Moenie alle stamme oor dieselfde kam skeer nie

voortrekkers-barolong

Voortrekkers smee band met die Barolong

 

Die Memorandum van Verstandhouding wat onlangs tussen Orania en die gemeenskap van Mnyameni gesluit is, is van groter historiese belang as wat dit op die oog af lyk.

Orania is immers ‘n gemeenskap van skaars eenduisend siele en min Afrikaners het dalk al van Mnyameni gehoor. Die belang lê nie in enigeen se getalle nie, maar in die gemeenskaplike besef dat die staat nie in staat is, of dalk belangstel, om hulle probleme op te los nie. Dit plaas die gemeenskap in die sentrum van politieke aktiwiteit.

Met hierdie ooreenkoms word ‘n lang tradisie van Afrikaner-verdrae met swart stamme voortgesit. Die Voortrekkers het goeie betrekkinge met die Barolong van Thaba ‘Nchu gehad en lank in hulle gebied oorgestaan. Die slag van Vegkop, waar ‘n verwoede Matabele-aanslag afgeweer is, het byna in ‘n tragedie ontaard toe die Voortrekkers se vee weggevoer is. Die Barolong het toe trekvee oor honderde kilometers vir die Voortrekkers gebring. Daarsonder sou die Groot Trek ‘n roemlose einde tegemoet gegaan het.

Na die ZAR se totstandkoming is goeie verhoudings met verskeie swart stamme in stand gehou. Die Swazi’s en die ZAR het in meer as een konflik hande gevat. Sowel in die suidooste as suidweste is die ZAR se grondgebied uitgebrei deur een van twee strydende groepe militêr by te staan.

In die meer onlangse verlede het die toekomsplanne van Afrikaners afgehang van die vraag of swart volke hulle vryheid in etniese tuistes (of tuislande) wou najaag.

Die ooreenkoms tussen Orania en Mnyameni gryp terug na die verhouding tussen gelykes tydens die Groot Trek by Thaba ‘Nchu. Latere verdrae het veel met verkryging van grond en arbeid te doen gehad. Die prys vir arbeidsafhanklikheid was uiteindelik totale magsverlies in 1994.

Die verhouding was altyd ten gunste van Afrikaners gelaai. Blankes het die mag gehad, maar nie getalle nie. Daardie ongelykheid is omgekeer, sodat Afrikaners vandag nie oor mag beskik nie. Orania en Mnyameni het as gelykes ontmoet en albei het geoordeel dat ‘n verstandhouding waardevol kon wees.

Die verstandhouding is om nog ‘n rede belangrik. Vir die eerste keer sedert 1994 kon ‘n groep Afrikaners kollektief ‘n politieke ooreenkoms met ‘n ander kollektief sluit. Na die Akkoord in gevolge waarvan die Vryheidsfront in 1994 aan die verkiesing deelgeneem het, is Afrikaners telkens as indiwidue of belangegroepe benader. In gesprekke oor sake soos taal, onderwys en dienslewering, het verteenwoordigers moeite gedoen om politieke ambisies te ontken. Hulle het bloot kragtens die grondwet op sekere burgerregte aanspraak gemaak.

Daarteenoor is Orania openlik oor sy strewe na selfbeskikking en die verstandhouding met Mnyameni is kragtens daardie ideaal bereik.

Die RSA is ‘n tipiese liberale staat wat etnisiteit probeer ophef deur sy burgers bloot as indiwidue te hanteer. Die staat gee voor om neutraal te wees, maar die heersersklas se kultuur is so deel van die struktuur, dat dit genadeloos afgedwing word. Dit is die soort staat waarin die Afrikaner sal verdwyn soos ‘n botteltjie ink in die Vaaldam.

Die verstandhouding tussen Orania en Mnyameni is ‘n kragtige stap in die rigting van ‘n volhoubare staatsopset.

6 thoughts on “Moenie alle stamme oor dieselfde kam skeer nie

  1. Willem van As

    ‘n Multi-kulturele wêreld is ‘n goeie ding, ‘n multi-kulturele staat is nie. Ek kan eerlikwaar sê dat ek vir Mnyameni dieselfde voorspoed toewens as vir Orania.

  2. Quintin Diederichs

    Hierdie is ‘n baie insiggewende artikel. Ons moet onthou dat ons deel van Afrika is en as Afrikane vir onsself ‘n toekoms op hierdie kontinent moet bou. Ons deel Afrika met swart, bruin en Arabiese mense en hoef nie in konflik met hulle te verkeer nie. Ons het die reg om onsself te verdedig, maar ons moenie in ‘n konstante verdedigings denkraamwerk verkeer nie. Ons het ook die reg om deurlopend wedersyds voordelige bande met ander Afrikane te bou. Dat Orania hierdie punt insien is ‘n teken van ‘n gemeenskap wat in staat is om alliansies aan te gaan en daardeur die kanse verhoog dat hy sy doelwitte vinniger gaan bereik.

  3. 3taz9exz

    ”Dit is ook om verder terug te gaan na die Portugese/Italiaanse handelaar wie Opperhoof van die Shangaan stam geword het in die 1850’s, naamilk Joao Albasini. Dit is wragtig ‘n storie hoe Wit en Boer en Shangani saamgewerk het en saambaklei het , teen ‘n aanvallende moordenaar vyand en gewen tesamelik gewen! Die hele ”Albasini Familie” is op fb.

  4. Willeboer Basson

    stuur solank sommer die sendelinge en gaan bou vir hulle n kerk en skole. Kom ons kyk hoe lank vat dit voor alles gaan brand. Verwoerd het miljoene spandeer op swartes vir alles en kyk wat se hulle vandag van hom. Die swartes het net gekry en gekry. Orania moet vandag al daai dinge met sy eie geld bou wat hulle net pasela gekry het. ek verstaan dat dit Orania laat goed lyk in die liberale koerante as ons vir die swartes gaan kuier en dat dit ‘statuur aan Orania verleen’. my vraag is net hoekom gaan teken Orania nie liewers memorandums met die kleurlingstamme wat orals in die noordkaap bly nie? Ek hoor by vriende in Oraans dat daar onlangs bakkies gesteel was daar en in die ooskaap gekry was… waar is Mnyameni nou weer?

  5. Wynand

    Willeboer ou maat, ek wonder of jy die artikel gelees of net die onderwerp gesien en sommer klaar geweet het wat jy daarvan dink. Of jy nou het of nie, kom ons kyk hoekom jou kritiek nie so geldig is as wat jy dink nie. Eerstens, jy werk met die veronderstelling van “alle swartes is so en jy kan hulle nie vertrou nie”. Ek het histories aangedui hoe dit ongeldig is.

    Tweedens, anders as met apartheid/afsonderlike ontwikkeling, het die inisiatief van Mnyameni gekom en nie van Afrikaners/Orania nie. Uit ons eie geskiedenis met die Engelse weet ons hoe uiters irriterend dit kan wees as ‘n ander kultuur dinge “tot jou beswil” doen waarvoor jy nie gevra het nie.

    Derdens, Kleurlingstamme het ons vir nog niks genader nie, en selfs nie positief op uitnodigings tot gesprek gereageer nie. Ek dink hulle sien ons nog te naby verwant aan ‘n bewind wat vir hulle min vreugde gebring het.

    Vierdens, Mnyameni is in Ciskei. Die petalje van die bakkie wat opgespoor is en weer uit die polisiestasie gesteel is (my eie een) het in Umtata gebeur, honderde kilometers van daar af. Ek sê nie dat daar geen diewe in Mnyameni is nie (daar is immers ook diewe in Orania), ek sê maar net jou koppeling tussen die diefstalle en Mnyameni is lekker dof.

    Laastens, as jy nie kon agterkom dat hier iets baie dieper en meer waardevol as ‘n reklameset vir liberale koerante gebeur het nie, het jy nie mooi gekyk nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s