Mulder plaas selfbeskikking in die kollig by nasiebou byeenkoms

Op 11 Oktober 2012 het sprekers van verskeie politieke partye tydens die Ahmed Kathrada Stigting se jaarlikse konferensie by die Universiteit van Johannesburg ernstig debat gevoer oor die vraag: Wat beteken eenheid in diversiteit?

Suid-Afrika het een van die mees diverse bevolkingsamestellings op aarde. Daar sal ’n goue middelweg gevind moet word om vrede en voorspoed te verseker. Die huidige bedeling maak dit egter vir die swart meerderheid moontlik om minderhede se regte onbepaald te vertrap, veral m.b.t. kwessies soos veiligheid, onbillike indiensneming praktyke, moedertaalonderrig  en die grondvraag.

Dr. Wilmot James, Federale Voorsitter van die Demokratiese Alliansie, het tydens die kongres weereens bevestig dat die DA nie in groeps- of minderheidsregte glo nie. Volgens dr. James bied die Grondwet die oplossing vir alle Suid-Afrikaanse burgers. Die DA is dus van mening dat gebiedsgebaseerde selfbeskikking vir sommige minderhede nie nodig is nie omrede individuele regte genoeg is om alle landsburgers te beskerm solank al die bepalings wat in die Grondwet vervat word net reg toegepas word.

Daar is wel artikels in die Grondwet wat spesifiek op taal- en kultuurgroepe van toepassing is. Taal- en kultuurregte asook die reg tot territoriale selfbeskikking vir taal- en kultuurgemeenskappe staan immers duidelik in die Grondwet opgeskryf. Dit is ironies dat die DA nie in hierdie grondwetlike regte glo nie, maar wel die einste Grondwet waarin hierdie regte vervat word voorhou as quasi-heilige skrif.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, het tydens die debat genoem dat die Suid-Afrikaanse situasie uiters kompleks is. Na die beëindiging van apartheid in 1990 is dié land nie ‘n enkele tree nader aan eenheid in diversiteit nie. Suid-Afrika het steeds uiters hoë konflikpotensiaal wat deur plaasmoorde en ander geweldsmisdaad op minderhede vererger word.

“Na die beëindiging van die Koue-oorlog het interne- of gemeenskapskonflikte die enkel mees gevaarlike bedreiging vir wêreldvrede geword,” aldus dr. Mulder.

Van die 27 belangrikste konflikte wat die wêreld in die onlangse verlede geteister het, was 25 tussen gemeenskappe binne dieselfde land. Die meeste van hierdie konflikte het hul wortels gehad in die onvermoë van etniese, kulturele en godsdienstige gemeenskappe om in vreedsame naasbestaan saam te leef.

Spanning tussen gemeenskappe binne dieselfde samelewing ontstaan dikwels wanneer sulke gemeenskappe glo dat hulle kernbelange bedreig word of dat hul basiese regte geïgnoreer word. Sulke spanning word vererger wanneer die betrokke gemeenskappe ook minderhede is wat magteloos is om dit wat hulle as hul billike regte beskou, te beskerm.

Mulder verduidelik dat nasiebou in Afrika meestal plaasvind rondom die weerstand teen kolonialisme. In Suid-Afrika is dit ‘n resep vir polarisasie en spanning.

Die demokratiese meerderheidsmodel waarteen Afrika-state gemeet word, word nie meer in baie Westerse lande gebruik nie. Kanada, Switserland, Brittanje, België en Spanje het lankal reeds hul politieke modelle verfyn en aangepas om minderhede ook te akkommodeer. Dit is ’n aanduiding dat ander meer gevorderde modelle besig is om die meer simplistiese liberale demokratiese model te vervang. Behalwe in Suid-Afrika waar ons grondwetlik agter raak.

Waar nasiebou dikwels in Europa en in die res van die wêreld gebou word rondom gemeenskaplike kulturele waardes, -taal of -godsdiens, is dit in Afrika meesal anders. In Afrika is individue meestal saamgevoeg vir nasiebou in terme van hulle gesamentlike weerstand teen kolonialisme.

“Die probleem is dat as ’n nasionale identiteit gebou word rondom die weerstand teen kolonialisme, die mense wat vroeër as koloniale onderdrukkers gesien is, nie as deel van die nuwe nasionale identiteit gesien word nie. In die meeste koloniale lande in Afrika, het die koloniseerders teruggegaan na Europa na onafhanklikwording, maar in Suid-Afrika het ons ’n ander situasie. Afrikaners en ander “wittes” het geen ander land om na terug te keer nie en moet geïnkorporeer word by die sosiale kohesie-resep. Daarom kan dieselfde resep nie hier werk nie,” het dr. Mulder gesê.

Die Malema-tipe retoriek is meesal gebaseer op bogenoemde Afrika- en koloniale weerstandsteorie. Dit vervreem en polariseer Afrikaners net verder binne die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Dr. Mulder het aan die DA genoem dat bo en behalwe die mislukte nasiebou resepte van Afrika, daar ook ander ernstige probleme is wat tans net in die doofpot gestop word. Die ANC en die DA veral, maak hulself skuldig aan geforseerde assimilasie, verontagsaming van taalregte, skending van Afrikaner kultuurhistoriese plekname en onverdraagsaamheid jeens die moontlikheid van verskillende identiteite.

Oor naamsverandering het dr. Mulder die volgende gesê: “Louis Botha was een van die helde na die Anglo-Boere-oorlog met sy pogings om Britse Imperialisme in Suid-Afrika te keer. Met apartheid het hy niks te doen gehad nie. Elke keer as ek in Pretoria verby die straatnaamveranderinge ry en sien hoe daar ’n rooi streep deur Louis Botha se naam getrek is, is ek opnuut kwaad oor wat ek beleef as die miskenning van my helde en geskiedenis. ’n Regering kan mense dwing om belasting te betaal. ’n Regering kan mense dwing om wette te gehoorsaam maar ’n regering kan nie mense dwing om hulle denke te verander en vrywillig positief te wees en tot nasiebou by te dra nie.”

Mulder het ’n sterk argument m.b.t. groepserkenning, selfbeskikking en federalisme aan die gehoor gerig . Om vir die ANC en die DA te wys dat federalisme nie net in die Weste nie, maar in Afrika ook suksesvol geïmplementeer kan word, het hy na die samestelling van Ethiopië verwys.

“Die Ethiopiese Grondwet wat in 1995 in gebruik geneem is, het ’n federasie wat uit nege etnies-linguisties verdeelde state en twee federale stede bestaan, daargestel,” verduidelik Mulder.

Hy het afgesluit deur te sê dat hy net homself wil wees in Afrika.

“Is dit te veel gevra? As daar ’n plek is vir die Arabiere met hul eie geloof en “anderse” kultuur in die Noorde van Afrika, dan moet daar ook ’n plek wees vir my in die Suide.”

As oprigterslid van die Orania Beweging en uitwoner-burger met ’n pekanneutboerdery  in Orania is dit duidelik dat dr. Mulder nie net die regte argumente voer nie, maar dit ook opvolg met dade. So kan alle Afrikaners ’n positiewe bydrae lewer om vanuit Orania vir onsself  ’n vry leefruimte in die Suide van Afrika te skep.

13 thoughts on “Mulder plaas selfbeskikking in die kollig by nasiebou byeenkoms

  1. Soos van julle seker weet is ‘n klomp van ons al vir byna ‘n jaar nie meer lede van die VF Plus nie, maar ek glo ons moet groot genoeg wees om ons verskille opsy te sit en na mekaar luister.

    Ons het dr. Mulder en die VF Plus al behoorlik gekritiseer in die verlede maar is bereid om hulle met dieselfde energie te prys wanneer hulle dit verdien.

    Net jammer dat hulle vandag weer vir die verkeerde redes die koerante gehaal het – http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Hoe-in-VF-geskors-oor-gelddispuut-20121116

    Dis duidelik die party kort nuwe bloed omtrent soveel as wat die boere in die Kaap deesdae gedisiplineerde volkseie arbeid nodig het! Kan die VF Plus hul huis in orde kry en weer soveel steun kry as wat hulle in 1994 gehad het? Dit sal beslis ons saak bevorder indien so iets moontlik is…

      1. As Dr. Mulder dit op skrif stel en dit wyd en aanhoudend adverteer dat hy dit van nou af sy top prioriteit gaan maak om selfbeskikking vir ons Volk te kry, slegs dan het ek ‘n rede om vir die VF+ te stem.
        Andersins stem ons weer net vir hofsake wat ons nêrens bring nie.

    1. arnieann

      Ek stem volkome met jou hier saam Quintin. Ek sal ook enige inset van Dr. Mulder steun as dit oor selfbeskikking gaan.
      Ongelukkig lyk dit vir my asof die VF+ daardie idee laat vaar het. Dus sal ek ook my stem vir hulle laat vaar.
      Orania het die absolute regte idee om ‘n Volkstaat op die been te bring.
      Slegs vir die rykes !!!
      Ek het gaan kyk wat erwe op Orania kos. Dit jaag my weg. En ook duisende ander Afrikaners.
      Antwoord net hierdie een vraag van my asseblief.
      Wat is julle plan met daardie ongeveer 8000 ha?????

      1. Arnieann, ek praat nou natuurlik nie namens die Orania Beweging of die dorpsbestuur nie, maar ‘n mens kan met sekerte aanvaar dat grond nie van ontwikkeling terug gehou word om sodoende die prys hoër te kry nie!

        Die hele projek is tog daarop gemik om mense daar gevestig te kry. Die koste om persele op te deel en te ontwikkel is dalk eerder die probleem.

        Ek weet dat Orania se belastingsbasis, met meer mense daar gevestig, nou heelwat groter is en daar meer geld vir uitbreiding beskikbaar is.

        Erwe in nuwe uitbreidings sal seker binnekort beskikbaar wees.

      2. Hallo Arnie – oom Ben het reeds meeste woorde uit my mond gevat. Al wat ek kan byvoeg is dat Orania Dorpsraad deeglik bewus is dat eiendomspryse op Orania vir baie mense te hoog is (a.g.v. vraag en aanbod) en dat hulle iets in die lyn van 400 nuwe erwe uitgele het wat van volgende jaar beskikbaar gaan wees.

        Hierdie nuwe erwe word teen kosprys verkoop (d.w.s. wat dit vir Dorpsraad kos om krag, water en riolering na die erwe aan te le). As ek die syfers reg kan onthou begin die erwe op 30 000 ora. Dorpsraad het selfs ‘n deeltitel meenthuisontwikkeling op die tafel gesit en erfies daar is verspot goedkoop. Ek dink slegs mense wat onder ‘n sekere bedrag verdien kwalifiseer om die deeltitel erwe te koop. Dit voorkom dat een ou met baie geld alles koop en teen ‘n groot wins verkoop.

        Die ou argument dat Orania net vir die rykes is omdat eiendom so duur geword het is nou hoegenaamd nie meer geldig nie. Die probleem is opgelos. Skakel Dorpsraad en praat met Christo Conradie vir meer inligting: 053 207 0063.

        Ons planne met hierdie 10 000+ ha is om dit verder uit te brei, Afrikaners in groot getalle hier en elders in ons hartland te vestig, werk te skep en ‘n sterk ekonomie te ontwikkel. Dit alles is deel van die proses om ‘n Afrikaner volkstaat te stig.

    1. Dag Quintin;
      “Great minds think alike” seg hulle.
      Jy het nou daarin geslaag om al my vraë te antwoord en dankie daarvoor.
      Ek sal julle gedurende Desember sien. Hou solank vir my ‘n plekkie oop langs die rivier.
      Ek kom die visse so ‘n bietjie straf daar.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s