Vryheid vir die volk, nie minderheidsregte nie!

Verbeel jou ‘n joernalis voer ‘n onderhoud met een van die leiers van die onderdrukte Tibetse bevolking.

Die joernalis vra: “wat is julle besware en wat sou julle graag wil hê?”

Die leier antwoord: “Ons is wel ‘n minderheid in Sjina en nie alles loop altyd reg nie, maar ons bevestig ons lojaliteit aan  Sjina en ons beywer ons daarvoor dat die lewensomstandighede van die Sjinese moet verbeter en ons sal graag daartoe bydra met ons kundigheid en ons geld. Ons is glad nie besig om etno-sentries te dink of ons te isoleer nie, ons wil graag die hele Sjina opbou en lojale staatsburgers wees.”

Sulke uitsprake sal hoogs onwaarskynlik wees. Veel eerder sal die antwoord wees iets in die lyn van: “na jare van marginalisering soek ons erkenning vir ons taal en ons kultuur . Ons wil graag groter seggenskap oor ons eie sake hê. Ons inheemse taal word bedreig en ons eis dat ons taal in ons gebiede gebruik moet word, ons wil skole hê in ons eie taal en ons kinders moet daar kan leer van ons geskiedenis en kultuur. Ons uiteindelike doel is ‘n eie onafhanklike gebied waar ons oor onsself kan regeer.”

Ongelukkig val Afrikanermeningsvormers en –leiers te dikwels op eersgenoemde retoriek terug as hulle deur ‘n joernalis of regeringsverteenwoordiger gevra word oor hulle besware en hulle verkeer onder ‘n selfopgelegde dwang om hulle lojaliteit aan Suid-Afrika te bevestig en om hulle etniese eise te onderbeklemtoon.

Die rede is dikwels dat Afrikaners nie optree vanuit die posisie van ‘n onderdrukte volk  nie, maar uit die posisie van ‘n lank bevoorregte minderheidsgroep wat inherent skuldgevoelens het en hulle bestaansreg probeer argumenteer deur die bydrae wat hulle lewer tot Suid-Afrika as geheel en die opheffing van ander volke.

In ‘n sin is dit verstaanbaar, want Afrikaners is nie eeue lank onderdruk soos die Tibetse bevolking, Koerde, Maoris, Aborigines ens. nie, maar was inderdaad ‘n bevoorregte groep in ‘n magsposisie so onlangs soos 18 jaar terug. Na 1994 kon talle Afrikaners op ‘n manier voortbou op die voordele.

Dit is egter tyd om daardie mentaliteit af te lê. Ons is nou al een generasie weg van die “bevoorregte tyd”. Afrikaner-leiers, selfs al het hulle die grootste deel van hulle lewe in die “ou Suid-Afrika” geleef, moet besef dat hulle namens die hele volk, en veral die jong Afrikaners wat nog vir hulle ‘n toekoms moet bou, praat.

Geen minderheid word verskoon omdat hy besonder lojaal aan die land is, besonder onopvallend en besonder ekonomies van waarde is nie. Die voorbeelde is legio, soos die Jode in Duitsland in die 1930’s, die Indiërs in Uganda in die 1970’s en die blankes in Zimbabwe meer onlangs.

In hierdie verband is ook die manier hoe ons na onsself verwys veelseggend. Diegene, gewoonlik liberales, wat na hulself as “Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners” verwys, hoop dat dié bewoording vir hulle simpatie by die regeerders sal besorg en hulle bestaansreg as onopsigtelike individue, wat lojaal aan die land en sy regering is, sal verseker. Dis die tipiese “ons is almal gelyke Suid-Afrikaners” sentiment van die Mandela-era

Andere wat die term “minderheid” gretig gebruik, en Afrikaners saam met Bruinmense, Indiërs en ander wil groepeer, probeer om op rasionele manier die regering te oortuig dat minderhede nie onderdruk of geïgnoreer mag word nie. Minderhede moet ruimte gegun word om hulself uit te leef, met bv. Afrikaanse skole en instellings, maar altyd met die veronderstelling dat akkommodasie hulle lojaal aan die land maak. Hulle glo aan Afrikanerregte en –voortbestaan, maar nie noodwendig aan algehele staatkundige vryheid nie.

Ja, dit is ook belangrik dat iemand aandag gee aan Afrikaners se regte en ruimtes binne Suid-Afrika, maar dit koop tyd – niks anders nie.

Die term “volk” word gebruik deur diegene wat glo aan vryheid. Die Afrikanervolk het ‘n reg op vryheid.  In Orania as eerste groeipunt strewe ons daarna, wel met die oog op ‘n groter gebied. Die reg tot selfbeskikking is nie uitsluitlik vir die Afrikaner nie, maar óns strewe is dit wat vir ons belangrik is.

Die term “Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner” impliseer reeds die lojaliteit aan die multi-kulturele eenheidstaat, die term “minderheid” impliseer magteloosheid en om net meer regte en beskerming te soek, nie algehele vryheid nie.

Die hoop dat die regering die term minderheid minder aanstootlik vind as volk en dat dit meer modern klink omdat dit in allerhande menseregteverklarings voorkom, is reeds verkeerd bewys. Die ANC sien minderheid reeds as ‘n bedreiging vir sy absolute magsaanspraak.

Deur van volk te praat plaas ons ons op dieselfde vlak met enige ander volk, groot of klein. Volke het aanspraak op selfbeskikking en alhoewel nie elke volk ‘n eie staat het nie, streef byna elke volk daarna en kan dié reg nie bevraagteken word nie, alhoewel die proses tot algehele vryheid dikwels vertraag word.

Verteenwoordigers van ‘n volk kan met meer selfvertroue en gesag optree as verteenwoordigers van ‘n minderheid. Ons het nie tans een algemeen aanvaarde liggaam wat namens ons volk praat nie. Ons het wel volksorganisasies wat op verskeie terreine ons gemeenskaplike ideale bevorder. Kom ons ondersteun hulle waar ons kan en werk onsself vry!

“Soet is die stryd van die stryder, selfs al moet hy verloor. Maar hy wat opsy staan en sy aandeel weier,dit is die man wat sy volk vermoor.” – ID du Plessis

Geloftefeesorania

Honderde Afrikaners woon Geloftefees by te Orania

11 thoughts on “Vryheid vir die volk, nie minderheidsregte nie!

  1. Willeboer Basson

    JA JA JA EN WEER JA..Die man praat nou mos my taal!!!!!

    Mense dis nou tyd dat ons begin kyk na ons eie toekoms. Daar is al 9 plaasmoorde sedert 1 Janaurie 2013 en laasjaar het die getal gerapporteerde plaasaanvalle van 85 (2011) tot 141 gestyg – sien TLU se mediaverklaring. In tussen brand die etters die plase en dorpe af. Dis besig om ‘n donnerse free for all te raak soos hulle plase en winkels plunder. Kyk na Afriforum, VF, Solidariteit en en en.. Hulle sit almal met pakke pakke Afrikaners in hul kampe maar hulle kak en kerm aanhoudend oor minderheidsregte en hofsake terwyl ons letterlik uitgemoor word. Te moer met minderheidsregte en te moer moet hulle.. ek soek ‘n Afrikaner land en gaan nog my goed pak en Orania toe trek om dit te kry. Se bietjie- is dit ekstreem om vry te wil wees, huh Afriforum? huh VF? huh Solidariteit? Ja julle help Orania maar dis een druppel in die emmer in terme van wat daai plek NOU(!!!!!!) nodig het. Julle vat mense se geld en neuk rond dis assof julle nog nie rerig besef het dat ons volk vandag NEUS DIEP in die kak is nie.

    Dan gaan daai ander ouens en brand vlae en spring rond op majuba elke jaar om te wys hoe donners ernstig hulle is oor die saak. Word wakker julle gaan nie die Transvaal terugkry nie.. nie eens as julle daarvoor baklei nie. Dit maak nie van jou ‘n groter Afrikaner omdat jy ‘n “two tone” dra nie. Tye het verander en julle hele plan suig en sommer julle PR ook. Dit is geen verassing vir my dat julle so min volgelinge het!! Ek’s jammer maar julle moet begin om jul oogies oop te maak… die ver-regse ding rol nie vir ons mense nie.

    Maar die domste van almal, selfs dommer as die boeremag parade, is daai klomp wat ‘n Afrikaanse oase in die swartmense se hartland wil vry “argumenteer” met al hul slim kakpraatjies oor die hof en daai regsaspek en die drol wat dink hy weet alles van die internasionale reg af en daai poepol wat vluit soos ‘n kanarie oor hoe Afrikaners reeds ‘n meerderheid in hul afgebakende gebied is met miljoene Zulus en wat nog wat reeds daar bly… daar is geen fokken manier nie ouens. So hou eerder jul bekke en gaan betaal jul volkies in jul designer kombuise en in jul gemanikuurde tuine.

    Nee wat die skrywer van hierdie artiekel praat die waarheid. Dis Orania en sy strewe of niks…so haal my maar uit as julle wil maar julle gaan my nie verkeerd bewys nie…….

      1. Willeboer Basson

        ja oompie want ek is nou sommer gatvol vir almal wat net praat praat praat en dink hulle is oooooooooooooo sooooooooo slim met hul groot woorde en slim plannetjies omdat hulle doktor die en professor daai se nefie se tjommie is. Die oplossing is rerig nie so ingewikeld nie!!!!Ons het ‘n stuk grond nodig. ons het ons eie plase, skole en winkels en dinge nodig op daai stuk grond van ons. Ons moet dit met ons eie arbeid bou en onderhou sodat ons altyd die meerderheid kan wees op ons eie stuk grond. ons moet selfvoorsienend kan wees en ekonomiese groei kan bewerkstelig want werke en dienste moet anhoudend geskep word sodat die mense kan trek soentoe vir iets beters. Orania is die plek waar al hierdie goeters VANDAG gebeur en verder gevat word so wat is vout met die mense.. waars die mense se breins deesdae? en nou praat ek reguit van Afriforum, VF, SOlidariteit, HNP, VVK, OASE en en en………. jammer dat ek so vloek en als maar dis nie maklik om koel koggelmander te bly met al die afwykings van ons eie mense nie.. wat nog van die crime en als wat op vorseer word. Eks laas Desember ingeskryf by Orania Beweging en ek gaan binnekort daar gaan boer want TEN MINSTE gaan daai mense dankie se vir die kos wat ek verbou en gaan hulle nie my wil vermoor nie..

      2. Sias

        Hoor Hoor! Willeboer – jy s^e hom soos hy is en soos duisende voel, maar net nie ‘n goeie platform het om dit vanaf uit te basuin nie. Hierdie blog is puik – alle Boere moet hom lees. Dankie!

  2. Quintin Diederichs

    @ Willeboer Basson: wat AfriForum, VF Plus en kie baie duidelik moet begin snap is dat meer en meer Afrikaners nie minderheidsregte in Mzanzi wil he nie, want ek vir een stel BESLIS nie belang om ‘n minderheid in ‘n ander man (en veral Zuma) se land te wees nie! Jou ontleding tref die kol, alhoewel ‘n bietjie kras gestel, maar ek gaan jou nie daarvoor aanvat nie. Jy sal baie goed inpas hier by ons in Orania en heelwat minder begin stres sodra jy hier kom bly – vat maar hierdie oud Pretorianer se woord daarvoor!

    @ Sebastiaan: “Deur van volk te praat plaas ons ons op dieselfde vlak met enige ander volk, groot of klein. Volke het aanspraak op selfbeskikking…”. Puik gestel ou maat. Baie wyse woorde inderdaad.

    Toe ek deur Lichtenstein gery het en in hul hoofstad (Vaduz) oornag het kon ek amper nie glo dat dit die grootste stad in die hele land is nie – daar bly maar net iets soos 30 000 mense in Vaduz, maar alles verloop seepglad in daai plek. Almal is gelukkig, ordentlik, baie modern en, belangrikste van als: produktief. Daar is nie iets soos armoede nie… nederige arbeiders verdien net soveel of selfs meer as jappie gegradieerdes. Dis regtig iets om te sien!

    Mense is maklik geneig om te dink dat dit amper onmoontlik gaan wees om ‘n Afrikaner Volkstaat te bou want die prentjie wat hulle in hul koppe sien van ‘n “land” is iets tussen die ontwikkelde nywerheidstaat en die masiewe nasiestaat met sy miljoene inwoners. Kyk, ek bly veel eerder in ‘n gelukkige klein landjie soos Lichtenstein as in ‘n deurmekaar mengelmoes Engeland! Orania voldoen beslis reeds aan al die basiese vereistes waaraan ‘n outonome streek moet voldoen. Kom ons rond dit net behoorlik af en brei vandaaraf uit – elkeen se betrokkenheid maak ‘n verskil. Kom ons staan saam en vat hierdie plek van dorp, na stad, na streek, na STAAT!

    1. Anthony Schlemmer

      Al bou ons net ‘n groot Afrikanerdorp van 10 duisend mense of selfs meer, sal hemel op aarde wees….

      En ja, minderheids regte gaan nie vir Afrikaner se kind werk nie. Ons soek selfbeskikking !

  3. Leon du Plessis

    Hoor hoor, manne ek salueer julle vir al die wyse woorde. Ek is een van die wat in 1994 in my eerste jaar op Universiteit was. Ek het in Johannesburg aan n engelse universiteit studeer. Almal het gedroom van n reenboog nasie ens. Ons is almal saamgevoer met die “propaganda” wat ons gevoer is en jare probeer om in te pas. Ons is eintlik net almal soos n pada in n pot. As jy hom in kook water gooi gaan hy probeer uit spring, maar wat met ons gebeur is dat dit hitte net so bietjie vir bietjie opgedraai word tot dat ons in hierdie deurmekaar mengelmoes dood kook. Die tyd is nou, om saam te staan en die mooi praatjies en goeie bedoelings eenkant toe te gooi en hand aan die ploeg te slaan. Ons het nodig om vir ons, ons kinders en ons kinder se kinders n toekoms te bou, waar hulle in hulle eie volkstaat die reg to selfbeskiking sal he. My ouers woon nou al n tydtjie in Orania en aan die begin het dit my maar hard laat dink oor n paar goedtjies. Ek wonder al n geruime tyd oor alles wat in die land aangaan en mens kan die patroon en die paadtjie wat on besig is om te loop duidelik sien, wel as jy hom wil sien. Voel vir my soms of meeste van ons Volksgenote soos volstruise hulle kop in die sand druk en maar hoop hulle stert vere word nie gepluk of dit raak te warm onder hulle agterstewes nie. Nee mense dit is tyd dat ons volk (ek en my gesin ingesluit) besef daar is geen ander manier hier aan die suidpunt van Afrika nie. Volkstaat en Selfbeskiking of niks. Eerder n groot gelukkige vissie in n klein dammetjie as n klein vissie in n groot dam vol haaie en ander ongewenste elemente.

  4. Ebert

    “Volk” is ‘n antropologiese term.

    “Minderheid” is ‘n wiskundige term.

    Daar is geen voordeel in om die twee terme as onderling uitsluitend te beskou nie.

    Die Afrikaners en inderdaad die Tibetane is elk gelyktydig ‘n volk (antropologies) en ‘n minderheid (wiskundig) binne die groter volkekundige konteks waarin hulle bevind. Dit is juis omdat hulle die minderheid is, dat hulle hoegenaamd na selfbeskikking strewe of behoort te strewe.

    Verder is daar ook talle volke wat hulle onafhanklikheid gekry het deur eers groepsregte/minderheidsregte te beding. Neem alle onafhanklike lede van die Britse statebond as voorbeeld. Groepsregte het in baie van hierdie gevalle as die opium gedien wat die volke lus gemaak het vir meer, naamlik volle onafhanklikheid.

    Hierdie is ‘n opwindende populistiese artikel, maar aan substansie, en verstaan van wiskunde, gaan dit maar bra mank.

  5. Johan van Rensburg

    More, ek glo ons moet self baskik. Ek is op soek na patrone van die twee Safarie pakke wat in die 70’s beskikbaar was. Kan iemand my asb help? Dankie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s