Ope brief aan Koos Kombuis

Beste Koos

Laas toe ek jou in lewende lywe gesien het, het jy saam met my en ’n pêl ’n bottel Tas agter die verhoog by Boors Borman se watergat gedrink.

Ek kan glad nie onthou waaroor ons alles gesels het nie en dit maak ook nie saak nie. Die grootste eer vir enige lat in matriek daai tyd was om vir sy maters te vertel dat hy ’n bottel Tas met Koos gedeel het. Nou ja, dis al amper dertien jaar later en dit sal steeds ’n groot eer wees om weer saam met jou ’n bottel rood leeg te drink.

Baie water het sedertdien in die see geloop. Ek hoor gister oor die radio dat Juanita du Plessis se nuwe album binne 40 mikrosekondes of iets platinum getref het. Daar is al een en ’n half Afrikaanse musiekkanale op televisie, teaters loop oor wanneer iets in Afrikaans op die planke verskyn, fliekgangers kan omtrent nie bybly met al die nuwe Afrikaanse rolprente nie, in elke streek waar Afrikaners in groot getalle voorkom is daar ’n kunstefees en selfs die Springbokspan roep nog hul lynstaan-kodes in Afrikaans. Onder omstandighede is dit darem nog lekker om ’n Afrikaner te wees.

Ek onthou nog toe ek destyds op my fiets al die pad na Hatfield se musiekwinkel toe moes ry om Elke Boemelaar se Droom te koop omdat dit een van die min musiekwinkels in Pretoria was wat ’n redelike verskeidenheid Afrikaanse musiek aangehou het. My vriende het my aanvanklik gespot omdat ek na die musiek van ’n ou genaamd “Koos” luister. Nirvana, Offspring ens. was toe in. Jy was nie, want jy het Afrikaans gesing.

Nie lank daarna nie kon elke jong Afrikaner wat sy sout werd is die lirieke van al jou liedjies verbatim aanhaal. Selfs ouers het gelag vir sommige van jou liedjies en ten spyte van ’n paar vloekwoorde en kras opmerkings weet ek van niemand wat hul kinders belet het om na jou musiek te luister nie aangesien dit kuns is en klaar. ‘n Ou wat Lisa se Klavier kan skryf mag maar af en toe vloek en skel as dit hom betaam. Ons het selfs van jou gedigte en kortverhale op skool begin leer en moeite gedoen om dit te verstaan sodat ons goeie punte vir Afrikaans kon kry. Van Wyk Louw sou trots gewees het.

As daar iemand is wie honderdduisende Afrikaners se harte vir musiek in hul moedertaal oopgemaak het, dan is dit jy. Steve moet seker ook sy pond vleis kry, maar vir die jeug was jy die kruitvat en jou kitaar die vonk. Gevolglik is die Afrikaanse musiekbedryf vandag groot genoeg om enigiets van Bobbie se spieëltjie tot Fokkofpolisiekar se brandstigting neigings t.o.v. Suid-Afrika te akkommodeer.

Wanneer mens aandagtig na al jou musiek luister dan kom mens tot die besef dat jy as kunstenaar heelwat ontwikkel het oor die jare. Wat jou onderskei van meeste Afrikaanse musikante is dat jy nie ’n leek sonder ’n politieke bewussyn is nie. Jy stel jou saak, ongeag op wie se tone jy trap.

Eers het jy opgestaan teen die dogmatiese en ingeperkte lewensbeskouing van die vorige huigelaars-regering. Jy was reg – die Broeders het ons toe in elk geval vir die wolwe gevoer en sommer vir hulself Griekse minnaresse, seiljagte  en oorsese eiendomme bekom. Daarna het die kleurvolle reënboogdroom sterk na vore begin tree in jou musiek vanweë die hoop en optimisme wat aanvanklik met die Nuwe Suid-Afrika gepaard gegaan het.

In 2008 het jy behoorlik swaarde gekruis met Deon Opperman oor ’n ietwat sensitiewe saak. Ek het jou ope brief aan hom gelees nadat ek en my familie sy musiekblyspel gaan kyk het. Ek het Ons vir Jou geheel en al anders interpreteer as jy. Ja, ek is seker hulle het baie geld gemaak in die proses – so ook is ek seker dat jy al baie geld gemaak het in jou loopbaan. Dit pla my nie as kunstenaars geld maak nie, solank hulle ook net daarin slaag om vir die gehoor waarde vir geld te gee.

Opperman en kie se musiekblyspel het my en heelwat ander Afrikaners trots gemaak op wie ons is en ons herinner aan die opofferings wat ons voorvaders gemaak  het vir die voortbestaan van ons volk. Dis deel van ons kultuur en skep ’n identiteit wat ons onderskei van ander volke. Ander volke het weer hul eie stories en heldedom wat hulle van ons onderskei. Na die vertoning van Ons vir Jou het ek op geen punt ’n behoefte gehad om na die naaste roer te gryp en oorlog te verklaar om ons vryheid te herwin nie.

Ek sê juis “ons” want ek verwys na ’n groep mense waarvan ek, jy, Opperman en selfs Nataniël deel is. Ons tradisies en geskiedenis is nie noodwendig alle Suid-Afrikaanse mense se tradisies en geskiedenis nie. So min soos jy met Dingane kan identifiseer, so min identifiseer Zuma met Andries Pretorius.

Gepraat van Andries Pretorius – bo en behalwe sy rol by Bloedrivier, het jy geweet dat hy destyds instrumenteel was tot die totstandkoming van ’n nuwe land vir ons volk? Die hoofstad van daardie volksrepubliek is juis na hom vernoem. Daai mense het kreatief en progressief te werke gegaan om hul vryheid te herstel na jare se onderdrukking van hul taal, ondermyning van hul kultuur, konfiskering van hul eiendom en moord op hul geliefdes deur die ou sondebok en sy trawante in die Kolonie.

Die Groot Trek en Bloedrivier was maar net twee hoogtepunte van die beweging wat gelei het tot die Afrikaner se eerste ware smaak van vryheid. Vir die eerste keer in ons volk se geskiedenis was ons voorvaders vry van Europese imperialisme die dag toe hulle hul soewereiniteit oor hul eie grondgebied verklaar het.

Vandag word dit alles natuurlik stelselmatig deur die ANC in die grond in bestuur. Dis ongelukkig ons eie skuld. Hoekom? Rasgesentreerde hoogmoed het ons laat glo dat ons te goed is om die harde- en vuilwerk te doen wat gedoen moet word as ’n volk ’n land van sy eie wil hê. Ons het van meet af goedkoop swart arbeid ingevoer vanuit hul tradisionele stamgebiede om byna alles te bou wat meeste van ons steeds as “ons sin” beskou. Nou is alles wat die swartes en almal anders aan die suidpunt van Afrika gebou het geheel en al die swartes sin – en dit sal hulle sin bly om mee te maak wat hulle wil tot die perde horings kry.

Die ANC is maar net die verteenwoordigende liggaam van die monster wat blankes oor die eeue self geskep het. Sien dit so: as die Voortrekkers, wie in 1855 Pretoria gestig het, en die nageslag dié stad van dag een af met hul eie hande gebou en onderhou het, sou dit vandag waarskynlik ’n plek gewees het waar Afrikaners veilig in vrede en voorspoed kon lewe. Voortrekkerstraat sou beslis nie vandag Steve Biko heet nie, of hoe?

Omtrent dieselfde tyd as jou uitval met Deon Opperman reik jy Bloedrivier uit. Met hierdie album slaag jy baie goed daarin om al die probleme op te som: van die baie Fokkol wat ANC Suid-Afrika ons bied tot Dan Roodt (en Max du Preez) en al die ander ou mense wat asseblief nie verder in die water moet mors nie. Dis eintlik heel verbasend dat jou album nie gesensor is nie. Dalk is dit omdat die huidige ANC staatsamptenare, wie veronderstel is om hulself gedurende kantoorure te bemoei met dié klas van dinge, nie ons taal kan verstaan nie en derhalwe nie die lirieke van ANC Tiete aanstootlik kon vind nie.

Jy het ’n vêr pad gestap sedert die dae wat jy jouself vanuit jou woonstel in Hilbrow verset het teen die dubbel standaarde van die Apartheid-establishment. Na Bloedrivier is dit voor die hand liggend dat jy nou ook dinge sien soos dit is. ANC Suid-Afrika se doppie is geklink want die ideologie wat hul beleid bepaal is net so onvolhoubaar soos dié van NP Suid-Afrika.

Iewers te midde van hierdie gemors moet ons volk, taal en kultuur nie net oorleef nie, maar verder ontwikkel sodat daar oor 50 jaar van vandag af steeds ’n Afrikanerdom kan wees. Dit beteken dat daar Afrikaanse opvoerings oor enige tema denkbaar in teaters kan wees, kunstefeeste en rolprente kan wees waar kunstenaars gehore in Afrikaans gaan vermaak, skrywers kan wees wat oor ons trotse heldedom en geskiedenis skryf, navorsers kan wees wat dinge ontdek en hul bevindings in Afrikaans publiseer, howe kan wees waar iemand sy onskuld in sy moedertaal voor ’n regverdige regter wat op meriete aangestel is kan bewys en daar kinders kan wees wat koeksisters en biltong op hul oumas en oupas se skote sit en eet terwyl hulle aandagtig na kinderstories soortgelyk aan Jakkals en Wolf luister.

Ek wonder net hoe lank dit jou gaan vat om te besef dat ’n reaksionêre opposisie benadering futiel is. Dit help nie ons sit en skreeu soos ’n spul ape in ’n hok oor ons wispelturige omstandighede nie – die geraas gaan nie sorg dat die hok homself oopsluit nie, Koos. As ons nie ’n weg uit hierdie hok uit kan vind nie, is dit neusie verby met ons. Laat ons dus ophou kla oor die probleme en begin werk aan die oplossing.

Hierbo word daar verwys na Afrikaners van ouds wat kreatief en progressief te werke gegaan het om hul vryheid te herstel. Daar is duisende moderne Afrikaners wat vandag besig is om dieselfde roete te volg. Dis die ouens wat onwrikbaar glo dat Afrikaners hier in Afrika hoort, dat ons met ons eie arbeid vir onsself ’n toekoms kan bou en dit boonop in ons eie grondgebied. Jy sal hierdie moderne Afrikaners in Orania vind. Vandaar herstel ons nie net ons vryheid op ’n vreedsame en volhoubare wyse nie, ons reik ook uit na ander gemeenskappe van alle kulture en help hulle om hulself op te hef sonder dat ons droog gebloei word in die proses.

Orania se besoek aan die arm Xhosas van Mnyameni en die samewerkingsooreenkoms wat daaruit gespruit het is die mees onlangse bewys dat ons nie in isolasie kan of wil leef nie.

Na 16 Desember 1838 het die volk uiteindelik twee standvastige republieke van sy eie gestig. Beide is in 1902 op uiters oneerbare en bloeddorstige wyse van ons ontneem en in 1910 by die twee Britse kolonies gevoeg om sodoende geboorte aan Suid-Afrika te gee. In 1961 is die hele affêre deur dr Verwoerd as ’n republiek verklaar ten einde Afrikaners se vryheid te herstel. 33 jaar later het ons weer alles verloor en sedertdien is derduisende van ons mense vermoor, verkrag en beroof terwyl ons taal, kultuur en basiese regte toenemend deur die huidige regime ondermyn word in die naam van transformasie.

Nietemin, ons sal weer ’n land van ons eie hê want ons is reeds besig om dit vanuit Orania van nuuts uit die grond uit op te bou. Die keer doen ons dit reg, want ons doen dit met ons eie hande sonder om teen enigiemand te diskrimineer of deur enigiemand teen gediskrimineer te word.

In sy rubriek Die Reënboog is ‘n spieël aan skerwe, wat op 5 Desember 2009 in Rapport gepubliseer is, tref Breytenbach die spyker op die kop. Hy meen selfbeskikking in die vorm van funksionerende federale deelstate is die enigste volhoubare roete wat ons nou kan volg.

“So nié, is dit nag,” aldus Breyten.

Wanneer jy die dag goed gatvol is vir al die probleme en meer wil weet oor die oplossing wat tans besig is om voor ons oë te ontkiem sodat jy ook op jou toonaangewende wyse daaroor kan skryf en sing, dan stel ek voor jy en jou gesin kom maak ’n draai in Orania. Hier is baie kitare, wyn (en koeldrank vir die kinders) en gasvryheid in ons huis. Julle is altyd welkom.

Vriendelike groete

Quintin Diederichs

kontak@vryafrikaner.za.org

31 thoughts on “Ope brief aan Koos Kombuis

  1. Gwen

    Vervelig. Vir wat reik jy uit na Koos. Hy is uitgedien as Afrikaner (onthou jy nog hoe hy met groot fanfare uit die Afrikanerdom bedank het?) en as kunstenaar. Sy kitaar is vals en sy stem nog erger, dan praat ’n mens nie eens van sy lirieke nie. Koos en Max is in dieselfde klas van Afrikaners as FW en Roelf (daardie boetie in die tronk oor wie ons nie graag praat nie).

    Koos se musiek het my nog nooit aangestaan nie. Dit was buitendien hier in Pretoria maar die pretensieuse Afrikaners wat gedink het Koos is koel met sy “uitgesprokenheid” en “kontroversiële lirieke”.

    Verder glo ek nie Koos stel enigsins belang in hierdie relaas van jou nie Quintin. Nou die dag se gesprek tussen hom en Coenie de Villiers was maar ’n saai affêre. Hy sukkel om te duidelik te praat en kon skaar ’n samehangende sin aanmekaar slaan.

    Mors eerder jou kilogrepe op die jong kunstenaars wat kan sing en nie uit die Afrikanerdom bedank het of wil bedank nie.

    1. Gwen, ek dink nie enigiemand kan uit ‘n volk bedank nie, al probeer hy hoe hard. Kyk na Breyten Breytenbach. Ek verwys juis na hom in my “vervelige” brief omdat hy aan die voorpunt van die alternatiewe Afrikaanse beweging gestaan het nog lank voor daar ‘n alternatiewe Afrikaanse beweging was. Hy was selfs uit die land verban gewees, wat nog van bedank!

      Gaan lees gerus bietjie daai artikel van hom. Wie sou ooit 20 jaar gelede kon glo dat hy selfbeskikking gaan bepleit?

      Wat Koos aanbetref, ek dink jy is verkeerd en honderdduisende Afrikaners sal met my saamstem. Was jy al by ‘n musiekfees waar hy opgetree het? Jy sal verbaas wees om te sien hoeveel jong Afrikaners die liedjies van Bloedrivier ken en uit volle bors saamsing. Die nuwe generasie vind aanklank by sy musiek. Hulle stem saam met hom want hulle sien wat hy sien en ervaar wat hy ervaar.

      Anders as al die jong kunstenaars waarna jy verwys, het Koos darem die guts om op te staan en die waarheid te praat. Hy mag dalk valserig sing en sy kitaar is nie altyd perfek ingestem nie, maar hy is ‘n kunstenaar by uitstek wat meer as net liefdesliedjies in sy repertoire het. Wat help dit mens reik uit na mense wat nie eens hul eie musiek kan skryf nie?!

      Nietemin, jy mag hou van wie en wat jy wil. Besef net dat wanneer kunstenaars ‘n volk vir ‘n ideaal mobiliseer is dit suiwer en in skerp kontras met die nagevolge wanneer die politici dit doen!

      1. Gwen

        Ek stem saam dat ’n mens nie uit ’n volk kan bedank nie, maar om jouself van jou volksgenote te distansieer soos Koos gedoen het is haas onvergeefbaar.

        Koos is ’n manteldraaier. Ek kan nie indink dat iemand wat so sterk voel oor die Afrikaner (dit is nou jy, Quintin) homself met Koos wil vereenselwig nie. Jou kop draai seker nog van daardie Tassenberg wat julle gedrink het. Ek het as jonge na Koos se musiek probeer luister maar dit was die grootste geteem onder die son. Ek het my toe maar toegespits op die meesters soos Grieg, Bruch en Sibelius.

        Ek het buitendien nie gesê die jong Afrikaanse kunstenaars is dié wat net liefdesliedjies sing wat ander mense geskryf het nie. Daar is talle kunstenaars wat hul eie liedjies skryf wat oor ’n hele handvol onderwerpe handel.

        Hoeveel mense sing maar net saam omdat hulel van die liedjies hou, nie omdat hulle noodwendig met die lirieke saamstem nie? Dit is ’n drogredenasie om te meen dat ek met die woorde van ’n liedjie saamstem omdat ek daarmee saam sing. Dit is soos om te meen ek hou van FW omdat ek sy biografie lees. Koos bly in die Kaap. Hy weet nie wat in die noorde aangaan nie. Hierdie “nuwe generasie” hou dalk net van die eenvoudige deuntjies wat Koos skryf. Wie sê vir jou hulle luister na die kwasipolitiek van Koos se lirieke?

        Nietemin, jy staan wyd bekend as ’n heethoof wat nie kritiek kan hanteer nie. Besef net dat jou geliefde kunstenaar so liberaal is dat hy amper vir FW, Roelf en die res laat bloos. Ek volg eerder ’n kunstenaar wat van die begin af die regte pad loop as een wat op elke gemaklike paadjie afdraai.

      2. Ai Gwen, jy weet, niemand in hierdie lewe is perfek nie. Ek het al uit ervaring geleer dat wanneer mens te eng is in jou omskrywing van wat ’n Afrikaner is en nie is nie, jy meer mense afsit as wat jy inspireer om trots op hul volkskap te wees.

        Orania is die Afrikanertuiste – liberaal tot konserwatief. Koos en Antjie is net so welkom hier soos Andre Markgraaff of Henk van der Graaff en elke oompie met ‘n snor of baard. Dink net hoe vervelig dit sou wees as hier net ‘n spul linkses of regses gebly het… nee dankie!

        Skryf jy gerus ‘n ope brief aan wie ook al jy dink aan jou standaarde voldoen en laat die res van ons maar in ons eenvoud en wêreldse neigings (soos wyn suip en dans) aankarring.

        Terloops, Koos het my al in die privaat geantwoord en jy sal verbaas wees hoe positief hy reageer het en dat hy tog geïnteresseerd is in hierdie tema.

        Die brief is buitendien nie vir jou geskryf nie, dus is jou opinie nie regtig vir my iets om oor heethoofdig te raak nie.

        Vrede en voorspoed vir jou!

    2. Willeboer Basson

      gwen jy is ‘n ou suur pruim en moet gan luister na die woorde van sommige ou tannies… dit pas perfek by jou .Gaan verkoop jy n paar miljoen cds dan kan jy praat. Koos is die pappa!

  2. GotterdammerungSA

    Quintin met alle respek – Breyten Breytenbach het slegs sy Damaskus oomblik beleef of in meer kontemporere terme het hy tot besef gekom dat sy ideologie onvolhoudbaar is. Ek het daardie oomblik toe hy tot die besef gekom het dat hy sy etnisiteit, taal en kultuur heeltemal verraai het die Suzman-Gordimer oomblik gedoop na Helen Suzman en Nadine Gordimer wat ook albei te laat besef het dat Pandora se boks nie weer toegemaak kan word nie. Hierby kan jy ‘n lys van liberale ideoloe insluit vanaf Max du Preez tot Rhoda Kadalie en Koos Kombuis. Die feit dat Breytenbach nou selfbeskikking bepleit is ‘n non sequiter want hy het nog steeds die verlief van die land geneem en blaf soos ouma se skoothondjie vanuit die sitkamer uit.

    Ek stem dat selfbeskikking ons enigste opsie is maar ek is nie oortuig dat ‘n groter weergawe van Orania deur die ANC geduld gaan word nie – en maak geen fout, die ANC is die verstalting van die tipiese “bevrydings” organisasie ala Zanu PF en Zuma is die volgende Robert Mugabe. OASE in my opinie is doodgebore want daar is geen rede vir die ANC om die gans wat die goue eier le te laat gaan nie – daarvoor hou hulle te veel van ons belasting geldjies om op snuisterye te spandeer

    Ons voorouers was Voortrekkers – hulle het getrek om die juk van verdrukking van hulle af te werp. Miskien is dit tyd dat ons Noord kyk na Afrika lande wat die hele marxistiese gemors afgeskaf het en nou meer dink aan hulle lande ontwikkel as aan marxistiese ideologie. Miskien is dit tyd dat ons van voor af vir ons ‘n stukkie van Afrika gaan uitkerf voor die Chinese alles oorneem

    1. Gotterdammerun, die boere wat noord getrek het en georganiseerde landbou in lande soos Zambie en DRC aan die gang probeer kry moet eerder self verduidelik waarom dit onvolhoubaar gaan wees om daai roete te volg. Ons sal nooit vry wees nie vir solank as wat die Afrikaner ‘n minderheid is in die gebied wat hy bewoon.

      Of die ANC ‘n groter Orania gaan duld of nie is irrelevant. Hulle duld dan reeds Swaziland en Lesotho. Gaan hulle padblokkades oprig en elke Afrikaner wat na die Orania-streek toe gaan agter tralies stop? Hoogs onwaarskynlik.

      Ons benadering is juis geskoei op samewerking dus is ons nie ‘n bedreiging vir die ANC nie. Al kom bly elke enkelle Afrikaner in die Bo-Karoo en Weskus volkstaatstreek, sal hierdie gebied se bevolking steeds minder as die helfte van Soweto sin wees.

      2,5 miljoen Afrikaners is regtig ‘n poep teen die wind sover dit enige bedreiging m.b.t. die ANC se magsposisie aangaan.

      Nee, ons is al 21 jaar in Orania en 361 jaar in die suide van Afrika. Geslagte se sweet, trane en bloed is met hierdie grond vermeng. As dit nie vir ons beskore was om hier te wees nie, dan sou ons al lankal uitgeroei gewees het.

      Terloops, Orania het tussen 1991 en 1994 meer teenkanting van die NP-regering gekry as wat hy sedertdien van die ANC gekry het. Moet ook nie vergeet dat die ANC ‘n akkoord met ons gesluit het wat daarop neerkom dat ons hierdie gebied kan ontwikkel as ‘n volkstaat nie. Hulle het artikel 235 (reg tot territoriale selfbeskikking) in die grondwet bekragtig in 1996 en het by monde van minister Vali Moosa ‘n parlementere uitspraak gemaak wat die legitimiteit van Orania se strewe na onafhanklikheid in die Noordwes-Kaap bevestig. Intussen het hulle ons tot vandag toe nog uitgelos terwyl honderde miljoene rande se belegging hier instroom en ons grondgebied al byna 100 keer groter is as wat dit in 1991 was. Wat meer wil jy he?

      Soos ek nooit die OASE dromslaners, boeremag idiote of Hellen Zille sal volg nie, so sal ek verseker ook nie die nar volg wat tussen die geelkoors geteisterde rebelle van die noorde wil gaan kamp opslaan nie… ek meen regtig!

      1. Vanwaar kom die vrees dat die ANC vir Orania van die kaart wil afveeg? Dis vir my ‘n raaisel! In die werklike wêreld het nog net die teendeel gebeur! In die een en twintig jaar van Orania se bestaan was daar geen teken van enige weerstand van die ANC se kant af nie.

        Inteendeel, ANC-leiers het al so ‘n paar welwillendheidsbesoeke in Orania afgelê. Sulke goedgesindheid kom ongelukkig nie altyd vanuit ons eie geledere nie. Die gewese NP was en Naspers is steeds op die pad van Orania se verguising!.

        Daarenteen kom vra Kleurling en Khôsa groepe raad by die Orania Beweging.

        Soos jy sê, Quintin, “Intussen het hulle ons tot vandag toe nog uitgelos terwyl honderde miljoene rande se belegging hier instroom en ons grondgebied al byna 100 keer groter is as wat dit in 1991 was. Wat meer wil jy he?”

    2. Mike

      Gotterdammerun ek hoop jy het Quintin se reaksie op jou “ek is nie oortuig dat ‘n groter weergawe van Orania deur die ANC geduld gaan word nie” goed deurgelees en dat jy dit verstaan. Dit is natuurlik die grootste klomp snert wat ek nog van linkse kant gehoor het as hulle sê die ANC sal nie dit of dat toelaat nie, so asof ons vir alles voor hulle moet gaan bakhand staan.

  3. theo

    Hoekom skrik die mense soos Koos en Breyten altyd te laat wakker? Ek onthou nog hoe mense my te lyf wou gaan in 1992 met die referendum, toe ek vir hulle gesê het om “nee” te stem want ek kon die dinge sien kom! Nou is dit te laat vir trane, ons mense word uitgemoor en ons het niemand om ons te beskerm nie! Ben, jy is te goedgelowig, ek werk elke dag met die mense, en hulle het baie te sê gehad so ‘n ruk terug toe Oranië op tv was. Hulle het net gesë hulle gaan nie ‘n apartheids dorp toelaat nie en sal soontoe gaan en daar gaan bly, en niemand sal hulle keer nie! As Oranië te suksesvol raak gaan die dinge gebeur! Vergeet nou maar van die “welwillendheids besoeke” en wees op jou hoede vir die spul, hulle is en bly ‘n klomp kommuniste wat jy nooit kan vertrou nie!

    1. Theo, die feit dat swartes nie hier bly nie is nie omdat ons hulle nie hier toelaat nie. Enige swarte is welkom om Orania te besoek. Die rede waarom hier nie swartes bly nie is omdat hulle nog nooit in die Karoo wou vestig nie. Voor ons hier was het die Karoo vir derduisende jare oopgestaan met die uitsondering van ‘n paar Khoisan groepies. Die swartes soek nie die Karoo nie – het nooit nie en sal nooit nie. Laat die kwaadwilliges wat gese het dat hulle Orania gaan kom oorneem net vir ‘n week in hierdie streek kom bly dan sal jy sien hoe vinnig hulle terug skarrel na die vleispotte van Gauteng!

      Hier in ons deel van die wereld werk jy, anders ly jy!

      1. Willeboer Basson

        ja dis hoe dit is Quinton. Baie goeie brief aan Koos. Hy is ons almal se hero en dit sal befok wees as hy ‘n song oor Orania kan skryf. Julle ouens daar is ysters. ek en my vriende kom hou baie vakansie daar en elke keer sien mens net meer mense en ontwikkelings. Julle werk hard en maak ons trots dis hoekom ek aangesluit het by Orania beweging in desember. Mense soos julle verdien ‘n lucky break so ek hoop dat Koos vir julle iets sal doen. Hou ons op hoogte en sterkte hoor.

    2. Theo, in die swart gemeenskap is daar net so veel raasgatte as wat daar regse raasgatte onder ons is. Gelukkig slaan hulle nie die kitaar nie.

      Afrikane is bekend daarvoor dat hulle hulself oral loop aanbied as goedkoop arbeid maar sodra hulle ‘n voet in die deur het begin hulle eise stel. Die oplossing: Hou net daai voete uit ons deure uit en werk self!

      Hulle kan die Weskaap ontwrig want die deure is deur die boere self oopgegooi. Vir hulle om tot aksie te kan oorgaan moet hulle sterk genoeg in ‘n gebied gevestig wees. As hulle nie daar gevestig is nie, sal die regering ‘n baie goeie rede nodig hê voordat hulle dit sal waag om ‘n millitêre mag in te stuur.

      Ons moet hulle net nooit so ‘n rede gun nie!

    3. Mike

      Theo linkse blankes is ‘n groter probleem as die ANC. Die afrikaner was nog al die tyd verantwoordelik vir sy eie ondergang en so is hulle ook die grootste bedreiging vir Orania.

      1. Mike, ek hoor wat jy sê, maar ons hoef nie ‘n of-of benadering te volg nie. Deur die linkses uit te sluit gee ons hulle juis rede om vir ons ‘n bedreiging te wees.

        In ‘n volkstaat soos Denemarke is daar linkse en regse Dene. So ook is Orania ‘n plek vir linkse en regse Afrikaners. Ons liefde vir ons taal en kultuur en natuurlik ook ons behoefte om vry te wees bind ons saam.

        Daar is ingeligte Afrikaanssprekendes wat regtig ‘n veer voel vir hierdie dinge. Iemand soos Koos Kombuis is wel liberaal, maar hy tel nie onder die wat hul gatte aan ons taal, kultuur en omstandighede afvee nie. Hy is juis een van die stryders van ons taal en kultuur, alhoewel hy natuurlik ‘n alternatiewe siening het (en dis goed so!).

        Diegene onder ons, wat ons en alles wat ons is smaad, is nie liberaal nie. Hulle is iets anders… Eugene Marais het na hulle verwys as jingo’s. Jopie Fourie het na hulle verwys as valsaards. Ek verwys sommer na hulle as Mzanziërs.

        Dis die mense wat hul kinders in Engelse skole sal sit en sommer spontaan Engels in die huis begin praat met mekaar, geld skenk vir die DA, die tv kanaal sal oorslaan as ‘n Koos Kombuis musiekvideo opkom, nog met die Nuwe SA vlag oor hul spieëltjies rondry, swartbemagtigingsbesighede met trots ondersteun en jou sal probeer oortuig dat mev Obama seksier is as Tanya van Graan…

  4. theo

    Mike,ek lees wat jy sê, linkse Afrikaners is ‘n groot probleem, maar my punt is, jy kan nooit die ANC vertrou nie, en hulle sal nie ‘n suksesvolle Oranië sommer net so toe laat nie! Ja, Oranië is ver uit hulle pad, maar niks sal hulle keer om ‘n paar busse met ‘n klomp kamerade soontoe te stuur om amok te maak nie!

    1. Willeboer Basson

      hey theo… jy suig nou ‘n klomp kak uit jou duim uit.. dink jy Orania se mense en die hele wereld gan net op hul ruggies rol en hul voetjies en armpies rond swaai as die anc se busse vol opstokers in orania kom stop om te moor en te plunder? die dag as so iets gebeur sal daar fokken oorlog wees!

      Dink jy die mense in orania het nie die reg of vermoee om hul eie mense te beskerm nie? ek weet van ‘n hele paar ouens daar wat jy nie sommer vlak kan kyk nie… mens sukkel nie met daai boertjies in die karoo nie.hulle is taai soos ratels en fok enige ding op wat met hulle sukkel.. in elk geval die anc sal eerder busse voor jou en al jou tjommies se huise gaan parkeer en amok met julle saai want dis nader en maklikerr vir hulle.

  5. Wonderlike brief Quintin!

    Ek sien dieselfde probleem vandag onder ons jonger klomp. Bok van Blerk, Sean Else en Deon Opperman het in daardie nismark ingetree om ’n passie vir ons verlede op te wek, maar wie fokus op ons volk se toekoms?

    Die lied De la Rey het hierdie mistieke uitwerking op jonk en oud gehad. Ongeag of jy in ’n model C-skool was en of jy die nuwe toegepaste geskiedenis geleer het, daardie liedjie het jou beplek. Op daardie oomblik het jy presies geweet dat jy ‘n Afrikaner is en ’n innerlike trots het binne jou ontwaak.

    Die probleem daarmee is dat meeste mense gaan miskien aandring op dienslewering in hul taal en ’n bietjie vinniger kwaad raak as hul bv. straatnaamveranderings sien, maar hul nuut ontdekte volkstrots hou dalk vir ’n week.

    Daardie passie wat opgewek is, het geen langtermyn doel nie en as daar was (wat ek twyfel) was dit dwaas om te dink dat dit kan oorleef in Mzanzi, daar is eenvoudig net te veel dinge wat ’n mens in ’n dag kwaad maak.

    Die volgende stap sou beslis wees dat kunstenaars nie net passie opwek nie, maar dit kanaliseer en aan te wend op ’n positiewe manier en om die Afrikaner weer opgewonde te maak oor sy toekoms in Afrika. Hier kan die Vryheidsideaal ’n baie groot rol speel. Anders gaan die luisteraar net op ’n emosionele ‘trip’ vir vier minute en gaan aan met sy/haar lewe. Kunstenaars moet begin om te motiveer, inspireer en om oplossing georiënteerd te raak en nie net te fokus op die patriotisme van ouds nie.

    Sodra die hoofstroom Afrikanergemeenskap so passievol oor Orania (ons volhoubare toekoms) raak soos hulle oor De la Rey of Ons vir Jou geraak het, dan is ons besig om vorentoe te beweeg. Slegs die kunstenaars het die vermoe om so iets te bewerkstellig want Afrikaners luister lankal nie meer na politici nie.

    Ek sien uit na Koos se kommentaar 🙂

  6. theo

    Ja Wildeboer,jy is reg,hulle sal mat ons begin en dan kom die res,dit is die werklikheid van ‘n kommunis in Afrika, hy gaan nie ophou totdat ons soos Zimbabwe en die res van Afrika lyk nie, en ek is bly om te hoor dat die mense in Oranië reg sal wees vir hulle,want as ek kan,staan ek bankvas saam met hulle en baklei tot die laaste koeël!

    1. Quintin Diederichs

      Vroeer vandag het Koos vir my die volgende gese: “Ja, ek het n antwoord geskryf wat in Die Taalgenoot gaan verskyn. As jy nie daarop ingeteken is nie, sal ek dit dan aan jou stuur. Ek dink jou ope brief en ook my antwoord sal tot ‘n mate help om julle gemeenskap te destigmatiseer, en dis seker ook nodig!”

  7. Amands

    Quintin, hierdie is ‘n saak van gebed!! die anc is nie maklik nie, so ook nie koos nie, maar sterkte. Willeboer Basson en Theo sal voorryers wees klink dit vir my STERKTE MANNE!!!
    jou brief was goed om te lees, ek glo baie mense het die lietjies gehoor maar nooit geluister nie
    vir my ‘n eyeopener

    1. theo

      Amanda, Willeboer sal eers ordentelik Afrikaans moet leer praat en minder skel, wat se ding is ‘n “song????”Liedjie is so ‘n mooi woord dan?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s