Selfbeskikking is groter prys as sterk opposisie

Baie Afrikaners is onder die vals indruk dat slegte nuus vir die ANC goeie nuus vir die Afrikaner is. Daarom verlekker hulle hulle in stakings, tweespalt en betogings oor swak dienslewering. Sekere opposisiepartye slyp hulle tande vir ‘n regeringsverandering; indien nie 2014 nie, dan 2019, 2024 of wanneer ook al. Uit Afrikaneroogpunt is dit soos verdrinking in óf die Indiese óf Atlantiese Oseaan.

Laat ons eers na die moontlikheid van regeringsverandering kyk. ‘n Dryfveer van die ANC se bevrydingstryd was die opvatting dat Suid-Afrika “genoeg het vir almal”. ‘n Bose stelsel kanaliseer welvaart na blankes en laat ander groepe met net genoeg om te oorleef. Verander die stelsel, en almal het genoeg. Met die oog daarop was ANC-beleid tot net voor 1994 nasionalisering van myne en ander groot besighede.

Deels omdat die ANC tot ‘n skikking gedwing is en deels omdat leiersfigure van mening verander het, het dit nie staatsbeleid geword nie. Ervaring elders in Afrika het ‘n rol gespeel. Uit die oogpunt van werkloses en laagbesoldigde werkers, het min verander. Hoewel seker ryk gesigte voortaan swart was, het hulleself al minder van die ekonomiese koek ontvang.

Die eerste reaksie was die afdanking van oud-president Thabo Mbeki. Die huidige president, Jacob Zuma, kon alle ontevredenes oortuig dat hy hulle griewe sou oplos. Omdat hy dit, die onmoontlike, nie kon regkry nie, word hy aan dieselfde ondermyning onderwerp.

Suid-Afrika is aan ‘n globale ekonomiese stelsel gebonde, wat die armstes wêreldwyd benadeel. Dit is ook nie ‘n land van fabelagtige rykdom nie. Elkeen wat welvaart soek moet opgelei en hardwerkend wees. As anti-Zuma faksies hom vervang, sal die gevolg waarskynlik nie beter regering wees nie, maar verhoogde onstabiliteit en meer gefrustreerde verwagtings.

Tot dusvêr was die werklike Suid-Afrikaanse opposisie faksies binne die ANC. Gestel dié party stort in duie, soos sommiges hoop, sal die volgende party ook met dieselfde werklikhede gekonfronteer word. Boonop is dit nie asof munisipale rade onder opposisiebeheer vry van korrupsie of swak regering is nie.

Maar veronderstel vir ‘n oomblik magsverskuiwing geskied vreedsaam en ‘n nuwe regering roei korrupsie uit en ag bekwaamheid belangriker as lojaliteit. Dan is Afrikaners steeds minder as vyf persent van die bevolking. Afrikaners se taal, kulturele waardes en algemene welsyn sal vir ‘n volgende regering so onbelangrik as vir die huidige regering wees.

Vir Afrikaneridentiteit om lewenskragtig te bly, moet ekonomiese selfstandigheid en politieke selfbeskikking nagestreef en verwerklik word. Dit is ‘n sentiment waarby baie Afrikaners aanklank vind, maar in praktyk bevorder hulle persoonlike welvaart en sterker opposisie.

Verkiesings is die mees gesaghebbende meningspeilings wat daar is. Betogings kan georganiseer word, maar as die ANC meer as sestig persent van die stemme kry, word aangeneem dat ontevredenheid nie té erg is nie. Afrikaners neig om vir die sterkste opposisie te stem, al bied dit geen ruimte vir selfbeskikking nie, of om uit protes weg te bly. Dié keuses word as verwerping van selfbeskikking gelees. Afrikaners moet nie bloot vir opposisie nie, maar vir selfbeskikking mobiliseer.

Wanneer ons van volkstaat ekonomiese ontwikkeling praat, ondersteun dan ‘n Afrikaner organisasie wat fokus op ekonomiese selfbeskikking, bv. Vry Afrikaner.

Wanneer ons van burgerregte praat, ondersteun dan die enigste Afrikaner burgerregte organisasie wat ruimte vir selfbeskikking bied, nl. AfriForum.

Wanneer ons van parlementêre opposisiepolitiek praat, ondersteun dan die enigste Afrikaner opposisieparty wat selfbeskikking bevorder, nl. die Vryheidsfront Plus.

Wanneer ons van Afrikaners se regte in die werkplek praat, ondersteun dan die enigste vakbond wat ruimte vir selfbeskikking maak, nl. Solidariteit.

Wanneer ons van staatkundige ontwikkeling praat, ondersteun dan die enigste Afrikaner organisasie wat ’n Afrikaner-gebied verteenwoordig en dit staatkundig ontwikkel, nl. Orania Beweging.

Indien die meerderheid Afrikaners hierdie organisasies steun, sal dit gelees word as mobilisering vir selfbeskikking. Jou steun vir die een is dus nie ten koste van die ander nie, dit voeg eerder waarde tot al die terreine waarop selfbeskikking bevorder word.

Soos elke speler in ’n rugbyspan in ’n spesifieke posisie speel, so ook het elke organisasie ’n spesifieke rol wat hy in die vryheidstryd speel. Saam maak ons ’n span en strewe ons dieselfde doelwit na. Mens skree immers vir ’n span, nie vir ’n posisie nie!

Afrikaners is tog beter daartoe in staat om ons eie belange optimaal te bevorder as wat bv. die ANC of die DA dit namens ons kan doen. Hierdie feit definieer alles wat selfbeskikking verteenwoordig. Die ANC en die DA hou dus g’n heil in vir Afrikaners nie. Gelukkig is al hoe meer mense besig om dit te besef.

Maak ’n verskil, raak betrokke: http://www.vryafrikaner.za.org

32 gedagtes oor “Selfbeskikking is groter prys as sterk opposisie

  1. Mike

    Ek verstaan nie, Solidariteit het met die laaste algemene verkiesing sy lede aangemoedig om vir die DA te stem. Hoe nou “who is who in the zoo”

  2. Jopie

    Ek voel seergemaak dat die keuses – spesifiek die een vir “staatkundige ontwikkeling” – nêrens die VVK-aksie om verteenwoordigers te verkies wat vir selfbeskikking moet beding, insluit nie. Klaarblyklik doelbewuste weglating laat ‘n wrang smaak en laat mens vermoed daar is een of ander vyandigheid daarteenoor.

    1. Hannes

      Ek wil ook graag weet waarom die VVK nie genoem word nie. Al wat mense bereid is om te doen is om ‘n af-duimpie vir hierdie kommentaar te gooi. Is die mense wat dink dis ‘n belaglike idee nie bereid om hul menings te ondersteun nie? Sê bietjie vir my waarom julle so voel. Persoonlik dink ek die VVK doen baie meer as, bv., soos dit vir my lyk, die VF+ (om ook aan te sluit by “Staffieliefhebber”)

      1. Wat doen die VVK nou eintlik, en wat kan hulle enigsins doen? Hulle het nie ‘n ondersteunersbasis om van te praat nie, hulle het nie ‘n gebied waarop hulle mense wil of kan vestig nie, hulle het ook nog nie eens ‘n aanduiding gegee van enige planne tot verkryging van gebied vir volkstaatsbou nie!

        ‘n Mens ondersteun tog net iets wat werklik is! Die VF+, met tekortkominge en al, het reeds veel tot die tasbare in Orania bygedra. Van ene Henk van de Graaff, as ek sy naam reg het, het ek wel al smalende opmerkings, deur hom, oor Orania hoor maak. Ek verstaan dat hy een van die voorbokke in die VVK se volksraad is.

        As hulle dan volksraadslede is, watter distrikte verteenwoordig hulle? As hulle nie iets konkreets verteenwoordig nie maar elk, slegs ‘n handjievol ondersteuners, hoe kan ek hulle dan ernstig opneem?

      2. Hannes

        Die VVK doen baie moeite vir die hoeveelheid ondersteuning (tans ±30 000 van regoot Suid Afrika) en fondse wat hulle het. Ek dink nie dit is regverdig om ‘n organisasie wat die regte pad volg so te oordeel nie, want hulle bloodstelling en tempo hang te veel af van ondersteuning, en houdings soos “Wat het hulle al bereik?” en “Wat kan hulle enigsins doen?” kniehalter ondersteuning en dus vordering. Die feit is, hulle doen die regte ding, en hulle probeer hard. Afrikaners se ondersteuning kom eerste. Daarna kan ons kyk hoeveel hulle bereik met die ondersteuning wat hulle het.

        Die Oraniabeweging en die VVK se ideale is identies – vryheid vir Afrikaners in ‘n onafhanklike en soewereine Volkstaat. Dit lyk vir my daar is twee hoof stappe wat geneem moet word: (1) Ons vryheidstrewe moet erken word en “gegun” word, en (2) ons moet grondgebied hê waar ons kan vestig. Die VVK het begin aan die een kant, en die Oraniabeweging aan die ander kant. Op die ou end gaan die VVK grondgebied moet identifiseer, en die Oraniabeweging gaan moet onderhandel vir erkenning en wetlike afstigting, of hoe? So wat nou besig is om te gebeur is die proses vorder dubbel so vinnig. Die VVK en die Oraniabeweging moet dit net besef en bietjie meer saam begin werk.

        Ek wil ook net noem dat een van die Volksraadslede (nie Henk nie) het die afgelope naweek met die volksvergadering by die Paardekraalfeeshuis lede/kiesers aangemoedig om Orania te ondersteun.

        Ek begryp nie hoe twee organisasies wat ontsetend baie doen en hard werk vir presies dieselfde doel teen mekaar werk nie! En dit gaan vir die Oraniabeweging en Vry Afrikaner sowel as die VVK.

      3. Hannes, op ons beste kan ons, al wil ons ook hoe graag, nie veel in die politieke arena vermag nie! Die Afrikaanse politieke organisasie, wat die beste toegerus is om namens ons te praat, naamlik die VF+, word gekniehalter deur sovele organisasies wat hulle werk vir hulle wil doen. Die VVK se volksraad is een daarvan.

        Enige bykomende organisasie behoort hulle slegs met die praktiese implementering van gebiedsvestiging besig te hou. De Goede Hoop Trust stel hier ‘n goeie voorbeeld. Raak betrokke in die gebied waar daar reeds ‘n begin gemaak is en met ‘n bietjie eendragtigheid sal ons mag maak!

      4. Hannes

        Die VF+ doen goeie werk en hulle werk baie hard, ek is seker – ek het self al van hulle petisies onderteken en ek hou daarvan dat hulle my per e-pos op hoogte hou van hul vordering daarmee. Hulle is pro-Afrikaans en pro-Afrikaners, maar ek is net nie oortuig dat hulle soveel doen vir Afrikanervryheid soos wat die VVK of die Oraniabeweging doen nie. Op hul webwerf is ‘n afdeling waar hulle spog met wat hulle in die laaste paar jaar bereik het en dit gaan mestal oor hul stryd vir ons regte en taal en suksesvolle optogte daarvoor, die ontblooting van korrupsie in ons politici, en petisies geloots teen naamveranderings.

        Bg. is alles baie goed, maar om te verseker dat Pretoria se naam nie verander nie, gaan nie ons saak vir vryheid bevorder nie, gaan dit? Die taak gaan nie makliker word nie. Mense gaan nie meer bewus word van die probleem en ons strewe nie – trouens, ek dink mense sal juis minder bewus wees dat daar ‘n probleem is as Pretoria se naam nie verander nie, en hulle gaan dus minder geneig wees om enige pro-Afrikanervryheisorganisasie te ondersteun.

        Het die VF+ al enigsins ‘n poging aangewend om met regerings (plaaslik of oorsee) te gesels oor wat dit is wat Afrikaners op die ou end van die dag wil hê? Het hulle ons Vryheid al opgeëis by die plaaslike regering? Ek weet nie, maar dit staan nie op hul webwerf nie. Die VVK het wel! Hulle wou vergader, maar die regering wou niks weet nie. Hulle het onlangs ons eis ingedien, en ons wag nou vir terugvoering. Tussendeur het hulle talle male die buiteland besoek om ondersteuning te werf, en hulle is suksesvol!

        Ek probeer nie sê die VVK is beter as die VF+ nie. Trouens, die sake waarmee die VF+ hulself tot dusver bemoei het, het ons waarskynlik baie meer gehelp as wat ons dalk besef – hul stryd vir ons regte en ons taal; daarsonder sou ons dalk al lankal vernietig gewees het. My punt is net dat ons nie die VVK se rol in ons stryd moet oorsien nie, en ons moet probeer om hulle te ondersteun, want hulle is besig met sake, wat baie belanrik is, en in die toekoms baie belanriker gaan word, en dis sake waarop niemand ander so sterk fokus soos wat hulle doen nie.

        Terloops, ek is geregistreer by die VVK en ek is ‘n lid van die Oraniabeweging. Ek probeer nie die een of die ander goed- of slegpraat nie – ek ondersteun beide ten volle!

      5. Ek wil graag probeer om te beaam- en by te dra by dit wat Hannes sê.
        Eerstens hou ek daarvan dat jy, Hannes, nugter genoeg is om nie in terme van “dié een of die ánder een” te dink en te praat nie.
        Almal wat werk vir Afrikanervryheid doen goed, die verskillende organisasies hoef nie teen mekaar op gespeel te word nie.
        As ek wil stem dan kan ek tog vir die VF+ stem en die VVK ondersteun, ek dink nie net dat dit goeie raad is nie, ek dink dat dit in die toekoms belangrik sal word.

        Nog belangriker is dat die VF+ en VVK leiers by mekaar uitkom.

        Die VF+ se beperking is dat hulle deelname aan Suidafrikaanse politiek, Suidafrikaanse politiek bevestig en goedkeur, iets wat eintlik, in prinsiep, in teenstryd met die vryheidsidiaal is.
        Die VVK se beperking is dat hulle uitsluitlike strewe na Afrikanervryheid hulle van deelname aan Suidafrikaanse politiek uitsluit, dit is ook nie gewens nie.
        Daarom het ons die VVK en VF+ nodig in hierdie tussenfase waarin ons, ons bevind.

        Die Afrikaner bestaan nie vir die VVK of die VF+ nie, Die VVK en die VF+ bestaan vir die Afrikaner.

  3. Staffieliefhebber

    Ja die ou VF+, is hulle nou deesdae die goeie ou handlangers van die ANC? Of hulle getroue ou waghonde wat so nou en dan miskien aan hulle baas se biltong kan ruik? Slegte Nuus vir ANC nie goeie nuus vir ons nie???????? Verbeel jou die ANC het destyds gesê:” Slegte nuus vir die NP is nie goeie nuus vir ons nie”. Dink julle hulle sou vandag regeer het as hulle so mooi met die NP was soos wat die VF+ met die ANC is?

    Nee wat, lyk my mens moet maar die VF+ finaal afskryf, die beste wat hulle kan doen is om eendag miskien ‘n paar plastiekblommetjies en ‘n mooi versie op ons volk se grafsteen te sit. “Hier lê die Afrikanervolk, dood van ordentlikgeid en wetsgehoorsaamheid” Ai, waar is die vuur en vlam van die dae toe die AWB met hulle pantserkar by die onderhandelingsgebou ingestorm het, of toe Genl Constand Viljoen bereid was om vir vryheid te veg.

    Die ANC was bereid om SA te vernietig, ja dit is verkeerd en ons is nie so nie, maar ons moet aanneem dat die stryd teen die ANC opofferings gaan kos, as hulle die ekonomie vernietig, en ons moet R20 vir ‘n liter petrol betaal, dan sal mense dalk ophou om aan die nuwe SA te glo, en weer begin dink aan ‘n volkstaat. Dan sal ons saak tog baie sterker wees.

    As hulle nie so dink nie, sal die vervalle RSA in elk geval baie geleenthede bied vir Volkstaters om hulle inisiatief te gebruik om weer orde te skep. Verkiesings is ook NIE die beste barometer vir volkstaatsteun nie, die VF soek net jou stem, hulle kan gaan bars, eki glo hulle nie meer nie!

  4. Staffieliefhebber

    Hoe presies bevorder die VF nou weer selfbeskikkikng? Miskien raak ek oud en seniel maar ek kan aan niks noemenswaardig dink nie…..

  5. Staffieliefhebber

    Jammer ek is ‘n frustreerde outjie, wens ek kan weer hoop kry, wens ek kan weer hoop in VF+ kry. Soek daadwerklike kragdadige optrede en konfrontasie met ANC oor ons reg om onsself te regeer. Dit is wat ek soek. Hartseer maak mens depressief en boos. Ek gatvol vir RSA, het nie Europese paspoort soos van my beste pêlle nie, wil sobieso nie loop en Engels praat in ‘n ander land nie. Miskien bitterbek vir altyd wees, ai man. Ek wil nie, ek wil net ‘n gelukkige vreedsame outjie wees wat die normale voordele van ‘n normale land geniet. Hoekom kry ons niks reg nie? Wat kan ons doen, saam moet ons iets kan doen.

  6. Staffieliefhebber

    Ag foeitog, ek moet seker maar vir die VF+ stem, kan tog nie vir die ander lot stem nie, VF+ is al wat ons het, maar ek wil hierdie ou krank donkie deur die bek klap. Nee ek sal nooit diere mishandel nie. VF+ KOM REG F*&^^$N ASSEBLIEF

    1. Hannes

      Vir wie anders kan ons stem? Wat van die HNP? Mnr. Breytenbach is betrokke by die HNP en die VVK en albei stry ernstig vir Afrikanervryheid en -selfbeskikking. Beslis baie harder en suiwerder as sommige ander Afrikanerorganisasies.

    2. Ek verstaan jou frustrasie. Ek hoop die volgende kan help:

      Omdat ons doel nie is om Suidafrika terug te verower nie, lê ons oorwinning ook nie in SA politiek nie. Hoop of vertroue in ‘n politieke party is misplaaste vertroue. Maar!! ‘n Afrikaner politieke party is nietemin nodig.
      Die VF+ doen maar net die vuilwerk, dit is om die Afrikaner, polities sigbaar te maak in SA en die wêreld (aangeneem iemand volg SA politiek). Hulle is die mense wat vir ons belange stry en ten spyte van ons minderheid hou die VF+ ons op die radar, sodat mense besef ons bestaan. Dit is nodig! En dit sal die vuilwerk wees van elke politieke party.

      So ‘n politieke party sal natuurlik oplos sodra daar vryheid (‘n volksstaat) is.

      1. Baie sinvolle bydrae, Andre. Die ANC en die VF het in 1993 ‘n akkoord onderteken wat die volkstaat ‘n wettige strewe maak. Daarna is artikel 235 (die reg tot territoriale selfbeskikking) in die Grondwet opgeskryf. Daardie akkoord en artikel staan vandag nog. Sou die VF tot niet gaan dan is daardie akkoord nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Ons kan dus nie toelaat dat die VF vergaan nie. Aan die ander kant moet ons ook druk op die VF plaas om hul missie, m.a.w. Afrikanervryheid, uit te voer. As ‘n gewese jeugleier binne die VF+ kan ek getuig dat dit veel makliker gese as gedaan is. Nietemin, ek dink daar is steeds goeie mense by die VF – mense wie hard werk vir vryheid en wie se bona fides ek glad nie betwyfel nie. Ek sal weer VF stem en sal hulle uithelp waar ek kan. Ons het nie die luuksheid van tyd nie en hoe vinniger ons brue begin bou, hoe groter ons kans op vryheid en oorlewing.

      2. “Sou die VF tot niet gaan dan is daardie akkoord nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.”
        Nee man Quintin, dis mos nou twak wat jy daar skryf. Hoe kan dit wat in die grondwet staan van die bestaan van ‘n politieke party afhang?
        Daardie wet is nie net vir Boere nie dit is vir alle volke in SA en dit sal bly staan met of sonder die VF+. Die akkoord behou sy werd met of sonder die VF+, hoekom nie?

      3. Staffieliefhebber

        Ja, ek is jammer as ek te hard was op die VF Plus. Ek dink ook dit is nodig dat iemand ons sigbaar maak, en ook in die RSA parlement iets namens ons kan sê. Ek het net die hoogste respek vir Dr Pieter Mulder.

        Ek wens net daar kan iets van ‘n “rewolusionêre gees” as ek dit so mag noem, weer in Afrikanerpolitiek ingeblaas word. Wat ek daarmee bedoel is dat, die ANC skrik net vir mense wat hulle met iets kan dreig, nie vir mense wat pragtige politieke teorie op ‘n mooi en beskaafde manier probeer daarstel nie. Dat dit ‘n groot jammerte is, is gegewe.

        Ek bedoel, Cosatu en die ANC is tog saam in een kooi, maar hulle baklei soos kat en hond. Ons staan nie eers op diesefde werf as hulle nie, en ons probeer hulle mooi oorreed. Ek weet net nie of dit genoeg is nie. Dit is die ding. Nogtans die VF+ het ‘n doel en ‘n rol om te speel. Ek het nog altyd net vir hulle gestem.

        Maar my ervaring tydens 1999 se verkiesing, toe ek en ‘n paar manne probeer het om die VF+ in die Overberg te bevorder. En toe stem daar so min mense vir ons, het my siel diep geruk, en my laat soek na ‘n beter oplossing, as om met hardkoppige DA mense te probeer stry oor die meriete van die Volkstaatstrewe.

        Ek soek nog altyd, en hoop, en vra vrae. En raak emosioneel en frustreerd. Ek weet ek moet daaraan werk, ek wil nie my medeAfrikaners so kwaad maak dat hulle nie meer met my wil praat nie.

      4. Nee genugtig Staffie, dis absoluut geen probleem nie man!
        Liewers ‘n bietjie vuur ondersteun deur gesonde verstand as hierdie aanhoudende “op-die-skouer-geklopery”!

  7. Staffieliefhebber

    Ek voel nou soos my ma toe ek en my broer in 1989 oor die R30 by ‘n videogame arkade uitgemors het, sy het ons pak slae gegee, en toe later sê sy, kom hier! ek het julle nog nie genoeg geslaan nie! Eina! MA! Asseblief! Ons sal nie weer nie!

    Net laaste ek belowe, die globale ekonomie benadeel die armes? wat? die skrywer klink nou net soos die derdewêreld bedelaarsrepublieke, os sosialistiese nieregeringsorganisasies. Die globale ekonomie het nie plek vir lande wat nie produktief genoeg is nie, en hy looi hulle daarvoor, dit dwing tot van die slegste regerings om darem so amper common sense toe te pas, nie waar nie?

    1. Hierdie is nie slegte kritiek nie. Ek het dit maar vinnig ignoreer omdat dit nie regtig die punt van die artikel was nie. Maar ek dink Staffie is reg. Globale ekonomie hou nogal baie geleentheid in vir arm en ontwikkelende lande in. Dit is eerder Globale pólitiek wat armes benadeel.

  8. Mike

    Ek hou van die nuwe DA/ANC logo. Iets interresant is die khoi se eis om hulle land terug te kry. Ek glo hulle gaan baie harder as die afrikaner baklei vir hulle eie land en selfbeskikking en dit gaan beslis ‘n invloed op Orania hê.

  9. Dante' Strauch

    Goeie artikel. Ek hoop meer Afrikaners begin besef dat selfbeskikking die beste pad vorentoe is. Mike ek weet nie of die khoi baie ernstig is oor selfbeskikking nie. Hulle vorm reeds n meerderheid in baie gebiede wat in hul guns tel maar ek dink ook baie van hulle is tog afhanklik van bv staatstoelaes en sien ook die regering as werkverskaffer. Ek wonder ook of die mense wat altyd die kleurlinge (khoi is tog deel van die kleurling gemeenskap) saam met die Afrikaners wil groepeer dan ook sal se dat Afrikaners dan reg het op historiese khoi gebied? Of wil hulle net kleurlinge as Afrikaners sien as dit tot eersgenoemde se voordeel strek en nie anders om nie.

  10. Baie goeie artikel Wynand! Ons moet saamwerk waar ons kan, en daar waar ons nie kan saamwerk nie moet ons eerder wegbly en ophou om in moddergevegte betrokke te raak. Dit verg selfdisipline… in die verlede was ek al baie skuldig daaraan dat ek ander Afrikaner organisasies afgekraak het. Wie van ons is nie? Ons kan nie iets aan die verlede verander nie, maar ons almal kan vandag en more meer verstandig optree. ‘n Ossewa word immers nie deur net een enkele os getrek nie… maar as elke os in sy eie rigting in wil voeter dan gaan die wa ook net mooi nerens kom nie.

  11. Stem saam Wynand.

    Dit wat nie werkbaar is nie sal self uit die bus uitval sonder dat daar beledigend teenoor hulle geraak hoef te word. Dis net ‘n kwessie van tyd….

    Vir nou kan daar net skouer aan die wiel gesit word en kan elkeen homself bemoei met dit waarin hy goed is wat sal lei tot vryheid, met inagneming van die groter prentjie.

    “Sien is glo”; sê die spreekwoord en die tasbare sal die oortuigingswerk alleen kan doen sonder om boeke vol daaroor hoef te skryf.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s