Orania Vakansie

Dis amper vakansietyd en ons vakansieprogram is vanjaar weer propvol pret vir die hele gesin. Ons gaan hierdie somervakansie weer lekker besig wees in Orania, maar ons het gelukkig reeds baie voorbereidings getref om te verseker dat al die duisende besoekers aan Orania ’n onvergeetlike vryheid ervaring gaan geniet.

Die Orania Oewerhotel en Spa het onlangs ons twaalfde kamer voltooi en gaan gedurende Desember 2012 ’n totaal van 372 kamernagte beskikbaar hê. Ons het twee addisionele terapeute by die spa aangestel a.g.v. die groot aanvraag vir ons wye reeks spa behandelings. ’n Lieflike swembad is ook aangebou en daar is nou ’n winkeltjie beskikbaar by die oord waar allerlei verversings deur die dag aangekoop kan word.

Die Oewer Restaurant het ’n pragtige houtdek aangebou op die skaduryke oewer van die Oranjerivier en kan nou nagenoeg 100 mense bedien. Die restaurant is gedurende Desember altyd propvol, so besprekings is noodsaaklik.

’n Hoogtepunt op vanjaar se kalender is die tweede Orania Gholf Ope wat op Saterdag 15 Desember by die asemrowende Magersfontein Memorial Gholfklub gespeel word. Die verrigtinge skop reeds Vrydag 14 Desember af met ’n heerlike potjiekos-ete en dans by De Boer. Jaco Labuschagne, die bekende Moderne Countrysanger, gaan sorg vir gees en sal al die groot treffers op sy nuwe album, nl. Silwer en Goud, vir ons sing.

Saterdag 15 Desember vertrek die gholfspelers na Magersfontein terwyl die nie-spelers heerlik by die spa ontspan en hul behandelings geniet.

Magersfontein Memorial is ’n knap 72 pari, 18 putjie kampioenskapbaan wat volgens USGA-maatreëls ontwerp is. Die baan loop langs die Modderrivier en spog met die beste setperke in die streek. Magersfontein Memorial word gekenmerk deur sy lowergroen skoonvelde wat deur ons prentjiemooi Karoolandskap vloei. Gewis ’n unieke ervaring vir gholfliefhebbers!

Nadat die spelers Saterdagmiddag weer by hul gesinne aangesluit het by die hotel, kan almal vryetyd geniet. Ons gaan Saterdagaand weer saamkuier tydens die prysuitdeling funksie by die Oewer Restaurant.

Sondag 16 Desember vind die jaarlikse Geloftediens plaas by die Oewerpark en almal is welkom om hierdie spesiale geleentheid by te woon.

Diegene wat ’n addisionele dag in die Afrikanertuiste wil ontspan, het die perfekte verskoning omrede die 17de Desember natuurlik ’n vakansiedag is! Alle besighede en museums sal egter oop wees in Orania. Julle kan Orania se winkeltjies en museums rustig verken, op ’n vlotvaart gaan, visvang of net langs die swembad ontspan.

Vir navrae en besprekings vir die Orania Gholf Ope, skakel gerus 076 943 2214 of stuur ’n epos na info@oraniahotel.co.za

Ons sien uit daarna om julle in die Afrikanertuiste te verwelkom!

Magersfontein Memorial Gholfbaan

Besoek ons webwerf vir meer inligting oor die hotel, spa en restaurant: http://www.oraniahotel.co.za

10 thoughts on “Orania Vakansie

  1. arnieann

    Hi Quintin.
    Dit is gaaf om sulke nuus te lees oor hoe poppuler Orania nou raak. Gaan self daar ‘n draai probeer maak as dinge en werk hier by my dit toelaat.
    Die toestroming van so baie siele op een plek maak mens ook bekommerd. Mense raak oorentoesiasties met sulke geleenthede en beserings is nie uitgesluit nie.
    Is daar darem ‘n tydelikkke mediese hulp program in plek. Jammer om nou soos ‘n doemprofeet te klink, maar as iets verkeerd sou loop dan sal dit verseker die media haal, en enige rede sal uitgebuit word om Orania by te kom
    Dit bring my die Hospitaal storie wat ek tot vervelens toe mee aan ploeter.
    Agv. ‘n eie ondervinding in ‘n staatshospitaal het ek dit my missie gemaak om op elke moontlikke manier te probeer om ‘n verskil te probeer maak om ‘n behoorlikke mediese opset vir ons mense in plek te kry.
    Ek besef die implikasies van so ‘n groot onderneming, en ook om by die staat se reels verby te kom.
    Maklik gaan dit beslis nie wees nie, maar met genoeg steun en deursettings vermoë sal ons dit doen.
    As dit Orania se bestuur se goedkeuring wegdra sal ek en heelwat ander ondersteuners van hierdie kant die vuur solank brand maak. Natuurlik sal Orania in alle opsigte geken word en waar moontlik ook hulp verwelkom word.
    Dit is natuurlik ‘n saak wat beter bespreek sal moet word. om net met mekaar hier op die internet daaroor te gesels is nie goed genoeg nie.
    Orania sal uit die aard van die saak net die grond en infrastruktuur moet gee.
    Jammer ek skryf nou sommer net vinnig oor die hoof plan en ons kan die hele saak ordelik bespreek op ‘n latere stadium.
    Die hele operasie sal eers in volle werking geplaas kan word as dit die goedkeuring van Orania het.
    Hoor graag meer van jou. en noem knelpunte wat aandag moet kry.
    Arnold de Beer.

  2. Dankie Arnold

    Ek verstaan waar jy vandaan kom en besef ook die noodsaaklikheid om goeie mediese dienste beskikbaar te he. Ons het reeds ‘n voltydse kliniek op Orania en ‘n groot privaat spreekkamer met 2 dokters maak binnekort sy deure oop (langs die OK). Hier is natuurlik ook 2 tandartse, ‘n hele paar verpleegsters en paramediese personeel op Orania. Daar is ‘n permanente noodhulp plan in plek en indien ‘n ongeluk plaasvind, sal ons dit kan hanteer.

    Die idee om in die korttermyn ‘n hospitaal in Orania op te rig is ongelukkig nie lewensvatbaar of haalbaar nie.

    Gee 5 tot 10 jaar kans – dit sal wel gebeur namate die gemeenskap groei. Hier is tans eenvoudig nie genoeg mense om ‘n privaat hospitaal te regverdig nie, maar dit is beslis in ons toekomsplanne. Ons weet selfs reeds waar die hospitaal gebou gaan word (sien die geïntegreerde ontwikkelingsplan van Orania).

    Ek verstaan ook die argument dat ‘n privaat hospitaal op Orania beskikbaar sal wees vir Afrikaner pasiënte van heinde en ver. Moet egter nie die behoefte aan so ‘n fasiliteit oorskat nie. Toe Orania in die 90’s ‘n hospitaal met net Afrikaner staf gehad het, was daar uiters min buite pasiënte gewees. ‘n Hospitaal kan ongelukkig nie staatmaak op buite pasiënte om beddens vol te maak nie.

    Tot die dag wat ons ons eie privaat hospitaal het, gebruik ons die fasiliteite tot ons beskikking. Gevalle wat ons nie kan hanteer nie verwys ons na die privaat hospitaal in Kimberley (+- 150 km). Eerste prys is beslis ‘n eie hospitaal, maar daar moet eers genoeg inwoners wees om dit te regverdig.

  3. Arnold, Louis en Blikskottel : Daar is nie vis nie en dit gaan aaklig wees, julle moet dus Durban toe gaan met vakansie. Die saak staan so: Ek wil Desember Orania toe gaan maar weet nie presies wanneer ek verlof gaan kry nie en nou verneem ek alle vakansie verblyf gaan opgeneem word as ek nie betyds kan bespreek nie. As julle almal eerder Durban toe gaan, gaan daar plek wees vir my. Daar is baie vis in Durban, die plek ruik dalk minder aangenaam as Orania maar daar is 100 keer meer winkels, ja ok daar is miljoene kokkerotte ook, maar daar is darem n see in Durban al is die strand vol hobo’s en dwelm smokkelaars. Ek verneem die weer in Durban is aangenaam, al is die verkragters, hijackers en skelms minder vriendelik. Durban het goeie munisipaliteit en hulle praat darem nie almal Engels nie, nee n paar praat Zoeloe. My advies is dus dat julle eerder Durban toe gaan sodat ek Orania toe kan gaan, Dankie.

    1. Johann

      So graag sal ek wil kom stop in Orania in my winter vakansie, sommer daar begin man. Op ‘n skietbaan my gewere toets, en vandaar my springbokkies gaan skiet. Maar oor analiseer ek nou die Orania bestuur, dat hulle nie vir of teen ‘n geskietery is nie, maar net nie wil he (teiken)skote moet naby Orania klap nie. Of is die “thread” maar net dood?

      1. Gemsbok

        Ek dink dis maar net dood. Daar word heelwat in Orania se omgewing gejag in die winter en daar is ook ‘n skietbaan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s