Dra môre oranje vir Vryheid en vir Oom Paul!

Môre vier Afrikaners Oom Paul se 187ste verjaarsdag! Voor 1994, toe ons vry was, was 10 Oktober natuurlik ’n openbare vakansiedag. Alhoewel derduisende Afrikaners nog elke jaar getrou Krugerdag vier, word hierdie dag net op Orania waargeneem as ’n amptelike gedenkdag.

Krugerdag is die eerste keer in 1882 gevier, terwyl Paul Kruger nog gelewe het. Oom Paul was destyds die adjunk-president, maar omdat hy soveel respek van sy volksgenote geniet het, is sy verjaarsdag met ‘n feesdag gedenk. Dit is die daaropvolgende jaar amptelik as ‘n openbare vakansiedag ingestel. Die gebruik het ten einde gekom nadat Brittanje die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek gekoloniseer het na ‘n bitter stryd wat duisende onskuldige lewens geeis het.

In 1910, met Uniewording, is die dag steeds nie as openbare vakansiedag erken nie. ‘n Paar jaar na die Nasionale Party in Suid-Afrika aan bewind gekom het, is die dag in 1952 as Heldedag ingestel. Van tyd tot tyd is dit amptelik deur opeenvolgende regerings as hetsy Heldedag of Krugerdag geproklameer, en op kalenders as sulks aangedui. Op die dag is gepoog om die waardes en beginsels in die Afrikanervolkslewe te onderstreep.

Die dag is deur die ANC-regering, wat in 1994 aan bewind gekom het, weer opgehef.

Mev Karin Kemp van die VF+ het laas jaar ’n uitstekende projek geloods, nl. Oranje vir Vryheid.

“Ek het verlede jaar met rolspelers soos Jaco Mulder en Kol. Piet Uys van die VF+, asook Ben Geldenhuys van die Verkenners, gesels rakende ‘n idee om jaarliks op Krugerdag oranje aan te trek vir vryheid,” sê mev Kemp.

“Ek sal hierdie projek graag vanjaar wil uitbrei en wil die inisiatief so wyd as moontlik bekendstel om sodoende onnodige onderlinge vyandigheid tussen Afrikanerorganisasies, ter wille van ‘n groter doel en eenheid, uit te sny,” aldus mev Kemp.

Sy meen dat dit wonderlik sal wees as almal inkoop en dit ‘n jaarlikse instelling word dat Afrikaners op 10 Oktober oranje aantrek. Sy het bygevoeg dat sy glo so ‘n gesamentlike doelwit ook onderlinge verdraagsaamheid en samewerking tussen Afrikanerorganisasies sal aanhelp.

Ons ondersteun hierdie inisiatief ten volle en vra dat almal wat trots is op ons heldedom en eens is dat ons moet saamwerk om ons vryheid in ’n eie Afrikaner Republiek te herstel, môre oranje aantrek. Kom ons wys ons ware kleure – al is dit net met ’n das of ’n hemp.

Oranje is immers die kleur van vryheid en voorspoed. Dié kleur stap al van dag een af ’n pad saam met die Afrikaner vanweë ons Hollandse voorvaders wat volksplanting moontlik gemaak het.

Willem die Eerste, Prins van Oranje, het in 1568 die 17 Protestante provinsies van die Nederlande se weerstand teen hul Katolieke Spaanse heersers van stapel gestuur. Die Tagtigjaaroorlog het gevolg, wat gelei het tot die herstel van die Nederlanders se vryheid in die Nederlandse Republiek in 1648. Slegs vier jaar later het die Drommedaris, Reijger en Goede Hoop in Tafelbaai ingeseil, elk met die kenmerkende oranje, blanje blou Prinsevlag wat trots in die Kaapse windjie gewapper het. Op daardie sesde dag van April in die jaar 1652 het ons storie begin.

As Oom Paul vandag gelewe het, sou hy beslis nie tevrede gewees het met die benarde situasie waarin sy volk onsself tans bevind nie. Hy sou beslis opgestaan het vir ons vryheid. Volg die voorbeeld wat hy en vele ander volkshelde vir ons gestel het en staan op vir dit wat reg en edel is: dra môre oranje vir vryheid!

Maak ’n verskil, raak betrokke: http://www.vryafrikaner.za.org

5 thoughts on “Dra môre oranje vir Vryheid en vir Oom Paul!

  1. Gert Kruger, VERWOERDBURG.

    KRUGERDAG EN DIE RYKE ANDER KULTUURHISTORIESE GEBEURTENISSE VIR DIE BOERE-AFRIKANERVOLK GEDURENDE OKTOBERMAAND
    —————————————————————————————————————
     
    Op 10 Oktober elke jaar vier ons Krugerdag – genoem na pres. Paul Kruger. Toe hy nog gelewe het, is sy verjaardag al deur die Boerevolk van destyds gevier. Dit was egter slegs gevier totdat die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek se bestaan deur die Engelse Oorlog teen die Boerevolk, beëindig is. Later jare, na sy oorlye, is dit amptelik as Krugerdag gevier. In 1910, met Uniewording, is dit nie as openbare vakansiedag saam met ander feesdae erken nie. Nog later is dit as “Heldedag” gevier. Van tyd tot tyd is dit amptelik deur opeenvolgende Afrikanerregerings as hetsy Heldedag of Krugerdag geproklameer en op kalenders as sulks aangedui totdat die ANC-regering amptelik daarmee as vakansiedag weggedoen het. (Nogal interessant dat die destydse Engelse regering en die hedendaagse regering wat uit swart Engelsmannetjies bestaan, dieselfde met Krugerdag be-oog het!).
     
    Krugerdag het egter al die jare nie net gegaan oor die huldiging van Paul Kruger as persoon nie of as Krugerdag as sodanig nie – miskien dit ook, ja, maar met dié dag is daar nog altyd gepoog om waardes en beginsels in die Afrikanervolkslewe te onderstreep. Ook is gepoog om op norme en kodes wat dui op standvastigheid en getrouheid en op kultuurstrewe te konsentreer. Dit behels die beskerming asook ontwikkeling; ontwikkeling van die gees, van die gemoed, en van die totale samelewing. Dit is die dinge van die hart en verstand; dinge soos kultuurlojaliteit en kultuurrykdom; dinge soos daaglikse bedrywigheid op elke vlak. 
     
    Sover dit die laaste paragraaf betref, is dit interessant om daarop te let dat Oktobermaand een van die belangrikste maande op die kultuuralmanak van die Afrikanervolk is. Miskien maak ons die fout dat ons Oktobermaand uitsonder om dit slegs met die geboorte van pres. Paul Kruger te assosieer terwyl daar baie ander volkshelde en kultuurgebeurtenisse in hierdie maand plaasgevind het. In hierdie verband word daar in die BONDGENOOT (Pos- en Telekommunikasiewese) van Oktober 1985, die volgende vermeld:
     
    “Blaai ons deur die Afrikaanse Kultuuralmanak van van die FAK, tref verskeie datums.
    Op 1 Oktober 1910 is prof. P J Nienaber vermaerde taalkundige in die distrik Fauresmith gebore. Hy is vroeër vanjaar deur die FAK met ‘n erepenning vir Volksdiens beloon. Twee belangrike Afrikaanse koerante het ook in Oktober die lig gesien. Op 1 Oktober 1937 het Die Transvaler  in Johannesburg verskyn terwyl Die Volksblad op 2 Oktober 1925 as dagblad sy verskyning gemaak het. Sy geskiedenis strek terug tot 18 November 1904 toe ‘n weekblad Het Westen op Potchefstroom verskyn het.
     
    Een van die dringendste vraagstukke waarmee die FAK sedert sy stigting gekonfronteer is, was die betreurenswaardige ekonomiese toestand waarin die Afrikanervolk sedert die depressie verkeer het. Dit het aanleiding gegee tot die Eerste Ekonomiese Volkskongres van 3 tot 5 Oktober 1939 in Bloemfontein.
     
    Verskeie belangrike leiers van die Boerevolk voor, tydens en na afloop van die Engelse-oorlog, is ook gedurende Oktober gebore. Enkele name wat genoem kan word is: pres. S J P Kruger, (1 Oktober en nie 10 Oktober soos algemeen aanvaar word nie), genl. Piet Cronje (4 Oktober 1836), pres. F W Reitz (5 Oktober 1844), genl. Christiaan Botha (6 Oktober 1864), en genl. Christiaan De Wet  (7 Oktober 1854).
     
    Belangrike veldslae word ook herdenk. Die Engelse-oorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek en die eerste skoot in die oorlog is die volgende dag afgevuur. Op 12 Oktober 1899 het die eerste slag van die Oorlog by Kraaipan, tussen Mafeking en Vryburg plaasgevind. Ander veldslae was die van Elandslaagte  (21 Oktober 1899), Rietfontein (24 Oktober 1899), Nicholsonsnek en Modderspruit, albei op 30 Oktober 1899. 
     
    Staatkundige hoogtepunte is ook volop. Enkele belangrike datums is 5 Oktober 1960 toe die Referendum in verband met Republiekwording plaasgevind het. 18 Oktober dieselfde jaar toe die eerste algemene verkiesing ná die uitslag van die referendum gehou is. 22 Oktober 1914 toe gewapende protes vanuit Afrikanergeledere uitgebreek het en later as die Rebellie (1914-15) bekend sou staan en die vlagskikking wat op 26 Oktober 1927 aangekondig is nadat daar lank en radikaal oor die voorkoms van die vlag gestry is.
     
    Vir die Afrikaner met sy diep godsdienssin, is twee datums van belang. Die eerste Psalm- en Gesangeboek in Afrikaans het op 29 Oktober 1944, …….., verskyn. Die psalm- en Gesangeboek is op Hervormingsdag 29 Oktober 1944 oral deur die land met luisterryke feeste verwelkom. Die tweede datum wat aandag verdien is 31 Oktober 1517 wat deur die Protestantse Kerke as die begin van die Kerkhervorming beskou word. Dit is die datum waarop Martin Luther die 95 stellinge aan die deur van die Slotkerk in Wittenburg geplak het. 
     
    Die naam van prof. Nienaber wat op 1 Oktober 1910 gebore is, is reeds genoem. Ander vermaerde skrywers en taalkenners wat hulle geboortedae gedurende Oktober herdenk (het) is onder andere Hymne Weiss (20 Oktober 1910), Gustav Preller (4 Oktober 1875), C H Kuhn (Mikro) (8 Oktober 1903), S J du Toit (9 Oktober 1847), G A Watermeyer (15 Oktober 1917), E B Grosskopf (18 Oktober 1888) en Karl Kielblock (23 Oktober 1907).”
     
    Voorwaar ‘n maand met ryke herinneringe en gedenkgeleenthede!
     
    Gert Kruger 
    VOORSITTER
    (Krugerdag)

  2. Anthony Schlemmer

    Oranje? Is dit nie bietjie baie Hollands nie? Met die sokker wereldbeker 2012, het hulle so oranje gedra. Netnou beskuldig mense ons dat ons ‘n klomp Hollanders is !

  3. Henri

    Ek is trots daarop dat ek van Nederlandse oorsprong is. Trots daarop dat my ouers besluit het om hierheen te verhuis, wonder net wat sou hulle van die huidige piesang republiek nou sou sê? Oranje , om te wys wie ons is en vir watter waarde stelsel ons staan.

    Knap stukkie werk Quintin en dankie Gert vir jou insiggewende inset

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s