Afrikaners sak soos perdebye toe op ANC-regime

Minderhede wat nie deel van ‘n  spesifieke bestel of nasie wil wees nie omrede die meerderheid hul regte, taal en kultuur vertrap het ‘n eenvoudige keuse: lê  en wees onderhorig of staan op en veg terug.

Afrikaners se apatiese houding jeens hul omstandighede is besig om soos mis voor die  son te verdwyn. Gesprekke om braaivleisvure handel nie meer net oor die probleme nie. Afrikaner organisasies se opstandigheid bied nuwe stof tot nadenke en vars aanknopingspunte vir gesprek.

Kom ons kyk na ‘n paar onlangse gevalle waar Afrikaners die ANC-regime se snorhare een vir een uitpluk.

Die Vryheidsfront Plus het sy internasionale veldtog ter bewusmaking van die Afrikaner se omstandighede versnel deur ’n mosie by die Unrepresented Nations and Peoples Organization (UNPO) se kongres in Genève in te dien.

Die mosie waarin UNPO sy besorgdheid oor diskriminasie in Suid-Afrika teen minderheidsgroepe uitspreek, is eenparig aanvaar. Die mosie is voorgestel en gemotiveer deur dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier.

Die mosie het ook aanbeveel dat ’n versoek aan die VN se sekretaris-generaal gerig word om ’n feite-sending na Suid-Afrika te stuur ten einde die organisasie eerstehands te vergewis van omstandighede soos onder andere plaasmoorde in Suid-Afrika.

In die UNPO-mosie is onder andere verwys na sg. “regstellende” aksie wat gebruik word om op rasse gronde teen wit, bruin en Indiër individue te diskrimineer by die werksplek, toelatingsvereistes by universiteite, toekenning van tenders en diskriminasie selfs op welsynsterrein.

Dr. Mulder is tydens die kongres verkies tot lid van die Uitvoerende Komitee van UNPO. Die Uitvoerende Komitee bestaan uit nege lede. As president van UNPO is mnr. Ngawang Choephel van Tibet verkies.

Hierdie aangeleenthede is ook tydens ’n ontmoeting deur dr. Mulder met mnr. Antti Korkeakivi, hoof van die VN se kantoor vir Inheemse en Minderheidsgroepe bespreek.

“Die Vryheidsfront Plus glo dat alle geleenthede om die posisie van minderhede in Suid Afrika internasionaal te bespreek, benut moet word,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier gesê.

Dr. Mulder is na Genève vergesel deur mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid in Kaapstad en voorsitter van die party se Buitelandse Verhoudinge en Internasionaliseringskomitee. Mnr. Fourie het die VN Menseregte Kommissie se Forum oor Minderheids-aangeleenthede bygewoon en die aanwesiges daar oor Suid-Afrika toegespreek.

“Dit was uiters bemoedigend om saam met ander groepe van oor die hele wêreld deel te kon wees van ‘n passievolle gespreksforum waar begrippe soos selfbeskikking, diversiteit, identiteit, etnisiteit, groeps-, gemeenskaps- en minderheidsregte in diepte bespreek word en nie as polities nie-korrek afgemaak word soos in Suid-Afrika deur beide die regerende ANC en die DA gedoen word nie,” was mnr. André Fourie se opsomming van die vergaderings.

Intussen het die ANC-regime op 29 November 2012 sy nuwe voorgestelde Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging-kodes (BSEB-kodes) vir maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsbydraes teruggetrek nadat die Solidariteit-Beweging se StopRob-veldtog meer as 11 000 protesboodskappe teen dié kodes binne 11 dae ingesamel het.

Solidariteit het intussen ook reeds ‘n senior regsopinie ingewin wat aantoon dat die voorgestelde kodes ongrondwetlik is.

“Ons sou beslis regstappe geneem het indien die departement van handel en nywerheid nie die relevante dele van die kodes teruggetrek het nie,” aldus dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.

Indien die omstrede nuwe bemagtigingskodes vir maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsbydraes ingestel sou word, sou maatskappye se ontwikkelingsbydraes net erken kon word indien 100% van die bevoordeeldes swart was. Nierassige welsynsorganisasies sou dus wesenlik benadeel word. Die terugtrekking van die kodes beteken dat die maatskaplik-ekonomiese afdeling van die kodes vir eers onveranderd sal bly.

Internasionalisering veldtogte wat deur ander buite parlementêre organisasies geloods word, sluit onder meer die VVK bemiddelde Boere-Afrikaner Volksraad se poging in. Op 30 November het dié groep hul eis om selfbeskikking, wat vroeër by die ANC-regime ingedien was, aan die ambassades van Duitsland, Nederland en Frankryk oorhandig. Die eis om selfbeskikking is ook by die plaaslike VN-kantoor in Pretoria ingedien.

Die VVK bemiddelde volksraad het ook op 3 Desember ’n klagte teen die regering van Suid-Afrika by die SA Menseregtekommissie ingedien. Die klagte is aanhangig gemaak weens die ANC-regime versuim om bepalings van bindende internasionale verdrae wat verband hou met volke se reg op selfbeskikking na te kom.

Die Internasionale Konvensie oor Burgerlike en Politieke regte bepaal onder meer dat alle volke die reg het op selfbeskikking en dat partye tot die verdrag stappe moet neem om uitvoering te gee aan die regte wat in die Konvensie erken word. Die Suid-Afrikaanse regering het hierdie konvensie op 1 Desember 1998 onderteken.

Die klag volg nadat die ANC-regime herhaaldelik versuim het om op die VVK bemiddelde volksraad se skrywes en eis om selfbeskikking te reageer.

Die tyd sal leer of Afrikaners in ‘n gemeenskaplike rigting gaan saamtrek om ons vryheid in ‘n eie Republiek te herstel. Tans voer ons die stryd soos ‘n nes perdebye wat die ANC-regime van alle windrigtings af teister. Duidelik lewer hierdie spontane benadering resultate op.

Die tyd is dalk nog nie ryp vir saamstaan nie, maar dis onbetwisbaar dat Afrikaners nog vuur in hulle het en nie verder gaan lê net om deur die regime in die gesig geskop te word nie.

In die woorde van mnr. Jaco Mulder, VF Plus Gauteng-leier: “Moet ons nie tel nie, weeg ons!”

13 thoughts on “Afrikaners sak soos perdebye toe op ANC-regime

  1. Andre de Kock

    Bye wat pla word verwilder met Doom. Dis eers as ‘n swerm jou pak dat jy besef hier is ‘n nes naby. Dis ‘n goeie begin-en beter as niks. Jammer die meerderheid Afrikaners het uitgebasterde DA vliegies geword wat al om die Nuwe Suid Afrika drol dwarrel.

    1. Waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie. Andre, jy is een van honderde duisende Afrikaners wat deel is van ons volk se terugveg veldtog. Jy aanvaar nie ons huidige omstandighede nie en wil sien dat ons en die nageslag vreedsaam en voorspoedig in ons eie soewerein onafhanklike Afrikaner Republiek woon. Jy is nie alleen nie. Daar is baie van ons wat net so voel. Hierdie voldtogte deur die VF Plus, Solidariteit en die VVK dui op net een ding: ons is nie onderhorig nie! Dis moeilik om so ‘n groep te regeer… die ANC-regime is nou besig om stap vir stap ‘n les te leer. Dink aan Moses-hulle en die Farao – die Israeliete was stap vir stap bevry van Egipte, nie oornag nie.

  2. Werner

    Dis pragtig van almal. Ek reken wanneer die eerste groot deurbraak gemaak word, maak nie saak deur wie nie, sal ‘n groot groep Afrikaners inval by hulle!

  3. Anna Theron

    Dankie vir elkeen wat praat en skryf en sing en teken oor ‘n bedeling waar ons weer waardige burgers van ons eie stukkie aarde sal kan wees. Ons kan nie wag dat dit moet waar word nie, vir ons kinders en kindskinders se onthalwe, want Suid Afrika word nie ‘n beter plek om te bly nie, teen ‘n ongelooflike spoed versleg en verswak sisteme rondom ons. Die verkeerde is ‘n gegewe, en ons moet veg (meestal in howe) vir elke morele beginsel in die boek wat ons voorstaan. Dankie vir die moed wat die VF+, Solidariteit en elke individu aan die dag lê om vir ons ‘n beter lewe te skep. Ons kon, en ons sal weer opstaan! Bakkie.

    1. En die voordeel van al die organisasies wat daagliks hard werk om ons vryheid te herstel is dat dit aan ons die geleentheid bied om betrokke te raak op verskeie fronte asook dat ons al meer gemene delers het wat ons stelselmatig saamvoeg.

  4. Lid van die Volksraad Verkiesings Kommissie is die leier van die pedophile Kommandokorps Franz Jooste. Jooste het in Februarie 2012 op die Nederlands Christelike televisie vir 213.000 kykers sy pro nazi en pro Adolf Hitler simpatie verklaar en die Holocaust ontken.

    1. “Pedophile”? Ek het ook die Nederlandse TV dokumenter gesien en stem saam dat Franz Jooste die dam heeltemal onder die eende uitgeruk het, maar sover my kennis strek is die Kommandokorps beslis nie pedofiele nie. Sulke uitsprake is net so onnodig soos die van Franz Jooste.

  5. Willie Cloete

    Die Federale Vryheidsparty steun enige poging om die posisie van die Afrikaner te verbeter.Daarom het ons ook ‘n persverklaring te ondersteuning van die VVK poging uitgereik.

    Die VF + wil ek ook bedank vir hulle bydrae by Unpo en ook Solidariteit vir hulle bydrae om die BSEB kodes te stop.

    Ek glo ons sal so oorwin as almal saam begin trek.

    Willie Cloete
    Kanselier
    Federale Vryheidsparty

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s