Opsomming van internasionale nuus hoogtepunte 2012

Die Mayas en almal wat hulle geglo het was verkeerd: die wêreld het toe nie op 21 Desember 2012 tot ’n einde gekom nie!

In Europa, spesifiek die Euro-sone, was die voortslepende skuld- en Eurokrisis die hoofonderwerp van 2012, en sal dit waarskynlik in 2013 ook nog wees, aangesien slegs korttermyn-vertragings pleks van ingrypende hervormings ingestel is.

Griekeland is simptomaties vir die probleme van die EU en die Euro-sone, waar ‘n kwasi-Derdewêreldland ‘n Eerstewêreld-geldeenheid het om politieke redes, wat die ekonomiese vernuf buite rekening laat. Die Griekse regering het tot ‘n val gekom en die partye wat die EU-hulppakket steun, het geweldig steun verloor, maar kon nog steeds saam ‘n regering vorm en voortgaan met die konsolidasie pogings wat veral deur die betaalmeester van die EU, Duitsland, geëis word.

Of die sterk Duitse ekonomie die hele Euro-sone kan genees is te betwyfel. In Frankryk het die konserwatiewe regering van mnr Nicholas Sarkozy tot ‘n val gekom en hy is afgelos deur die sosialis Francois Hollande, wat ‘n ander ekonomiese beleid as Duitsland volg en wat Frankryk waarskynlik van een van die sterk lande wat die leiding neem na een wat self hulp nodig het, sal verander. Die tekens is reeds daar.

Spanje was die ander land wat baie in die nuus was weens ‘n bankrotskap van sy banke, wat deur die EU-hulpfonds kunsmatig lewendig gehou word sonder dat die ekonomie wesenlik verander. Die ekonomiese krisis van Spanje het Katalaanse nasionalisme ‘n hupstoot gegee en die deelstaat poog om af te skei.

Skotse onafhanklikheid in 2014 is ‘n besliste moontlikheid nadat eerste minster van Groot-Brittanje, David Cameron, en die leier van Skotland, Alex Salmond, ‘n ooreenkoms oor ‘n referendum oor onafhanklikheid bereik het. Groot-Brittanje het in hierdie jaar suksesvol die Olimpiese Spele aangebied en self besonder goed gedoen.

Midde-Ooste

Die konflik in Sirië tussen president Assad en die gesamentlike opposisie verander in ‘n lang uitgerekte burgeroorlog met geen einde in sig nie.

Egipte hou sy eerste demokratiese verkiesing na die dekadelange Mubarak-diktatorskap en kry ‘n oorheersend Islamitiese parlement en ‘n president uit die geledere van die Moslem-broederskap. Die land kom nie tot rus nie en liberale en behoudende kragte is in ‘n voortdurende konflik met mekaar oor die mag.

Israel tree op teen voortdurende vuurpylaanvalle van Hamas-terroriste vanuit die Gaza-strook en maak die militêre hoof van Hamas dood. Verder voer Israel ook ‘n strafekspedisie in Gaza uit om terroriste-stellings te vernietig.

Na die burgeroorlog teen diktator Gaddafi verkies Libië ‘n oorgangsraad en bereik ‘n mate van stabiliteit. Sommige faksies is nog steeds in opstand teen die regering en terroriste aanslae kom nog voor, o.a. die opspraakwekkende dodelike aanslag op die Amerikaanse ambassadeur en lede van sy personeelkorps.

Afrika

In Kongo (DRC) is daar weer ‘n rebellebeweging besig om veld te wen in die ooste van die land en het sonder veel weerstand die groot stad Goma beset.

In Somalië begin dinge effens verbeter, met die terugdryf van die Islamitiese rebelle en die geleidelike konsolidasie van die regering, wat egter slegs beheer oor dele van die land het. Die veelbesproke seerowery is blykbaar ook besig om af te neem.

Dinge het egter dramaties versleg in Mali en die hele Sahel-streek, met ‘n Tuareg- en Islamitiese koalisie-rebellemag, wat die hele noordelike helfte van die land verower het en ‘n Islamitiese staat uitgeroep het. Die koalisie het intussen uitmekaargebreek en die Islamiete het die Tuareg-nasionaliste wat vir hulle eie staat veg, verdryf. Die Wes-Afrika Gemeenskap (ECOWAS) beplan met behulp van die VN en EU ‘n Afrika-aanvalsmag om die noorde van die land te herower.

Sudan en Suid-Sudan is een jaar na Suid-Sudan se onafhanklikheid steeds in ‘n sporadiese oorlog gewikkel oor sommige olie-ryke grensdistrikte.

Asië

Myanmar sit sy ekonomiese en politieke hervormings voort en in ‘n tussenverkiesing wat vry en regverdig was, word die demokrasie-ikoon Suu Kyi tot die parlement verkies. Die land word as die jaar se suksesverhaal geprys. Etniese geweld en onderdrukking van etniese minderhede duur egter voort.

Noord-Korea se diktator Kim Jong-il sterf en word deur sy vooraf uitgesoekte seun Kim Jong-un opgevolg. Jong-un is baie jonk en maak kortstondige verwagtings van hervormings wakker. Alhoewel daar slegs enkele veranderings in styl en optrede tussen hom en sy pa is, is daar geen beleidsveranderings te verwagte in hierdie harde kommunistiese land nie.

Japan kry ‘n nuwe regering met Shinzo Abe van die LDP en vrese bestaan dat die konflik met Sjina oor die Senkaku-eilande kan vererger.

Ook Sjina het ‘n verandering van die leierskorps gehad, maar wel binne die kommunistiese party en sonder dat wesenlike beleidsveranderings verwag word. Die nuwe sterk man is Li Xinping. Die groot vraag is of Sjina se merkwaardige ekonomiese groei voortduur en in watter mate ekonomiese modernisasie ook politieke verandering sal meebring.

Amerika

VSA: Vir die hele jaar was die Amerikaanse presidentsverkiesing seker die onderwerp wat wêreldwyd die meeste nuusdekking gekry het.

Eers was dit die uitgerekte voorverkiesings vir die Republikeinse kandidaat, wat toe uiteindelik deur Mitt Romney gewen is, en toe die verkiesingsveldtogte van Republikeine en Demokrate self, met debatte en al, die duurste een nog.

In November was die presidents-kongres- en goewerneursverkiesing en die status quo is bevestig: Barak Obama bly president, alhoewel met ‘n verlaagde steunvlak, die Republikeine behou die beheer oor die Huis van Verteenwoordigers en die Demokrate oor die Senaat. Die hoë skuldvlak van die VSA en die lustelose ekonomie sal onder die Obama-bewind voortduur of selfs vererger.

Mexiko het ‘n nuwe regering gekry onder Enrique Pena Nieto. Die voortslepende dwelmverwante bendegeweld is tans die hoofprobleem in die land.

In Venezuela het die outoritêre sosialistiese president Hugo Chavez weer die presidentsverkiesing gewen en sal die land verder lei op die pad na sosialisme, alhoewel sy kanker bevalling hom waarskynlik sal stuit voor hy sy planne kan voltooi.

3 thoughts on “Opsomming van internasionale nuus hoogtepunte 2012

  1. Baie dankie Sebastiaan! Hierdie artikels van jou hou ons mooi op hoogte van internasioanale sake.

    Ek hoop Skotland kry die knoop deurgehaak sover dit hul onafhanklikheid aangaan. Israel se hardnekkige verdediging van hul vryheid is ook prysenswaardig. Afrika se probleme sal slegs opgelos word sodra groepsgebaseerde onafhanklikheid regoor die kontinent bewerkstellig kan word en daardeur die Europese koloniale grense van die tafel af gevee word.

    Gepraat van Europa, ek sien donker dae wat voorle vir hulle. Duitsland wou 60 jaar terug Europa met fors oorneem, maar lyk my hy het dit heelwat makliker reggekry met die euro. Griekeland, Spanje, Portugal ens. ens. se dae in die EEG is getel en daarmee hopelik die einde van die liberale multikulturele Euro-superstaat-droom.

    1. “Afrika se probleme sal slegs opgelos word sodra groepsgebaseerde onafhanklikheid regoor die kontinent bewerkstellig kan word en daardeur die Europese koloniale grense van die tafel af gevee word.”

      ‘n Waarder stelling kon jy nie maak nie, maar gaan die Chinese iets daaraan doen? Ek twyfel. Dat hulle Afrika aan’t oorneem is raak by die dag duideliker. Die harwar wat deur daardie gense veroorsaak word mag hulle agenda dalk net te goed pas.

  2. Anthony Schlemmer

    Dankie Sebastiaan ! Goeie manier om die nuwe jaar af te skop. Kyk eers ‘n bietjie terug. Ek vertrou dit gaan vanjaar ‘n groot jaar wees vir die Oranje gebied!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s