Transvaal en Vrystaat nie. Tog moet ‘n mens ook net in gedagte hou dat hul eie voorvaders tussen die laat 1600’s en 1830’s in die Kaap ook vir ‘n hele paar generasies op hul familieplase geboer het voor die Groot Trek. Daardie mense moes vir oorlewing en vryheid Noorde toe getrek. Net jammer hulle het hul volksvreemde arbeid saam met hulle gevat, of begin staat maak op die oorvloed van nuwe goedkoop swart arbeid in die Noorde. Nou moet die nageslag van daardie Voortrekkers weer trek en oor begin vir hul oorlewing en vryheid – die enigste verskil is dat hulle dit hierdie keer reg gaan doen en met hul eie mense se arbeid boer. Wat ‘n lang en duur les vir ons hele volk!!

    Meer prakties… as ek nou ‘n boer was wat met volksvreemde arbeid geboer het in die Transvaal, Natal, Oos-Kaap of Vrystaat, en ek lees hierdie artikel dan sou ek sommer more al begin het om ‘n plan te maak.

    Eers sou ek begin om stelselmatig van my swart arbeid ontslae te raak deur hulle pakkette aan te bied en die wat misdaad pleeg af te dank. In die proses sou ek ‘n klein span Afrikaner werkers opgebou het tot dit net ek en hulle is wat die werk doen. Ek sou my plaas in die mark sit en op ‘n feitesending Orania toe gaan om te sien hoe die Afrikaner boere hier boer met Afrikaner arbeid, wat hul uitdagings is en hoe ek dit kan oorbrug. Ek sou vir my grond aankoop in of om Orania en stap vir stap my hele boerdery hier kom hervestig.

    Die boere in Orania het dit ook so gedoen en is vandag suksesvol en selfstandig. Dit KAN gedoen word!

    1. Jaco

      Hopelik word hierdie kommentaar gesien vir wat dit is.

      Die geskiedenis vertel ons dat die trekkergesinne hoofsaaklik staatgemaak het op eie arbeid vanuit die familie. Die “hulp” wat saamgetrek het was minimaal en wat afgelei kan word vanuit die geskiedenis, ook maar saam agv patriagale verantwoordelikheid eerder as uit gemaksug.

      Dit is teenproduktief om te wil voorgee dat die volksvreemde arbeid oorheers het tussen die Trekboere. Kom ons hanteer die gedagtes van die Trekboere met nodige respek.

      Op ‘n keer het Pres. Paul Kruger gewaarsku teen te veel vreemde arbeid, maar dit was ook nie van so ‘n wye voorkoms asof dit die reel was nie. Onthou dat daar ook Takhare was, nie die reel nie, net dat dit voorgekom het.

      Na die Vryheidsoorlog II was die oorblywende Boere aangewese op hulle eie arbeid. Die arbeidsmark in daardie tyd was hoofsaaklik veroorsaak deur die “nuwe” myne. So by so dat die ingelse arbeid ingevoer het, en dus het die arbeidsprobleem daar ontstaan.

      Vir lank het boere self op hulle plase gewerk met die minimale arbeid, maar sodra die mynarbeidsaanvraag gevul was, het die swarte weer na die boere gegaan vir heenkome. Veral net na die WO II was daar ‘n toestroming van swart arbeid na die plase, met die blankes wat weer meer verstedelik het. Dit is hier waar die gemaksug dalk begin oorneem het deurdat families op plase gehuisves was met net een van die familie wat arbeidsaam was.

      Die kopseervlak wat die volksvreemde-arbeid aangeneem het, lyk vir my eerder in die “vet” jare te ontstaan het.

      Kom ons oorbeklemtoon nie ‘n ooglopende probleem nie, maar wys op ‘n objektiewe manier na die probleme.

  2. a theron

    Hoe wonderlik sal dit wees as jong blanke seuns hul begeerte na boerdery en die ge voel van die soms harde plaaslewe, vir die poste op plase kan aansoek doen! So fasseer die boer ook die adder in sy boesem uit. Boerdery is in die bloed van die blanke, en jong wimanne kry nie staatsposte nie, en dit is n geleentheid vir manne om menswaardig te leef. Skep die geleentheid vir ons jong seuns, om nader aan die grond te leef.

  3. Gert Kruger, VERWOERDBURG.

    Destyds tydens die KP se bestaan het daar dikwels sulke snaakse stories die rondte gedoen soos bv dat swartes by ons in ons huise gaan intrek en daar voorsiening vir ‘n gesin van tien of meer gemaak moet word! Toe het ons gedink dat dit ‘n grap is. En vandag staan ons voor die werklikheid daarvan!

    Dit wat elke dag met ons gebeur en wat die afgelope amper twee dekades met ons gebeur het, laat mens onwillekeurig terugdink aan oud-Israel toe die HERE in Deuternomium 28 gesê het dat hy die volk sal seën as hulle nie van sy gebooie afwyk nie maar indien hulle daarvan afwyk sal hy hulle vervloek. Mens kan dit wat daar staan amper letterlik net so van toepassing op ons Afrikanervolk maak. 

    Die vloek wat in Deut. 28 staan is baie meer skrikwekkend as dit wat in die aangehaalde nuuskommentaar staan, sou die betrokke wetgewing goedgekeur word. En dit waarteen daar in die nuuskommentaar gewaarsku word, geld nie net vir die boer nie maar ook vir ons stedelinge. Mens sidder by die gedagte dat sulke drakoniese wetgewing oor ons kan kom.

    Luister: “As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde.” (Deut. 28:1).

    En was ons in die tyd van apartheid nie in die hoogste gestel in die ry van volkere nie?

    In die daaropvolgende verse volg die seëninge waarmee die HERE die volk sal seën. In vers 13 en 14 sluit die HERE die seëninge met die volgende af: “En die HERE sal jou die kop en nie stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen, en jy nie regs of links afwyk van al die woorde wat ek jou vandag beveel, om agter ander gode aan te loop en hulle te dien nie.”

    Maar ons volk wou nie luister nie en het soos oud Israel agter verleiers aangeloop. So het ons volk – of altans die grootste gedeelte van hulle – agter die Bokryer F W de Klerk aangeloop! Die voorbeeld wat hy gestel het was te verleidelik vir die volk nl om sy eie vrou te skei en agter ‘n jagse Griekse op ‘n Griekse Jag aan te loop en die onderhandelinge met die vyand aan ‘n liggewig seuntjie oor te laat.

    Die waarskuwing wat die HERE aan die volk Israel gerig het indien hulle van sy gebooie afwyk, kan ons net sowel letterlik op ons volk van toepassing maak.

    Luister: “Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.” (Deut. 28:15). In die daaropvolgende verse volg die vloeke wat op die volk sal kom. 

    Ondere andere staan daar: “Jou bees word voor jou oë geslag, maar jy sal daarvan nie eet nie; jou esel word voor jou weggeroof en sal na jou nie terugkom nie; jou kleinvee word aan jou vyande gegee sonder dat daar vir jou ‘n helper is.” (Deut. 28:31). En sien ons dit nie vandag feitlik letterlik met ons boere gebeur nie? 

    Lees maar self verder: “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jy sal laer en laer afsak.” “Hy sal aan jou leen, maar jy sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy sal die stert wees.” (Deut. 43 en 44).

    En wat die laaste gedeelte van hierdie laaste vers betref, is dit nou presies waar ons al vir die afgelope 17 jaar is: “…..hy sal die kop en jy sal die stert wees.” ! M a w daar kan net sowel gestaan het: “Die swartman sal die kop wees……”

    M.i. is dalk dalk reeds te laat. Maar soos wat daar gesê word is voorkoming steeds beter as genesing: “Waar volksvreemde arbeid nog nie in geheel uitgeskakel kan word nie, moet in ieder geval verhoed word dat hulle op die werkgewer se eiendom bly. Hulle mag dalk net nooit weer daarvandaan verwyder word nie en ook permanente verblyfreg kry, soos nou gepoog word om op die boere af te forseer. Ook daarom moet die landbougemeenskap ondersteun word in hulle stryd, want dit gaan waarskynlik nie daar bly nie.”

    Wat my betref is dit reeds te laat. Daar is te veel boere soos dié van Aggri SA (lees Ugly SA!) (en selfs van TLU SA) wat nog te afhanklik van volksvreemde swart arbeid is en wat só diep in die swartes se gatte ingekruip is dat hulle hul koppe teen mekaar se boots stamp!

    Of die betrokke wetgewing deurgevoer gaan word, al dan nie; die witman in hierdie land (en sy nageslag), of hy hom nou ‘n boer, ‘n Afrikaner, ‘n  Boere-Afrikaner, of ‘n blanke noem, is in die grootste gevaar sedert Jan van Riebeeck se tyd. En hoe ek en jy of die blanke in die algemeen, die boeregemeenskap in hul stryd moet ondersteun, weet ek nie.

  4. Ek en my man het op n Dairy Farm in New Zealand gewerk vir 1 jaar as n working holliday, ons het elke oggend 850 koeie gemelk, met masjiene maar die caps moes aangesit word,koeie moes uitstap en ander caps moes weer aangesit word, dit was net ons 2, ons het half4 in die oggend begin dan het Danie die koeie gaan haal en ek het die shed gereed gekry, ons was 8 uur in die oggend klaar en dan het ons ook klaar skoon gemaak, die caps moes blink en alles moes skoon wees, en half2 het ek en hy weer daardie koeie gemelk en 6 uur in die aand was ons by die huis en die shed was spotless, so ek kan nie verstaan dat in SA daar omtrent 10 mense werk in so shed nie, jy sal mekaar doodtrap. Kry eerder bekwame mense at die werk gaan doen(julle kan maar gaan le vir die middagslapie) en die mense kan n goeie salaris verdien en julle nie doodmaak nie, gee asb vir julle eie mense werk, maar dit lyk my julle soek net cheap arbeid, dis hoekom dit gaan soos dit gaan.

    1. Suzette, jy tref die spyker op die kop. Mens hoor gereeld van Afrikaners wat oorsee gaan werk het op plase en hulself uiters goed van hul taak gekwyt het. Dit gaan my verstand te bowe dat baie van daardie einste Afrikaners teruggekom het en dan net weer die swartman aanstel om die arbeid te verrig. Dan wil die mense kla dat plaasmoorde hande uit ruk – wys my EEN boer wat net met Afrikaner arbeid boer en op sy plaas aangeval word!

      Een van my vriende het ‘n melkplaas hier in Orania en dis net hy en sy vrou wat dit bedryf. ‘n Ander vriend van my in Orania boer met gewasse op meer as 500 ha besproeiingsgrond – sy span bestaan uit net hom en die 2 Afrikaner jongmanne wat al lank vir hom werk. Hulle het hierdie jaar 16 ton mielies per hektaar geoes! Ander besproeiingsboere bv. in Hopetown of Ritchie, gebruik 10 volksvreemdes op soortgelyke plase. Vroeer hierdie jaar was daar weer ‘n plaasmoord in die Ritchie distrik, terwyl daar in 21 jaar nog nie een enkele boer in Orania vermoor is nie…..

      Dan wil die liberaliste daarbuite vir my vertel dat ons Afrikaners in Orania van die pad af is!?!

  5. Andre Martinaglia

    Plaasboere moet meer mense op hulle plase opneem en behuising verskaf wat hulle kan uithuur. Hulle moet skuriteitsbeamptes wat gewapen is aanstel on hulle plase te beskerm en vir hulle eie veiligheid. Op hierdie stadium is hulle te maklike tekens vir diewe en moordenaars. Hulle moet nou begin kies indien hulle wil aanhou om te boer, of om te lewe of dood te gaan. Dit gaan hulle geld kos, maar daar geen ander oplossing vir hierdie saak nie.

    1. Goeie punt! Isolasie is of die boeregemeenskap se grootste vyand of vriend. ‘n Alleenstaande plaasopstal, naby ‘n ontsnaproete, is waarna ‘n aanvaller soek. Dieper in, maw, met meer plase tussen die opstal en die hoofroetes, meer geisoleerd dus, hoe veiliger.

      Deur dus ‘n klein gemeenskappie op sy plaas gevestig te kry, lewer ‘n boer wat naby potensiële ontsnaproetes vir misdadigers boer, nie net ‘n gemeenskapsdiens, in die vorm van huisvesting nie maar beveilig homself ook meer.

      Groter afstand vanaf broeiplekke van misdaad en ontsnaproetes vir misdadigers, verduidelik dan ook hoekom ‘n gemeenskap, soos dié in Orania, soveel veiliger is as ewe groot gemeenskappe naby groot sentrums. Sou Orania in Gauteng geleë wees, sou sekuriteit seker hul grootste kopseer wees.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s