Die Afrikaner se verlede, toekoms en die vrye mark

Baie Afrikaners beoordeel die politiek, plaaslik asook internasionaal, vanuit ’n vrye mark oogpunt gesien. Veral die staat se mediese sorg kom dikwels onder die skoot. Wie welvaart skep, lui die argument, kan private mediese sorg betaal, maar as almal werk en belasting betaal dan sal privaat mediese sorg nie nodig wees nie. Vryheidsgesinde Afrikaners is geneig om baie sterk hieroor te voel. Die mislukking van Suid-Afrika se welsynstaat maak dat hulle die vrye mark tot primêre beginsel verhef.

Gestel die mark was strykdeur Suid-Afrika se oorheersende beleidbepaler.

Vroeg in die twintigste eeu het ‘n armblanke vraagstuk ernstig kop uitgesteek. Daar was nie meer plase vir jong Afrikaners nie en die meeste was vir geen ander ekonomie toegerus nie. Blanke werkers het ‘n voorkeurposisie in die myne geniet en vele Afrikaners is só van ellende gered. Mynbase wou arbeid deur die mark laat reguleer, wat direk tot stakings in 1922 en die eerste NP-geleide regering in 1924 gelei het.

Onder die nuwe regering het “Suid-Afrika Eerste” ekonomiese en kulturele beleid bepaal. Die spoornetwerk is uitgebrei, staatskorporasies soos Yskor en EVKOM het groot happe uit die begroting geneem en Afrikaans is as amptelike taal in al sy funksies ontwikkel, alles strydig met wat die mark sou bepaal.

Tydens die depressie is armoede bestry deur sosiale werkskepping. Onderwys en opleiding is op ‘n reuse skaal, en in Afrikaans, aangebied. Boere is met navorsing en wetenskaplike voorligting, maar ook subsidies, op hulle plase gehou. Die wat verstedelik het, is in groot getalle deur die Spoorweë, munisipaliteite en ander simpatieke werkgewers onder staatsbeheer opgeneem.

Soos wat vermoë toegeneem het, is die vlak van bemagtiging verhoog. Gesondheid en onderwys was nie inkomstebronne nie, maar beleggings in die welsyn en toekoms van die staat. ‘n Openbare gesondheidstelsel is geskep wat die nederigste werker, maar ook ‘n premier na ‘n sluipmoordpoging, versorg het. Onderwys het nie net skoolkinders bevoordeel nie, maar ook skoolverlaters wat, mits hulle potensiaal getoon het, onderwysbeurse kon kry. Party het van onderwys ‘n gerespekteerde loopbaan gemaak. Ander het dit as afspringplek gebruik om elke denkbare rigting in die akademie en ekonomie te betree. Talle wêreldklas Afrikaners is deur onderwysbeurse uit beloftelose armoede gelig.

As die vrye mark strykdeur regeringsbesluite moes rig, was Suid-Afrika vandag grootliks ongeïndustrialiseer. Die ekonomie sou deur ‘n agterlike landbou- en kwynende mynbousektor oorheers wees. Ekonomiese ontwikkeling sou bykans uitsluitlik rondom die Witwatersrand en hawestede plaasgevind het. Afrikaans sou slegs in armoedige en onder-ontwikkelde kontekste gehoor word. ‘n Klein persentasie Afrikaners sou in 2012 welvarend gewees het. Die welvarendes sou Engels as huistaal gehad het. Trouens, die ANC sou in die 1960’s al aan bewind gekom het.

Die verlede bewys dat die groot vraag is of ‘n hardwerkende burgery die kanse wat gebied word, aangryp. Dan kan soveel meer as welvaart geskep word.

24 thoughts on “Die Afrikaner se verlede, toekoms en die vrye mark

  1. Anthony Schlemmer

    Die staat het maar ‘n belangrike rol te speel in enige vryemark stelsel.

    Kyk maar in Amerika met die laaste finansieele krises, het die staat van die Banke en motor maatskappye gered. Vandag is daardie maatskappye op hulle voete, en betaal hulle die staatskas terug.

    Die aller belangrikste is dat ‘n land nie geld moet uitgee wat hy nie het nie. Die boeke MOET klop. Kyk na die Grieke, duisende jaar oue beskawing en hulle weet nou nog nie die basiese beginsel, dat jy nie onbepaald geld kan spandeer wat jy nie het nie. Swak! As ek “n Griek was het ek my kop in die toilet gedruk en die ketting getrek!

    “n Fynbelans tussen die staat en die vrymark is nodig, maar 90% vryemark. Weereens, die boeke moet net klop!

      1. Anthony Schlemmer

        Dankie Kanwilsal, ek sien die debat begin nou opwarm! Ek het die artikel gelees en vind dit baie goed.

        Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is ‘n groot vryemark ondersteuner. Die staat het egter ‘n kleiner rol om te speel. Daar moet ‘n mate van reguleering wees veral in die finansiele sektor.

        As jy die mensdom net los om op sy eie aan te gaan, is dit ‘n resep vir groot probleme.

        Party mense redeneer dat Amerika nooit van die Goud standaard moes afgegaan het nie. Die net eenvoudig druk van geld maak ook nie vir my sin nie. Dit is waar die staat die groot sondebok is!

        Die punt wat ek gemaak het dat lande nie onbepaald geld moet druk of spandeer wat hulle nie het nie staan steeds, dit sou die geldkrises wereldwyd voorkom het!

  2. Andre de Kock

    Dit klink na ‘n mooi argument vir hoekom BEEE-Swart Ekonomiese Bemagtiging nou baie nodig is. Die Afrikaner het sy beurt gehad en is voorwaar gehelp, bevoordeel en gesubsidieer. Dit laat my ook wonder hoekom daar soveel blankes (in hul vyftigs-en dus produkte van die beskermde Nasionale Party skoolstelsel) wat by robotte bedel. Het al die hulp dan nie gehelp nie? Wat het van die voordeel geword wat die Blanke skoolstelsel vir die mense moes bied? Of is jy maar net te sleg om te werk as die staat nie vir jou ‘n job gee nie? Of was Dr Verwoerd reg in sy sienswyse dat as jy verarm dan versleg jy en kan jouself nie daar uit presteer nie? Dan is die Afrikaner slegter as enige ander blanke volk wat na die Tweede Wereldoorlog uit die as uit moes opstaan. Vandag kry jy in Europa die ryk Noorde en die arm Suide. Die ryk deel is die Duitsers, Swede en Franse (bekend vir harde werkers en ondernemende entepreneurskap) en die lui parasiete in die Suide is die Grieke, Spanjaarde en Italianers-(vrot van die skuld en aangewese op die staat).
    Die Afrikaners wat egter ‘n premie op hul kinders se opvoeding geplaas het presteer vandag-en oral in die wereld. Maar ek was in die onderwys-en het met baie ouers te doen gekry wat die onderwyser by die huis afgebreek en verkleineer het-en gedurig by die skool sy kind se ‘saak’ kom stel het.Sulke kinders het dan weer hul kinders skool toe gestuur met dieselfde swak gesindheid. Twee geslagte hiervan voor 1994 en een daarna en al die goeie werk is ongedaan. Vra ENIGE onderwyser vandag waarmee hulle te doen het en hoe die ouers met hulle bloedjies se opvoeding-en dissipline inmeng en kyk wat spoeg die skole vandag uit.
    In teenstelling hiermee kry jy Afrikaanse spogskole met ouers wat saam met die onderwysers werk in hul kinders se belang. Dis gewoonlik in meer gegoede buurte en sulke mense is trots op hul Afrikanerskap. Ander van hulle is weer yuppies wat sy Afrikanerskap verwerp en in die reenboognasie opgaan.
    Nou het ons drie tipe Afrikaners:
    Commin Low Class Afrikaners-wat nou net so maklik vermeng as wat hulle dit verwerp het.(Die carguards en robotbedelaars) (Vir die eerste keer mag ons hulle identifiseer-jare terug was hulle Nasionale Party stemme en mag niemand van ‘commin’ gepraat het nie)
    Middelklas/Ryk Afrikaners-oor die algemeen behoudend en trots op hul Afrikanerskap (Orania ondersteuners/ VV+ kiesers) en dan
    Middelklas/Ryk Suid-Afrikaners wat toevallig Afrikaans praat-homself as ‘n wereldburger sien en die Nuwe Suid Afrika verwelkom het. (Die Mandela en Tutu aanhangers) en vir die DA stem.

    Die eerste probleem is dat die laaste groep die grootste is. Die tweede probleem is dat die middelgroep hulself beywer vir ‘n eie land waar die eerste groep weer op hulle gatte gaan kom sit.

  3. In geen stelsel kan enige komponent, in die stelsel, strykdeur die botoon voer nie. In die vroeë jare na Uniewording het die Afrikaner sterk op hul politieke komponent gesteun om te herstel van die skade wat deur ‘n ander staat aangerig was.

    So ook gebruik die ANC sy politieke hefkrag om die skade, waarvoor hulle ons blameer, reg te stel. China het ook onder koloniale misbruik deurgeloop en het die sterkste staatsvorm, naamlik kommunisme gebruik om die regstelling te doen. Vir Orania om te groei sal daar ook sterk op die beheerliggame daar gesteun word om die bal aan die rol te kry en dalk nog vir lank so te hou.

    Die vraag is net: “Wanneer word die baba gespeen?” As die Afrikaner vroeër met die speenproses begin het, in die tye toe trots nog deel van ons volkswees was, dan het ons nou met meer ryk patriotte en minder yuppies gesit. Die ANC se poging het sovêr ‘n paar ‘Fatcats’ gebaar en niks meer nie.

    In China het die staat se betrokkenheid merkwaardige resultate gelewer maar as hulle nie nou uittree nie gaan hulle ‘n oorlas begin raak. Die Amerikaners het maar nog net altyd op die oorvloedigheid van so ‘n groot land geteer en briljante immigrante se breins gepik maar self weinig opgelewer.

    Die land van die Mafia en kapitalisme se geldmag keer gewoonlik gou terug, met bedelhande, na die staatskas toe as hulle droog gemaak het. Bankrotskap is daar maar net ‘n manier om verpligtinge te ontduik.

    Die geheim tot sukses is om die komponente van voorsiening in ‘n gemeenskap in balans met mekaar te hou en die maklikste manier om dit reg te kry is om beheer so lokaal moontlik te hou.

  4. Wynand, Ek verskil van jou oor omtrent alles hier, ek kan nie glo jy het dit geskryf nie. Onder ʼn suiwer vryemark stelsel sou die lokalisme wat in Orania bestaan op hordes plekke ontstaan en ontwikkel het. Veral op gesondheidsorg Wynand vra ek jou ook om die te lees en my te sê waar die fout lê : http://anargisme.wordpress.com/2012/08/01/gesondheidsorg-en-die-staat/

    Die armoede onder Afrikaners was grotendeels die nagevolg van die landelike verwoesting van die Anglo-Boere oorlog. Daar was baie aksies om Afrikaners op te hef meeste daarvan privaat inisiatiewe soos die reddingsfonds teen die tyd dat die NP aan bewind gekom het was ons reeds oor die hond se rug – danksy die vryemark. Die valse geloof dat die staat Afrikaners opgehef het, het gehelp om die NP en Afrikaners ideologies onbeholpe om die onderhandelingstafel te laat. Eskom, Telkom, spoorweë – daar is geen manier om die ware geleentheidskoste van die swak aangewende hulpbronne van hierdie eksperimente te evalueer nie, enige moontlikheid dat die vryemark in hierdie industrieë betrokke raak is in die kiem gesmoor deurdat belastinggeld daarvoor aangewend is. En ek kan net so wild spekuleer dat SA sou verdeel het in 8960 onafhanklike lokalismes wat op hul eie terme oor hulself regeer as ons ʼn suiwer vryemark stelsel gehad het met die hoogste klas privaat skole en privaat hospitale as wat jy spekuleer dat dit geïndustrialiseerde moeras sou wees.

  5. Kanwilsal, jy slaan die spyker op die kop. Daar is ‘n reuse verskil tussen die Afrikaner se opheffing na die verarming wat regstreeks deur die ABO veroorsaak is en die sg BBBEE wat ons vandag verduur. Soos jy tereg uitwys was die Afrikaner se herstel reeds goed onderweg teen 1948. Daar was benewens die stigting van maatskappye soos Santam, Sanlam, Volkskas, Saambou, ens ook privaataksies soos die Reddingsdaadbond.

    Die Afrikaner se opheffing was eerder ten spyte van regeringshulp as wat dit die gevolg daarvan is.

    En waar is die ekwivalente privaat organisasies en inisiatiewe vandag? Die huidige regering stel net belang om bestaande organisasies oor te neem en nie die mark toe te laat om nuwes te skep en hulle dan te help groei nie.

    Die NP het na 1948 verseker gehelp deur die Afrikaner organisasies te ondersteun, maar die punt is dat hulle reeds daar was en nie net meegeding het met die bestaande maatskappye soos Ou Mutual, ens nie maar baie vinnig baie mededingend was.

    Waar is die moderne ekwivalente????

      1. Oom Ben tot n mate is Solidariteit die moderne ekwivalent. Die welsyn staat sal altyd n mislukking wees. Europa is tydbom a.g.v daarvan, die positiewe dat sesessie bewegings daaruit gaan vloei, die negatiewe dat almal in onkunde die vryemark gaan blameer.

      2. Ben, ek dink jy mis dalk effens die punt wat ek probeer maak het oor “moderne ekwivalente”. Ek het die opheffing van Armblankes met die beweerde soortgelyke opheffingspogings deur die huidige regering vergelyk. Wanneer ek dus praat van moderne ekwivalente van die Sanlams en Volkskasse praat ek nie van Capitec of Gencor nie, maar van swart instansies wat nie bestaan nie omdat daar nooit ‘n poging aangewend is om so iets van die grond af te kry nie.

        Afrikaners het sterk geglo aan opvoeding en geleenthede terwyl die ANC regering se idee van “swart opheffing” eerder is om ‘n skatryk bevorregte persone (soos ‘n Sexwale of ‘n Ramaphosa) aan die stuur van ‘n tradisionele “wit” maatskappy te sit. Zuma moedig nie opvoeding en/of harde werk aan nie, maar aksentueer bloot velkleur. Niks word opgebou nie, alles word eerder oorgevat met bevoegdheid van sekondêre belang. Waar het die Afrikaner dit ooit gedoen? Het die NP ooit aangedring dat ‘n sekere persentasie van Ou Mutual se direksie of Anglo se aandele kapitaal aan Afrikaners moet behoort?

        Die NP het wel diskriminasie teen Afrikaners in die staatsdiens opgehef en daardeur nuwe geleenthede vir Afrikaners gegun. Vir lank na die ABO was verskeie staatsdiensposisies nie vir Afrikaners beskore nie en dit was dus eerder die ophef van regeringsregulasies, as die instel daarvan, wat Afrikaners bevoordeel het (of liewer nie benadeel het nie).

        Die “lesse” wat die huidige regime egter uit die Afrikaner geskiedenis neem is ongelukkig vierkantig gebaseer op ‘n vals konvesionele wysheid wat ongelukkig wyd voorkom en selfs verder deur ondeurdagte artikels soos hierdie versterk word.

        Regerings is inherent oneffektief en skep geen welvaart nie. Hulle neem (steel?) bloot geld by A, vermenigvuldig dit met ‘n faktor van minder as 1 en wend die restant dan onoordeelkundig aan, gewoonlik na bewering tot voordeel van A en B. Vir ten minste 320 uit die laaste 360 jaar het Afrikaners ‘n gesonde (en geregverdigde) agterdog jeens regerings gekoester. Die ander 40 jaar het ‘n groot persentasie van hulle egter opgeëndig om self vir die Staat te werk en sodoende vervreemd geraak van hul eeue lange strewe vir ware vryheid.

        Ten spyte van al die wetgweing en diskriminasie teen Afrikaners glo ek ons doen (ten minste finansiëel) steeds beter as voor 1994 en relatief ook steeds beter as die sogenaamde massas. Die regering se idee van opheffing, waarvoor Wynand hier simpatie toon, werk duidelik glad nie. Ek glo hy sou beter kon doen doen deur die werklike redes vir die Afrikaner se tydelike verarming en latere herstel te ondersoek as om uiteindelik bloot die SAUK se vals persepsies na te praat en verder te propageer…

        Behou die klem op dit wat nog altyd van werklike belang was, die strewe vir VRYHEID. Hulle sê die waarheid stel jou vry, maar ek glo dat niks ‘n mens so vrystel soos vryheid self nie!

  6. Staffieliefhebber

    Nee man, Wynand

    Sosialisme bly sosialisme en dit werk nie, nie in Europa nie, nie in die Ooste nie, ook nie in Afrika nie. Die ou regering se ingryping in alles het juis die mark se natuurlike balans versteur, nuwe regering hou net aan op ‘n baie erger trand, maar albei regerings het geglo hulle is wonderlik en alwetend. Burgers kom tweede. Koekom is Hong-Kong, Singapoer, Switzerland so ryk? Op my Blog het ek ‘n link na die wêreld ekonomiese vryheidsindeks, Raai wat? Die lande met die vryste ekonomieë is die rykste….Maak nie saak hoe groot of klein hulle is nie, inteendeel meeste van die top 10 is regtig klein staatjies, sonder goed, olie, diamante of so. Amerika is besig om sy plek onder die welvarendste lande te verloor, heel waarskynlik danksy oorregulering en staatsinmenging.

  7. Ek wil ʼn wending neem en die artikel in verband bring met ʼn vorige gesprek wat hier plaas gevind het. Instellings en Inspraak waar Quintin die moontlikheid van Volksdemokrasie oorweeg het. Ek het daar die stelling gemaak dat demokrasie teen alle koste vermy moet word en dat indien Volksdemokrasie toegelaat word jy binne die Volkstaat vryheid totsiens kan soen. Verbeel jou die Volkstaat word uitgeroep en almal het ewe veel stemreg, Charismatiese Volkspolitikus Wynand Boshoff skryf en versprei hierdie artikel en maak toesprake vol wulpse gevleuelde woordjies. On-charismatiese ek skryf en maan almal teen die gevare, ek verduidelik die goudstandaard, die Oostenrykse teorie van die besigheidsiklus, die subjektiewe teorie van waarde – maar helaas Wynand wen met ʼn oorweldigende meerderheid. Die welsynstaat word opgebou en gaan nooit weer krimp nie, net van gesig verander. Politieke en Ekonomiese stelsels loop hand aan hand : Ons kan nie bekostig om ooit die fout te maak om ʼn gemengde ekonomiese stelsel te kies nie. Ek stel as antwoord voor eerder botsende stelsels waar daar lokalisties suiwervryemark dorpe bestaan wat niks meer as 2% belasting betaal nie – alle ander belastings word ongrondwetlik verklaar en lokalisties suiwer marxistiese kibboets plase (waar die wat dit vrywillig kies) op die grondslag van distributisme oor hulself regeer.

    1. Goed Attie, haal gerus volksdemokrasie uit die prentjie uit. Iewers op ‘n punt gaan mense tog moet besluit oor sommige kwessies wat bindend op almal gaan wees. Mens kan ook nie daaglikse referendums hou oor elke kwessie denkbaar nie, dus gaan daar een of ander vorm van verteenwoordigers aangewys moet word wat namens die gemeenskap besluite neem. Elke volk op aarde het verteenwoordigers. Die volke wat die vryheid het om hul verteenwoordigers demokraties te verkies en aanspreeklik te hou met ‘n onafhanklike regbank is ook die suksesvolste.

      Die probleem ontstaan sodra jy twee of meer volke het wat d.m.v. ‘n demokratiese proses om mag beding binne ‘n gedeelde grondgebied. Uiteenlopende belange, kulturele en geloof verskille, opvoeding en dies meer veroorsaak wrywing tussen diesulke volke. Dis ‘n wen-verloor situasie en mag word d.m.v. demokrasie behou solank die meerderheidsgroep hul getalle voordeel behou. Dis die gemors waarin Afrikaners nou sit in SA.

      Alhoewel jy hier en daar van my gaan verskil, bepleit ek en beywer ek myself vir:

      1. ‘n Onafhanklike Republiek wat ‘n duidelik identifiseerbare, aaneenlopende en omgrensde grondgebied beslaan waarin Afrikaners die oorgrote meerderheid is.
      2. ‘n Een mens een stem nie-partypolitieke stelsel waarin plaaslike en nasionale verteenwoordigers verkies word.
      3. ‘n Federale regeringsvorm met ‘n sentrale volksraad.
      4. ‘n Vrye mark ekonomie met sommige sosiale voordele, o.a. uiters bekostigbare medies en onderwys.

      In praktyk, ‘n stelsel wat baie van Switserland, maar ook Denemarke (minus die monargie) se voordele inhou. In kort, ‘n Konfederale Afrikaner Republiek.

      In konteks van ons ideaal gesien sal bv. Orania en sy hinterland ‘n federale staat binne die Republiek wees. Die toekomstige Weskus groeipunt en sy hinterland is ook so ‘n federale staat binne die Republiek. So kan daar nog ‘n paar federale Afrikaner state binne die grense van die Republiek wees. Elkeen het sy eie federale regering en onafhanklike regbank en bestuur homself onder toesig van die volksraad. Die volksraad hou ook toesig oor nasionale departemente, o.a. die weermag, onderwys, gesondheid en finansies. Burgers verkies elke 4 jaar hul federale verteenwoordigers (geen politieke partye nie!), volksraadlede en ‘n staatspresident wat sy kabinet saamstel. Die kabinet bestuur nasionale departemente, soos genoem, onder toesig van die volksraad.

      1. Quintin, ek bepleit en ywer eerstens vir etniese konsolidasie van die Afrikaner Volk – ek glo dat liberales en baie konserwatiewes verkeerd is oor die langtermyn gevolge van diaspora op ʼn volk. Alle ander oorwegings is ondergeskik, onderhandelbaar en selfs oorbodig. Ek wil nie lang relase hier skryf oor ekonomie nie, maar baie van die staatsmodel idees wat sommige volkstaters het is meer as net verouderd -Ons sit met ʼn hoogs geskoolde Volk, en daar is hordes opsies en soos oom Ben baie uitwys sal praktyk die rigting gee. Orania werk reeds op stemreg gebaseer op eiendomsreg, waarvoor het Orania die ANC regering nodig? As Orania al die belastings kon hou wat oor die laaste 21 jaar aand die ANC betaal was, kon Orania nie daarmee sy skole uitbou en ʼn hospitaal gebou het nie? Hoeveel ekstra kon met daai geld gedoen gewees het? As ons Blania en Blouia stig op dieselfde beginsels en hulle toelaat om hulself te regeer waarvoor het jy die ANC regering nodig? Vervang nou die ANC met jou nuwe regering van jou keuse en die vraag bly staan….waarvoor het jy hulle nodig?

        Ek stel wel voor jy gaan lees maar daai stuk oor Gesondheidsorg om jou by te staan om ʼn gebalanseerde opinie oor gesondheidsorg te huldig. Om jou vraag te beantwoord oor inspraak, klassieke-republikanisme is oorspronklik verbeel as gemengde regering dus demokrasie (vir die plebiese klas) en gereserveerde mag vir die adel klas en selfs die monarg. Die idee van ʼn republiek is onversoenbaar met volksdemokrasie, ek stel voor ons behou stemreg beperk tot eiendomsreg, met ʼn aanpassing vir die proletariaat om hulle insae te gee, kommando-diensplig! Dit klink dalk bietjie “Spartaans” maar daardie diens kan gebruik word in hospitale, strate skoonmaak ens. Een maand per jaar kommando-diensplig verteenwoordig vir iemand wat vrygespeek is van belasting, ʼn koste 1/12de d.w.s. 8.33% belasting in ruil vir stemreg, en kweek die morele krag en trots in gemeenskap en volk. Sonder om die immorele afpersing wat belasting is te aanvaar, ons moet immers ʼn trotse vrye volk wees, nie kinders nie.

      2. Attie, ek sien jy weet meer van staatkunde af as ek. Jou voorstelle is baie interessant en ek glo dis uitvoerbaar. Hier en daar gaan ‘n paar mense uit die bus uit val, maar oor die algemeen gaan mens met ‘n baie gedissiplineerde samelewing sit.

        Die enigste punt waar ons mekaar iewers moet vind is die behoefte vir ‘n sentrale regering – noem dit maar ‘n volksraad of ‘n senaat as jy wil, wat oor die federale regerings toesig moet hou en moet sorg dat funksies verrig word wat nie altyd deur gemeenskappe self op hul eie stoom gedoen kan word nie. Bo en behalwe die toesighoudende rol kan ek aan ‘n paar antwoorde dink op jou vraag: waarvoor het jy hulle (‘n sentrale regering) nodig?

        1. Nasionale verdediging. Ek dink nie dis nodig om veel hieroor uit te brei nie. Wat wel belangrik is, is dat daar ‘n gekwalifiseerde groep mense moet wees wat in staat is om besluite te neem wat in die beste belang van die hele Republiek is, en nie net ‘n spesifieke federale staat binne die Republiek nie.

        2. Onderwys. Om ‘n gelyke standaard te verseker moet ‘n sentrale onderwys departement die nasionale curriculum bepaal. As elke federale staat binne die Republiek sy eie curriculum kan bepaal dan sit mens met die moontlikheid dat ongelykhede kan ontstaan wat leerders later op tersiêre vlak en in die werkplek kan benadeel. Ek het geen probleem met privaat skole, of gespesialiseerde skole nie maar daar moet vir almal ‘n minimum standaard wees wat voldoen aan Eerstewêreld standaarde en vereistes. Ek sou graag wou sien dat primêre en sekondêre onderwys gratis is. Dit beteken meer belasting, maar die voordele wat dit vir die hele gemeenskap inhou is legio. So ‘n nasionale onderwysstelsel moet op nasionale vlak bestuur word en daarvoor het jy ‘n nasionale departement van onderwys nodig. Ek kan talle suksesvolle Eerstêwereld voorbeelde noem van sulke stelsels wat eksie perfeksie werk – dit moet net deur die regte mense bestuur word.

        3. Medies. In konteks van ‘n Afrikaner volkstaat is ek ‘n groot voorstaander van genasionaliseerde gesondheidsdienste omrede ek in plekke soos Frankryk gesien het hoe ongelooflik so ‘n stelsel werk as dit net reg toegepas word (deur die regte mense!). In die ou SA was staatshospitale uitmuntend bestuur, dus glo ek dat Afrikaners in staat is om ‘n puik nasionale gesondheidsdiens op die been te bring wat byna gratis mediese sorg aan almal sal voorsien (want almal het werk en betaal belasting). Weereens, soos met onderwys is die skaal van so ‘n stelsel net te groot om in individuele gemeenskappe se hande te laat. Dis in nasionale belang dat dit ordentlik van ‘n sentrale punt, of te wel nasionale departement van gesondheid, bestuur moet word.

        4. Rampbestuur. Wanneer ‘n ramp te groot is vir ‘n federale staat om te hanteer, of wanneer dit meer as een federale staat tref, dan moet daar op ‘n georganiseerde wyse opgetree word. Besluite moet in belang van die mense geneem word en die middele moet daar wees om die besluite uit te voer. Indien bv. 2 federale state binne die republiek die ramp op hul eie stoom probeer aanpak, dan kan dit groter skade verrig as enigiets anders. Jou nasionale departement van verdediging het die toerusting om grootskaalse rampe aan te pak en sodoende lewens te red.

        Wat van die ekonomie, landbou, mynbou en minirale? Al die dinge het ‘n impak op nasionale vlak en moet as sodanig bestuur word anders sit mens met chaos en die moontlikheid van uiters oneweredige verspreiding van welvaart.

        Ek dink ook oom Ben is reg. Die tyd sal ons leer en ons hoef nie nou ons koppie hieroor te breek nie, ja, maar dis wel nodig om af en toe oor die praktiese sy van vryheid te praat. Dis goed en wel ons bou ‘n volkstaat en als maar hoe dink mense moet dit funksioneer!? Almal moet ‘n inset kan lewer in hierdie verband en ons moet na mekaar luister, of ons nou saamstem of nie.

  8. Abram F Celliers

    ‘n Baie suksesvolle besigheidsman het vir my die volgende gesê toe ons politiek gepraat het:” Hulle [die regering] moet my net toelaat om besigheid te doen.”

    Die regering, in my oogpunt, moet slegs ‘n ruimte skep waarbinne sy inwoners vanself kan ontwikkel. Soos ‘n pa wat vir sy seun die geleentheid gee om te gaan studeer. Die ouer gee nie die graad nie, maar net die geleentheid om ‘n graad te kan verwerf.

    Die huidige SA regering deel “grade” uit, in die vorms van toelaes, SEB en RA, terwyl hulle werk eintlik net is om die geleenthede daar te skep. Wynand se onderwys voorbeeld is ‘n geleentheid wat geskep was.

    Hierdie “geleenthede” wat ‘n regering kan skep, sluit die volgende in;
    1 – Gunstige belasting wetgewing
    2 – Instandhouding van infrastruktuur
    3 – ‘n Regstelsel wat regverdig is en werk
    4 – Wet en orde handhaaf
    5 – ‘n Buitelandse beleid wat dit gunstig maak vir buitelanders om te belê, en vir inwoners om uit te voer.

    ‘n Mens kan SA en Afrika se mislukkings as voorbeelde gebruik van waar regering inmenging net nie werk nie. Maar ‘n baie goeie voorbeeld tans is Europa. Brussels probeer baie hard om politieke en ekonomiese eenheid te handhaaf in ‘n “Eerste wêreld kontinent”. Hulle kan hoeveel Nobel pryse kry, dit gaan nie werk nie. Want, en die antwoord is eenvoudig. Dit is onnatuurlik.

  9. wynand

    Quintin het geoordeel dat ek op party van die inskrywings behoort te reageer. Ek vind dit nie die moeite werd nie. Die kommentaar is gegrond op ‘n onvermoë om genuanseerd te lees of reageer. In die konkrete wêreld is die keuse is nie tussen ‘n absoluut vrye mark of absoluut sosialistiese stelsel nie. Ek het ook nie sosialisme bepleit nie. In Skandinawiese lande speel die staat ‘n sterk ekonomiese rol en hulle is besonder welvarend. Die steunpunt van my redenasie is dat dit afhang of ‘n burgery die kanse wat deur welke ekonomiese stelsel ook al, aangegryp word. Ek sal in ‘n debat betrokke raak met iemand wat tekens toon dat hy kan lees en dink gelyk. Dit sluit klaarlyklik Staffieliefhebber en Kanwilsal uit.

  10. Quintin, Wanneer mense opinies het oor dit wat deur die staat beheer moet word en wat die vryemark moet hanteer kom dit meeste van die tyd (ongelukkig) neer op ‘n opinies. Hulle doen nie die moeite om te gaan kyk wat die vryemark oplossing vir enige gegewe probleem is nie en ook nie wat die werklike gevolge en aansporings is van wanneer die staat daardie rol toegegee word nie. Jy noem so baie punte en elkeen moet eintlik n afsonderlike debat wees. Ek gaan gesondheidsorg uitlaat aangesien dit reeds aangespreek is in die artikel waarvoor ek n skakel geplaas het – neem aan jy het dit nog nie gelees nie. Ek gaan net Rampbestuur hier aanvat as voorbeeld.

    4) Rampbestuur – Wat is die risiko’s? In die Karoo naby die Oranjerivier: sekerlik veldbrande, droogtes, vloede en windskade. Die eerste vryemark oplossing is om versekering hierteen uit te neem. Die koste van die versekering sal styg as dit gereeld gebeur – dan is dit dalk goedkoper om voorsorg te tref bv. windbrekers(bome) op strategiese plekke te plant, jou huis dalk op hoër grond te bou en/of op steiltes. Die punt is, die aansporing is joune omrede die koste joune is, daarom sal jy n koste/voordeel analiese doen vir elke geval en die aansporing
    is daar om innoverend met idees vorendag te kom. Wanneer die staat Rampbestuur as departement het, sit hulle met geen aansporing om innoverend met idees vorendag te kom nie, om die waarheid te së, hoe erger die rampe hoe meer kan hulle aanspraak maak op n groter hap van belastinggeld. Verder los dit my met geen aansporing om dalk ‘n ingeneur te gaan sien voor ek bou nie (om my huis dalk op ‘n steilte te bou) of om enige koste aan te gaan om dit af te wend nie – ek betaal dan reeds belasting, ek betaal nou twee keer – is die redenasie mos van die belastingbetaler. Dit skeel my ook dan min of Pieter wat wel voorsorg getref het belasting betaal vir my skade. Wanneer daar kompetiese is, is daar innoverende idees wat ook daaruit vloei. Gestel die staat beheer rampbestuur en ek en Blikskottel wil n maatskappy begin wat spoedig brande blus waar dit uitbreek, indien die brandweer ou tegnologie gebruik maar oordrewe befonds word uit belasting, kan ons maatskappy in effek nie van die grond af kom om gesonde kompetiese te skep nie as gevolg van die monopolie en die staatsbrandweer het geen aansporing om enigiets goedkoper of beter te doen nie – die geld wat hulle kry is die geld wat hulle kry ongeag koste/voordeel en vraag/aanbod.

    Liefdadigheid: gestel daar is n groot ramp wat die helfte van Blouia verwoes. Niks keer die kerke, gemeenskappe en mense om skenkings te maak en alle hulp moontlik aan te bied nie. Indien n ramp die helfte van Blouia gaan verwoes, gaan daardie ramp dit verwoes ongeag hoeveel geld jy die departement van Rampbestuur gee.

    Murray N. Rothbard se beroemde woorde haal ek altyd aan as mense so graag die staat bo die mark verkies: “It is no crime to be ignorant of economics, which is, after all, a specialized discipline and one that most people consider to be a ‘dismal science.’ But it is totally irresponsible to have a loud and vociferous opinion on economic subjects while remaining in this state of ignorance.”

    Ons sit met n massiewe staatsdiens waarvan ons graag ontslae sou wou raak, dit help nie om dom burokrate wat heeltemal anders as ek lyk te vervang met dom burokrate wat amper soos ek lyk nie. Indien Orania die afgelope 21jaar enige iets bewys het, dan is dit dat n self georganiseerde gemeenskap die vermoe het om oor hulself te regeer sonder enige staat, en dis te vroeg om die nuwe Leviátan monster te beplan nog voordat ons van die ou Leviátan monster ontslae geraak het. Tog stem ek met jou saam dat hierdie goeie teoretiese oefeninge is.

  11. Andre de Kock

    @wynand. Jammer dat ons u gepla het. Lees en dink asb namens ons vorentoe. Ons sal net lees en die dinkwerk vir u los.
    Het iemand iewers vir jou vertel jy is meer begaafd en verhewe as die spul om jou?
    FW het ook so gedink!

  12. Goed, hier is my beskeie poging om aan te sluit by kanwilsal se goeie uiteensetting van die vrye mark beginsels en tog ook “genuanseerd” te reageer op Wynand se artikel.

    Ek wil begin met die volgende paar stellings:-

    1) Die staat is nie daartoe instaat om welvaart te skep nie, maar kan dit slegs herverdeel. Die staat doen dit deur produktiwiteit te belas en hierdie belasting aan te wend tot die minder produktiewe sektore in die samelewing.

    2) Die staat kan ook nie werk skep nie. Juis omdat die staatskas uit belasting befonds word, beteken dit dat werksgeleenthede by die produktiewe sektore verlore raak. Ek sou dalk drie werknemers kon in diens neem, maar omdat ek 40% belasting moet betaal, kan ek net een bekostig. Die werksgeleentheid word gevolglik slegs van die privaat sektor na die staatsektor verskuif. Vir elke werksgeleentheid wat deur sosiale werkskepping geskep word, word meer as een uit die private sektor geïlimineer (meer as een, want die staatsamptenare betrokkke by die program moet ook nog betaal word).

    2) Belasting is opsigself oneties en immoreel. Selfs die mees filantropiese doelwit (soos om armes te help met mediese sorg) is nie genoeg om hierdie inherent immorele praktyk te regverdig nie. Niemand sal met my verskil as ek sou sê dit is immoreel om ‘n bende gewapende rowers te huur om die rykes in die dorp te beroof en so vir my werklose sieklike niggie se hospitaalkostes te betaal nie. Tog sukkel mense om dit in te sien dat dit net so oneties en immoreel is vir die armes om met hul getalle en die gebruik van opportunistiese en populistiese politici wetgewing daar te stel wat die produktiewe mense belas en met geweld dreig (tronkstraf, ens.) as hulle nie sou betaal nie om dan so die armes se mediese sorg te betaal. Die feit dat sommige produktiewes hiertoe instem, beteken ook nie nou dat dit nou reg is om hierdie maatreël teen alle produktiewes in te stel nie. Netsoos Piet Poggenpoel nie kan toestem dat my bende hom en Sannie Verwey kan beroof nie, netso kan hy ook nie toestem dat ek haar belas nie.

    3) Dit is liefdadigheid om geld uit jou eie sak te haal en dit vir die armes te gee. Om geld uit iemand anders se sak te haal en dit vir die armes te gee is diefstal,

    Ek sal dan nou graag alternatiewe interpretasie van die historiese gebeure (soos deur Wynand uitgelig) wil voorhou:-

    Eerstens voel ek dit is effe misleidend om slegs ‘n greep uit ons verlede te neem en dan dit voor te hou as bewyse vir die wenslikheid van staatsinmenging bo die vrye mark.

    a) Die arm blanke vraagstuk is basies uitsluitlik veroorsaak deur die imperialisme van die Britse staat (verskroeide aarde en deelname aan WO1). Genl Hertzog se leuse van “Suid-Afrika Eerste” was dan hoofsaaklik uit protes teen die deelname in oorloë wat Britse belange eerder as Suid-Afrikaanse belange dien en dan ook deur SA belastingbetalers help finansier is.

    b) Die 1922 mynopstande was deels agv die “gold premium” (‘n subsidie van die staat) wat voortaan nie meer aan die goudmyne betaal sou word nie en sou beteken dat salarisse verlaag. Dit is daarom deels agv die onekonomiese en onvolhoubare salarisse wat myne (danksy ‘n staatsubsidie) betaal het, dat die mynopstande in die eerste plek plaasgevind het. Ons moet dan ook onthou dat die betaal van hierdie mynsubsidies voorheen deur ander sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie gefinansier is.

    c) Sou daar geen “mark” vir Afrikaans teen 1948 betsaan het nie, was dit beslis nie agv die mark self nie, maar weens staatsinmenging. Daar waar Afrikaans aktiewelik op elke gebied deur die Smutsregering ondergrawe is.

    d) DIe voorkeurposisie wat aan blankes in die myne en ander gebiede verleen is, was onvolhoubaar. Enige staatspogings om instromingsbeheer toe te pas het heeltemal misluk. DIe staatsoplossings was dus slegs tydelik van aard. Vandag is dit weereens die staat wat sy mag gebruik om Afrikaners uit hierdie posisies te hou.

    e) As die vrye mark strykdeur toegepas is, sou die sentrale staat baie kleiner gewees het (Suid-Afrika sou heel moontlik nie eers bestaan het nie), met gedesentraliseerde of lokale besluitneming. Staatsmeganismes sou nie gebruik word om sekere sektore van die ekonomie en samelewing ten koste van ander te bevoordeel nie. Die mees produktiewe sektore van die samelewing en ekonomie sou floreer het en goedhartiges onder hulle sou hul vrywilliger liefdadigheidsorganisasies (kerke ens) gebruik het om te help waar hulle kan.

    Die burgery sou baie meer selfstandig gewees het en sou baie meer selfversorgend gewees het omdat daar nie soveel “handouts” (wat van die produktiewe sektor geplunder is) van die staat beskikbaar sou wees nie.

    Ongesubsideerde boerdery sou beteken het dat die room van die kommersiële boere meer grond van bankrot boere kon opkoop om so hierdie landbougrond meer produktief te benut. Subsidies het slegs swakker en onproduktiewe boere op hul plase gehou. Die minder belasting (agv die illiminasie van subsidies) op produktiewe sektore sou beteken dat meer investering in hierdie sektore sou kon plaasvind.

    Om af te sluit.

    Die staat het onder Afrikanerbeheer gefloreer en is deur ons uitgebou tot die draak wat dit vandag is. Meeste van die meganismes wat vandag gebruik word om ons mense te onderdruk is deur ons geliewe NP regering daargestel.

    Terwyl politici graag meeding en sê, kry my net in die wetgewer (wat maak en breek soos hy wil) en ek sal die staatsmeganismes gebruik om dinge vir jou beter te maak en nie slegter nie, is my antwoord – kry die staat net uit my lewe en uit my bankrekening uit en ek maak dinge vir myself beter.

    Ek sal dan ook oorgenoeg hê om my Christelike plig teenoor die armes en my naaste na te kom.

  13. Willie

    Soos wat vermoë toegeneem het, is die vlak van bemagtiging verhoog. Gesondheid en onderwys was nie inkomstebronne nie, maar beleggings in die welsyn en toekoms van die staat.
    Met dit stem ek volkome saam en dit is wat ek sê ,ons eie mense het ons uit gebuit deur gesondheid te gebruik om geld te maak, Dokters en Hospitale was ‘n welsynsdiens

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s