Afrikaners en die Wet op Tradisionele howe

Dit is verrassend om te besef hoeveel belang Afrikaners by die voorgestelde Wet op Tradisionele Howe het. Op die oog af is die teenoorgestelde waar. Min Afrikaners woon in die gebiede waar hierdie howe jurisdiksie sal hê en dié soort regspraak lê buite Afrikaners se tradisies. Trouens, Afrikaners is juis trotse erfgename van die heersende Romeins-Hollandse reg. Tog behoort Afrikaners nie aan die koor van teenstand teen hierdie wetgewing deel te neem nie.

Laat ons eers die agtergrond beskou. Toe blankes Afrika binnegekom het, het swart Afrika ‘n gevestigde stelsel van regspraak gehad, wat rondom die stamhoof gesentreer het. Waar Afrikaners en Britse gesagvoerders geheers het, is verskillend op die tradisionele reg gereageer. In die Boererepublieke is swart stamme gelaat om hulleself so ver moontlik volgens hulle eie tradisies te regeer.

In die Britse kolonies is wel van tradisionele strukture gebruik gemaak in sogenaamde Indirect rule, maar daar is gepoog om Afrika-tradisies met die Westerse kultuur te vervang. So is onderwys gebruik om swart kinders van hulle stam-identiteit te vervreem. Tradisionele regspraak is as agterlik beskou en doelgerigte pogings is aangewend om dit te ondermyn. Swart stamhoofde is onder gesag van Engelse “magistrate” gestel en kon nie onafhanklik optree nie. Vir baie swart mense was dit ‘n statussimbool om sodanig te verwesters dat hulle onder koloniale reg kon val. Vir die meerderheid was die Westerse reg egter vreemd en onbegryplik.

Die Nasionale Party se verguisde beleid van afsonderlike ontwikkeling het onder meer ingehou dat regspraak ‘n sentrale deel van enige kultuur beskou is. Daar is gepoog om tradisionele reg liewer te versterk en in staat te stel om moderne situasies te hanteer, as om dit te vernietig. Dit was ‘n eerlike poging om koloniale kultuurroof met herontdekking en aanpassing van eie kultuur te vervang.

Liberale geesteswetenskaplikes en politici maak hulle skuldig aan ‘n bepaalde vorm van chauvinisme. Dit is om hulle eie opvattings en stelsels as verhewe bo alle ander te beskou. Daarvolgens doen hulle lede van ‘n ander kultuurgroep ‘n guns deur inheemse stelsels met hulle eie te vervang. Deur hierdie mense is die NP-regering se pogings om inheemse Afrika regstelsels te help ontwikkel, as rassisties beskou. Hulle eie kulturele aggressie is as “gelykheid voor die wet” voorgehou.

Met herinlywing van die tuislande, het inheemse reg sy formele status verloor. Kultuurgebonde mense is in ‘n slegter posisie as tevore, omdat hulle beregting slegs in ‘n vreemde, ontmagtigende omgewing kan soek. Dit is regstelling hiervan wat deur die huidige wetsontwerp nagestreef word. Natuurlik moet dit aan die gewone fynkam onderwerp word om te verseker dat dit nie tot vergrype of onreg lei nie, maar liberale drukgroepe ril by die blote beginsel daarvan.

Dieselfde liberale denkbeelde wat nie ruimte vir tradisionele reg het nie, het ook nie ruimte vir Afrikaners se strewe na selfbeskikking nie. Aanvaarding van ’n regsprekende raamwerk naas die heersende, is ‘n belangrike stap om die verskeidenheid van Suid-Afrika se kulturele landskap te erken. ‘n Erkenning wat noodsaaklik is voor Afrikaners hulle selfbeskikking kan herwin.

7 gedagtes oor “Afrikaners en die Wet op Tradisionele howe

  1. Andre de Kock

    Tradisionele regspraak en Onafhanklikheid van die regbank is onversoenlik. Tradisionele regspraak in die hande van onverkose,onopgeleide, omkoopbare en ‘Boetie volg vir Pappie op’ agtergrond kan nooit lei tot ‘n onafhanklike regsbank nie. Dink julle nie die Skotte, Iere en Engelse-en Europa is al hier deur nie? Hoekom wil Afrika altyd die wiel van voorafoor uitvind? Omdat iemand skree: “Dis diskriminasie en hulle verstaan ons nie-Steel en verkrag is deel van ons kultuur en behoort nie so swaar gestraf te word nie-ons wil onsself oordeel!
    Die Tien Gebooie tel nie hier nie. Die voorvadergeeste en dolosse sal die skuldige uitwys!” En nou wil die Afrikaner ‘n duisend myl agteruitloop en dit ook omarm. Dit sal die doodloopstraat vir die Afrikaner inlui as Afrikaners oor Afrikaners moet besluit. Kyk hoe is ons al deur ons eie mense bedonner.
    As ek in die hof instap het ek meer vertroue in ‘n Indier of ‘n Swarte op die bank as in een of ander Broederbond/Vrymesselaar gatkruiper wat oor my lot moet besluit.
    Daar is nie ‘n plaasvervanger vir ‘n onafhanklike regsbank wat beman word deur opgeleide regslui wat volgens uitgewysde sake in ‘n Romeins-Hollandse regstradisie wat 500 jaar oud is, oordeel nie.Die Boendoe hof van Afrika is vir Afrika-nie vir moderne Afrikaners wat weet waar hulle vandaan kom nie. Tradisionele howe is ‘n kenmerk van agtergeblewendheid en behoort as ‘n klad teen sulkes gesien te word-dieselfde as swart bemagtiging. Dit s^e net doodeenvoudig-Ons is nog nie waar die res van die wereld is nie.
    Hou die Afrikaners asseblief daar uit. As Orania onafhanklik raak en ek bly daar en Orania wyk af van die Romeins-Hollandse reg en begin met een of ander Tradisione hof trek die helfte van die Afrikaners weer daar weg. Ons mense is nie meer so onnosel as wat hulle was nie.
    Noem my net EEN tradisie van die Afrikaner wat buite die hof se bestaande verwysingsraamwerk val-behalwe dat rugby ‘n afgod is.

    1. Quintin Diederichs

      Andre, ek dink jy mis die punt. Wynand het nie gese ons moet SOOS die Afrika stamme funksioneer nie – eerder, die basis van ‘n federale bestel is om elke volk en stam die vryheid te gun om volgens hul eie maniere, tradisies en kulture te organiseer en dus te funksioneer op ‘n wyse waarmee hulle gemaklik is. Wanneer ‘n volk sy belange bevorder op ‘n wyse eie aan sy gemeenskaplike denkraamwerk beoefen hy immers selfbeskikking. Hierdie wet is ‘n tree in die regte rigting om eiesoortigheid te bevorder en daarmee ruimte te skep vir volksnasionalisme om te gedy. Hierby kan vryheidsgesinde Afrikaners net baat en ‘n toekoms vir die Romeins-Hollandse reg verseker daar waar ons oor ons eie aangeleenthede beskik… of verkies jy dat die ANC aanhou om die regbank te kaap, hul kaders aanstel as regters en sodoende die Romeins-Hollandse regstelsel te manupileer volgens hul eie belange??

      Verder, ek hou nie van jou veralgemening van Afrikaners en Orania nie. Ek weet nie in watter kringe jy beweeg nie, maar ek stel voor jy begin bietjie kyk wat om jou aangaan sodat jy al die positiewe ook kan raak sien. Ek het baie meer tyd vir Afrikaner wat ‘n tongring en ‘n neusring het, ‘n Facebookrekening en ‘n selfoon het, wat ook fokofpolisiekar luister en nie noodwendig elke Sondag in die kerk is nie maar wel ‘n bydrae lewer tot volkstaatontwikkeling, as die preetse uitgedroogte pruim wat nog baas-baas speel met sy tuinjong en ousie, kerk toe gaan maar ander tot vervelens toe oordeel en boonop DA sal stem vir “sterk opposisie” in “ons land”.

      Terloops, raai wie het hierdie puik opsomming van die Afrikaner en ons posisie in die Nuwe SA geskryf:

      Vir jou is daar nog messe wat wag
      In die bosse buite jou huis in die nag

      Ons sal mos veilig wees
      Ons hou ons gewetens skoon
      Ons sluit toe die deur!

      Ons het petrol gevat
      En ons het al ons brûe afgebrand
      Voordat ons aan die anderkant (lees vryheid) was

      Ek besef nou
      En ek besef nou eers:

      Bloed en yster
      Bloed en grond
      Bloed en olie
      Bloed en grond
      Bang en lui en desperaat

      Daar’s niks nuuts onder die son nie
      En in die skaduwee brand Suid-Afrika

  2. Andre de Kock

    Ek lees nou eers weer die berig mooi-kan nie glo daar word soveel versinsels hier genoem nie:
    Die Nasionale Party se poging om tradisionele howe te vestig was ‘n eerlike poging om koloniale kultuurrof met eie tradisie te vervang. Nonsens. Dit was ‘n eerlike manier om weg te loop van ‘n opvoedingsproses vir agtergeblewenis om hulle eie nonsens uit te sorteer eerder as om hulle 200 jaar vooruit te pluk in die 20ste eeu in. Dis hoekom hulle nou weer tradisionele howe wil he-hulle skop en skree teen die moderne samelewing. Dit herinner aan Sharia wetgewing van die moslems.

    Ek verstaan party mense sien nog die Afrikaner as ‘n Bybelgebonde, Gebodsgehoorsame burger maar hierdie volkie is vol skelm, belastingontduikende, ateistiese, liberalistiese en kapitalistiese yuppies wat nie eers weet wie Paul Kruger was nie. Hulle hang fokkofpolieskar aan by “Afrikaner Kultuurfeeste en suip soos visse. Hulle dra neus en oorringe en tongspykers en bly bymekaar en weet nie hoe lyk die binnekant van ‘n kerk nie. Hulle leef in en om Facebook en hulle selfone.

    Orania is nie eintlik vir hulle ‘n Volkstaat nie-dis eerder ‘n Afrikaanse Amish gemeenskap waar jy gaan kyk hoe Afrikaners jare terug geleef het. Hulle het tot ‘n eie tradisione hof wat besluit oor die patentreg op koeksister en beskuitresepte.

    1. Wynand Boshoff

      André, niemand beywer hulle vir tradisionele regspraak in Orania of onder Afrikaners nie. Wat jy vertoon is die soort kulturele chauvinisme wat tot die donkerste oomblikke in die Westerse geskiedenis gelei het; die houding van “ons kultuur is soveel beter as enige ander een s’n en daarom gaan ons julle dwing om dit aan te neem.” Dit is die soort houding van ‘n ANC-regering of Engelse liberaliste wat niks van volkstaat of vryheidstrewe verstaan nie. Ek stel voor jy lees weer my artikel en hou op om jou eie naam met ‘n plank te slaan. Liefdegroete, Wynand

  3. Jaco

    Ek vind die benadering redelik interessant. Ek weet ook dat as ek kommentaar gaan lewer dit redelik binne die norm moet val om verwyte vry te spring.

    Verder trek ek aan die kortste ent van ‘n regeringsgeknoeiery wat deur Afrikaanse blanke mans gepleeg word en dus is ek seker redelik subjektief en dalk oor krities, wie weet. Wat ek wel weet is dat, hoe meer ek van die “reg” leer hoe minder logika of standhoudendheid is daar. Die woord “regverdig” word prontuit as ‘n belaglikheid beskou deur die praktiseer.

    Wat verstommend is, is die feit dat dit wat ‘n beroepsgemeenskap as ‘n gegewe geleer word en aanvaar as die een standaard manier om binne te werk, so ontwikkel al vir meer as ‘n eeu, deur die regslui met obskure “regsbeginsels” verkrag kan word.

    Neem nou byvoorbeeld die Estoppel (Engelse “reg”) beginsel, waar handeling stilswyend voorwaardes in ‘n kontrak kan invoer. Blykbaar is dit ook net ‘n verdedigings beginsel en word geargumenteer en nie bewys nie. Wat kan meer banaal wees as dit? So besit die “reg” allerhande “reddingsboeie” wat van die rak gehaal kan word soos benodig en na smaak. Ongeag en in die plek van die feite en meriete.

    Verstaan ek die berig korrek? Word dit voorgestel dat ‘n aanvaarding van die wet wat (Romeins-Hollands) bepaal tradisionele wette reguleer, ‘n voordeel inhou vir een of ander hoop op ‘n groeiende ondersteuning van selfbeskikking in die algemeen, en dan die Volkstaat-beginsel spesifiek?

    As my vrae met “ja” geantwoord word, sal ek redelik onrustig gestem wees. Die Romeins-Hollandse “reg”, soos geplooi deur die Engelse “reg”, kan nie behoorlik na dit self omsien nie. Die beginsels is so teenstrydig dat die ou wat die hardste skreeu en die meeste geld het, die oorwinnaar is. LW oorwinnaar, nie die regverdige nie.

    As daar soveel teenstrydighede in die lands-“reg” is, hoeveel te meer nie wanneer dit probeer om die tradisionele wette, wat nie geskrewe is en subjektief toegepas word in alle geval, nou nog in teenstand kom met ‘n beginsel binne die tradisionele wette? Hoe lyk so ‘n argument? Vry vir almal?

    Wat sal gebeur as ‘n saak verwys word na beide regsomgewings? Wie se jurisdiksie gaan geld? Die “law of the jungle” maak korte mette met sy opposisie deur hoofsaaklik van geweld gebruik te maak. As my motor deur ‘n swarte gestamp word terwyl ek oor die R369 ry na die winkel toe, wie se jurisdiksie sal geld? Dalk wil die ou hê altwee karre behoort aan die breër gemeenskap en sy oom moet sê hoeveel ek skuld sonder dat my aanspreeklikheid bepaal is?

    Wat my egter meer bekommerd maak, is dat die Volkstaat-beginsel afhanklik begin raak aan allerhande vreemde invoere en aksies. Dit wil voorkom asof alle Afrikaanse inisiatiewe aanvaar het dat die Volkstaat-beginsel soos vervat in die grondwet nie haalbaar is nie, en dat getalle en kantonstelsel die uiteindelike wenner gaan wees. Ook dat die aanvaarding van “law of the jungle” genoeg ondersteuning resiprookaal van die swartes gaan kry dat dit die punt regverdig om die “law of the jungle” te ondersteun.

    ‘n Verder bekommernis by my is dat dit blyk asof die Christen-Nasionale inslag begin taan, of alreeds tot ‘n groot mate verdwyn het. Weereens, soos ek verstaan word ‘n sekulêre wêreldbeskouing voorgehou as behoudend. Om dit te laat mooi klink word daar woorde soos “vakbonde op Christelike beginsels” gebruik. Vakbond en Christelike beginsels is teenoorgesteldes.

    As ek Quintin se kommentaar op André se kommentaar reg verstaan, dan wil hy die gedagte van Christen-Nasionale oplossing ook eerder verruil vir ‘n populêre oplossing. Ek sê so omdat dit wil lyk asof die ondersteuner Afrikaans moet praat en Volkstaat ondersteun, want hierdie profiel sal meer getalle ter ondersteuning kan lok.

    Ongelukkig, soos ek dit verstaan, blyk die wêreldbeskouing van ‘n Afrikaner “… wat ‘n tongring en ‘n neusring het, ‘n Facebookrekening en ‘n selfoon het, wat ook fokofpolisiekar luister en nie noodwendig elke Sondag in die kerk is nie …” ‘n tong- en neusring dra (en al die ander goed doen) juis omdat dit populêr is in ‘n volksvreemde kultuur, ‘n Hollywood kultuur van gedurig veranderende idees en daarom nie behoudend is nie. Kom ons noem die ou, net vir hierdie bespreking doeleindes, ‘n “Afri-Wood”.

    Dit maak dit natuurlik heeltemal aanvaarbaar as mense wat so voel en so beskryf word ‘n Volkstaat van hulle eie mag hê. Persoonlik is ek nie te voorskriftelik tov wat ‘n ander moet doen nie, eerder voorskriftelik tov sy interaksie met my en andere.

    Wat bietjie pla van die Afri-Wood karakter is dat hy nie behoudend is nie, en graag sal wil verander met die tye soos die tye verander en allerhande ander goed vir hom begin belangrik raak. Dit sal bietjie moeilik raak as ek afhanklik is van sy getalle en hy van mening begin verander. Dalk voel hy oormore anders as vandag en verwerp die Volkstaat. Dan is ek sekerlik ook maar waar ek begin het, of nie?

    Daarteenoor, as ‘n behoudende Christelike-Nasionale oplossing beding word, weet almal waaroor dit gaan asook dat dit in die toekoms redelik dieselfde beginsels as vandag sal hê en daarom kan ek langtermyn planne maak. Ek weet ook dat ‘n Christelike-Nasionale oplossing plek kan maak vir andersdenkende gelowe, solank hulle nie ‘n inpak het op die Christelike-Nasionale oplossing nie. Christelik-Nasionaal is behoudend en sal nie andersdenkendes vervreem van wat hulle glo nie.

    Presies die teenoorgestelde van vandag se liberale kultuur wat voorskriftelik is ten opsigte van die andersdenkende. Die andersdenkende kan in ‘n liberale opset ‘n opinie hê nie, hy moet maar net alles gedwee aanvaar, onder andere, aksies wat hom grief. Die liberalis wil juis probeer voorgee dat hy opsies beskikbaar maak, maar ook maar net solank as wat dit deur hom bepaal word.

    Ek hoop mense kan begin besef watter verlammende uitwerking die liberaal alreeds op die selfbeskikking van die Afrikaner gesit het.

    Dit is my bede dat daar ook nog ‘n plek oor is vir die Christelike-Nasionale Volkstaat wat gebou is op die beginsels van vervloë dae, met ‘n plekkie vir my, sonder dat dit nodig sal wees om populariteit by volksvreemdes te koop. As ‘n nagedagte, miskien ook sommer ‘n sinvolle regstelsel waar feite en meriete hoogty vier.

    1. Jaco, ek stem saam met baie van jou opinies en veral jou slot paragraaf. Al waar ek met jou gaan verskil is die stereotipering van sommige moderne Afrikaners (wat bv. ‘n neusring het en iewers ‘n Jack Parow of Heuwelsfantasties cd in sy versameling het) as “Afri-wood” en dat hulle by implikasie nie behoudend is nie.

      Alhoewel ek nie enige gate deur my tong, ore of neusgate het nie en nog nooit ‘n Parow cd in my lewe gekoop het nie, ken ek wel Afrikaners wat hierdie profiel pas en terselfdertyd pro volksnasionalisme is, Orania ondersteun (en selfs hier bly!) en ‘n Christelike samelewing met wet en orde wat gegrond is op meriete en regverdigheid verkies bo ‘n sekulere samelewing met ekstreem-liberale waardes en oortuigings.

      Soos jy se, moenie te voorskriftelik wees nie. Mense gaan deur fases in hul lewens – dieselfde meisie wat op 18 deur ‘n lawwe fase gaan en vir haar ‘n tongring laat insit, kan op 30 meer konserwatief wees, ‘n goeie ma vir haar kinders wees en verkies om deel van ‘n Christelike volksgemeenskap soos Orania te wees. Terselfdertyd is daar ‘n voorbeeld van ‘n Afrikaner wat op 18 die FAK sangbundel uit sy kop uit ken, maar op 30 getroud is met ‘n Engelse vrou, hul kinders in ‘n Engelse skool sit en Saterdae by die krieket of rugby sy nuwe SA vlag met hartelus rondswaai.

      Ons staan vir vryheid sonder om ander se vryheid in te perk. Ek kan nie sien hoe ‘n naiewe 18 jarige meisie iemand se vryheid inperk deur ‘n tongring te kry nie – maar ek kan wel sien hoe sy van haar vryheid ontneem word as ons ‘n oordrewe dogmatiese benadering gaan volg t.o.v. kultuur.

      Die ironie is dat die jeug op Orania oor die algemeen baie dieselfde lyk en na dieselfde musiek luister as die jeug in Pretoria, maar dat hulle ingelig is t.o.v. hul geskiedenis, trots is op hul heldedom, suiwer Afrikaans kan praat en hul eie beddens wil opmaak (selfwerksaamheid). Op Orania sal jy ook oplet dat dieselfde tiener meisies wat die nuutste modes volg – kort rokkies en stywe toppies – op kultuurdae met trots hul voortrekker klere sal dra en, soos hul oumas, FAK liedjies uit hul koppe uit kan sing.

      Punt is (en wat ons op Orania sien): daar moet ‘n balans wees!

  4. Die Romeins/Hollandse regstelsel en Engelse regstelsels is albei niks anders as maaksels van die Kazar Jode(Fariseers nie) en dus duiwels. Ek staan onder en erken slegs die algemene reg soos komende van die Magna carta. Enige statuut wat nie toetentaal versoenbaar is met die gemenereg nie, behoort dus gladnie op enige wetboek nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s