Palestina deur VN erken as waarnemende staat

Reaksie van die Palestynse afvaardiging nadat die VN vir Palestina as ‘n waarnemende staat aanvaar het.

Die algemene vergadering van die Verenigde Nasies (VN) het op 29 November 2012 met ‘n groot meerderheid waarnemerstatus aan die Palestynse gebiede toegeken. Die besluit beteken dat Palestina wel nog nie ‘n volwaardige staat is nie, maar deur die VN as ‘n staat in wording beskou word en volle staatskap net ‘n kwessie van tyd is.

Die aansoek vir volle lidmaatskap is verlede jaar afgewys en hierdie is ‘n soort tweede prys. Die erkenning tot ‘n volwaardige staat geskied stapsgewys. Die Palestynse organisasie PLO (Palestinian Liberation Organization) het in 1974 net eenvoudige waarnemerstatus as organisasie gekry, soos ander internasionale organisasies ook het. Die regte is in 1998 opgegradeer en het spreekbeurte en medewerking aan resolusies ingesluit.

Met die onlangse opgradering kan die Palestynse outonomie-regering nou ook lid word van sekere onder-organisasies en verdrae van die VN, soos die Internasionale Geregshof.

Die Palestyne is egter nog nie ‘n volle lid nie, het geen stemreg in die gesamentlike vergadering nie en mag geen resolusies voorstel nie.

138 van die 193 lidlande het ten gunste van die resolusie wat Palestina se status verhoog, gestem. Dit was alle Arabiese lande, meeste Afrika-lande en meeste lande van Asië en Suid-Amerika.

Net 9 lande het daarteen gestem, o.a. VSA, Israel, Tsjeggië, Kanada en enkele klein Suidsee-eilandstate. Die 41 lande wat buite stemming gebly het sluit o.a. Duitsland, Groot-Brittanje, talle ander Europese lande en enkele meer gematigde state in Suid-Amerika, Asië en Afrika in.

Die argument vir die teenstemme was dat die Palestyne Israel nie as staat erken nie en dat spesifiek die Gaza-strook in oorlog met Israel gewikkel is. Die Palestyne vuur gedurig vuurpyle op Israel vanuit hierdie gebied.

Ander lande wat waarnemerstatus by die VN gehad het was byvoorbeeld Switserland, wat weens sy neutraliteit nie VN-lid wou word nie en van 1948 tot 2002 waarnemerstatus gehad het en sedertdien ‘n volle lid geword het. Wes-Duitsland was van 1952 tot 1973 slegs ‘n waarnemende lid, omdat dit nog onder die wolk van die Tweede Wêreldoorlog gestaan het. Met die vredesverdrae met Pole het Wes-Duitsland volle status gekry. Die enigste ander staat met waarnemerstatus is die Vatikaan.

Palestina se staatskap word bemoeilik deur die feit dat dit in twee geografiese entiteite gedeel is, nl. die Wesoewer en die Gaza-strook. Die twee dele het ook verskillende regerings en funksioneer in praktyk soos twee afsonderlike state.

In die Wesoewer, met die hoofstad Ramalah, regeer die Fatah Party met die leier Mahmud Abbas, wat die grootste deel van die PLO uitmaak en in die konteks van die Palestyne meer gematig is.

In die Gaza-strook heers die radikaal-Islamitiese Hamas, wat in 2008 deur ‘n militêre opstand aan bewind gekom het en sedertdien in ‘n terrorisme-oorlog teen Israel gewikkel is, terwyl Fatah en Israel op ‘n manier ‘n verstandhouding het.

Die Palestyne is ook nie tevrede met die huidige grens van die outonome gebied nie, maar eis ‘n Palestynse staat binne die 1948-grens. Dit beteken dat die Palestyne aanspraak maak op gebiede wat voor die oorloë met Israel onder hul beheer was. Dit sluit Oos-Jerusalem as hoofstad in. Israel het al herhaaldelik bevestig dat hulle dit nie sal toelaat nie.

‘n Verdere insiggewende verwikkeling is dat Suid-Afrika een van die 138 lidlande is wat sy stem uitgebring het ten gunste van Palestina se onafhanklikheid. Dit is interessant dat die ANC-regime die Palestyne se onafhanklikheid steun, maar nog geen stappe geneem het om hul verpligtinge m.b.t. die CODESA onderhandelings na te kom nie.

Geen bevinding van die Volkstaatraad is al verder ondersoek nie en daar is nog geen amptelike samesprekings gevoer met toonaangewende Afrikaner vryheidsgesinde organisasies m.b.t. die ontwikkeling en ontstaan van die toekomstige Afrikaner-staat nie.

6 thoughts on “Palestina deur VN erken as waarnemende staat

  1. Andre de Kock

    Suid-Afrika bepleit ook sanksies teen Israel en boikot goedere wat in die “besette gebiede” geproduseer word. Afrikaanse skole het destyds honderde bome geskenk wat in Israel geplant is. Desondanks het Israel saam met die wereld SA veroordeel vir Apartheid. Nou sien hulle self hoe jou ideologie verdraai kan word. Die hele wereld kyk na die Palestyne wat deur Israel gebombardeer word (en vergeet dat hulle vuurpyle teen Israel loods vanuit skole en hospitale) en veroordeel Israel omdat daar min mense sterf-maar Israel het Iron Dome ontwikkel-wat 90% van die vuurpyle afskiet voor hulle tref. As al daai vuurpyle moes val sou die simpatie seker by Israel gewees het. Die kruks van die saak bly die feit dat die Palestyne nie Israel erken nie-hoe onderhandel jy met iemand wat nie jou bestaan as ‘n volk erken nie? en hierin le die kruks van die Afrikaner se onderhandelinge met die regering-maar by ons is dit baie erger. – Die Afrikaners stem nie eers met mekaar saam nie-hoe wil jy met hulle onderhandel?

  2. Die dag wanneer die Palestyne Israel as staat erken is die dag wat hulle gereed is om te begin onderhandel. Dan kan mens hulle ernstig opneem. Wat is die punt om ‘n Palestynse staat te skep as hy nie eens bereid is om ‘n buurstaat se soewereiniteit te erken nie? Hulle moet bereid wees om aan ander te gee wat hulle vir hulself opeis. Intussen het ek geen probleem dat elke lafhartige aanval wat op Israel geloods word deur die sterkte moontlike militere optrede beantwoord word nie.

    Wat die ANC-regime aanbetref, natuurlik sal hulle elke moontlike geleentheid benut om Israel in te doen omdat Israel eens op ‘n tyd ‘n vriend van hul vyand was. Dit maak nie saak dat Israel later apartheid veroordeel het nie. Israel se oorwegend blank(erige) bevolking is reeds genoeg rede vir die ANC-regime om die kant van die nie-blanke Palestyne te kies.

    Dis goed dat ons herinner word aan die CODESA onderhandelings en die daaropvolgende Volkstaatraad. Moenie vergeet dat die ANC in 1993 ‘n akkoord m.b.t. die volkstaat onderteken het nie en dat ons hulle daarby moet hou nie. Die feit dat hulle vir Palestynse onafhanklikheid gestem het sal teen hulle gebruik word as hulle in die toekoms nie tevinde gaan wees vir ‘n Afrikaner-staat nie.

  3. Gemsbok

    Die regering kan nie met Afrikaners onderhandel oor selfbekikking nie, want Afrikaners is nue op soek na selfbeskikking nie.

    Afrikaners is eerder op soek na rykdom en gemak. Ironies genoeg is rykdom en gemak nie vir hulle op ‘n volhoubare wyse bestem nie, want hulle geniet dit slegs vir solank die gasvryheid van die ANC hou.

  4. Jaco

    Partykeer is ‘n toebek ‘n heelbek.

    Die pro-palestynse posisie van die ANC het niks te doen met die vriend van die vyand nie.

    Ondersoek die ANC se herkoms eerder meer deeglik. Daar is baie joodse invloed. Dieselfde joodse invloed is dan ook kommunisties. Se^ dit al iets?

    Gaan dan verder en beskou die direkte omgewing van enige van die ANC presidente, Mandela, Mbeki en Zuma, en verneem watter raadgewers sit in die presidensie. Onlangs het Zuma ‘n bietjie meer van die Sothos in die presidensie geplaas wat die verhouding van pro-palistynse raadgewers verminder.

    Dit ooglopende is nie altyd die antwoord nie. Dit is belangrik om te besef dat die poppemeester nie soos die poppe dans nie. Die ANC se hanteerders is baie meer gesofistikeerd.

    1. Gemsbok

      Ek moet sê, die wêreld sou baie minder interessant gewees het sonder al die samesweringsteorieë.

      Die ander voordeel wat hulle bied, is dat hulle ons met nog ‘n verskoning laat wat ons kan gebruik om ons gebrek aan aksie en meelewing mee te regverdig, juis omdat hulle ‘n gevoel van wanhoop kweek.

      Dikwels het die samesweringsteorieë, soos bygelowe, ‘n baie groter impak op mense as die wat die omvang van die werklike invloed van die samesweerders (of bose magte) sou regverdig.

      Ironies dus, dat die verspreider van hierdie teorieë die belangrikste wapen in die arsenaal van die samesweerders is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s