Israel verkiesing lewer nuwe onsekerheid op

zzknesset

Die Knesset: Israel se parlement

Die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, het ‘n vervroegde verkiesing uitgeroep teen die einde van laas jaar, met die oog daarop om sy magsposisie te versterk.

Op daardie stadium was hy op die toppunt van sy mag en gewildheid en hy wou dié steun ook omskep in politieke mag. Die pas afgelope verkiesing het egter ‘n ander resultaat opgelewer en ‘n hele paar verrassings gebied.

Mnr. Netanyahu se Likud en Beitenu-blok, albei regsgesinde partye met ‘n nasionalistiese uitkyk, het die verkiesing geveg met die slagspreuk “’n Sterk man vir ‘n sterk Israel” en klem gelê op mnr. Netanyahu se ontoegeeflike houding teenoor Israel se vyande soos Iran.

Sy party het egter swakker gevaar as tydens die vorige verkiesing en slegs  31 setels verower teenoor 42 laas keer.

Die Knesset het 120 setels en omdat die drumpel slegs 2% is, is daar ‘n groot versplintering van partye aanwesig wat regeringsvorming bemoeilik en dikwels tot voortydige opbreek van ‘n koalisie lei.

Die tweede sterkste party was ‘n groot verrassing, naamlik die nuutgestigte en gematigde Yesh Atid Party (“Daar is ‘n toekoms”) wat 19 setels verower het, gevolg deur die linksgesinde Arbeidersparty met 15 setels. Vierde is ‘n eweneens nuutgestigte nasionalistiese party Habayit Hayehudi (“Joodse huis”) met 11 setels en die ultra-godsdienstige Shasparty met eweneens 11. Talle kleiner partye wat spesifieke groepe en belange verteenwoordig van verregs tot verlinks is ook in die parlement, met enkele setels, verteenwoordig.

Die verdeling tussen die regse en die linkse blok is 60 teenoor 60, om die rede sal mnr. Netanyahu poog om ‘n breë koalisie te vorm.

Die regs-links verdeling geld veral ten opsigte van die houding teenoor die Palestyne: die regses, nasionaliste en godsdienstige partye wil geen verdere toegewings maak nie omdat toegewings in die verlede Israel se posisie net verswak het. Die linkses wil graag die totstandkoming van ‘n Palestynse staat sien en hoop om sodoende vrede te bewerkstellig.

Anders as wat mnr. Netanyahu gehoop het, was die Palestynse vraagstuk en die verhouding met die Arabiese buurstate en Iran nie so bepalend vir die verkiesing nie. Ekonomiese en maatskaplike kwessies het ‘n groter rol gespeel en baie punte vir die Arbeidersparty besorg.

5 gedagtes oor “Israel verkiesing lewer nuwe onsekerheid op

  1. Quintin Diederichs

    Dis vir my altyd snaaks wanneer Afrikaners aangaan oor hoe ons na die Jode moet kyk “want hulle staan saam!” As daar nou een volk is wat omtrent oor niks saamstaan nie, dan is dit juis die Jode. Ek dink nie Afrikaners in ‘n volkstaat sal ooit soveel politieke partye kan stig soos die Jode in Israel nie.

    Dit laat mens wonder… is die Westminster partypolitieke stelsel werklik die beste vorm van demokrasie in volkstate? As elke gemeenskap 2 of hoeveel ook al verkose verteenwoordigers na ‘n volksraad toe stuur sal daar waarskynlik minder binnegevegte wees en meer werk gedoen word.

  2. Andre de Kock

    Dis reg Quintin,Die partypolitieke stelsel het nooit bestaan in die ZAR nie. Elke distrik het ‘n verteenwoodiger na die Volksraad gestuur. Daar is vir die man gestem en nie vir die Party nie-maar toe het mense mekaar nog geken-die belangrikste sake was iets wat almal van geweet het. Daar was nie so iets soos ‘n beleid nie-jy het daai man vertrou om die beste besluite namens jou te neem omdat jy hom geken en vertrou het.
    3 Afrikaners op ‘n eiland-3 politieke party en 3 kerke
    3 Jode op ‘n eiland-6 verskillende opinies
    Die Jode verskil met mekaar oor baie dinge-maar oor een ding is hulle onwrikbaar en staan hulle saam-Die Volkstaat Israel.
    Ons het nog baie om te leer. Miskien sal ons ook eers deur ‘n Holocast moet gaan voordat die Oorblyfsel-soos die Jode hulself noem-‘The Remnant”- gaan besef dat jy net vir jouself kan verantwoordelikheid neem, jou eie onderwysstelsel vir jou kinders kan ontwerp, Jou God kan eer en jou eie wette kan maak-binne jou eie Volkstaat. Sonder dit verdien jy net wat jy kry.

    1. Quintin Diederichs

      Andre, dis juis ons plig (en plesier!) om soveel as moontlik Afrikaners in te lig van die vryheidsideaal en hulle by die volkstaatgroeipunt Orania betrokke te kry – maak nie saak hoe gering of groot daardie betrokkenheid is nie.

      Daar is baie mense daarbuite wat nog ‘n massiewe rol gaan speel om ons vryheid te herstel… hulle weet dit nog net nie. Dis waar ons inkom – elke ou waarmee ons praat en betrokke kry het die potensiaal om diep spore te trap vir ons volk. Indien nie hulle self nie, dalk hul nageslag!

      Punt is, ons moenie eens ons grootse kritici (uit eie geledere) uitsluit nie… vir al wat ons weet gaan hulle nog wakker skrik en iets besonders doen vir die volk.

  3. JERUSALEM. Mnr. Binyamin Netanyahu, Israel se eerste minister, sal na verwagting so gou moontlik ‘n verkiesing aankondig, te midde van ‘n verswakking van sy parlementêre meerderheid en ernstige uitdagings op die politieke horison. Netanyahu het pogings om sy bestedingsplan deur die parlement goedgekeur te kry, versnel ná die bedanking van mnr. David Levy, minister van buitelandse sake. Levy en sy gematigde Gesher Party het bedank uit protes teen Netanyahu se besparende begroting en die dooie punt in die vredesproses. Netanyahu het eergisteraand op ‘n nuuskonferensie aangevoer hy het ‘n “stabiele” meerderheid in die parlement wat sy “liberale ekonomiese hervormings” en sy onder handelings met die Palestyne vir blywende vrede sou steun.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s