Skotland nog ’n tree nader aan onafhanklikheid

Nog ‘n mylpaal vir die Skotse selfbeskikkingstrewe is bereik toe die Britse regering van Eerste Minister David Cameron en die Skotse leier Alex Salmond ‘n ooreenkoms bereik het oor die hou van ‘n referendum oor Skotse onafhanklikheid.

Die ooreenkoms kom meeste van mnr Salmond se eise tegemoet, veral wat die datum betref. Mnr Salmond, wat bewus is dat tans nog net ‘n minderheid Skotte onafhanklikheid ondersteun, het aangedring op ‘n referendum oor 2 jaar (einde van 2014), wat handig saamval met die herdenking van die slag van Bannockburn, en wat in die aanloop daartoe patriotiese gevoelens sal aanwakker.

Verder kan ook mense so jong as 16 in die referendum stem. Mnr Salmond se hoop is dat jong mense eerder emosioneel vir onafhanklikheid, as rasionaal vir behoud van unie met Brittanje sal stem.

Mnr Cameron het wel sy sin gekry dat daar net 2 vrae moet wees, naamlik of Skotte onafhanklikheid voorstaan; of deel van die Verenigde Koninkryk wil bly.

Mnr Salmond wou nog ‘n derde vraag van groter selfstandigheid, net kort voor algehele onafhanklikheid hê, met die verwagting dat die meerderheid die goue middeweg sou kies en Skotland se politieke status verhoog as ‘n stap na algehele onafhanklikheid later.

Om nou ‘n “alles of niks” vraag te vra mag talle kiesers noop om die veiliger opsie van die status quo te kies.

Dat die twee leiers op so ‘n vreedsame en samewerkende manier ‘n ooreenkoms kon bereik, wat algemeen aanvaar word en geen noemenswaardige kritiek uitgelok het nie, sê iets van die eeue-oue tradisie van Britse demokrasie.

Daar is bittermin voorbeelde van ‘n fluweel-skeiding, sou dit dan gebeur, en hier kan mens net dink aan die afskeiding van Slowakye van Tsjeggo-Slowakye. Dit was nietemin ‘n parlementsbesluit, nie ‘n referendum nie. Die amper-afskeiding van Quebec, wat ook in die Britse tradisie van grondwetlike prosesse plaasgevind het, kan ook aangehaal word as ’n voorbeeld van vreedsame proses m.b.t. afstigting.

Nou het die twee partye 2 jaar tyd om deur middel van argumente die Skotte te oortuig watter weg die beter een is.

Mnr Cameron verwys na die 300 jaar geskiedenis van die unie tussen die twee dele, die ou argument van “saam is ons sterker”, die ekonomiese onsekerheid wat ‘n klein land in die gesig staar; die verlies van die monargie wat ook Skotse wortels het en daar ook gewild is; die glorie wat Groot-Brittanje met sy lang geskiedenis teenoor ‘n nuwe Skotse volkstaat het; die woelinge in die Europese Unie wat saam makliker getrotseer kan word; en al die koste en uitdagings wat met onafhanklikheid gepaard gaan.

Mnr Salmond sal verwys na Skotland se ekonomiese vermoë, wat dit deesdae al hoe makliker vir die deelstaat maak om op eie bene te staan, veral weens die olie; die kulturele verskille tussen Skotte en Engelse; die lang geskiedenis van Skotse onderdrukking en marginalisering; en die voordele om jou eie besluite te neem. Verder sal Skotland nie buitengewoon klein of swak wees nie, dit vergelyk goed met ander state in die omgewing soos Ierland, Norweë, Ysland, Denemarke, wat almal net ‘n paar miljoen inwoners het, etnies redelik homogeen is en ‘n sterk ekonomie het, ten spyte van die insinkings in Ierland en Ysland weens spekulasieborrels.

Intussen kry die strewe na afstigting ook in ander Europese lande stukrag. In Spanje is die regering van die deelstaat Katalonië besig om publieke sentiment vir afskeiding aan te blaas. ‘n Referendum oor afskeiding soos in Groot-Brittanje is egter nie grondwetlik moontlik in Spanje nie en ‘n pad van konflik lê voor.

In Vlaandere het die Nuwe Vlaamse Alliansie as die sterkste party uit die onlangse munisipale verkiesing gekom en daardeur het die strewe na afskeiding, of ten minste nog groter selfbeskikking vir die twee landsdele, ‘n nuwe hupstoot gekry. Ook hier, soos in Katalonië, speel ekonomie ‘n groot rol, met die Vlaminge wat nie geneë is om die armer Franssprekende deel te onderhou nie.

Daar kan natuurlik ook sterk ekonomiese argumente gevoer word wat die Afrikaner se strewe na onafhanklikheid in sy eie republiek betref, maar wat die Afrikaner se strewe onderskei van die van die Europese volke is dat dit ook oor die Afrikaner se fisiese en kulturele oorlewing gaan.

Die enigste nadeel wat die Afrikaner het, is dat hy nie, soos die Skotte, oor ’n duidelik identifiseerbare grondgebied beskik waar die oorgrote meerderheid van die volk ‘n oorgrote meerderheid vorm nie. Die rol wat Orania speel m.b.t. meerderheidsbesetting in die yl bevolkte Noordwes-Kaap kan dus nie gering geskat word nie.

Maak ’n verskil, raak betrokke: http://www.vryafrikaner.za.org

18 thoughts on “Skotland nog ’n tree nader aan onafhanklikheid

  1. pikkewyn

    Ek het respek vir wat Orania doen. Een wetgewing en hulle onteien plase en huise. Orania ingesluit. Ons blankes is te wydverspreid in SA en gevestig vir n eie gebied vir bv n republiek. Wees realisties. Wie het geld om te los as hulle nog werk het en te gaan om waar te werk? Om te eindig waar 600000 tans bly. Gaan kyk mens na OASE se voorstelling wat ideaal sou wees. Of Noordkaap wat gekleurdes op aanspraak maak. Wanneer laas is daar ware sensus gedoen. Nog nooit. Ons weet hoe lieg die syfers. Daar bly reeds 100+ miljoen swart en chinese in daardie gebiede. Gaan vergewis julleself hoeveel uit Afrika bly reeds om ons, apart van ons swart kultuurgroepe. Selfs in Oase gebiede. Chinese buffer ook daar. Hoeveel grondeise is onafgehandel? Hoeveel gaan infrastruktuur en ander dienste, bv hospitale, kos in klein dorpies? Enigste oorlewing is onafhanklike stadstate soos Filletino en Venezia ea. Ons eie stadstate met plase ingesluit. Die Grieke het dit ookal gedoen.

  2. Die Skotte mag dalk politieke onafhanklikheid verkry maar onafhanklike denke is vir hulle verlore tensy hulle Engels en die gepaardgaande denkwêreld se oorheersing kan verbreek.

    Die Afrikaner loop ook gevaar om ook in so ‘n situasie te beland en hier sal daar wal gegooi moet word. Engels se invloed en oorname by ons, is reeds vêr gevorderd.

    1. Dit is beslis so met sprekers van Afrikaans.

      Selfs onderwysers praat deesdae sinne wat meer Engelse woorde bevat as Afrikaans.

      Tot in geskrewe kommunikasie word Engelse woorde gebruik.

      Dis beslis vêr gevorderd!

  3. Daar kan nog ‘n paar dingetjies gesê word hier.
    Alowel ‘n strewe na vryheid vir ons niks onbekend is nie, is vryheid self maar skaars vir ons. In hierdie generasie is dit nog so dat almal ouer as 51 jaar onder Engeland gebore is.
    En almal 18 jaar en jonger is onder die ANC gebore.
    Dit wil sê van alle Boere is net dié tussen die ouderdome 18 en 51 vry gebore.

    Nadat ons in 1961 die Britse statebond verlaat het, het ons vryheid ook maar net 33 jaar lank gehou, nie eers lank genoeg vir een generasie nie.
    Daar is ‘n paar erenstige vrae wat ons, onsself moet vra bv:
    Is ons seker ons kan die verantwoordelikheid wat saam met vryheid kom hanteer?

    Alowel dit in 1961 nie offisieel was nie, was dit duidelik dat die mense van wie ons, ons vryheid gewen het weer ons vyhande geword het.
    Dit het hulle net 33 jaar lank geneem om ons d.m.v “public-opinion” en “divide-and-conquer” te laat val.
    Wat gaan gebeur in ‘n onafhanklike Boere-staat genaamd Orania met net die ANC as buurman en dalk die Atlantiese oseaan?

    1. Mike

      Andre hierdie vraag het ookal baie maal by my opgekom. Ek dink dit is ‘n geldige vraag want as jy kyk hoe die afrikaner oor eeue heen belieg en verraai was deur die linkses, die ANC en selfs sy eie mense.

      Hoe gaan Orania of dan die toekomstige afrikanerstaat verseker dat daar nie weer iemand kan kom met “cheques en balances” en die afrikanerstaat weggee nie? Ek glo daar sal na ‘n politieke stelsel gekyk moet word waar so-iets feitlik onmoontlik is.

      Ek dink ook dit is belangrik om ‘n alternatiewe politieke bestel nou te bespreek en te aanvaar sodat voornemende volkstaters seker kan wees hy of sy kinders gaan nie oor ‘n paar jaar maar weer in dieselfde situasie sit as nou in SA nie. Daar is alreeds afrikaners wat beweer dat dieselfde situasie hom in die volkstaat kan afspeel soos in die ou SA met die NP.

      1. Dankie vir die reaksie Mike.
        Ek dink ons situasie is veel ernstiger as wat ons bereid is om te erken, die infeksie is tot op die been.
        In my nederige opinie, is dit niemand anders se skuld dat Suidafrika uit Afrikaner hande geval het nie. Dit is ons eie skuld. Met “ons” bedoel ek nie ons leiers nie, ek bedoel die volk in sy geheel.
        Ons het ‘n swak klomp mense geword. Ons het ons-self so aan die ‘wêreld’ orienteer dat ons vergeet het wie ons is of wie ons veronderstel is om te wees. Uiteindelik was ons maar net ‘n reaksie.
        Dit wat in die politiek gebeur het was maar net die weerspieeling van alles wat vir jare in die harte van die Volk ontwikkel het en tot vandag toe nog bestaan en verder ontwikkel.
        “Ons almal werk saam aan Afrikaanse Amerika”
        So wat ek eintlik wil sê is in reaksie op:
        “Ek glo daar sal na ‘n politieke stelsel gekyk moet word waar so-iets feitlik onmoontlik is.”
        As dit maar net so maklik was.

      2. Die antwoord is natuurlik devolusie van gesag en ‘n lokale vetoreg. Dit hou oordrewe magskonsentrasie uit die hande van enige spesifieke groep. Beheer word dus meer verteenwoordigend.

        Distriksregering het vir Switserland die lankslopende tydperk van vrede in Europa nog besorg. Namens die hele Suid Afrika het ons nie die reg om te praat nie maar dis wel ‘n voorstel vir die streek wat ons beoogde Afrikanertuisland sal wees.

  4. pikkewyn

    Mens het respek vir wat Orania doen. Maar tog is Orania nie beter af as ander Afrikaners veral boere of besighede nie. Een wetgewing en hulle onteien plase en huise. Orania ingesluit. ‘n Mat onder almal uit. Ons blankes is te wydverspreid in SA en gevestig vir n eie gebied vir bv n republiek. Wees realisties. Wie het geld om te los as hulle nog werk het en te gaan om waar te werk? Of betaal vir hervestiging. Alternatief. Om te eindig waar 600000 tans bly. Gaan kyk mens na OASE se voorstelling wat ideaal sou wees. Of Noordkaap wat gekleurdes op aanspraak maak. Grondeise in SA of hervorming. Kompleks beslis. Wanneer laas is daar ware sensus gedoen. Nog nooit. Ons weet hoe lieg die syfers. Daar bly reeds 100+ miljoen swart en chinese in daardie gebiede. Gaan vergewis julleself hoeveel uit Afrika bly reeds om ons, apart van ons swart kultuurgroepe. Selfs in Oase gebiede. Chinese buffer ook daar in baie hektare grond. Hulle bly en werk reeds. Hoeveel grondeise is onafgehandel? Hoeveel gaan infrastruktuur en ander dienste, bv hospitale, kos in klein dorpies? Enigste oorlewing wat sin maak, is onafhanklike stadstate soos Filletino en beplande Venezia ea. Ons eie stadstate met plase ingesluit. Die Grieke het dit ookal gedoen in die verlede. Konsentreer op alle werkbare gebiede.

  5. André en Pikkewyn, met ‘n negatiewe ingesteldheid kan ‘n mens die donkerste prentjies skilder, dis nogal maklik. Met ‘n positiewe benadering kry ‘n mens werklikhede in plek wat nie maar net sommerso van die kaart afgevee kan word nie.

    Pikkewyn, die stelling dat gekleurdes op die (hele) Noordkaap aanspraak maak is ‘n veralgemening. Aansprake deur enige groep kan tog net in verhouding tot bewese getalle se aansprake op ‘n spesifieke gebied gemaak word, maw Riemvasmaak se in woners of voormalige inwoners het ‘n aanspraak op die gebied. Netso het Orania se bewoners ook ‘n bewese aanspraak daar.

    Sou enige van die twee voorbeelde, as eenhede, besluit om die gebiede te verkoop, sal hulle dan geen verdere aansprake daarop kan hê nie. Grondaansprake het te doen met gebiede waar bewoners onregmatig onteien was. Dit was nie die geval in Orania nie, die gebied en al sy verdere uitbreidings is regmatig bekom! Die staat sal ‘n goeie motivering moet hê om dit te onteien.

    Orania is ‘n stadstaat in wording. Ons het natuurlik die keuse of dit die enigste stad- of distrikstaat sal wees wat ons tot stand gaan bring.

    Slegs in die Renosterberg-, Thembilihle-munisipaliteite, wat gesamentlik sowat 15 000 vk.km. beslaan kan daar tenminste drie vier of meer sulke stadstate gevestig word. Dit is vir ons om die haalbaarheid daarvan te bewys.

    André lig ‘n interessante punt uit. Hy wys op die kortstondigheid van vorige periodes van ‘vryheid’ in die verlede. Die vraag is, was daardie aansprake op vryheid, deur ons gemaak, in die ware sin van die woord vryheid? Om bloot politieke beheer oor ‘n gedeelde gebied te kon hê, maak jou lank nog nie vry nie.

    Ons het reeds genoeg skoolgeld betaal en behoort nou van beter te weet. Die Orania-benadering is een van waar daar gebied aangekoop word, deur eie arbeid ontwikkel word en waar geen ander groep in die proses te na gekom word nie.

    Alleenlik dmv ‘n ongrondwetlike proses kan die staat dit omkeer en in daardie geval sal dit ‘n draai in die wêreldhof loop maak. Ek glo nie dat die ANC, as ‘n ‘bevrydingsbeweging’ sulke swak publisiteit sal loop soek nie!

    1. Anthony Schlemmer

      Ek wil net byvoeg dat Orania tans ‘n rots vir Afrikaners is. Hoe meer mense hervestig, hoe moeiliker sal dit vir die ANC wees om ongrondwetlik op te tree!

      Die belangrikheid van getalle in Orania kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit is ‘n onomkeerbare proses, wat al hoe meer momemtum kry!

      1. Ek hoop van harte meer en meer Afrikaners neem die inisiatief en gaan begin ‘n lewe in Orania, veral jong Afrikaners.
        Dink daaraan: Hoe opwindend is Orania! Eintlik het ‘n jong Suidafrikaner niks om te verloor nie. Probeer tog iets interesant! Ons bevind ons in ‘n opwindende tyd.

        Maar daar is ander getalle wat ook vir Orania belangrik is. Dit is die getalle wat sê hoeveel kommersiële belangstelling daar in Orania is, uit alle rigtinge, veral dié “belangstelling” wat bereid sal wees om hulle beleggings te beskerm.
        Wat is Orania se plan t.o.v. “buitelandse sake”?

        Terug by die Artikel: Wat is Alex Salmons se plan vir Skotland t.o.v. buitelandse sake? Wil hulle in die Euro deel?

    2. Ben ek dink negatiwiteit is net so sleg soos naïwiteit of die gewisse grootheidswaan wat ‘n mens gereeld by jou spoor. Get real!

      “Die vraag is, was daardie aansprake op vryheid, deur ons gemaak, in die ware sin van die woord vryheid?”
      Liewe genugtig Ben, nou wil jy sommer suggereer dat die Boere wat nou lewe nog nooit vry was nie.

      “Om bloot politieke beheer oor ‘n gedeelde gebied te kon hê, maak jou lank nog nie vry nie.”
      Wat anders as politieke vryheid is dit wat Orania nastreef?
      Dit klink vir my, jy soek die vryheid waarvan Koos Du Plessis sing, is ek reg?

      “Ek glo nie dat die ANC, as ‘n ‘bevrydingsbeweging’ sulke swak publisiteit sal loop soek nie!”
      Ek wil nou nie NEGATIEF wees nie Ben maar dalk het jy vergeet dat, as jy van die ANC praat, jy van dieselfde mense praat wat “Kill the Boer, Kill the Farmer” luidrigtig sing en verkondig, vir almal om te hoor.

      “Orania is ‘n stadstaat in wording. Ons het natuurlik die keuse of dit die enigste stad- of distrikstaat sal wees wat ons tot stand gaan bring.”
      Wat is jou posisie daar in Orania Ben? Of hoeveel onse is in jou pond?

      Kan ons erenstig word asb.

      1. André, jy is sommer altwee, negatief, naief en ‘n hanswors boonop. Omdat jy die aanhalings by ‘bevrydingsbeweging’ misgekyk het verstaan jy nie wat ek sê nie.

        Vryheid, in die sin van beheer oor ‘n gebied, beteken vir my die alleenreg daarop, hetsy dit die aanspraak van ‘n huiseienaar op sy huis is of ‘n volk op sy leefwêreld. In ‘n gedeelde gebied word dit beperk deur die teenwoordigheid en aanspraak van enige andere daarop, dan nie? Alleenaanpraakmakers was ons ongelukkig nog nooit nêrens nie!

        Die onse in my pond is die mense wat ‘n erns met die Afrikaner se toekoms het. My posisie in Orania? Ek besit eiendom daar.

        Ek weet nie wat erenstig beteken nie, miskien moet jy ‘n speltoetser ernstig oorweeg. In elk geval, hiermee be-eindig ek jou sinnelose gesprek met my.

      2. Dankie Ben.
        Dink jy regtig dat wat ek skryf sinneloos is?
        Dink jy nie ons moet meer nadink oor die hoe die ANC teenoor ‘n Boerestaat sal reageer nie?
        Dalk lê die rede vir jou gebrek aan belangstelling daarin dat jy besef dat jy lankal in jou graf sal wees teen die tyd dat ons ‘n Volkstaat het. Ek vind dit baie selfsugtig dat jy weier om na te dink oor dinge wat nie in jou leeftyd sal gebeur nie.
        Jy’s gebore onder Engeland en sal sterf onder die ANC, nietemin wardeer ons jou moeite en insig, probeer net ‘n bietjie meer nadink oor die toekoms. Hierdie keer wil ons vir langer as 33 jaar vry wees.
        Ag jy’s ‘n inwoner! wat offisieel vir Orania skryf!? Is daar ook ‘n ander Orania blog?
        Dankie vir jou wenk oor die spelfout.

      3. Andre, jy het onlangs genoem dat jy in Duitsland bly en heel tuis voel daar. Ek waardeer jou belangstelling in Orania en jou deelname aan ons gesprekke, maar dit is feitlik korrek om te noem dat jou bydrae tot dusver beperk is tot slegs jou opinie. Daar is egter niks spesiaal daaraan nie omrede enigiemand ‘n opinie kan he.

        Mens kan tog sien dat jy betrokke wil wees. Indien jy ‘n groter rol wil speel as om net ‘n opinie te he, dan sou dit wys wees om mense met respek te behandel. Stel jou punt op ‘n sinvolle wyse en volg dit op met aksies.

        Jy vra hierbo wat ons buitelandse beleid is. Ons volg ‘n vreedsame en volhoubare roete tot vryheid. Ons skakel gereeld met gemeenskappe van reg oor die wereld heen. Ons het al sterk vriendskapsbande gebou met ‘n wye verskeindenheid organisasies van Vlaandere tot Suid-Tirool. Nader aan die huis werk ons graag saam met swart, wit en bruin gemeenskappe op ‘n basis van wedersydse respek en erkenning. Die onlangse akkoord wat ons met ‘n Xhosa stamhoof en sy raad gesluit het is ‘n voorbeeld hiervan.

        Ons het geen vyande nie, nie eens die ANC nie. Selfs Hopetown se voormalige ANC burgemeester (nou ‘n onafhanklike burgemeester), wie in ‘n stadium baie uitgesproke anti-Orania was, voer nou sinvolle gesprekke met ons. Hierdie idee dat die ANC net die mat onder Orania kan uittrek was al getoets en het misluk. Nie net moes hulle ons strewe in die parlement erken en goedkeur nie (by monde van minister Vali Moosa), hulle moes ook ‘n hooggeregshofbevel aanvaar het wat basies daarop neerkom dat ons samestelling wettig en waterdig is. Daar is baie dinge wat mens sal leer wanneer jy bietjie navorsing gaan doen oor ‘n onderwerp. Daardie kennis sal jou verhoed om onsinnige dinge kwyt te raak.

        Ons behandel mense met respek, erken hul regte en hou geen bedreiging in vir enigiemand nie – dis waarom ons erken word, gerespekteer word en mee saamgewerk kan word. Ek hoop my antwoord klaar ‘n paar dinge op waaroor jy en andere dalk onseker is.

      4. Op die oomblik wil ek geen groter rol speel as om my opinie te deel nie, dankie Quintin.
        Nie te min, dink ek, het ek tot dusvêr meestal net feite opgenoem, niks spesiaal nie.
        Al wat spisiaal aan my opinie sal wees, is dat dit myne is en nie enige-iemand sin nie. 🙂

        Ek verstaan dat Orania vriendelik met almal is en almal vriendelik met Orania is, maar dis nie wat ek met buitelandse sake bedoel nie. Met oog op die toekoms:

        1. Sal ‘n mens ‘n Suidafrikaanse paspoort én ‘n Orania paspoort mag besit?

        2. Wat sal kriteria vir burgerskap wees?
        Sal Duitsers of Franse, Orania burgers kan word? Sal Zulus en Xhosas Orania burgers kan word?
        Sal alle Boere aan die buiteland automaties Orania burgers word?

        3. Sal Orania vlugtelinge aanneem? Suidafrikaners of Zimbabwiers bv.

        4. Sal Orania burgers Suidafrikaanse staatspensioene ontvang? Indien nie, sal hulle dan Orania staatspensioene ontvang?

        Eintlik is dit sulke dinge wat ek wil weet.

  6. Die Skotte wat saam met my werk, ‘n hele spul van hulle, reken dat hulle eerder nie wil afstig nie. Hulle wil vry wees maar dink hulle ekonomie sal slegter af wees en dus sal hulle swaarder kry. dat daar egter baie is wat anders dink is ook so maar tans is die lot nog in die minderheid. Tyd sal egter leer…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s